In 2003 was die presidensiële verkiesingsveldtog dwarsdeur die Verenigde State in volle swang. Weke voordat die groter partye hul amptelike nominasiekonvensies gehou het, het die media ons sintuie reeds met aanhangerpleidooie gebombardeer: “Stem vir George W. Bush” of “Stem vir John Kerry!”

Aantygings en teen-aantygings word uitgeruil. Wie se skuld is dit dat Irakese gevangenes mishandel is? Wie vertel leuens oor sy militêre loopbaan? Watter kandidaat se waardes verteenwoordig werklik die Amerikaanse volk?

Wat behoort ’n ware Christen te doen? Hoe behoort ons te reageer? Meer belangrik nog, hoe sou Jesus Christus reageer in hierdie politiekbelaaide atmosfeer?

Streef die VSA die regte strategieë na in sy “oorlog teen terrorisme” terwyl hul aansien in die buiteland skade ly weens ’n Irakese konflik? Volg Amerika ’n behoorlike binnelandse beleid, sy enorme nasionale skuld en ekonomiese onsekerheid tuis in ag genome?

Wie kan ons uit die moeras van ons dalende sedes, onsekere ekonomie, kwynende lewensstandaarde en die toenemende rasse- en etniese spanning in ons samelewing lei? Wie?

Ons moet almal erken dat ’n ware Christen iemand is in wie Christus deur die krag van die Heilige Gees leef. Die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

’n Ware Christen moet leer om te leef soos Jesus Christus werklik geleef het – nie soos talle mense verkeerdelik veronderstel Hy dalk geleef het nie. Jesus Self sê vir ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Die ware antwoord oor hoe ons in ’n demokratiese nasie behoort te leef en te funksioneer, word in die Bybel gevind – die geïnspireerde Woord van God, want ons moet die “gesindheid [hê] wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5). Die Bybel is ook die openbaring van God se intellek – wat vir ons sê hoe die Vader en Jesus Christus werklik dink oor die fundamentele kwessies van die lewe.

Onafhanklik van wie?

Gedagtig aan 4 Julie – “Onafhanklikheidsdag” in die VSA – spoor patriotiese boodskappe burgers aan om die een of ander kandidaat te ondersteun. As ons kyk na die manne wat vir presidentskap staan, vra ons onsself af: “Glo hy werklik dat hy bekwaam is om die wêreld se enigste supermag te lei? Dink hy dat enigiemand opgewasse is vir die taak?” Waar is God in al hierdie dinge?

Van die begin af het die mensdom probeer om homself te regeer sonder God se direkte leiding. Die meeste beleidende Christene besef nie eens wat Jesus Christus te doen het met regering nie, want hulle het baie meer gehoor van “die klein Here Jesus in ’n krip,” as wat hulle vertel is van die Bybelse Jesus Christus wat nou aan die regterhand van God in die Hemel staan (Handelinge 7:55-56). Die ware Christus sal spoedig terugkeer in majestueuse glorie as die letterlike Koning van konings oor die hele aarde! Hierdie Jesus is onbekend aan die meeste mense.

Onthou, weinig belydende Christene besef dat Jesus se Evangelie gegaan het oor wêreldregering. Een van die slimste Sataniese misleidings wat ooit versprei is, is dat Jesus Christus se boodskap hoofsaaklik oor Homself handel. Die beginpunt van ware Christelikheid is die aanvaarding van die gestorte bloed van Jesus Christus ná werklike bekering (iets wat selde elders genoem word!) van sonde. Jesus se hoofboodskap – die Evangelie wat Hy verkondig het – het egter gehandel oor wêreldregering en elke mens se bereidwilligheid om werklik oor te gee aan God en uiteindelik deel te word van Sy goddelike Gesin. Hierdie goddelike regering sal binnekort oor hierdie hele aarde regeer!

Wie REGEER hierdie huidige wêreld?

Hoewel baie mense gelei is om te glo dat hierdie God se wêreld is, sê die Bybel vir ons iets heel anders. Die apostel Johannes is geïnspireer om te skryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15).

Gedurende Jesus Christus se versoeking, is Hy na ’n berg geneem waar al die glorie van die wêreld se koninkryke aan Hom gewys is: “En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag [om te regeer] gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil” (Lukas 4:6).

Het Jesus Satan weerspreek en vir hom gesê dat Hy nie in bevel van hierdie wêreld se koninkryke was nie? Nee. Hy het nie. Naby die einde van Sy bediening, praat Jesus egter só van Satan: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Hy sê ook verder: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Later skryf Paulus: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4). Satan, die Duiwel, is die onsigbare heerser – die “god” van hierdie era, wat ongeveer 6,000 jaar van die mens se geskiedenis sedert Adam geskape is, beslaan, maar wat ten einde sal loop met die Wederkoms van Jesus Christus as Konings van konings! God inspireer Paulus om aan ons te onthul dat Satan “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” is (Efesiërs 2:2). Die onsigbare geestelike heerser – die prins – van hierdie wêreld se samelewing, is dus Satan die Duiwel!

