My pa was altyd deur storms bekoor. Nuus van ’n naderende storm sou hom na ons klein voorportaal trek waar hy sou staan en kyk hoe dit oor die horison opbou. Tydens my kinderdae het ek soms by hom aangesluit en na die donker wolke in die verte gestaar en hulle sien beweeg, draai en saampak terwyl dit nog donkerder word en dan gewonder wat dit inhou, terwyl hulle nader aan ons huis beweeg het.

Ons wêreld is die tuiste van baie soorte storms, van reënstorms wat ons oeste voed en donderstorms wat ons vensters laat ratel, tot verwoestende tornado’s en orkane of siklone, met die krag om selfs ons grootste stede in puin te lê en duisende lewens te verwoes.

Kan hierdie ontsagwekkende verskynsels ons iets leer? Benewens al die moontlike skade en verwoesting wat dit kan aanrig aan ons bevolkings en die stede wat ons opgerig het, kan dit tot enige doel dien vir ons vandag?

Soos met elke deel van die skepping waarin ons leef, kan die storms wat ons omring ons wel deeglik iets leer. Terwyl ons nog die storm behoort te bemeester, het die storm wel ’n Meester. Dit is soos ons, deel van die werke van Sy hande.

Die wonderlike en gevaarlike krag van storms

Om die majesteit en krag in storms op ’n veilige afstand te sien, kan ’n inspirerende gesig wees. Selfs skynbaar meer “algemene” verskynsels, soos eenvoudige aand-donderstorms, met weerlig wat deur die lug klief en emmers water wat uit die lug val, kan die gees in beroering bring en ’n gevoel van wonder opwek.

Vir diegene wat die pyn en lyding ervaar het wat storms kan meebring, word die krag van sulke weerstelsels op ’n dieper vlak gevoel. My gesin en ek het skuiling in ons kelder gesoek toe die berig van ’n plaaslike tornado uitgesaai is. Baie van ons vriende is persoonlik deur die dodelike tornado geraak wat in 2011 gedeeltes van Joplin, Missouri verwoes het. Dit het gegroei tot ’n driekwart myl breed (meer as een kilometer) en het stadig 13 myl (21 kilometers) oor die aarde beweeg. Teen die tyd dat dit verby was, het die tornado dele van Joplin in ’n woesteny verander en 161 mense se lewens geëis.

So vreesaanjaend as wat hierdie gebeurtenis was, verteenwoordig dit nouliks die hoogste limiet vir die vernietigende krag van storms. Dink aan orkane.

Dit word verskillende name genoem om die streek aan te dui waarin dit ontwikkel het. Orkane, tifone en siklone is van die heel kragtigste en mees vernietigende kragte wat op planeet Aarde losgelaat kan word. Die groot Bhola-sikloon van 1970 het die gebied rondom die hedendaagse Bangladesj heeltemal verwoes en die lewe van soveel as 500,000 mense in ’n enkele dag in November geëis.

Moderne satellietbeelde bied ons die geleentheid om sulke storms van hoog bo die oppervlak van die aarde te sien en dit is byna onmoontlik om onaangeraak te bly deur die grootte en skaal van hierdie oseaniese monsters – gemiddeld ongeveer 100 myl (161 km) in deursnee. Hulle kolossale grootte openbaar egter nie ten volle die krag wat sulke storms verteenwoordig nie.

Krag ver bo dit wat ons ons kan voorstel

Dink aan die verwoesting wat aangerig is in die Japannese stad Hiroshima teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Die wêreld se eerste atoombom wat in oorlog gebruik is, is toe laat val. Die bom was “Little Boy” genoem en ’n enkele ontploffing het Hiroshima heeltemal verwoes, tienduisende mense gedood en ongeveer 60,000 geboue in ’n oogwenk vernietig. Dit was ’n oomblik waarin die mens op ’n skrikwekkende, dodelike manier gedemonstreer het dat hy begin het om krag te put uit nuwe bronne wat voorheen ontoeganklik was vir die mensdom.

