Volg u Christus se vermaning wanneer u ’n eed aflê?


Terwyl ons van die prokureur vir die verdediging se kantoor na die hof gestap het, waar ek moes getuig in ’n geskil oor ’n versekeringskontrak, het ek aan hom genoem dat ek nie sou sweer wanneer die getuies “ingesweer” word nie. Die prokureur het my verbaas aangekyk en gevra: “Gaan dit oor godsdiens?”

Ek het geantwoord: “Jesus sê: ‘Moet glad nie ’n eed aflê nie’” (Mattheüs 5:34 NV) en ek het verduidelik dat ek Hom op Sy woord neem. Ons twee het in stilte gestap en kort daarna het ons in die hofsaal gesit, terwyl die voorsittende regter met die verrigtinge begin het.

Na ’n paar skertsende opmerkings het die bejaarde regter sy klerk opdrag gegee om die eed te laat aflê deur diegene wat moes getuig. Die prokureur het probeer om namens my te praat, maar het net daarin geslaag om ’n paar woorde te stotter, klaarblyklik te verleë om my situasie te verduidelik.

Die regter het verward gelyk, maar ek het verduidelik: “U Edele, ek dink die prokureur probeer verduidelik dat ek nie sal sweer nie”. Dit het gelyk asof dit die regter irriteer en hy het gebrom: “Wel, sal jy ten minste opstaan?” Nadat die getuies voor die regbank opgestaan het, sê die regter: “Julle wat voor hierdie hof verskyn, sweer ofverklaar [hy uiter hierdie laaste twee woorde nadruklik en rek hulle uit terwyl hy met ’n handgebaar in my rigting wys] julle plegtig om die hele waarheid en niks anders as die waarheid te praat nie?”

Daarmee het die verhoor begin. So terloops, ons het die saak verloor.

’n Eed – veral ’n geregtelike eed – is baie algemeen in ons samelewing. Baie amptelike dokumente vereis die bevestiging deur ’n notaris – ’n bevestiging wat gewoonlik beweer dat die ondertekenaar gesweer het of ’n eed afgelê het. Byvoorbeeld, wanneer ’n eis ingedien word vereis die meeste versekeringspolisse “’n beëdigde verklaring as bewys van verlies”. Dokumente vir lenings, verkoopaktes, motor-registrasiedokumente en belastingaanslagdokumente vereis gewoonlik dat die ondertekenaar “sweer” dat die inligting daarop korrek is.

U mag dalk vra: “Waaroor gaan die groot bohaai?” Of: “Waarom is dit belangrik?” Dit is goeie vrae, veral as ’n mens van voorneme is om volgens elke woord van God te leef (Mattheüs 4:4). Terwyl Jesus Christus sy dissipels in afsondering in ’n bergagtige omgewing geleer het, het Hy dit so verduidelik: “Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie. Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose” (Mattheüs 5:33-37).

Jesus se halfbroer Jakobus, bevestig hierdie beginsel wanneer hy ons leer: “Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ’n oordeel val nie” (Jakobus 5:12).

’n Nietige saak? Ja, maar uiteraard een wat vir God belangrik is en dus iets wat vir ons belangrik behoort te wees. In die meeste jurisdiksies maak die wet voorsiening vir ’n eenvoudige bevestiging eerder as om ’n eed af te lê. ’n Mens kan dus in die hof of by die ondertekening van ’n dokument sê: “Ek bevestig” eerder as om te sê: “Ek sweer”.

Jakobus leer ons ook: “... elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Wanneer ons praat, behoort dit duidelik en sonder valsheid te wees, sodat mense ons “Ja” en ons “Nee” kan verstaan sonder dat ’n eed nodig is. Om meer hieroor te leer kan u ons boekie, Die Tien Gebooie lees. U kan aan u naaste streekskantoor (gelys op bladsy 2) skryf, of u eie gratis kopie bestel op ons webwerf, www.wvm.co.za. U sal daaruit leer hoe om voordeel te trek uit die baie seëninge van God wat ons verkry deur te lewe op ’n manier wat Hom behaag.