Die ware Skeppergod tree nogtans tussenbeide wanneer nodig, ten einde Sy doel te bereik. In Galasiërs 1:4, leer Paulus dat Christus “Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld”. Egotistiese mense, wat egter dink dat hulle alles weet, is eintlik onbewus daarvan dat hulle onder die kragtige invloed van die onsigbare Satan is. Hulle dink dat hul idees omtrent die samelewing en regering – dikwels in lynregte teenstelling met dié van God – sin maak. God sê egter: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12).

Satan mislei hierdie wêreld op ’n duisend verskillende maniere! In Openbaring, voorsien Johannes binnekort ’n geestelike oorlog, wanneer “die groot draak … neergewerp [word], die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Later openbaar God aan ons dat Satan in ’n bodemlose put gegooi gaan word aan die begin van Christus se heerskappy op aarde “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:3). Die Bybel maak dit baie duidelik dat hierdie huidige samelewing Satan s’n is. Eerder as om opreg God se wil te soek, is vandag se samelewing gebaseer op ydelheid, mededinging, misleiding en bedrog.

Jesus sê aan Pontius Pilatus: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Dit is duidelik dat Jesus gladnie van voorneme was om te probeer om in hierdie wêreld se politiek en oorloë betrokke te raak nie. Hy het ’n ander wêreld verteenwoordig, ’n ander regering – die Koninkryk van God. Jesus sou dus beslis nie probeer het om hierdie wêreld te herorganiseer en te midde van leuens en knoeiende politiese staatsbestel onder die invloed van Satan die Duiwel te beland nie!

Opleiding om konings te wees

Die Bybelse Jesus Christus sal heel moontlik gedurende die volgende geslag terugkeer om op ’n regte troon in die stad Jerusalem te sit. Sy regering sal regoor die hele aarde gevestig word – ’n letterlike regering, bekragtig deur die Almagtige God, regeer deur die Koning van konings en Heer van here (Openbaring 19:15-16). Wat sal Jesus se volgelinge – die ware heiliges van God – doen? “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). In die daaropvolgende paar verse gaan Paulus voort om uit te brei hoe die Christene in Korinte veronderstel was om te leer om God se regering in die Kerk te beoefen deur onderlinge probleme reg te “oordeel”. Van Genesis tot Openbaring, was ’n ampsbetrekking in God se regering altyd deur toewysing gevul – nie deur politiekery of deur andersins misleidende beloftes aan mense te maak om hul stemme te werf nie. Dit is in hierdie konteks dat Paulus kon vra: “Moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word” (vers 4)?

Christene word tans opgelei om konings en priesters te wees in die eerskomende Koninkryk van God. Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ons moet dus ons menslike weë en ons menslike selfsug oorwin en leer om God se regering nou toe te pas. Let op hierdie “gebed van die heiliges” in Openbaring 5:9-10: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Dit is duidelik dat die ware Heiliges van God eersdaags heerskappy gaan hê – nie in die Hemel nie, maar op hierdie aarde!

Bestudeer die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27 sorgvuldig. Hier word uitgebeeld hoe Jesus hemel toe gaan om Sy Koninkryk in ontvangs te neem en terug te keer. Met Christus se Wederkoms, beloon Hy Sy dienaars volgens hoe goed elkeen gevaar het in die gebruik van Godgegewe tyd, talente en wysheid om God te dien. Watter beloning het Christus Sy getroue dienaars gegee? ”En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). En aan die kneg wat net vyf pond verdien het? “En jy moet wees oor vyf stede” (vers 19).

Sien u hier enige aanduiding van politiekery of stemmery? Gladnie. Inteendeel, dit is net nog een Bybelse voorbeeld om aan Christene duidelik te maak dat die beste vorm van regering – God se Regering – geensins gebaseer word op menslike politiekery, kompromieë, vals verdraaiings en handelings nie, om dan met onwys oplossings vir ons probleme vorendag te kom.

Jesus sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Hy sou Homself beslis nie verneder om deel te word van hierdie wêreld se verkeerde benadering tot regering nie. Christus sal eerder met Sy terugkeer, beslissend optree teen die regerings van hierdie wêreld. “Maar in die dae van dié konings [aan bewind net voor Christus se Wederkoms] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

God beskryf later in Daniël duidelik hoe die ware Heiliges met die Wederkoms van die Messias gesag gaan kry, onder Christus, oor al die regerings van hierdie aarde. “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

Hoe behoort Christene NOU met menslike regerings saam te werk?

