Een van die grondbeginsels van die Lewende Kerk van God se opdrag is: “Onderrig en beoefen dienende leierskap in hoe ons met ander mense omgaan”. Soos u mag onthou het ek hierdie sewe onderafdelings in detail in die Mei-Junie 2001 uitgawe van die Living Church News uiteengesit.

Doen ons dit egter?
In ons vorige kerkverbintenis was sommige (nie die meeste nie!) van die leraars geneig om aanmatigend op te tree. Hulle het dikwels dat die diakens en ander mense hulle bedien deur hul kinders op te pas, hul gras te sny, hul huise skoon te maak, ens. Hulle het ook dikwels nie werklik geluister wanneer iemand ’n probleem met hul benadering gehad het of daaroor besorg was nie. ’n Paar van hierdie leraars was bekend daarvoor dat hulle enigeen streng sou teregwys “wat in hulle pad kom”. Soms was hulle “klein diktators”!

Dan was daar die “super diakens” – weereens ’n klein minderheid, maar nogtans bekend. Hulle was ook aanmatigend en baasspelerig – hulle het gedurig die groot “gesag” wat hulle as diakens gehad het, vertoon. Sommige van die lidmate het dus gevoel dat die leraar/diaken rangorde te streng was en dat hulle nie ’n opregte dienende gesindheid gehad het nie; dat selfs van die ouer lede dikwels onvriendelik en ongevoelig opgetree het teenoor nuwer of fyngevoelige lidmate.

Die apostel Paulus is geïnspireer om ons te vertel: “Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou” (Romeine 15:1-2, NV). As enigeen van ons in ’n gesagsposisie in die kerk geplaas word, moet ons altyd onthou dat dit is om te dien, nie om te wys hoe belangrik ons is nie. Ons moet onthou om gereeld te lees en na te dink oor Jesus se opdrag hieroor aan Sy dissipels. Nadat Jesus ’n gesindheid van selfverheffing en wedywering onder sommige van Sy dissipels bemerk het, het Hy hulle na Hom geroep en aan hulle gesê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Mattheus 20:25-28).

Die gesindheid en benadering van diens moet dus getoon word in ons omgang met ander mense. Elkeen van ons in enige posisie moet daardie posisie probeer gebruik as ’n geleentheid – nie om onsself te verhef nie – maar om werklik te help, aan te moedig, te versterk en ons medelidmate te dien. Dit sal dikwels behels dat ons geduld en nederigheid aan die dag moet lê wanneer diegene wat ons dien, ons soms teëgaan, soms “te fyngevoelig is” of probeer om ons op die een of ander manier te ondermyn. Ongelukkig, lesers, sal die menslike natuur altyd met ons wees! Ons moet egter leer om opreg te luister na ander en probeer om te reageer op enige redelike voorstelle en om selfs te leer by diegene vir wie ons dien.

Jesus Christus sê die tweede groot gebod is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheus 22:39). Ons moet voortdurend oor hierdie gebod nadink as ons ware Christene wil wees. Indien enige van ons in gesagsposisies is, moet ons veral probeer om sensitief te wees vir die potensiaal, planne, hoop en drome van diegene wat onder ons werk. Ons moet hulle probeer aanwend na die maksimum van hulle menslike potensiaal vir die doel ophande. Terselfdertyd moet ons hulle ook probeer help en opvoed as mense – hulle nie net “misbruik” om ’n werk te doen om iets gedoen te kry wat ons gedoen wil hê nie. Ons moet probeer om soos hulle te dink sodat ons kan verstaan hoe hulle dink – wat hul probleme tuis is, hul gesondheidsprobleme, hoe hulle met hul medewerkers en toesighouers oor die weg kom en hul uiteindelike doelwitte betreffende hul loopbane. Ons moet probeer om hulle na die beste van ons vermoë te help om hul verwagtings en soos reeds genoem is, hul menslike potensiaal te verwesenlik.

