Jesus Christus beskryf Satan as ’n baie werklike geestelike wese. Hy sê: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Die Nuwe Testament wys duidelik dat Satan nou in beheer is van die huidige menslike samelewing. Die Almagtige God kan Satan natuurlik te enige tyd oorheers, maar Hy laat die wêreld toe om oor die algemeen sy eie gang te gaan, om sodoende sy lesse vir 6,000 jaar van die menslike geskiedenis te leer. Die apostel Paulus beskryf Satan as: “... die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Satan is nou in beheer van hierdie wêreld se atmosfeer. Satan saai verkeerde gesindhede en perverse idees regoor die wêreld uit – soms deur televisie, soms deur die Internet en soms ook op ander maniere.

Gevolglik het ons aanhoudende oorloë, moorde, gevegte, verkragtings, martelings, diefstal, hongersnood – asook oraloor die verbrokkeling van gesinne. Satan was van die begin af ’n moordenaar en ’n leuenaar. Jesus Christus het aan die godsdienstige mense van Sy tyd gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44). Satan, die meester bedrieër, vermeng ewe listig allerhande idees van goed en kwaad om hierdie hele wêreld te mislei. Dit is waarom die apostel Johannes die Satan beskryf as: “... die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9).

As een van die baie voorbeelde van Satan se massiewe misleidings en sy bedoeling om die gesin te vernietig, het ons in Desember 2012 gehoor dat die nuwe Queen James Version (QJV) van die Bybel wat in Amerika gepubliseer en beskikbaar gestel is vir verkope (Australian Women’s Weekly, 18 Desember 2012). Die buiteblad vertoon ’n reënboogkruis (wat “gay pride” voorstel) en die doel is om Bybelverse wat homoseksualiteit veroordeel, te verander sodat “homofobiese” vertolkings onmoontlik gemaak word (ibid.). In totaal is agt gedeeltes van die King James Version geredigeer om God se duidelike opdragte daaruit te verwyder.

Die meeste van u wat intekenaars op Die Wêreld van Môre is, weet alreeds dat – van die begin tot die einde van die Bybel – die Almagtige God homoseksualiteit in al sy vorme duidelik veroordeel! Terwyl die “menslike redenasie” agter hierdie perverse praktyk beskryf word, selfs deur antieke filosowe, sê God se woord: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Romeine 1:26-27). Ja, die Almagtige God noem homoseksuele dade ’n “skandelikheid”. Sy geïnspireerde woord beskryf God se houding teenoor wat aanleiding gegee het om selfs die woord sodomie daar te stel: “... soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan. Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens” (Judas 7-8).

Let daarop dat homoseksuele leiers wat “die vlees besoedel” ook gou is om heerskappy te verag en hulle laster aanhoudend die heerlike wesens [engele]. Satan wil deur perverse praktyke soos hierdie die hele fatsoenlike lewenswyse, wat gelukkige gesinne, gebalanseerde kinders en mense as potensiële lede van God se eie Gesin, vernietig. Aangesien God se ware heiliges vir Satan en sy demone gaan vervang om oor hierdie wêreld te heers (Openbaring 5:9-10), haat Satan dit en vul hy die wêreld met allerhande skandelike idees aangaande seks en ander vorms van selfsugtigheid en fokus te alle tye op menslike plesier, eerder as op gehoorsaamheid aan die Skepper.

As ons nie versigtig is nie, sal Satan die duiwel dadelik allerhande soorte bose gedagtes in ons verstand plaas. Selfs wanneer ons aan gewone dinge dink en gewone boeke lees en na alledaagse televisieprogramme kyk, sal Satan soms begin om ons gedagtes te bombardeer met gemeenheid, ydelheid of haatdraendheid. Hy sal ons daartoe aanhits – indien hy kan – om verkeerde dinge te doen ten opsigte van seks en selfs geweld. Wanneer u in die oë kyk van sommige van die mans wat die verskriklikste wreedhede gepleeg het deur dosyne jong mense gedurende die afgelope jare in skole te vermoor, sal u dikwels ’n vreemde “wilde” uitdrukking daarin sien. Sielkundiges skryf dit alles dikwels toe aan ’n psigologiese ineenstorting. God alleen weet. Namate hierdie dinge egter toeneem en ook die bewustheid van God se mense en Sy wareleraars toeneem, sal ons vind dat baie van hierdie situasies veroorsaak word deur demone wat die denke van hierdie perverse individue beïnvloed of teister. Satan is tog ’n werklikheid. Dit is nodig dat ons besef dat ons in ’n “geestesoorlog” gewikkel is – vegtend teen die onsigbare magte van Satan die duiwel!

