Jesus Christus het Sy hele bediening op die spel geplaas op ’n sleutel-profesie wat die meeste belydende Christene ignoreer of selfs ontken!

Drie dae, drie nagte en ’n teken wat die meeste “Christene” ignoreer


Vir die meeste mense is 72 uur ’n lekker driedag lange naweek, of moontlik ’n kort wegbreek of vakansie. Dit is aangenaam, maar dikwels gou weer vergete. Dit is tog net drie dae en drie nagte. Wat kan die belangrikheid wees van so ’n kort tydjie binne die raamwerk van groter gebeure? Wanneer ’n mens oë het om te sien, word die betekenis van 72 uur baie duidelik.

Dink aan die boek van Jona, ’n kort Bybelse boek, wat die verhaal van ’n onwillige profeet vertel. God het Jona beveel om die mense van die groot stad Nineve te waarsku dat indien hulle hulle nie bekeer van hulle wreedheid en gruweldade nie, die stad vernietig sou word. Jona, ’n Hebreër, het gesien hoe sy mense slagoffers van groot Assiriese wreedheid word, daarom het hy van die toneel gevlug en probeer om sy verantwoordelikheid te ontduik.

Die skip waarop Jona passaat bespreek het, was egter vasgevang in ’n verskriklike storm op see. Jona word oorboord gegooi in ’n poging om die skip te red. God het ’n groot vis beskik om hom in te sluk, wat verhoed het dat hy verdrink. Die Bybel sê dat Jona vir drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was – 72 uur.

Dink daaraan hoe dit moes gewees het. Met seewier om sy kop gedraai, verduur Jona die reuke en die klam donkerte sonder om te weet wat volgende gaan gebeur. Hy het sekerlik verwag om in hierdie beproewing te sterf. God het dit egter so beskik dat die groot vis vir Jona op die strand uitspoeg! ’n Mens wonder of Jona ooit weer vis geëet het nadat hy die walglike inhoud binne in die vis se ingewande gesien het.

Terwyl Jona tot verhaal gekom het na hierdie ongelooflike bevryding en gewonder het “Wat nou?”, het God aan hom gesê om Ninevé te waarsku. Hierdie keer het Jona egter teësinnig gehoorsaam.

U mag wonder: “Wat kan dit tog met my te doen hê?” Wel, dit mag u verbaas om te weet dat Jesus Christus hierdie 72-uur beproewing van Jona gebruik het as ’n kragtige teken as antwoord aan die skeptiese skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs wat ’n teken vereis het as bewys dat Hy die Messias was.

Die Skrif dokumenteer die gebeurtenis: “Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheüs 12:38-40).

Dink daaraan! Die enigste direkte teken wat Jesus Christus van Sy Messiasskap gegee het, was dat Hy 72 uur in die graf sou deurbring – net soos Jona, wat so goed as dood in die buik van die groot vis was, was dit nie vir God se bevryding nie! Die godsdienstige leiers wat Christus bevraagteken het, het die verhaal van Jona baie goed geken, maar dit het gelyk asof hulle nie die ware betekenis verstaan het nie.

Vandag volg die meeste belydende Christene die Goeie Vrydag/Paassondag tradisie wat ’n bespotting maak van Jesus Christus se eie woorde met hierdie belofte! Daar is geen manier waarop Jesus se 72-uur belofte ingepas kan word in die verkeerde idee van ’n kruisiging op Vrydag en Sy opstanding op Sondag nie. Die Paasfeesverhaal [Easter] is self ’n produk van die voor-Christelike heidense tradisies en word nêrens in u Bybel gevind of aangemoedig nie!

Hoe erken en herdenk ware Bybel-gelowige Christene die dood van die Verlosser van die mensdom? Die Kerk van God onderhou die Pasga met die Nuwe-Testamentiese simbole van die brood en wyn, soos Jesus Christus Sy dissipels geleer het om te doen.

U behoort te weet van die 72 ure wat die mensdom se bestemming vir ewig verander het. Indien u meer wil weet van hierdie baie belangrike tydperk en hoe om dit te herdenk soos Christus se bedoeling was, lees ons lewensveranderende boekies, Wat is ’n ware Christen? en Die Heilige Dae – God se meesterplan.