Etlike duisende jare gelede het ’n jong skaapwagter alleen in die veld onder ’n helder verligte naghemel gesit. Hy het opgekyk na die sterverligte uitspansel en was diep ontroerd. Dit was dalk tydens so ’n nag dat hy aan die volgende gedink het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4-5).
Hierdie skaapwagter was vir groot dinge bestem – as die toekomstige koning van Israel – maar tog het hy nooit uit voeling geraak met hierdie vroeë gewaarwording van verwondering toe hy gemediteer het oor God se grootsheid en sy eie relatiewe kleinheid nie. Veral op daardie rustige nag was die jong Dawid met ontsag vervul.
Ons woord “ontsag” kom oorspronklik uit die veertiende eeuse Engelse term aue en beteken “vrees, verskrikking, groot eerbied” (“awe (n.),” EtymOnline.com). Vandag beteken dit ’n gevoel van uitgestrektheid, verwondering, bewondering of inspirasie. Ontsag (Awe) was veral vir evolusionêre wetenskaplikes ’n raaisel. Hoewel dit so sterk by mense ontwikkel is, lyk dit nie asof ontsag meer enige ooglopende doel dien nie. Ons by die Wêreld van Môre verstaan dat ’n Meester-Skepper ons wêreld se hoogs komplekse vorms en hulle funksies ontwerp het asook met ’n begrip van emosies en gevoelens wat selfs meer ingewikkeld is. Al is dit onderhewig aan misbruik en manipulasie is ontsag (awe) in ons neurale strukture ingeweef vir ’n doel. Ons is ingestel vir ontsag en daarom ook bedraad vir aanbidding van ons God. Soos ons sal sien, is ontsag iets wat ons vandag in ons Christelike lewenswandel kan aankweek.
Ontsag en invloed – verlede en toekoms
In haar artikel, What Awe Looks Like in the Brain" haal dr. Summer Allen ’n studie aan wat deur Michiel van Elk van die Universiteit van Amsterdam gedoen is. Hy en sy kollegas het van funksionele magnetiese resonansie-beelding (MRB) gebruik gemaak om die verskillende breine van deelnemers wat na video’s kyk, waar te neem. Die video’s wat gekies was om ontsag in te boesem, verminder breinaktiwiteit in areas van die standaardmodusnetwerk (default mode network) (DMN), ’n breinstelsel wat veral aktief is wanneer ons gedagtes dwaal of wanneer ons diep in gedagte is. Dr. Allen som op: “Met ander woorde, ontsag kan dalk help om te verhoed dat ons gedagtes in beslag geneem word deur ons probleme en ons daaglikse spanning. In plaas daarvan lyk dit asof ontsag ons aandag van onsself aftrek en ons bewus maak van ons omgewing en die groter wêreld (wat kan help om die neiging tot vrygewigheid en ’n gevoel van verbintenis met ander mense te verklaar). Om DMN-aktiwiteite te demp, kan die sleutel wees om ons ’n gevoel te gee dat ons bo onsself uitstyg” (GreaterGood.Berkeley.edu, 18 Oktober 2019).
Private besighede werk toenemend saam met die neurowetenskap om die ervaring van ontsag te bestudeer en te bepaal vir winsbejag. Baie ondernemings sien ontsag as ’n wenslike manier om verbruikers te prikkel en hulle kan dit doen deur van elektroniese media, virtuele skynwerklikhede en visuele effekte gebruik te maak. Selfs Cirque du Soleil [’n werklike sirkus] het op die soustrein gespring en werk saam met neurowetenskaplikes om gehore se reaksies op hulle optredes te bestudeer. Hulle bepaal faktore met inbegrip van gehore se gedrag voor en na vertonings, invloed op hartspoed, breinaktiwiteite en sweetklier-reaksies as gevolg van byvoorbeeld spanning (“Cirque du Soleil and the neuroscience of awe,” Vox.com).
Word hierdie neurobiologiese verskynsel meer gereeld gemanipuleer as wat ons besef? Kan ontsag onderskep word deur “invloedryke mense”? Miskien selfs deur ’n bose politieke of godsdiensleier? Bybelprofesieë openbaar dat daar in die eindtyd ’n charismatiese leier sal wees wat groot invloed sal uitoefen op massas mense en hulle sal oorreed om hom te eerbiedig. 2 Thessalonicense 2 waarsku ons teen ’n vals profeet wat groot wonders en tekens sal doen, homself goddelik sal verklaar en aanbid sal word. Lees ons gratis boekie Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? om meer hieroor te leer.
Wie het denkvermoë soos God?
