Nadat 2014 een van die koudste weertoestande in die moderne geskiedenis opgelewer het, mag baie Kanadese dit ’n bietjie ontstellend vind om te besef dat ons in 2015 weereens gekonfronteer sal word met daardie gedugte vyand, naamlik die winter.

In dele van oostelike Kanada mag sommige mense dalk nog wonder wanneer die winter van 2014 geëindig het. In dele van Ontario is temperature van 30ºC (86˚F) of meer, vir slegs agt dae gedurende die hele somer bereik. Terwyl die temperature dwarsdeur die jaar ontydig koel gebly het, het die sneeu wel gesmelt en het groen weer triomfantlik na vore gekom uit die eindelose see van wit wat skynbaar gedreig het om die helder kleur van die natuur heeltemal uit die prisma te laat verdwyn. Ja, die winter van 2014 was erg, selfs volgens Kanadese standaarde.

Kanada is ’n land wat tradisioneel in die winter floreer. Bewapen met ’n vloot van sneeuploeë, sneeustewels, ysskaatse, sneeumobiele en dies meer, word die Ware Noorde selde gekortwiek deur temperature en wintertoestande wat groot dele van die res van die wêreld sou lamlê. Die Kanadese raak egter opgewonde oor die winter en verwelkom sy ysige greep. Om hierdie moeilikste seisoen te trotseer lyk na ’n bron van trots in Kanada. Verhale oor oorlewing gedurende die winter word gereeld tussen die Kanadese vertel en daar is geen nodigheid om te oordryf nie want die toestande raak regtig so sleg. Diegene wat van ’n warmer klimaat afkomstig is, luister grootoog na verhale van temperature wat kookwater, wanneer dit in die lug opgegooi word, letterlik laat vries voordat dit op die grond val! Op ’n manier definieer die winter die taaiheid en durf van die Kanadese, maar die winter van 2014 was wreed, selfs vir hierdie geharde krygsmanne wat gewoond is aan bitter koue weer.

Nog ’n wrede winter wat voorlê?

Die winterweer en volgehoue koue temperature het toegesak lank voor dit te wagte was en het individuele vuurmaakhout voorrade en olie vir verwarming tot die uiterste beproef. ’n Ysstorm het in Desember 2013 wydverspreide kragonderbrekings veroorsaak. Die skade aan die kragnetwerk was so wydverspreid dat baie mense vir drie dae of langer sonder krag was in die uiterste koue. Baie van die bome wat omgeval het en takke wat na die ysstorm besaai gelê het oor die landskap, het tot diep in die lente daar bly lê, omdat die ys vir maande lank nie gesmelt het nie en dit moeilik was om die toerusting in die gebiede te kry wat nie gereeld deur sneeuploeë gediens word nie. Asof die ys nie erg genoeg was nie, het gereelde, meedoënlose sneeu die probleem vererger. Die verwydering van die sneeu in die opritte en op die sypaadjies is ook bemoeilik en gevaarliker gemaak deur die ys daaronder. Die winter het nog tot diep in die maande wat voorheen gereserveer was vir lente aangehou. Selfs in geharde stede soos Winnipeg, ook liefderik bekend as “Winterpeg”, het Kanadese begin moeg raak vir die seisoen wat gewoonlik kenmerkend verbind word met hulle vaderland.

Indien ons na die laaste maande van 2014 sou kyk, sien ons dat die vlaktes sowel as groot dele van oostelike Kanada weereens ’n wrede winter in die gesig gestaar het. As gevolg van die El Niño weerpatroon, verwag Chris Scott, die Hoof Meteoroloog van The Weather Network, dat temperature “kouer” as normaalweg sal wees. Terwyl die meeste winter-liefhebbers gretig die eerste sneeu afwag, kan dit ’n vooruitskouing wees van nog ’n strawwe winter wat voorlê. Met ’n gemiddelde temperatuur van -20.3˚C (-4.54˚F) van Desember tot Februarie in Winnipeg in 2013, kan die vooruitsig van nog ’n onverbiddelikke winter skrikwekkend lyk. Kanadese sal egter doen wat hulle gedoen het in afwagting van elke winter. Hulle sal die voorbeeld van die mier volg deur voor te berei!

