Ons het onlangs ’n wonderlike en vrugbare raad van ouderlinge vergadering hier in Charlotte gehad. Hierdie toegewyde manne uit verskillende dele van die land en die wêreld het vir vier dae saamgetrek en vergader. Ons het mekaar se geselskap besonder geniet en het almal gevoel dat ons waarlik Christus se leierskap ervaar in die eensgesindheid en harmonie wat geheers het tydens die besprekings.

Soos u weet is die gevoelens van tienduisende van God se mense seergemaak en is hulle ontmoedig deur die geestelike terneergedruktheid wat ontstaan het gedurende die verskriklike afvalligheid na die afsterwe van mnr. Herbert W. Armstrong. Mense was totaal verward oor die regte vorm van Kerkregering. Hulle het gevoel dat God Sy Kerk “versaak” en toelaat dat lelike dinge gebeur. Hierdie mense het Jesus Christus, as die ware Hoof van Sy Kerk, uit die oog verloor! Hulle het ook afgewyk van talle basiese waarhede wat die Kerk van God vir eeue onderhou het, insluitend die onderhouding van die Bybelse Sabbat en Heilige Dae en die vooruitsig van Christus se letterlike heerskappy op aarde. Die mense is ook op ’n slinkse manier aangehits teen hierdie fundamentele waarheid – die hiërargiese vorm van Kerkregering – wat deur mnr. Armstrong heringestel is in die Kerk. Hierdie broeders het gevoel dat God Sy Kerk “versaak” het gedurende die afvalligheid toe die leierskap van ons vorige genootskap heeltemal afvallig geword het van God se waarheid.

Dikwels het verwarde leraars strikfrases gebruik soos “eenman-regering” om mense te disoriënteer en hulle teen God se eie regeringsvorm aan te hits alhoewel dit konsekwent regdeur die Bybel beskryf word! Hulle gee voor dat die foute van die menslike leierskap, na mnr. Armstrong se dood, hulle die verskoning gegee het om heeltemal weg te beweeg van God se onderwysing oor Kerkregering.

Dit is belangrik om te besef dat selfs die orde in ’n gesin geskoei is op hierdie hiërargiese beginsel van God se regering, want ons lees: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam” (Ef. 5:22-23). Dit is duidelik dat hierdie selfde regeringsvorm in die Wêreld van Môre van krag sal wees. So sal Christus self die Koning van konings wees (Op. 19:16) met koning Dawid volgende in gelid om oor Israel te regeer. Hy sal nie verkies word nie, maar sal eerder direk deur Christus aangestel word. “En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ’n herder wees. (Eseg. 34:23). Dit word weer herhaal in Esegiël 37:24: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel”. Dan, volgens u Bybel, volg die twaalf Apostels, deur Christus aangestel, om oor die individuele stamme van Israel te regeer onder die koningskap van Dawid. “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Luk. 22:29-30).

In Sy vroeëre omgang met die mensdom, sê God duidelik dat Sy benadering nie verander nie: “Want Ek, die HERE, ... verander nie” (Mal. 3:6). Ons vind dat die eerskomende Koning van konings dieselfde beginsel gaan handhaaf: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Dus, hoekom sal enige bekeerde Christen dink dat Christus wil hê dat ons vandag ’n heeltemal ander tipe van Kerkregering moet toepas? Hoekom sal ’n bekeerde Christen nou tot ’n kerkregering stelsel instem wat gelei word deur alle soorte van komitees, waar stemmery, ook met geslote stembriefies, gereeld beoefen word? Individue wat daarby betrokke is vertrou nie werklik op Christus om Sy Kerk te lei op die wyse waarop Hy antieke Israel en die apostoliese Kerk gelei het nie – iets wat Hy weer in die Wêreld van Môre gaan doen. God het vir dekades deur middel van Sy dienskneg, mnr. Armstrong, die vorm van regering verkondig wat in die Wêreld van Môre onderrig en beoefen sal word. Ongelukkig het talle groepe van die Kerk van God hierdie leerstelling in totaliteit versaak! Laat my toe om te sê, met groot liefde en besorgdheid, dat dit uiters noodsaaklik is dat al God se mense luister en ontwaak uit hierdie onkunde en begin om die presiese vorm van regering toe te pas as wat hulle veronderstel is om binne ’n paar jaar, in die eerste opstanding sal moet verkondig! Ons vertrou dat almal sal wakker skrik en gereed sal wees vir ’n baie groter beloning en geleentheid om te dien in Christus se regering as wat andersins die geval sou wees.

Baie van u het die hartlikheid en eenheid van almal in Hoofkantoor ervaar en so ook in feitlik al ons plaaslike gemeentes. Lesers, u is bewus van die ontspanne geloof wat ons kan hê deur op Christus te vertrou om Sy kerk met Sy vorm van regering te lei – eerder as om te argumenteer, hare te kloof, te debatteer en te stem op ’n manier wat nooit in apostoliese tye die praktyk was nie. Ons in die Lewende Kerk van God moet glo aan dit wat duidelik in die Bybel oor hierdie onderwerp uitgespel word en dit toepas!

