Kyk rond en u sal ’n wêreld sien wat getuig van God se liefde vir verskeidenheid. Ons planeet het talle bergreekse, valleie en vlaktes. Kabbelende stroompies en riviere in die berge wat paadjies vorm wat na mere, laagliggende areas en uitgestrekte oseane lei. Ons sien reënwoude, woestyne en alles tussenin.

Daar is blomme van alle vorms, kleure en groottes en “meer as 60,000 spesies bome wat in alle vorms en groottes voorkom, van majestueuse seders tot kleiner vrugtebome en struike” (“Types of Trees with their Name and Picture-Identification Guide,LeafyPlace.com). Voëls kom in alle kleure, groottes, vorms, gewoontes en voëlgesang voor. Aasvoëls sweef vir ure op ’n slag op lugstrome, terwyl die klein veerligte suikerbekkie met spoed en behendigheid rond dartel. Nie almal van hulle het dieselfde voorkeure wat voedsel betref nie. Is u nie bly dat u nie ’n aasvoël is wat muishonde en buidelrotte vreet nie? Aasvoëls het tog ’n belangrike ekologiese doel en floreer op hulle slagoffers wat op paaie doodgery word. Die oseane is vol vreemde en verskillende wesens waarvan sommiges so ongewoon is dat wetenskaplikes dit moeilik vind om te onderskei of dit plant of dier is.

Miljoene wesens

Presies hoeveel verskillende diere is daar? Volgens verskeie hulpbronne is daar sowat 2,1 miljoen geïdentifiseerde diersoorte. Dit sluit miljoene ongewerwelde diere in, waaronder meer as 1 miljoen insekte, 110,615 spinnekoppe, 80,460 weekdiere [ongewerwelde diere soos bv. slakke], 80,122 skaaldiere [bv. krappe, krewe] en 2,175 korale. Van die bekende gewerwelde diere is daar 35,672 visse, 8,250 amfibieë [bv. paddas], 11,341 reptiele, 11,158 voëls en 6,485 soogdiere (“How many species are there?,OurWorldInData.org).

Wetenskaplikes verseker ons dat geen twee sneeuvlokkies presies dieselfde is nie, maar tog het elkeen ’n seskantige patroon. Net so is geen twee mense dieselfde nie, maar elkeen is geskep volgens die genetiese kode wat deur God geskryf is.

God se skepping getuig dat Hy van verskeidenheid hou. Die soort verskeidenheid waarmee ons kinders deesdae egter by die skool kennis maak, is iets wat God nie liefhet nie. Ja, Hy het alle mense lief, ongeag ons vorm, kleur of grootte en selfs ten spyte van ons persoonlike tekortkominge. God is lief vir ons talente en persoonlikhede. Hy was immers die Een wat ons geskape het, net soos Hy die sneeuvlokkie ontwerp het met so ’n verskeidenheid van moontlikhede. Dit beteken egter nie dat Hy van alles hou wat ons doen nie! Sy Gebooie openbaar dat sekere gedrag Hom nie behaag nie.

Om voor standbeelde en voorstellings van God neer te buig is ’n voorbeeld van wangedrag. Afgode verlaag die groot Skepper tot die vlak van iets wat deur mensehande gemaak is en lei ons weg van die regte wyse van aanbidding van God. Let op hierdie deurdagte verslag van die dwaasheid van afgode, waar gepraat word van ’n boom wat afgekap is:

“Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien! En van wat oor is, maak hy ’n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god! … en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ’n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ’n stuk hout?” (Jesaja 44:16-17, 19).

Die verskeidenheid in aardrykskunde, flora en fauna of talente en persoonlikhede, is heeltemal anders as om te verskil van die morele gedrag wat God van ons vir ons eie beswil verlang. Onsedelikheid moet nooit onder die vaandel van verskeidenheid geregverdig word nie. Die God wat verskeidenheid geskep het – maak nie saak waarna ’n mens op aarde kyk nie – is nie tevrede met gedrag wat skadelike resultate in Sy skepping tot gevolg het nie. Pyn en lyding is die gevolge van die verontagsaming van Sy lewenswyse soos dit geopenbaar is in Sy Woord – die Bybel.

