Brexit is afgehandel! Met die verkryging van hulle vryheid, het die Verenigde Koninkryk se uitdagings groter as ooit geword. Sal hierdie eens magtige nasie hulle weg vorentoe vind?

Die laaste dag van Januarie 2020 sal lank onthou word as die dag toe die Verenigde Koninkryk uiteindelik die Europese Unie verlaat het. Die VK kon oor ’n tydperk van 47 jaar nie tot ’n besluit kom met betrekking tot lidmaatskap in die dinamiese veranderende EU nie. Die VK was tevrede om die ekonomiese voordele met die ander soewereine nasies van Europa te deel – dit is waarom hulle aangesluit het. Hulle wou egter nooit hulle soewereiniteit aan ’n politieke organisasie afstaan wat op pad was om ’n pan-Europese, federale superstaat, wat effektief onder Duitse beheer sou staan, te word nie.

Wat is dus volgende vir die VK? Wat hou die toekoms in? Wat kan ons leer indien ons hierdie gebeure in ’n Bybelse, profetiese konteks plaas?

Eerste Minister Boris Johnson het gehoop dat sy land ’n opwindende tyd van nasionale vernuwing sal betree. Sal hierdie geskiedkundige datum egter gesien word as ’n wegspringplek vir groter welvaart, om nog ’n hoofstuk in die voortgesette suksesverhaal van hierdie eilande te skryf? Mag 31 Januarie 2020 dalk eendag erken word as die keerpunt toe agteruitgang en marginalisering plaasgevind het en die voorspoed van die VK omgekeer is – die verhaal van ’n volk wat bevry is slegs om alleen rondgeslinger te word op die stormagtige oseaan van internasionale gebeure wat kragtig gewerk het in botsing met sy belange?

Groot verwagtings …

Die groot Brexit-waagstuk was dat, deur weg te breek van die EU, die VK sy soewereiniteit en beheer oor sy eie bestemming sou herwin, met politieke mag wat sou terugkeer na ’n herleefde Moeder van Parlemente in Londen. Dit sou beheer oor immigrasie by sy grense terugkry. Ekonomiese produksie sou onverpoos kon voortduur. Die VK sou handelsooreenkomste met enige land kon aangaan, met die vooruitsig om ’n vinnig-groeiende, ekonomiese middelpunt van wêreldhandel te word – onbelemmerd deur die EU se lompe burokratiese beperkings. Britse viswaters sou weer onder nasionale beheer wees. Londen sou die voortreflike internasionale finansiële sentrum bly wat Europa en die wêreld bedien. Wat kon moontlik verkeerd gaan?

Daar word verwag dat Europa “hand en tand” sal veg vir elke voordeel gedurende die uitdagende jaar van onderhandelings wat begin het nadat Brexit plaasgevind het, om ’n nuwe handelsooreenkoms tussen die twee entiteite te bewerkstellig. Van sy kant af het die Verenigde Koninkryk dit duidelik gemaak dat indien daar geen ooreenkoms teen 31 Desember 2020 is nie, hulle sal wegstap en in plaas daarvan die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie nakom – wat dalk nie in die beste belang van enigeen van die partye mag wees nie. Met die gedugte vaardighede van ’n vasberade premier en sy onderhandelingspan, wat gesteun word deur ’n stewige parlementêre meerderheid, bemerk baie waarnemers dat die VK in ’n sterk posisie is wat onderhandelings betref.

Gedurende hierdie oorgangstydperk sal die VK deel bly van die EU se Doeane-Unie en onder die jurisdiksie wees van die Europese Hof van Justisie. Hulle sal nog steeds betalings in die EU-begroting maak, hoewel hulle nie meer ’n stem sal hê in die ontwikkeling van die EU-beleid nie. Gibraltar sal weer onder die soeklig kom en Frankryk sal voortgesette toegang tot die Britse viswaters eis. In die wêreld van finansies sal dit moontlik nodig wees vir Londen om voor te berei vir ’n ekonomiese aanval, wanneer die EU waarskynlik sal probeer om groot dele van Europese handel vanaf Londen na Frankfurt te verskuif.

... Asook uiterste uitdagings

Nie Brittanje of die EU. het hulle kon voorstel dat wêreldtoestande so vinnig sou versleg nie. Skielik het daar ’n wêreldwye krisis ontstaan – ’n “onverwagse” gebeurtenis van so ’n verwoestende omvang en gevolge dat al die bogenoemde aangeleenthede nietig lyk in vergelyking met dit wat vir die VK belangrik is.