As ons dus “belangrik” genoeg is om in ’n posisie van leierskap te wees, beter ons leer om “groot” genoeg te wees om al hierdie dinge te deurdink en te probeer om diegene wat ons bystaan, te dien! Jesus sê weer: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Lesers, as ons opreg probeer om onsself vir ander te gee – om ons lewens af te lê vir ons medemens – sal ons altyd neig om dienende leierskap in ons verhouding met ander te weerspieël. As ons inderdaad hul “leier” is in die sin dat ons in beheer is van die een of ander projek of komitee of moontlik ’n diaken, diakones of ouderling in die Kerk is, moet ons altyd ons verantwoordelikheid benader met dié gedagte: “Hoe kan ek ten beste gee en die mense dien wat saam met my gaan werk aan die projek ophande?” In alles wat ons doen, moet ons Jesus Christus weerspieël – die einste Een wat Homself en selfs Sy lewensbloed vir elkeen van ons gegee het!

Jesus sê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34-35). Hierdie teken van ware liefde en diens aan mekaar, moet weerspieël word hetsy ons “in beheer” is van ’n projek en ander lei, óf “onder” die gesag van iemand anders is. Ons moet in ieder geval probeer om mekaar te help en te ondersteun tot die beste van ons vermoë en om mekaar opreg te dien – asof ons Christus dien.

Om die interaksie met mede-Christene te ervaar in God se Kerk – wat Christus se liggaam is – en te leer om per geleentheid leiding te neem en verantwoordelik te wees vir die handelinge van ander mense, is deel van ons opleiding om konings en priesters in Christus se komende Koninkryk te wees. Die apostel Paulus vertel ons: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word. Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?” (1 Korintiërs 6:2-5).

Ons moet leer om behoorlik en regverdig onderskeid te tref in verskillende situasies sover dit ons wisselwerking met ander mense betref. Ons moet God voortdurend vra om ons wysheid te gee en ons te help om onpartydig en regverdig te wees. Ons moet die insettinge van God in die Ou Testament bestudeer. Ons moet beslis ook die leringe en voorbeelde van Christus en die Apostels bestudeer en daaroor mediteer soos hulle God se wet in die Nuwe Testament uitbrei. Dan kan ons, met God se hulp, leer om die situasies waarvoor ons in die Kerk en in die Werk van God te staan kom, regverdig te oordeel. Weereens, moet ons benadering in alles egter een wees van diens in die vrees van God.

Aangesien ons almal, mits ons waardig geag word, uiteindelik konings en priesters in die Koninkryk van God gaan wees, moet elkeen van ons die beginsels van die apostel Petrus se opdrag aan die ouderlinge toepas. Ons gaan baie meer as menslike ouderlinge wees wanneer ons konings in God se Koninkryk word. God inspireer Petrus om te skryf: “Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ’n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ’n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (1 Petrus 5:1-5).

U sal opmerk dat een in bevel – ’n “herder” – met gewilligheid, eerlikheid en nederigheid moet dien. Hulle moet nie “heersers” wees oor diegene wat aan hulle sorg toevertrou word nie. In alle dinge moet hulle “voorbeelde” vir die kudde wees. Elkeen van ons, hetsy lesers, lidmate of leraars, moet hierdie beginsels op onsself van toepassing maak. Ons moet ook beslis Petrus se opdrag in vers 6 volg: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd”.

In al hierdie dinge sal ons van tyd tot tyd foute maak. Die menslike natuur is steeds met ons! Ons moet mekaar dus voortdurend langs die weg vergewe op ’n openlike en innige, opregte manier – nie griewe of kwade gevoelens oor foute van die verlede ronddra nie. Nogtans moet elkeen van ons in enige posisie van gesag of leierskap ons verantwoordelikhede probeer nakom in die vrees van God en met ’n gesindheid van diepe liefde en opregte diens aan diegene wat saam met ons werk of onder ons leierskap staan in die projek ophande.

Laat ons almal leer om Jesus Christus op hierdie manier te weerspieël. Laat ons almal leer om opreg te groei in dienende leierskap en dit uit te leef tot die eer en heerlikheid van die God wat ons dien en die Verlosser wat Homself vir ons gegee het.