Ons hier by Die Wêreld van Môre glo dat ons werklik vir iets moet staan. Ons glo dat, as gelowige mense sê hulle “glo” in die God van die Bybel, hulle moet glo en onderrig wat die Bybel werklik sê. In die bladsye van hierdie tydskrif sal u deurgaans verwysings vind wat wys dat dít wat ons onderrig, uit die Skrif kom, nie bloot uit een of ander menslike tradisie nie. Ons daag u dikwels uit om wat ons sê aan uself te bewys deur dit in die bladsye van u eie Bybel na te slaan.

Die Waarheid is kragtig omdat egte Waarheid oor en oor bewys kan word. Dit kan op verskeie maniere getoets word en sal nie tekortskiet nie. Jesus Christus het ’n basiese maatstaf daargestel wat op baie verskillende studierigtings toegepas kan word, maar in die besonder op die studie van godsdiens. Jesus sê: “Maar pas op vir die valse profete [“leraars”] wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Mattheus 7:15-17).

Ons moet noukeurig dink oor die “vrugte,” of die resultaat, van verskillende godsdiensleerstellings. As ons dit deeglik en eerlik doen – nie net om dít wat ons reeds glo te bevestig nie – word dit duidelik dat individue en nasies geseën word en “goeie vrugte” dra in direkte verhouding met hoe hulle die wette en leerstellings van die Bybel onderhou. Namate ons egter toenemend ons rug draai op enige Bybelse grondslag, sal ons vind dat ons nasies – en die meeste individue – dienooreenkomstig sal ly.

Na die dood van die profete Moses en Josua, het antieke Israel begin afwyk van die Wette van God. Die Bybel boekstaaf die chaos wat gevolg het: die gesinsontwrigtings, oorloë, moorde, verkragtings en die gepaardgaande lyding. Na die beskrywing van die verwarring en lyding wat in daardie dae gebeur het, vertel God se Woord ons: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25).

In ’n weldeurdagte en kragtige artikel in Mei 2004, het rubriekskrywer Cal Thomas ’n korrekte ontleding gegee oor wat besig is om in die Verenigde State te gebeur. Hy skryf: “Kultuur-tsunamies, soos dié wat onder die oseane begin, word veroorsaak deur iets diep onder die oppervlak. Wanneer hoogwater die kus tref, is dit die gevolg van ’n ondergrondse aardbewing. Toe die staat Massachusetts Maandag begin het om huwelike tussen mense van dieselfde geslag te voltrek, het ’n seismiese verskuiwing in die morele tektoniese plate hierdie ‘golf’ vooruitgeloop ... Wanneer daar genoeg van hierdie verskuiwings plaasvind, wanneer ons ongevoelig begin raak oor onveranderlike waarhede, is dit nie meer ’n geval van óf die vloedgolf gaan tref nie, maar wanneer ... Die apostel Paulus het lank gelede reeds gesien wat gebeur wanneer mense grense verwyder: ‘want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede’ (2 Timotheus 4:3). Daardie dag het soos ’n tsunami oor Massachusetts en spoedig in die ander 49 state gekom. Dit is as gevolg van die aardbewing wat ons fondament gekraak het”.

Neem asseblief tyd om hieroor na te dink! Dink waarheen ons op pad is oor die volgende aantal jare – nie net in Amerika nie, maar ook in Kanada, Brittanje, Australië, Suid-Afrika, Nieu-Seeland en die grootste gedeelte van die belydende Christelike wêreld.

Hoe het ons tot hierdie toedrag van sake gekom? Hoewel die meeste Westerse nasies bely dat hulle Christene is, kry hulle hul weergawe van “Christelikheid” uit die Bybel, of uit menslike tradisie? Ek hoop dat die meeste van u intekenaars ons laaste uitgawe se insiggewende artikel, “Die Twee Babilons” deeglik gelees het. Dit maak dit duidelik met helder Bybelse- en historiese bewyse – wáár en hoé die meeste mense onwetend hul godsdienstige idees en filosofieë gekry het.

Het u, persoonlik, werklik vir uself die bestaan van die grote God van die Bybel bewys – die Skepper van die hemel en die aarde en die God wat nou begin om kragtig in te gryp in wêreldgebeure? Het u vir u eie gemoedsrus die inspirasie van die Bybel as die goddelike openbaring van God aan die mensdom bewys? Indien wel, sal u u daartoe verbind om te doen wat die Bybel werklik sê?

Hierdie drie vrae is die aanvang van wat kan lei tot ’n ware verhouding met God en die ware Jesus Christus wat in die Bybel geopenbaar word. Die Wêreld van Môre sal u deurgaans uitdaag om hierdie basiese dinge te bewys en u eie Bybel deeglik te bestudeer.