Tog is so ’n krag feitlik niks in vergelyking met dié van ’n orkaan nie. Oordink hierdie opsomming deur The Globe and Mail:

Geneem oor die hele wolkskerm van ’n “gemiddelde” orkaan, is die energie wat per dag vrygestel word in die vorm van reën en wind die ekwivalent van ongeveer 13,000 megaton – amper gelyk aan die vernietigende potensiaal van al die wapens in die Koue Oorlog-missiel silo’s in die Verenigde State en die voormalige Sowjet-Unie. Dit is ’n miljoen Hiroshima-bomme wat ontplof teen ’n tempo van meer as 10 per sekonde – 20 Little Boys vir elkeen van die 50,000 (beraamde) stede op die planeet (“The 13,000-megaton storm”, 3 September 2005).

Terwyl die mensdom hulleself dikwels beskou as die meester van die planeet, is sulke storms ’n vreesaanjaende herinnering daaraan dat ons dit beslis nie is nie.

Vir al hulle krag en vernietigende mag en die ontsag wat hulle afdwing onder diegene wat verplig word om die planeet met hulle te deel, is die grootste doel wat hulle dien om te verwys na Een wat groter is as hulle almal.

In die Skrif assosieer God Homself by verskeie geleenthede met storms en stormwinde deur hulle mag en krag te gebruik as weerspieëling van Sy eie. Wanneer Hy byvoorbeeld met Job praat, wil Hy die lydende patriarg help om die omvang van Sy majesteit beter te verstaan. Hy kies dus om met Job uit die stormwind te praat (Job 38:1). Wanneer Hy in ’n visioen aan die profeet Eségiël verskyn, nader Hy die siener as ’n vuurstorm wat uit die noorde kom (Eségiël 1:4).

Net so beeld God dikwels Sy toorn oor sondige nasies uit as ’n skrikwekkende haelstorm, soos ’n “storm vol verwoesting” van Jesaja 28:2.

Die God van die Skepping is Here van die storm

Moontlik die mees gepaste verband, tussen die krag van die storm in die geskape wêreld en die Skepper van daardie wêreld, kan gevind word tydens die bediening van Jesus, amper 2,000 jaar gelede.

Hy en Sy dissipels was saam in ’n boot in die middel van die See van Galilea. Terwyl die dissipels besig was om na die ander kant van die see te vaar, het Jesus in die agterstewe van die boot geslaap en ’n welverdiende dutjie geniet nadat hy die menigtes langs die strand geleer het.

Terwyl Hy aan die slaap was, het ’n kragtige windstorm oor die see opgekom, sodat die golwe in die boot ingeslaan het en dit dus vol water geraak het. Alhoewel baie van die dissipels ervare skippers was, het hulle begin vrees en paniekerig geraak omdat hulle gesien het dat die storm hulle boot kon laat sink en hulle almal sou sterf. Hulle het hulle Meester, wat deur dit alles geslaap het wakker gemaak en uitgeroep: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” (Markus 4:38).

Die Bybel beskryf vervolgens baie eenvoudig wat gebeur het: “En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot stilte gekom” (vers 39). Met net drie woorde het Jesus Christus die Skepping beveel en die Skepping het gehoorsaam! Die dissipels het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Vers 41).

Dit kan wonderlik wees om te aanskou en ook vreesaanjaend wees om te ervaar. Dit kan ons met hulle omvang en krag aanraak en veroorsaak dat ons vlug voor die verwoesting wat hulle bring. Storms – die orkaan, die tornado, die sikloon, die donderstorm – herinner ons dat ons nie in ’n wêreld van ons eie skepping woon nie en dit maak ons nederig voor hulle krag.

Selfs die storm word nederig gemaak voor sy eie Skepper en moet hulle aan Sy wil onderwerp. So moet ons dit ook doen.