Het u ’n tekort aan moed en gemoedsrus om vandag se wêreld die hoof te bied? Die Bybel bevat wesenlike sleutels wat van hulp kan wees!

Ervaar u vrese en angs? Almal van ons ervaar persoonlike uitdagings. Baie van ons wonder soms hoe ons oor die weg gaan kom in ons moderne wêreld van konstante ekonomiese-, maatskaplike- en omgewingspanning. Die druk van die daaglikse lewe kan selfs ons emosionele stabiliteit uitdaag en ons magteloos van vrees laat. Die goeie nuus is dat u u vrese in die gesig kan staar. Daar is wesenlike sleutels tot geloof en gemoedsrus in die Bybel. In hierdie artikel gaan ons sewe strategieë ondersoek om u vrese in die gesig te staar.

Die eerste sleutel is om te weet wat die toekoms inhou en voorbereid te wees daarop. Die Bybel gee vir ons ’n oorsig van die toekoms. Dit openbaar God se wonderlike doel en plan. God het aan die mens die voorreg van keuse gelaat: om te kies tussen reg en verkeerd; om te kies tussen die normale en die abnormale; om Sy geopenbaarde leefwyse te kies wat vrede bring, of om die weg van boosheid en oorlog te kies. Die Bybel openbaar dat ons uiteindelik ’n glorieryke wêreld van vrede en voorspoed sal hê! Die goeie nuus van die mensdom se uiteindelike lotsbestemming kan ons perspektief en hoop vir die toekoms gee. Ons het ’n keuse! Soos God aan Israel sê: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle. die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19).

Die wêreld het meestal die weg van die dood gekies. Ons moet dus die werklikhede van hierdie vleeslike, selfsugtige en bose wêreld waarin ons leef in die gesig staar en dienooreenkomstig optree. Watter optrede? Let op hierdie raad in Spreuke: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Hierdie beginsel is so belangrik dat die wyse koning Salomo dit in Spreuke 27:12 herhaal.

Deur te weet wat die toekoms inhou en voorbereid te wees daarop, sal u help om u vrese die hoof te bied. Jesus sê ons moet profetiese gebeure verstaan (Mattheus 24:15). In Lukas 21 beskryf Hy tekens wat Sy Wederkoms sal voorafgaan en gee Hy hierdie vermaning: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Lukas 21:31-33). Jesus sê dat ons waaksaam moet wees op profetiese gebeure sodat ons sal weet wanneer die Koninkryk van God naby is. Hy het nie gesê, “sodat ons kan raai wanneer die Koninkryk van God naby is nie”.

Jesus verduidelik voorts hoe ons ons vrese die hoof kan bied deur te verstaan wat aan die kom is: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (verse 34-36).

Soos ons bewus bly van wêreldgebeure, nie slégs as vreeslike tragedies nie maar as tekens van Christus se spoedige Wederkoms, kan ons ons sorge oorkom en ons vrese die hoof bied.

Die Februarie 2002 uitgawe van die Phychology Today tydskrif verkondig op sy voorblad: “Oorwin vrees: Is ons te bang?” Dit bevat ’n artikel met die opskrif: “Moenie vrees nie”. Skrywers Brad Schmidt en Jeffrey Winters skryf: “Amerikaners is deesdae baie senuagtig. Wanneer ons versigtig ons pos oopmaak, is angs altyd teenwoordig ... Terroriste het op 11 September meer gedoen as om bloot geboue te vernietig; hulle het die Amerikaanse gees geskok. Die besonderhede spreek boekdele: Aptekers sê daar is ’n toename in die aanvraag vir teen-angs middels ... en party gesondheids- en mediese beamptes het ’n 25 persent toename in oproepe ondervind (bl. 46, 48). Die skrywer Ray Monsour Scurfield gee in sy artikel “Die Normale Abnormale” die volgende raad om opgewasse te wees: “Balans: Bly op hoogte van aktuele gebeure maar gee aandag aan uself” (bl. 50).

Ja, ons moet waaksaam wees vir profesie wat om ons vervul word. Die vinnige opvolging van gebeure moenie veroorsaak dat ons deur vrees oorweldig word nie; ons moet uitsien na die uiteindelike vervulling van die profesie: Die Wederkoms van Jesus Christus om die Koninkryk van God hier op die aarde te vestig.

