Die wêreld het nog nooit iets soortgelyk gesien nie! Op 6 Junie 1944, na baie maande van noukeurige beplanning en met ’n geringe kans op gunstige weer, is die militêre veldtog om die nasies van Europa uit Nazi-beheer te bevry, van stapel gestuur. Die logistiese briljantheid van Operasie Overlord, die grootste amfibiese aanval in die geskiedenis, het stadig ontvou toe die Amerikaanse en Brits-geleide aanval (met Kanadese ondersteuning) op die Normandiese kus van Noord-Frankryk begin het.

Een vir die geskiedenisboeke

Die volgende paar dae sou deurslaggewend wees; indien hulle sou verloor, was dit te betwyfel of ’n ander inval weer gou beplan sou kon word. Nazi-divisies sou oorgeplaas word na die oostelike front wat die ewewig teen Stalin se Russiese magte sou laat kantel. Die Tweede Wêreldoorlog sou waarskynlik verleng word en die uitslag sou net onsekerder word. Indien die Geallieerdes egter sou slaag, sou die Nazi-stewel met geweld van Europa se keel verwyder word. Die mense sou weereens vryelik kon asemhaal en die term D-Dag sou in die bloed-deurdrenkte annale van die geskiedenis aangeteken word en die dapperheid, moed en persoonlike opoffering van diegene wat betrokke was sou te alle tye onthou word.

Gedurende die voorafgaande maand het ’n lugaanval Normandië geïsoleer van die grootste deel van die Duitse magte wat elders opgestel was. Spoor- en elektroniese kommunikasie is ontwrig en brûe is vernietig. Met die Franse Weerstand wat ’n sleutelrol gespeel het, is Normandië feitlik afgesny van Nazi-versterkings tydens die kritieke uur toe dit regtig saak gemaak het. Die suide van Engeland het een groot gewapende kamp geword met skynbaar ’n eindelose voorraad van toerusting en meer as 3 miljoen soldate – 2 miljoen van hulle afkomstig uit die Verenigde State.

Albei kante van die Engelse Kanaal is geblokkeer om Duitse indringing te voorkom. Die Geallieerdes het bykans totale beheer oor die see en die lugruim verkry. Mynveërs het die saamgestelde vloot van 7,000 skepe wat 130,000 weermagmanne deur mynvelde vervoer het, gelei na hulle vergaderpunte aan die Franse kus.

Op Dinsdag 6 Junie, ongeveer teen middernag, het 5,000 vragvliegtuie en sweeftuie 20,000 troepe begin neerlaat om strategiese punte in die omliggende binneland te beveilig – 13,600 Amerikaners om die westelike flank van die landingstrande te beskerm en meer as 6,000 Britse en Kanadese soldate om die oostelike flank te beskerm. Dwarsdeur die dag het die vliegtuie versterkings en voorrade, met inbegrip van ligte tenks en veldartillerie ingebring.

Oornag is ’n ontsaglik kragtige bombardement deur duisende bomwerpers aan die kuslyn vanuit die lug ontketen en van die see se kant af deur 600 oorlogskepe en vuurpyl-draende landingstuig. Die swaar verdedigde atlantiese muur wat versterk is deur sy kragtige artillerie en masjiengeweer stellings, sowel as sy strand hindernisse en myne, is feitlik vernietig met wisselende grade van doeltreffendheid.

Dagbreek het ’n verstommende gesig onthul: So ver as wat die oog kon sien was daar golf op golf landingstuie, volgepak met manne en militêre toerusting. Met die kuslyn wat beveilig is, het troepe op vyf strandgebiede begin land en is oor ’n 80-km lange kusgebied ontplooi. In die weste het 57,000 Amerikaanse troepe op die Utah en Omahastrande aan wal gestap. Daarna het 25,000 Britse troepe op Gold strand, 21,500 Kanadese op Juno strand en laastens in die ooste, nog 29,000 Britte op Sword strand geland.

Die begin van die einde

Dit het moeilik gegaan, om die minste te sê. Teen die einde van die eerste dag het die Geallieerdes byna 10,000 verliese gely, óf gedood, gewond óf vermis. Die weerstand op sommige strande was min en het die ontplooiing van die gedetailleerde gevegsplanne toegelaat, maar die situasie op Omaha strand was ’n totale slagting met sowat 3,880 ongevalle. Slegs die dapperheid en toewyding van die troepe, verpersoonlik deur die Hollywood rolprent Saving Private Ryan, het die dag gedra en dit was nie voor die derde dag dat al hulle aanvanklike doelwitte bereik is nie.

