In 2013 het die wêreld toegekyk hoe kardinaal Jorge Bergoglio – nou Franciskus I – verkies is tot die leier van sy kerk en sy 1,2 miljard volgelinge. Baie mense het gewonder oor die verkiesingsproses en het hulleself die vraag afgevra: “Hoe toon God Sy wil oor wie Sy mense moet lei?”

Indien God u geroep het om ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus – die Lam van God en Verlosser van die wêreld – te hê, wonder u ongetwyfeld ook oor dieselfde vraag. Hoe kan ons diegene uitken vir wie God afgesonder het om vandag Sy dienaars in Sy bediening te wees?

Let daarop dat Jesus Christus die Twaalf Apostels aangestel het (Markus 3:14). Op hulle beurt het die Apostels weer ouderlinge aangestel om hulle geloofsgenote te dien (Handelinge 14:23). Die Bybelse patroon vir spesifieke take is aanstelling eerder as verkiesing. Let daarop dat Christus 70 dissipels aangestel het vir ’n spesiale ministeriële taak (Lukas 10:1).

Let ook op dat daar ongelukkig valse leraars is wat hulle volgelinge mislei tot hulle gesamentlike ondergang (Handelinge 20:29; 1 Timótheüs 1:5-7; 2 Petrus 2:1-2)! Ons moet dus versigtig wees en diegene volg wat werklik deur God aangestel is en om hulle te volg, na te boots, soos wat hulle Christus navolg (1 Korinthiërs 11:1).

Bybelse voorbeelde

Moses, gebore as ’n Israelitiese slaaf, is deur Farao se dogter aangeneem en in die Egiptiese hof grootgemaak. God het Moses by die brandende bos geroep en hom opdrag gegee om Israel te bevry uit Egiptiese slawerny (Exodus 2-4). Die Skrif sê dat daar niemand was wat nederiger en meer beskeie as Moses was nie (Numeri 12:3). Hoe het hy dus Israel se leier geword? Hy het nie die pos deur slinkse politiekery verkry nie, nog minder is hy in die pos ingestem. God het hom op ’n kragtige en onmiskenbare manier aangestel.

Jong Dawid wat die Koning van Israel sou word, is as die jongste van Isai se agt seuns so onbelangrik geag dat hy aan die begin selfs nie eens na Samuel gebring is om hom te sien nie. Nogtans het God duidelik aan Samuel gesê om Dawid as koning oor Israel te salf (1 Samuel 16:12-13). Dawid is nie ingestem in die amp nie en dit is belangrik om daarop te let dat hy nie probeer het om sy aanstelling te verhaas deur Saul se amp onregmatig in besit te neem of om ’n staatsgreep uit te oefen nie. In plaas daarvan het hy gewag totdat God vir Saul verwyder het deur hom te laat sneuwel in ’n veldslag.

Die voorbeeld van Jehu, ’n offisier in die regering van Agab en Jerobeam, is ewe insiggewend. Jehu is gesalf om koning te word (1 Konings 19:16-17). Die Skrif toon dat God vir Elia en daarna vir Elisa beveel het om vir Jehu as koning van Israel te salf. Was hierdie aanstelling die gevolg van slinkse politiekery? Of was dit bloot toevallig – iets wat die profete nie geweet het hulle doen nie? Natuurlik nie!

Let ook daarop dat hierdie salwing vir ’n spesifieke doel was; dit was byvoorbeeld nie ’n algemene salwing vir genesing (sien Jakobus 5:13-15) wat Jehu aangesien het vir ’n goddelike aanstelling nie. Inteendeel, God het Sy profeet ’n duidelike opdrag gegee wat uitgevoer is onder [Sy] gesag. Dit is selfs bevestig deur spesifieke en belangrike profesieë wat bedoel was om die salwing te staaf of te bekragtig – dat Agab se huis tot niet sou gaan en dat die honde Isébel op die dorpsgrond van Jisreël sou opeet (2 Konings 9:1-10). Wanneer God ’n dienaar aanstel, is Sy besluit duidelik!

