Noudat ons personeel gevestig geraak het in Charlotte, Noord Carolina, vind ek myself baie ongeduldig om dinge aan die gang te kry. Ek hoop en bid om hierdie Werk vinniger en vinniger te sien groei sodat ons 'n ware impak op hierdie sondesiek wêreld kan hê. Ek weet – en ek is seker u weet ook – dat hierdie verwarde wêreld 'n desperate behoefte het aan dit wat ons het om te bied.

Ons hele hoofkantoor personeel werk baie hard. Ons veldpredikers is waarlik “uitgerek” om by te hou met die groot aantal gemeentes waaroor elkeen van hulle moet waak. Meeste van u lede – en getroue medewerkers ook – bid, gee, dien en doen ook u uiterste bes om te help om die boodskap van Christus meer kragtig bekend te maak. Dankie vir u ondersteuning en konstante getrouheid!

Hoekom groei ons nie selfs vinniger nie?
Eerstens behoort ons baie dankbaar te wees vir die soliede groei wat ons alreeds ondervind – selfs in 'n tyd van resessie en een van die hoogste werkloosheidsyfers in die laaste jare! Ten spyte van dit alles, groei die Werk se inkomste met 'n koers van amper 8 persent vanjaar. Dit is veel beter as die meeste van godsdienstige organisasies. Meeste kommersiële besighede sou verheug gewees het met hierdie soort groei in resessiewe omstandighede. Soos ons onlangs aangekondig het, het ons so pas begin om die Tomorrow’s World-program op drie addisionele televisie stasies die lug te laat sien in Amerika. Meer groei is dus sekerlik op pad, maar werklike groot groei is nog nie besig om plaas te vind nie.

Soos wat ek hieroor gedink en gebid het in die laaste maande, het ek tot 'n besef gekom dat verskeie faktore betrokke mag wees. Eerstens, soos bo genoem, is ons alreeds geseën met 'n billike hoeveelheid groei en inkomste in die Werk, die televisie terugvoering en in baie ander opsigte. Tweedens, ons moet nie “eksplosiewe” groei verwag nie, aangesien ons die “oorblyfsel” van die Filadelfia Kerk is wat oorleef in die Laodicéa tydperk. Deur uitdruklik die “oop deur” vir die Filadelfia tydperk te beskryf, het Christus gewys dat dit die Kerktydperk sal wees met die meeste “oop deure” en die meeste groei. Nogtans het Christus steeds vir ons, as die Filadelfia oorblyfsel, goeie groei gegee in die Laodicéa tydperk. Ons is baie dankbaar hiervoor.

Soos die jare verby gaan, geliefde broeders, is dit baie belangrik dat ons almal meer en meer groei in geestelike begrip. Ons moet die “verstand van Christus” hê, want vanuit Christus se oogpunt gesien, is “een dag by die Here soos duisend jaar … en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Alhoewel ons dus baie redes het om te voel dat Christus binne hierdie generasie sal terugkeer, moet ons nie definitiewe datums stel en dan ontmoedig word as Christus nie volgens ons tydtafel handel nie!

God sê aan ons: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9). Die Ewige God werk volgens Sy plan en Sy voorneme op 'n wyse wat ons nie ten volle verstaan nie. In Sy oneindige wysheid en genade, mag Hy verlang om ons geliefde mense 15 tot 25 jaar meer te gee om die wêreldse lewenswyse te beproef en onder hierdie onheil te ly voordat Hy ingryp en die Groot Verdrukking meebring. Daarna sal hulle nie in staat wees om die volgende te sê nie: “Ons was gelukkig en voorspoedig en alles het goed gegaan totdat God ingegryp en ons gestraf het!”

Aan die ander kant mag God dalk al genoeg gehad het van ons geweld, wellus, seksuele verdorwenheid, pornografie, dronkenskap, dwelmmisbruik, aborsies en ander walglike praktyke. Hy mag besluit om kragtig in te gryp en die Britse nakomelinge en Amerika se mense te kasty binne die volgende vyf tot sewe jaar! Sou ons waarlik geduldig en nederig na Sy wil soek, sal God ons meer duidelik Sy tydtafel wys soos wat wêreldgebeure ontwikkel.

Ons sal steeds ver voor die wêreld wees deur te verstaan wat in die toekoms gaan gebeur! Ons verstaan dus die “Geheelbeeld” op 'n manier wat die wêreld nie kan nie. Profesie is verseker besig om vorentoe te beweeg volgens daardie scenario. Aangesien elke jaar soos 'n lang tyd voel vir sommige van ons wat God alreeds vir dekades verwag, kan ons “ongeduldig” word en wil hê dat God Jesus Christus binnekort moet terugstuur aarde toe. God verstaan dit verseker – selfs die apostel Paulus het klaarblyklik gevoel en gehoop dat Christus sou terugkeer gedurende sy leeftyd.

Aan die ander kant moet ons nogtans nie “moeg word om goed te doen nie” (Galasiërs 6:9) en ons ywer verloor om te oorkom en om die Werk van God te doen nie. Deur die eeue moes God se mense telkemale in vertwyfeling geraak het soos wat hulle gewag het op God om in te gryp in verskriklike omstandighede, of soos hulle gewag het op Christus se terugkeer. God het vooruit geweet dat dit sou gebeur en het ons baie instruksies gegee om ons te wys hoe ons behoort te voel: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur” (Jakobus 5:7-9).

Dawid moes op die vlug bly en hoofsaaklik “wegkruip” van Saul vir omtrent tien jaar, in grotte en skeure reg oor Israel, voordat God hom uiteindelik verlos het en die beloofde koningskap gegee het! Dawid moes by tye gedink het: “Hoe lank, o Here?”

In Psalm 37:7-8, vertel Dawid ons: “Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig”. Ons moet geduldig wag en besef dat God een of ander hoër doel het as om skynbaar antwoorde van ons gebede te “vertraag”. Dikwels sal ons Sy doel eers later in die lewe verstaan. Die profeet Daniël het 'n ondervinding soos hierdie ondervind. In Daniël 10:1-3 vind ons dat Daniël gevas en uitgeroep het tot God vir drie volle weke, nogtans het klaarblyklik geen antwoord gekom nie! Later was 'n engel gestuur om Daniël te bemoedig, en het aan hom gesê: “Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom” (Daniël 10:12). God het dus alreeds gehoor, en “hulp was onderweg”. Daniël het nogtans nie geweet dat hulp onderweg was nie tot op een of ander tydstip later. Só is dit met ons.

Ons God onderrig ons deur die apostel Paulus: “Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is” (Hebreërs 6:11-12).

Gaan weer na Psalm 37. Let op hoe Koning Dawid vir ons sê om te “wag op die Here”. Dawid skryf: “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense” (vers 34). In afsluiting tot hierdie kragtige Psalm, het Dawid gesê deur God se inspirasie: “Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid. En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom” (verse 39-40).