Die virale pandemie wat in China begin het, het vinnig oor die hele wêreld versprei. Pogings om die verspreiding van die virus te beperk, het die nasionale ekonomieë ’n ernstige knou toegedien en dit bykans tot stilstand gebring. In plaas daarvan om die Britse staatskip op koers te hou deur die ná-Brexit-waters, is Boris Johnson self in April in die hospitaal opgeneem – ’n slagoffer van die koronavirus.

Die antwoord op ons vraag hierbo – wat kon dan verkeerd gaan? – is duidelik gemaak: Alles. Nasies regoor die wêreld veg nou vir hulle voortbestaan. Lande as geheel is in “inperking” [lockdown] – met inbegrip van Brittanje – en regerings skarrel om hul industrieë, besighede en bevolkingsgroepe wat deur wydverspreide infeksie en dood bedreig word, te beskerm.

Skielik verander 2020 in ’n opspraakwekkende jaar as gevolg van baie meer redes as Brexit. Kan die COVID-19-pandemie vinnig gekeer word en effektiewe antivirale medisyne vinnig genoeg ontwikkel word om wydverspreide lewensverlies te voorkom? Kan die wêreld-ekonomie weer vinnig herstel? Hoe sal die huidige noodtoestand ’n invloed hê op die Amerikaanse verkiesing in November, die belangrikste vennoot van die Verenigde Koninkryk? Sommige mense verwag dat president Trump sal wen, maar dit hang af van die Amerikaners se tevredenheid met hulle ekonomie en die sukses van sy administrasie in die hantering van ’n pandemie. Indien Trump teen sy teenstander van die Demokratiese Party verloor, kan die VSA van ’n vryemark-ekonomie wat gunstig is vir bloeiende ondernemings, geslinger word in die rigting van ’n sterk gereguleerde staatsbeplande ekonomie wat meer aan kommunistiese lande herinner. Die lotgevalle van die VSA en die VK is onherroeplik aan mekaar verbind en groot veranderings vir Amerika kan ’n ramp vir die lotgevalle van Brittanje beteken.

Niemand weet nog wat die volle omvang van die ekonomiese skade sal wees wat die pandemie regdeur die VK, Europa en die wêreld sal aanrig nie. Groot bedrae geld is bestee om “te red wat daar te redde is” en die groot nasionale skuld wat ophoop, stel die rekeninge uit tot ’n onbekende tyd in die toekoms. Die wêreld kan nie voortgaan soos voorheen nie. Hierdie wêreldwye krisis het ’n invloed oor die hele wêreld heen en skep ’n heel ander wêreld in sy nadraai.

Met die Duits-geleide EU reeds in resessie, is ’n €75 miljard (£66 miljard) tekort in sy begroting wat ná Brexit gevul moet word en nou boonop ’n wêreldwye ekonomiese ineenstorting, lyk die toekoms van die Europese Unie beslis onseker. Hoe goed sal die VK onder hierdie nuwe omstandighede vaar in ’n wêreld waar handel en ekonomieë grotendeels in duie gestort het? Kan die VK staande bly met die Ierse en Skotse politiek wat dreig om dit te vernietig?

Die “tyd van benoudheid vir Jakob” is aan die kom

Vanuit die perspektief van Bybelse profesie, herinner ons die Wêreld van Môre lesers gereeld daaraan dat ons wêreld in die “laaste dae” leef voor Christus se Wederkoms om ’n nuwe era op aarde onder Sy heerskappy te vestig. Dit is nou onstuimige, wisselvallige tye van ekonomiese omwenteling, toenemende ongunstige klimaat- en weerpatrone, waar politieke alliansies verander. In Westerse demokratiese lande is ’n nuwe golf van meer konserwatiewe, populistiese politiek besig om te veg om die vorige liberale, wêreldse agenda te vervang. Godsdienstige misleiding, oorloë, hongersnood en siekte-epidemies, uitgebeeld deur die vier perderuiters van die Apokalips, word voorspel om vlakke te bereik soos nog nooit tevore gesien is nie (Openbaring 6:1-8) en die bestaande wêreldorde sal binnekort verbrokkel. Dit sal ons na die tyd van benoudheid vir Jakob lei (Jeremia 30:4-7), wanneer die moderne afstammelinge van die antieke aartsvader Jakob, veral Brittanje en die VS, ingetrek sal word in hulle ergste tyd van benoudheid en beproewing.

Ons leef in baie ernstige tye. Dit is nou die tyd om op te let waarteen Christus ons gewaarsku het: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Lukas 21:34). In werklikheid het Hy ons almal gewaarsku: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (vers 36).