Die apostel Paulus is geïnspireer om elke opregte Christen te beveel: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:11-12).

Ons is inderdaad in ’n geestesoorlog gewikkel. Besef dit asseblief vir eie beswil. Moet nie u waaksaamheid verslap nie! Die Bybel beveel ons om die “volle wapenrusting” aan te trek sodat ons staande kan bly in die dae van die bose. Mag God u, ons lesers, almal help om die mag van Satan se misleiding op ’n persoonlike en nasionale skaal deeglik te verstaan in die jare wat binnekort voorlê. Die tyd sal spoedig aanbreek dat Satan self na hierdie aarde teruggewerp sal word ná sy finale poging om God se troon aan te val. Hy sal neerdaal “met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:9-12).

Sal u gereed wees? Sal u gewillig wees om die Bybel te glo en die onsigbare magte wat probeer om “met u verstand te mors”, te weerstaan? Sal u die Duiwel so kragtig kan weerstaan dat hy nie in staat sal wees om u en u geliefdes te vernietig in die geestesgevegte wat voorlê nie?

Namate Satan voortgaan om verkeerde gesindhede en idees regdeur hierdie wêreld se atmosfeer uit te saai, sal hy negatiewe en ontnugterende gedagtes en idees in u verstand plaas. Hy sal probeer om u te beïnvloed om teenstrydig met die weë en wette van u Skepper te handel – indien u hom toelaat. Dit is waarom God die apostel Jakobus geïnspireer het om aan ons te sê: “... weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). U moet u deel doen deur daadwerklik daardie verkeerde gesindhede te weerstaan wanneer u begin besef dat baie van hulle direk van Satan die duiwel afkomstig is.

Vra dus die Almagtige God vir begrip en vir Sy bevryding en maak seker dat u werklik die grondbeginsels bewys: Om te erken dat ’n baie werklike God – die Skepper van hemel en aarde – wel bestaan en in beheer is van die belangrikste gebeure in hierdie wêreld en in u lewe. U het ware insig in hierdie basiese sake nodig ten einde fisies en geestelik te kan oorleef in die komende gevaarlike jare. Indien u belangstel, kontak ons sommer nou om u gratis kopieë van ons boekies, Die ware God: Bewyse en beloftesasook Die Bybel: Feit of fiksie? aan te vra. Hierdie weldeurdagte en behulpsame boekies sal u ware insig gee, veel meer as wat u moontlik ooit voorheen gehad het en ditsal u geloof versterk.

Moet nie toelaat dat Satan die duiwel u verwar nie. Moet nie toelaat dat Satan die duiwel “met u verstand mors nie”. Die Bybel leer ons so duidelik: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:3-5).

My vriende ons leef in onstuimige tye. Miljoene Rooms-Katolieke hoop dat die volgende Pous, ná die bedanking van Pous Benedict XVI – van krag vanaf 28 Februarie 2013 – vernuwing sal bring in ’n veelbewoë instelling. Gelukkig vestig ware Christene hulle oë op Christus. Ons moet hard daarteen veg dat Satan ons nie verder insleep in die moderne “Babilon” nie – daardie stelsel van godsdienstige verwarring en eiesinnigheid wat gelei word deur Satan die duiwel. Ons moet gewillig wees om te handel volgens die Waarheid soos God dit aan ons openbaar. Ons moet gewillig wees om met ’n gevoel van dringendheid uit te kom uit die moderne “Babilon” (Openbaring 18:4). Mag Godu help om u deel te doen!