Die apostel Paulus, die man wat aan die Thessalonicense geskryf het, het ontsag goed verstaan. Paulus wat opgelei was deur sy mentor Gamaliël, ’n vooraanstaande godsdiensgeleerde, het ’n groot deel van sy jeug en vroeë volwassenheid deurgebring deur die Skrif te bestudeer. Met ’n geweldige hoë agting vir die God-geïnspireerde Woord, het Paulus gevoel dat die waarhede daarvan diep weerklank vind in sy hart en denke. Hy het ’n weldeurdagte illustrasie van ontsag gedemonstreer: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33).
Hier illustreer Paulus die eerste stap om ontsag in te boesem in ons aanbidding: Peins oor God se grootheid in omvangrykheid en merkwaardigheid en belangrikheid. Paulus se uitroep van “o Diepte van die rykdom ...!” verwys na waarheid wat nie menslik begryp kan word nie. Hierdie “wysheid en kennis van God” is so diepsinnig dat selfs die engele dit nie verstaan nie (1 Petrus 1:12). Paulus was goed vertroud met die Skriftuurlike ondersoek na God se verborgenhede en was met ontroering vervul deur die onpeilbare dieptes daarvan, wat nie volledig in ’n leeftyd deurgrond sou kon word nie.
Goddelike beraadslaging word nie net gekenmerk deur diepte en hoogte nie, maar ook deur breedte en lengte (Efésiërs 3:18). Geen mikroskoop kan die besonderhede daarvan uitpluis nie. Geen teleskoop kan die lengte en breedte daarvan openbaar nie. Geen MRI kan die innerlike werking daarvan waarneem nie. Geen mensgemaakte instrument kan sy dele en stukke uitmekaar haal nie. Menslike wesens kan nie deur hulle eie krag die waarheid uitmekaar haal of weer aanmekaar sit nie.
Paulus gebruik die woord “rykdom” [Efésiërs 3:16] om ’n oorvloed van dit wat kosbaar en waardevol is te openbaar. Die rykdom van die mensdom, in vergelyking met dié van God, het geen diepte nie. Die “bodem” van menslike rykdom word te vinnig bereik, en slegs neerslagtigheid en teleurstelling is die gevolg. God se rykdom is egter “diep” en Sy oordele is ’n groot watervloed” (Psalm 36:7).
In ons era van geweldige wantroue in die media, lyk dit asof die waarheid meer ontwykend is as ooit tevore. Die geskiedenis is te dikwels plooibaar en word aangepas om die huidige politieke agenda te pas. Ons moet alle bronne van inligting, nuusverklarings en selfs regeringsamptenare met ’n ongekende groot mate van agterdog en wantroue bejeën. Daar is net een duidelike, sekere, onfeilbare standpunt – slegs Een wat álle dinge begryp wat daar ís, áltyd was en altyd sál wees. Soos die Psalmdigter sê: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie” (Psalm 139:6).
Hoe kan dit tog wees? “Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” (Romeine 11:34). As ’n natuurlike uitvloeisel van die oordenking van God se vele eienskappe, bevraagteken Paulus die gestalte van die mens en sien wat ons almal uiteindelik moet sien: God is groot. Ek is klein. Paulus illustreer hierdie tweede stap om ontsag deel van ons aanbidding te maak. Vergelyk God se ontsaglikheid met ons nietigheid. Job het dit verstaan toe hy uiteindelik God se ontsagwekkende krag en luisterryke grootsheid erken het en kon uitroep: “... So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ek sal spreek; ek sal u ondervra en onderrig U my” (Job 42:3-4).
Ons Godgegewe vermoë om ontsag te betoon, bestaan as gevolg van doelbewuste ontwerp. Dit is ontwerp deur ’n Skepper wat ’n verhouding wil hê met elke mens wat Hy geskape het. Ongelukkig het bose invloedrykes hierdie neurobiologiese meganisme misbruik. Volgens Bybelse profesieë gaan ’n eindtydse valse godsdiensleier, wat ongelooflike mag sal soek, dieselfde doen. Indien dit egter reg gebruik word, is ontsag ’n gawe van God. Net soos die menslike spraakorgane voorsiening maak vir sinvolle kommunikasie tussen ’n man en sy vrou, stel die meganismes wat aan ons die vermoë gee om ontsag te betoon, ons in staat om die betekenisvolle maniere te waardeer waarop ons grote God met ons kommunikeer en ons leer om Hom in nederigheid te nader.
Koning Dawid sal weer leef. In die Skrif word hy beskryf as ’n koning wat onder Jesus Christus in die duisendjarige Koninkryk op aarde, sal dien (Jeremía 30:9). Ontsag, gelei deur die Waarheid, sal ons help om die pad te loop wat na daardie Koninkryk sal lei.