Alhoewel Jesus Christus nie aktief deelgeneem het aan hierdie misleide wêreld se regerings nie, het Hy tog vir ons ’n voorbeeld van gehoorsaamheid aan siviele wetgewing gestel, om dié wat in ’n amp staan te respekteer. Toe die Fariseërs Jesus kom vra oor belastingbetaling, antwoord Hy: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheus 22:21).

God inspireer Paulus om te skryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang” (Romeine 13:1-2). Paulus verduidelik verder: “Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (verse 6-7).

Paulus sê vir ons om te bid vir diegene in gesagsposisies: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timotheus 2:1-2).

Ware Christene – waaruit die Kerk (Grieks ekklesia, wat letterlik “ uitverkorenes” beteken) – is soos buitelandse ambassadeurs. “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Filippense 3:20).

’n Klompie jare gelede het ek die geleentheid gehad om op te tree as adjunk-kanselier van ’n klein kollege naby Londen, Engeland. As gevolg hiervan en ander verantwoordelikhede, het ek ’n aantal hooggeplaasde byeenkomste in Londen en aan die huis van die Amerikaanse ambassadeur aan Haar Majesteit se regering bygewoon. By twee van hierdie geleenthede het ek die Amerikaanse Ambassadeur ontmoet.

Daar word van die Amerikaanse Ambassadeur in Brittanje – of in watter land ook – verwag om die wette van die land waarin hy of sy woon, te gehoorsaam, om die owerhede te respekteer en eer te betoon aan wie dit toekom. Tydens die twee geleenthede wat ek Winfield Huis, die Ambassadeurswoning, besoek het, is ’n heildronk ingestel op die Koningin. Almal het opgestaan en hul glase gelig ter ere van die innemende dame wat vandag nog die Monarg van die Britse volk is. By albei hierdie geleenthede, het beide Amerikaanse Ambassadeurs – Elliot Richardson in een geval en Walter Annenberg in die ander – deelgeneem aan die instel van die heildronk. Om hierdie soort respek vir gesaghebbendes te betoon, is ’n duidelike weerspieëling van die gesindheid wat God in almal van ons verwag, en beslis ook om al die regmatige wette van die land te gehoorsaam en om ons belasting te betaal. Indien enige totalitêre regering ooit probeer om ons te verplig om die hoër Wette van die Almagtige God regstreeks te verontagsaam, moet ons natuurlik die geïnspireerde voorbeeld van die Apostels volg wat sê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Selfs dan, indien ons besluit om in daardie land te bly, moet ons verwag om enige boete of straf wat die gesaghebbendes mag oplê, te verduur en in geloof na God kyk om na ons om te sien (vgl. Daniël 3).

Maar, soos Paulus skryf, ons is “gesante [ambassadeurs] vir Christus” (2 Korintiërs 5:20). Ons moet in liefde en respek optree teenoor alle mense, insluitend diegene in politieke ampte. Ons moet egter altyd onthou dat ons uiteindelike burgerskap nie in of van die regerings van hierdie Satan-geïnspireerde samelewing is nie! Alhoewel ons andere behoort te dien en goed te doen op ’n individuele basis, kan ons nie en mag ons nie betrokke raak by politieke pogings om Satan se misleide wêreld te herorganiseer of te reinig nie, omdat die stelsel self nie God se stelsel is nie! Hy laat bloot misleide mense toe om hul eie weg in te slaan en te eksperimenteer met verskeie soorte regerings gedurende hierdie laaste 6,000 jaar van die mens se wedervaringe.

Paulus skryf: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korintiërs 6:14-15). Met verwysing na die godsdiens-politiese stelsel wat die hele Westerse wêreld sal oorheers wanneer Jesus Christus terugkeer, beveel God Sy mense: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Wat sal Jesus doen in die volgende verkiesingsjaar in die Verenigde State of in Suid-Afrika? Hy sal só besig wees om die goeie nuus van die eerskomende Koninkryk van God te verkondig dat Hy geen tyd en geen belangstelling sal hê in politiekery, stemmery of deelname in enige drukgroepe wat Satan se wêreld wil reinig nie, want Hy sal weet dat menslike pogings om hierdie wêreld te red – al bedoel hulle dikwels goed – gedoem is tot mislukking omdat hulle onder Satan se invloed en deel van sy stelsel is wat God Self “Babilon” noem (Openbaring 14:8).

Die sending en roeping van alle ware Christene is om te help om die weg te baan – as vooruitgestuurde gesante – vir die Koninkryk van God, die letterlike regering wat die lewende Jesus Christus eersdaags sal oprig. Dit sal al die misleide menslike regerings van hierdie aarde vervang. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Mag God daardie dag bespoedig!