’n Tweede sleutel om u vrese die hoof te bied is om u prioriteite te ken. Wat is u grootste prioriteit in die lewe? Is dit slegs om te oorleef? Let op wat Jesus sê: “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor ...” (Markus 8:35). Jesus wys dat ons ’n groter prioriteit moet soek as om bloot ons fisiese lewens te wil bewaar. Sy volgende opmerking wys vir ons wat daardie prioriteit moet wees. Hy sê: “Maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. Want wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?” (verse 35-36).

Die Skeppergod het ’n wonderlike toekoms vir u beplan ná hierdie vreesagtige wêreld. Hy wil u in Sy Koninkryk hê wat binnekort na hierdie aarde gaan kom. Hoe groot prioriteit is daardie Koninkryk vir u? Onthou wat Jesus sê en merk hierdie vers in u Bybel: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33).

Jesus Christus vertel ons dat die grootste prioriteit in die lewe is om die Koninkryk van God te soek. Christus sal terugkeer as Koning van konings en Heer van here om Sy Koninkryk hier op die aarde te vestig. Ek en u moet in daardie Koninkryk wees! Om na daardie Koninkryk te soek moet ons grootste doel en prioriteit wees. In sy Psychology Today artikel gee Scurfield die volgende raad: “Herbepaal prioriteite: Gee aandag aan dit wat die belangrikste is” (bl. 50). Waar gaan ons heen om uit te vind “wat die belangrikste is”? Ons ondersoek die Skrifte. Ons gaan na die Bybel, die Woord van God!

Wanneer u u eenmaal daaraan verbind het om eers die Koninkryk van God te soek, kan u vrese u nie oorweldig nie. Soos Jesus aan diegene wat Sy Koninkryk soek sê: “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (vers 34).

Vrese kom soms as gevolg van ons eie sondige gedagtes en optrede. Wanneer ons sondig en weet dat ons gesondig het, voel ons skuldig. Ons is bevrees dat iets verskriklik met ons gaan gebeur en siedaar, daar gebeur dit! ’n Derde sleutel om u vrese te bowe te kom, is dus om u van u sondes te bekeer.

Ja, ons moet ons vrese, ons bekommernisse en ons sondes erken! As ons ons werklik van ons sondes bekeer, sal God ons vergewe. Ons kan vry wees van angs en bekommernis wat gepaardgaan met skuldgevoelens! Ons kan gemoedsrus hê, verseker van God se belofte dat “Hy getrou en regverdig [is] om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Dit verg moed om ons sondes voor God te bely, maar wanneer ons die verantwoordelikheid vir ons eie dade aanvaar en ons bekeer van ons sondes, sal God ons vrede gee. Om ons te “bekeer” behels nie net om te sê ons is jammer nie. Werklike bekering behels dat ons ons optrede en denkwyse verander. Dit beteken om om te draai en die ander rigting in te slaan. Dit beteken om ons sondes voor God te beken en Hom om vergifnis te vra.

Wanneer u tot bekering kom, moet u Christus se offerande aanvaar as betaling vir u sondes en gewillig wees om God se regverdige Wet te gehoorsaam. Kan u God se Wet gehoorsaam? Ja, u kan – deur die Heilige Gees in u, wat u ontvang tydens die doop. As Christen mag u nie daarin slaag om God se Wet volmaak te gehoorsaam nie, maar u sal leef volgens ’n patroon van gehoorsaamheid deur die inwoning van die Heilige Gees. U sal weet dat u in berou tot bekering na Christus toe kan gaan wanneer u struikel.

Toe die apostel Petrus op die eerste Pinksterdag oor bekering gepreek het, wat het hy die mense aangesê om te doen? Om hulle te bekeer en hulle te laat doop (Handelinge 2:38). Deur gedoop te word, verklaar ons ons geloof in Christus se offerande. As u berouvol is en ernstig daarna streef om ’n verandering in u lewe te maak, kan u dit oorweeg om gedoop te word. Moontlik was u selfs van tevore gedoop, maar besef nou dat u nie regtig bekeer was ten tye van die doop nie. Indien dit die geval is, skakel asseblief ons kantoor naaste aan u soos op bladsy 2 van hierdie tydskrif aangedui word. Ons sal u graag in kontak bring met ’n ware leraar van Jesus Christus, wat met u berading sal doen oor hierdie wesenlike sleutel om ’n Christelike lewe te lei en u vrese die hoof te bied.