God se voorbeeld

God herhaal hierdie voorbeeld regdeur die Ou en die Nuwe Testament. In die Nuwe Testament lees ons dat Jesus spesifiek in die openbaar vir Petrus uitgekies (net soos Hy met die ander Apostels gedoen) het. Daar was geen selfgeorganiseerde veldtog vir inseëning, geen opstand teen ’n vorige leier, geen stemmery en geen slinkse politiekery vir die pos nie. Petrus se gesag het gespruit uit behoorlike inseëning vir ’n spesifieke amp en nie uit die aanvaarding van ’n gesogte titel nie. Net so het die opgestane Jesus Christus vir Saulus [Paulus], vir wie Hy op die pad na Damaskus laat neerval het, spesifiek gekies en aangestel en hom daarna vir drie jaar lank opgelei om diens te doen as een van Sy apostels (Galasiërs 1:15-18).

Die Skrif sê aan ons dat mense net na Christus toe kan kom indien die Vader hul roep (Johannes 6:44). God vereis van diegene wat deur Hom geroep is, om geestelik uit hierdie wêreld wat deur Satan mislei word te kom (2 Korinthiërs 4:4). Elke Christen word geroep om ’n koninklike priesterdom binne te gaan (1 Petrus 2:9), om ’n letterlike kind van God – ’n Geestelike Wese en lid van die Godsgesin – met Christus se wederkoms te word.

Sommige mense wat deur God geroep is, stel Hy ook in bepaalde ampte van dienslewering aan – apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Dit is interessant dat God sedert die eerste geslag Christene, nog geen profete geroep het om in enige administratiewe hoedanigheid in Sy kerk te dien nie. Ons vind profete altyd onder die leiding van ’n hoër menslike gesag, selfs wanneer hulle God se boodskap oordra (1 Korinthiërs 12).

Soos ons gesien het, maak God Sy roeping tot diensbaarheid duidelik, beide deur die proses van aanstelling en deur die vrugte van daardie aanstelling. Diegene vir wie Godnie aangestel het nie, maar wat ’n aanstelling begeer, behoort hierdie waarskuwing van die apostel Jakobus in gedagte te hou: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan” (Jakobus 3:1). Hoe sal God se aangestelde leraars beoordeel word? Volgens hulle liefde vir God, hulle liefde vir Sy mense en hulle liefde vir Sy wet – hulle voorbeeld van hoe hulle aan andere die hele lewenswyse wat Christus ons geleer het, leer (Mattheüs 28:19).

Diegene wat God aangestel het, praat volgens die hele Bybel – nie volgens hulle eie siening of gerieflike tradisie nie. Die Bybel verduidelik dat diegene wat nie onderrig volgens die hele wet en al die getuienis – die hele Woord van God vanaf Génesis tot Openbaring – nie, nie die “lig” van Christus in hulle het nie (Jesaja 8:20; Johannes 1:1-8). Hierdie valse leraars sal selfs vervloek wees omdat hulle probeer om by God se heilige Woord by te voeg of daarvan weg te neem (Openbaring 22:18-19).

Getroue dienaars van God is verbind tot die “Groot Opdrag” – om aan die wêreld die “goeie nuus” van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig (Mattheüs 24:11-14). Hulle streef daarna om Christus na te volg (1 Korinthiërs 11:1), aan andere die lewenswyse te leer wat Hy ons geleer het – gebaseer op God se wet wat gegrond is op liefde vir God en vir mekaar (Mattheüs 22:36-40).

Het God u geroep om ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus, die Lam van God en Verlosser van die wêreld, te hê? Indien wel, bekeer u, verheug u en dank God vir u roeping. Dank God ook vir diegene wat Hy aangestel het om Sy Kerk te onderrig en te lei, om die geestelike liggaam tot die eenheid van die geloof te bring (Efesiërs 4:13).