Gevegte in die bocage binneland, die lappieskombers van velde en woude met diep paaie en hoë lanings, was verbete en vordering was stadig. Die toename van die Geallieerde magte was egter meedoënloos; teen 11 Junie het 327,000 troepe met 54,000 voertuie en 105,000 ton voorraad geland.

Die besef van die belangrikheid van veilige hawens om versterkings en voorrade aan wal te bring, het die Britte met ’n nuwe oplossing te voorskyn laat kom; hulle sou hulle eie hawes skep. Hierdie kunsmatige hawens is Mulberries genoem. Dit was ’n reuse onderneming en het sewe maande geneem om te bou. Dit is na Normandië gesleep en in hulle posisies gesink. Op 19 Junie het ’n hewige storm egter alles behalwe die Mulberry hawe by Omaha strand vernietig en is ’n verlies van 140,000 ton toerusting gely en vordering is met een week vertraag.

Oor die volgende paar dae is sleuteldoelwitte stadigaan bereik. Cherbourg met sy belangrike hawefasiliteite is op 25 Junie verower. Troepe het suid- en weswaarts in Bretagne inbeweeg  (Bretagne is 'n kulturele gebied in die noord-weste van Frankryk). Onophoudelike bombardering van Caen het uiteindelik daartoe gelei dat die stad op 9 Julie ingeneem word, maar die verliese aan die Geallieerde kant was swaar. As gevolg van die uiters intense gevegte het Duitse weerstand by St. Lo aan die einde van Julie begin verbrokkel. Die belangrikste Duitse afdelings was omsingel in ’n gebied bekend as die Falaise Pocket waar die Geallieerde lug-oppergesag hulle die verskriklikste slagting toegedien het. Rommel se Sewende Leër is verpletter en die Slag van Normandië is gewen! Die weg was nou oop om die res van Frankryk vinnig in te neem. Teen 26 Augustus is Parys bevry. Binne nog ’n jaar sou die oorlog in Europa verby wees.

Uiteindelike oorwinning lê voor

 Wanneer die wêreld die 70ste herdenking van die D-Dag landings vier, sal baie gesê word van die persoonlike moed en opofferings van diegene wat vir vryheid en bevryding geveg het; van die ongeëwenaarde logistiese triomf en van die merkwaardige heldedaad wat uiteindelik tot ’n kwaai bestrede oorwinning gelei het. Hierdie merkwaardige, selfs wonderbaarlike Geallieerde oorwinning het die wêreld ’n beter en veiliger plek gemaak en ’n vrye Europa is geskep.

Daar is egter ’n dieper geestelike betekenis verbonde aan die Nazi’s se nederlaag. Koning George VI het die Britse nasie gevra om te bid vir die bevryding van Europa.President Roosevelt het gebid vir God se seën oor “’n magtige poging, ’n stryd om ons republiek, ons godsdiens en ons beskawing te bewaar en om ’n lydende mensdom vry te maak”. God het daadie gebede verhoor. Die manier waarop alles op D-dag in plek geval het en wat alles bereik is, regverdig die woord “wonderbaarlik”. Die Geallieerde oorwinning was sekerlik God se oorwinning. Dit het ’n einde gemaak aan ’n Satan-geïnspireerde, okkult-besmette tirannie, wat gedink het dit sou ’n duisend jaar lank standhou. Dit het die volksmoordslagting van die Jode beëindig. Dit het die ongebondenheid en vryheid van ’n vertrapte, wanhopige en desperate Europa herstel.

Die wêreld van vandag het egter behoefte aan ’n veel groter oorwinning, een wat oorlog vir ewig sal vernietig en ’n einde sal maak aan die lyding en ellende wat oorlog nog steeds veroorsaak. Hoe dankbaar kan ons nie wees nie dat God daardie oorwinning spoedig sal gee deur die verwydering van Satan, die duiwel, die groot aanhitser van oorloë en wat die hele wêreld mislei (Openbaring 12:9; 20:1-3). Hy sal Sy Seun, Jesus Christus, terugstuur om Sy regverdige duisendjarige heerskappy op die aarde te vestig, om uiteindelik vrede aan alle mense te bring (Jesaja 9:6-7; Openbaring 11:15).