’n Vierde sleutel om u vrese die hoof te bied, is om te bid oor alles wat u kwel. Soms word u vrese bewaarheid. Soos die aartsvader Job opmerk: “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe” (Job 3:25). Hoe hanteer u vrese en bekommernisse? Deur gebed kan u u vrese met God se hulp die hoof bied! Dit was die apostel Paulus se strategie; hy skryf: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Met ander woorde, deel u bekommernisse, u vrese en u besorgdhede in gebed met God! Bid oor alles wat u kwel! Deel u intiemste gedagtes met God; Hy ken dit in elk geval en wil u help as u in gebed na Hom kom.

Presies hoe moet u bid? Let op dat Paulus sê om “met danksegging” te bid. U kan God bedank vir al u seëninge. Bedank Hom vir die einste voorreg om Hom te mag vra vir Sy ingryping en vir oorwinning oor u vrese. Is u oorweldig met vrese, bewus van alles wat verkeerd geloop het in u lewe? Die skrywer van die ou 19e eeuse liedjie was reg toe hy geskryf het: 
“As die lewenstorme woedend om jou slaan, 
En jy, gans ontmoedig, vrees om te vergaan, 
Tel jou seëninge, tel hul een vir een, 
En jy sal verbaas wees oor wat God verleen”.

Wanneer u u seëninge tel – wanneer u God bedank vir al die seëninge wat u ervaar het en nog in u lewe gaan ervaar – is daar ’n wonderlike resultaat, soos Paulus beskryf: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (vers 7).

Ja, u kan gemoedsrus hê – die einste vrede van God, maar Hy verwag dat u tot aksie sal oorgaan. Hy verwag dat u Hom om hulp sal vra en u geloof in God se bereidwilligheid om u te help, sal uitdruk deur Hom te bedank wanneer u u vrese met Hom deel.

’n Vyfde sleutel om u vrese in die gesig te staar, is om geloof te beoefen. Hebreërs 11 word dikwels die “geloofshoofstuk” genoem. Dit vermeld helde en heldinne van die geloof. Wat is geloof? “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). Geloof is ’n versekering – ’n vertroue.

Abraham het geloof gehad. Hoewel hy baie oud was, het hy God se belofte geglo dat hy die vader van baie nasies sou word. “En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:20-22).

Met ander woorde, God was vir Abraham ’n werklikheid. Hy het geweet dat God heeltemal in staat was om Sy beloftes gestand te doen. Het u al ooit die vraag gevra: “Wat het God my belowe?” As u geloof het, kan u die Bybel lees en honderde beloftes kry wat God vir u kan vervul, mits u Hom glo en gehoorsaam.

Is u bevrees dat u nie genoeg te ete sal hê, of klere om aan te trek nie? Is u bekommernisse meestal oor u fisiese behoeftes? Let op hoe Jesus Sy luisteraars teregwys wat bevrees was dat hulle fisiese behoeftes nie bevredig sou word nie: “En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Mattheus 6:28-30).

Ons kan op God vertrou om ons Sy geloof, Sy mag en Sy krag te gee. Wanneer ons die voorbeeld van Christus en die Apostels volg, kan ons ons vrese in die gesig staar – en hulle oorkom. Soos Paulus skryf: “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9).

’n Sesde sleutel om u vrese in die gesig te staar, is om God te vrees. Kan u werklik u vrese die hoof bied deur vrees te hê? Baie mense noem verkeerdelik die “vrees van God” primitief. Die Bybelse vrees van God is ’n diepe eerbied en agting vir die Skepper. Dit is ’n ontsag vir God se majesteit en grootsheid. Dit is ’n reaksie op die werklikheid van God. Wanneer u kies om God te vrees, sal u nie die mens vrees nie.