Ons moet sekerlik leer om te verbeter in ons benadering oor hoe om uitvoering te gee aan God se regeringstelsel – net soos ons ook moet groei in elke ander opsig van die Christelike lewe! Met ons geloof dat Christus werklik in beheer is, is ons meer toegerus om waarlik met Hom te wandel, om Sy weë in ons individuele Christenlewens te volg en natuurlik in die Kerk as ’n geheel. In Efesiërs 1:19-23 beskryf die apostel Paulus die almag van God “die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul”. Christus is definitief die “Hoof” bo “alle dinge” vir die ware Kerk van God! As Hy ’n groter werklikheid vir ons word, kan ons op Hom vertrou om elke enkele aktiwiteit in die Kerk van God te bestuur asook ons individuele lewens.

Die apostel Paulus gaan voort met hierdie tema in Kolossense 1:18: “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees”. Verder sê Jesus Christus aan die dissipels: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee” (Joh. 15:15-16). Christus was “in beheer”. Vandag is Hy nog steeds in beheer en lei Hy Sy Kerk! Hy het duidelik opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Matt. 28:19-20). Jesus sal met diegene wees wat “alles onderhou” wat Hy beveel het – en dit sluit sekerlik die vorm van Kerkregering in wat regdeur die Nuwe Testament beskryf word!

Na Sy opstanding uit die dood gaan die lewende Jesus Christus voort om Sy Kerk te lei: “Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen” (Mark. 16:19-20). Ja, Christus het Sy leraars en Sy Kerk daadwerklik in die regte rigting gelei.

Ons vind hierdie selfde patroon in Handelinge, waar Christus ’n spesifieke rol gespeel het in Paulus se werksaamhede. “En Paulus het ’n gesig in die nag gesien – daar staan ’n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons! En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig” (Hand. 16:9-10). By ’n latere geleentheid weer lei en bemoedig die lewende Christus direk vir Paulus in ’n kragtige visioen gedurende sy verblyf in Korinte: “En die Here het deur ’n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad” (Hand. 18:9-10). Regdeur die Nuwe Testament is baie sulke voorbeelde waar Christus die Kerk, wat Sy liggaam is, direk lei – die einste instrument wat Hy gebruik om die Evangelie te verkondig en om Sy getroue dienaars voor te berei as konings en priesters in Sy regering in die Wêreld van Môre. As mens dit alles in oënskou neem, dan is dit duidelik dat dit nie net ’n geval van “voorkeur” is nie – dit is uiters belangrik dat ons nou reeds moet aanleer om op Christus te vertrou om vir ons die weg aan te wys en te lei om Sy ware vorm van regering te bemeester sodat ons voorbereid sal wees om op dieselfde manier die leiding te neem in die eerskomende Koninkryk van God!

Ons lees in 1 Korintiërs 6:1-6 van ’n basiese voorbeeld hieroor. Onthou ook Paulus se mededeling in vers 2: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?” Voorts: “Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (vers 3). Paulus sê dan hoe hierdie vorm van regering in die ware Kerk toegepas moet word: “Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?” (vers 5). Hierdie saak om totale vertroue in Christus te hê om ons individuele lewens te lei asook om Sy Kerk te lei deur Sy duidelik geopenbaarde vorm van regering, is voor die hand liggend ’n lewensbelangrike leerstelling en ’n noodsaaklike lewenswyse om deur ons gevolg te word. Met al die haarklowery, snedige opmerkings en argumente teen God se vorm van regering voel ek dat dit nodig is dat ons hierdie basiese skrifture af en toe nagaan sodat ons die volle waarheid kan begryp! Ons moet nooit beskaamd staan omdat ons nie ’n vorm van “demokrasie” het soos die wêreld nie. Eerder moet ons in die ware Kerk besef dat – in teenstelling met die verwagting van die meeste mense – demokrasie nie die wêreld se probleme gaan oplos nie! In der waarheid sal ons moontlik oor die volgende paar jaar steeds meer probleme ondervind as gevolg van demokrasie! Al hoe meer nasies gaan geleidelik wegbeweeg van demokrasie en ’n hierargiese vorm van regering aanneem – die waarheid is egter dat sonder Christus in beheer is enige vorm van menslike regering vêr van volmaak.

Ons in die Lewende Kerk van God moet onsself as “baanbrekers” sien – dit is mense met ’n opregte geloof dat Christus ’n bestaande werklikheid is, dat Hy alwys is en dat Hy werklik aktief in beheer van Sy Kerk is. Namate ons individueel en gesamentlik aangewese is op Christus en leer om in die volheid van die geloof met God te wandel, berei ons onsself voor om Sy vorm van regering in die Wêreld van Môre in te stel en om die mensdom Sy weë te leer. Namate elke jaar verbygaan sal ons sien dat die vrugte van Sy regering ongetwyfeld die beste is! Diegene wat hou by Sy regeringsvorm en werklik Sy Werke doen is diegene wat beskerm gaan word gedurende die Groot Verdrukking! Dit is juis diegene met hierdie soort van geloof in Christus en in die Vader aan wie die leidende poste gegee sal word in die Koninkryk van God wat binnekort deur Christus op hierdie aarde gevestig gaan word. Laat ons dus met vreugde voortgaan in die wete dat ons werklik geseënd sal wees vir ons opregte vertroue in die lewende Christus wat sowel Sy Kerk asook vir ons as individue op die pad vorentoe sal lei.