Berei voor!

Die Bybel wys ons op ’n interessante detail oor hierdie vlytige klein insek, wat deur die Kanadese aangeneem is, al is dit vir geen ander rede as die blote noodsaaklikheid om te oorleef nie. “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd” (Spreuke 6:6-8). Die mier berei instinktief voor vir die winter. Dit is noodsaaklik, want gedurende die wintermaande is die geleenthede om kos te soek skaars en die koue temperature kan dodelik wees. Ten einde die felheid van die winter te oorleef, berei die mier vroegtydig voor.

Dit is nie anders vir die Kanadese nie, veral vir diegene wat in landelike gebiede woon. Met die wete dat die winter nader kom, werk hulle hard om voor te berei. Ontelbare ure word gespandeer om brandhout bymekaar te maak en te verwerk en om huise “winterdig” te maak. Kaggels word skoongemaak, seëls word vervang, pype word toegedraai en motors word toegerus met sneeu-buitebande. Sneeublasers word gediens en winterbaadjies word uitgehaal, saam met kousmusse, handskoene, serpe en sneeustewels. Die meer avontuurlustiges haal selfs die ski’s uit of beplan ’n ys visvang-avontuur – ongeag egter wát vir die winter beplan word, hulle berei voor.

Die Skrif gee ons hierdie stukkie wysheid: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Versuim om voor te berei vir die winter kan duur, selfs dodelik wees. Om op ysige paaie in die winter te reis kan in ’n ramp eindig. Selfs ’n skielike sneeubui kan noodlottig wees vir diegene wat onvoorbereid is. Sommige mense het ewe dwaas nagelaat om noodvoorrade, soos warm komberse in hulle motors te sit, net om hulleself gestrand langs die pad te vind en dan te verkluim. Sommige mense reis sonder swaar wintersklere, omdat hulle nie dink dat hulle in ’n ongeluk betrokke kan wees nie – selfs wanneer daar ’n voorspelling vir witsig toestande of ge-ysde paaie is! Sommige mense het met hulle lewens geboet as gevolg van ’n gebrek aan beplanning, deur meters van hul motors af in die sneeu te verkluim terwyl hulle by nabygeleë huise hulp wou gaan soek. ’n Verstandige mens verwag die soort gevare en berei vir so iets voor, soos die meeste Kanadese doen wanneer hulle sien dat die seisoenale winterbeer sy kop oplig.

Kyk uit vir die tekens

Die wete dat die winterseisoen aan die kom is, gee dryfkrag aan die voorbereidings. Om dieselfde rede het Jesus Christus Sy dissipels gewaarsku om te “waak” en “gereed te wees” vir die gebeure wat voorlê (Mattheüs 24:42, 44). Terwyl Christus daarop wys dat niemand die presiese datum van Sy Wederkoms ken nie, dui Hy ook aan dat daar “seisoenale tekens” sal wees om ons te laat weet dat die tyd naby is, net soos die veranderende kleure van die herfsblare ons waarsku dat die naderende winter op hande is.

“En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:32-34). Terwyl hierdie gelykenis vir die Kanadese hoop bied op grond van die feit dat dit verwys na die koms van die lente, bied dit ook hoop vir die Wederkoms van Christus onder wie se bewind nasies die geleentheid sal hê van gebalanseerde weer (“reën op die regte tyd”) en die seëninge wat daarmee gepaard gaan (Levitikus 26:3-5). Verder openbaar hierdie gelykenis dat daar sekere sleutels is wat aan ons sal sê wanneer Christus se Wederkoms aan die einde van hierdie tydperk naby is. Wanneer hierdie lank reeds geprofeteerde seisoen aanbreek, behoort ons bedag te wees op die aanwysers en alles in ons vermoë doen om voor te berei daarvoor.