Die vrees vir God en die liefde vir God sluit mekaar nie wedersyds uit nie. Baie dink verkeerdelik dat ’n mens óf die een óf die ander kan hê. Dit is nie wat u Bybel sê nie. Let op: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deuteronomium 10:12-13).

Ja, God verwag dat ons Hom beide moet liefhê en vrees. Beide eienskappe gaan hand aan hand! As u deur die boeke van Psalms en Spreuke lees, sal u verstom wees oor die seëninge en voordele wat met ’n goddelike vrees gepaard gaan! Byvoorbeeld: “In die vrees van die HERE lê ’n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ’n sodanige sal daar ’n toevlug wees” (Spreuke 14:26). Ware onverskrokkenheid (“sterk sekerheid”) kom van God af.

Daar is nie vrede in ons wêreld vandag nie omdat so min mense beskik oor Goddelike vrees. Die apostel Paulus maak dit baie duidelik wanneer hy Jesaja aanhaal: “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:15-18).

Hoeveel mense het u geken wat verwaand is en geen Goddelike vrees het nie? Ons wêreld het opregte, nederige Christene nodig wat die ware God eerbiedig. Ons moet die Messias, Jesus Christus, se voorbeeld volg. Hy het God gevrees (Jesaja 11:2). Hy leer ons: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Mattheus 10:28-31).

’n Vrees vir God – eerbied vir die ware God – gee ons vrede en sekerheid. Ons kan weet dat God ons waardeer en dat Hy net die beste vir ons wil hê – en dat ons die beste kan kry indien ons Hom gehoorsaam.

Geloof is ’n teenmiddel vir vrees! Deur eers die belangrike dinge in die lewe te soek, sal u help om in geloof te groei! Namate u groei in geloof, sal u sien dat God in staat is om baie meer te doen as wat mense weet of selfs kan bedink. Soos Paulus skryf: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Efesiërs 3:20-21).

God wil hê dat ons ná aan Hom moet wees; Hy wil hê dat ons ons bekommernisse, vrese en besorgdhede met Hom moet deel. Hy wil hê dat ons Hom om hulp moet vra! Wees vrymoedig. Vra God om u te help soos Hy beloof, “om te doen ver bo alles wat ons bid of dink”.

Deur geloof te hê in God se beloftes, sal u u vrese in die gesig kan staar. Die “geloofshoofstuk”, Hebreërs 11, herinner ons: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Die sleutel hier is om Hom ywerig te soek. U soek Hom deur elke dag tot Hom te bid. U soek Hom deur elke dag u Bybel te lees. Onthou: “Geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17).

’n Sewende sleutel om u vrese in die gesig te staar – die belangrikste sleutel vir ’n bekeerde Christen – is om God te vra vir die Heilige Gees. God se Heilige Gees is die gees van liefde en krag. Hy gee ons daardie gawe nadat ons ons bekeer het en gedoop word. Soos ons vroeër gelees het, het die apostel Petrus op Pinksterdag met duisende mense gepraat toe die Nuwe-Testamentiese Kerk begin is. “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Die Heilige Gees is ’n gawe van God. Na die doop lê die leraar sy hande op die hoof van die persoon wat gedoop is en maak aanspraak op daardie gawe. Die evangelis Timotheus, aan wie Paulus geskryf het, het die Heilige Gees ontvang deur die oplegging van Paulus se hande: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande” (2 Timotheus 1:6).

Die Heilige Gees is nie ’n Gees van vrees nie, maar van krag en liefde en van ’n gesonde verstand (vers 7). Die apostel Johannes skryf: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie” (1 Johannes 4:18). God sal u die geskenk van Sy liefde gee wat vrees uitdryf. Dit is die gawe van goddelike liefde deur die Heilige Gees. Met die Heilige Gees sal die bekeerde Christen self ervaar wat Paulus bedoel het toe hy skryf: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7). Mag God u inspireer om u vrese die hoof te bied en ’n lewe van vertroue, geloof en gehoorsaamheid te lei wat Hy vir u wil hê, soos u gereed maak vir u plek in Sy eerskomende koninkryk in die Wêreld van Môre.