Ek daag elkeen van u lesers nou uit om die regte antwoord op al drie bogenoemde vrae aan uself te bewys. Daarbenewens daag ek u uit om die Bybel te begin bestudeer soos u ’n wiskunde-handboek of basiese handboek vir ’n kursus in Europese geskiedenis sal bestudeer.

’n Goeie plek vir Christene om te begin, is om sorgvuldig deur die eerste boek van die Nuwe Testament, die Evangelie volgens Mattheus, te begin lees en dit te bestudeer. Lees dit net deur soos enige ander belangrike boek wat u regtig wil verstaan. Een tegniek wat ek gebruik het, is om twee of drie hoofstukke van Mattheus deeglik te bestudeer en dan vinnig hierdie hoofstukke te hersien voor ek ophou. Volgende keer gaan ek weer daardeur voordat ek nog twee of drie hoofstukke lees. Hierdie metode van lees, hersien, hersien, lees – selfs om sekere sleutelgedeeltes te merk soos u aangaan – sal meebring dat u verstand elke Skrifgedeelte drie of vier keer hersien terwyl u ’n spesifieke Bybelboek bestudeer.

Dan, nadat u enige gegewe boek bestudeer het, mag u dit nodig ag om vlugtig deur die hele boek te gaan en sekere sleutelverse wat u gemerk het, te hersien sodat hulle in u brein gegraveer word. Op hierdie manier word die gedagtes van die Bybel diep in u verstand gevestig. U is dan besig om van Jesus Christus te “eet en te drink” – Sy verstand, Sy denke – soos wat die Bybel ons opdrag gee om te doen. Dit is een manier om uitvoering te gee aan Jesus se opdrag in Johannes 6:56-57: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe”.

Deur gereeld van die Bybel in te drink, daaroor te mediteer en God te vra om ons te help om dit te onthou en daarvolgens te leef, is ons besig om Christus geestelik “te eet”!

Dit is belangrik om die hele Nuwe Testament op hierdie manier te lees. Wanneer ons die Ou Testament lees, kan ons ietwat vinniger deur lang historiese gedeeltes lees – veral deur gedeeltes soos “ so en so was die vader van so en so”. Selfs dan is dit egter goed om seker te maak dat ons verstaan wat die Bybel werklik sê – nie wat mense vir ons sê die Bybel sê nie, want as u werklik versigtig en eerlik is hiermee, sal u vind dat die meeste kerke in hierdie wêreld nie werklik die Bybel verstaan of dit hoegenaamd op hierdie manier verkondig nie.

Die meeste individue en godsdiensorganisasies is meer begaan oor “tradisie” en om “saam te gaan” met wat die meerderheid dink, as wat hulle is om werklik die Bybel te bestudeer en dan volgens elke woord van die Bybel te leef – waar die Ou Testament natuurlik deur die Nuwe Testament uitgebrei en uitgelê word.

Die Wêreld van Môre tydskrif – en hierdie Werk van die lewende God wat dit ondersteun – is geheel en al vasberade om Apostoliese Christelikheid te laat herleef. Soos baie van u ouer lesers nou reeds ongetwyfeld verstaan, probeer ons opreg en dringend om die vermaning te volg wat aan die eertydse Christene aan die einde van die eerste eeu gegee is, toe ’n massiewe afvalligheid begin het: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).

In hierdie deurmekaar wêreld wat grootliks deur Satan die Duiwel en sy begeerte om verwarring te veroorsaak, beïnvloed word, is dit van wesenlike belang dat ons werklik aangespoor word om “kragtig te stry” vir die geloof wat “eenmaal” aan die heiliges van God oorgelewer is. Hoekom sal ons iets minder doen? Watter soort beloning sal die groot God ons gee as ons willens en wetens enigiets minder aanvaar?

Party van u mag selfs dieper wil delf met die hulp en leiding van ander wat vasberade is om bogenoemde benadering te volg. Ek moedig u aan om met ons in aanraking te kom (by die adres naaste aan u, soos in hierdie tydskrif gelys word). U kan gerus ons Wêreld van Môre Bybelstudiekursus aanvra, wat gratis en sonder enige verpligting aan u gestuur sal word. Dit sal u help om die Bybel te bestudeer en te verstaan en die Waarheid vir uself te bewys, sodat u nie mislei en verwar sal word deur valse leerstellings wat uit menslike tradisies voortspruit nie. Skryf asseblief vandag nog om gratis te registreer!