Verskeidenheid behaag God – nié perversiteit nie

Waarom lyk dit asof so min mense immorele gedrag – dié wat in die Skrif veroordeel word – met pynlike resultate verbind? Een persoon wat wel die verband raak gesien het, is dr. Míriam Grossman. Met betrekking tot haar werk as ’n psigiater aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, skryf sy:

“Hierdie veranderings [in morele waardes] is die gevolg van sosiale agendas wat op die kampusgemeenskap afgesmeer word en in my werk by die beradingsentrum sien ek daagliks die gevolge daarvan. Gevaarlike gedrag is ’n persoonlike keuse; om te oordeel word verbied – dit kan dalk aanstoot gee ... As ’n wetenskaplike baseer ek my argument op biologiese feite, nie Bybelse feite nie. Vergeet Levítikus – soos u sal sien, is my data van The New England Journal of Medicine en die Centers for Disease Control and Prevention (Unprotected, bll. XVII, XXIII)”.

Natuurlik sal ons hier by Die Wêreld van Môre nie Levítikus ignoreer nie en ons dink ook nie dat dr. Grossman dit doen nie, maar sy het ’n geldige punt. Al wat ’n mens hoef te doen is om ’n mens se oë oop te maak en die verband tussen losbandigheid en die skadelike gevolge te sien wat dit meebring. Dit kan in die lewens van diegene rondom ons en somtyds ons eie lewens waargeneem word en in die wetenskap gedokumenteer word vir enigeen wat maar net sy oë oopmaak.

Selfs ’n paar aanhangers aan die voorpunt van die LGBTQIA+-beweging het ’n mate van begrip hiervoor. Let op hierdie erkenning van twee van die bekendste homoseksuele voorstanders van die afgelope halfeeu: “Verhoudings tussen gay mans hou gewoonlik nie baie lank nie ... ’n Deel hiervan is te danke aan die kenmerke van manlike fisiologie en sielkunde, wat die seksuele en romantiese vereniging van ’n man met ’n man inherent minder stabiel maak as die van ’n man met ’n vrou. (Jammer as die waarheid seermaak)” (Marshall Kirk en Hunter Madsen, After the Ball, bl. 318).

Hoe lank sal die mensdom pynlike lesse herhaal? Hoe lank sal dit neem om tot die gevolgtrekking te kom dat seks buite ’n monogame huweliksverhouding tussen een biologiese man en een biologiese vrou ’n slegte idee is? Om kinders aan te moedig om hulle identiteit te bevraagteken, “uit-die-kas-klim” bekendmakings te vier of puberteitsblokkers aan kinders te gee wat nie die omvang en onomkeerbaarheid van sulke optrede kan begryp nie – hierdie gedrag skep nie die soort verskeidenheid wat God behaag nie.

Die LGBTQIA+-beweging word onder die vaandel van trots gevier – ’n gesindheid wat God lank gelede voorsien het. “Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie. En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim” (Eségiël 16:49-50).

Ons het almal al die gesegde gehoor: “Wees lief vir die sondaar, haat die sonde”. Dalk is dit ’n goeie manier om die betekenis daarvan beter te verstaan om aan iemand te dink wat aan kanker ly. Ons haat die kanker as gevolg van die pyn en lyding wat dit veroorsaak en ons is werklik lief vir diegene wat daardeur geteister word. Dit is die wyse waarop God diegene liefhet wat na Sy beeld geskape is. Hy het die siekes lief; daarom haat Hy dit wat hulle siek maak.

Ons afknouerige, eiegeregtige kultuur sal nie goed eindig vir Westerse nasies nie. God sorg vir almal; Hy is lief vir verskeidenheid, maar nie die soort perverse verskeidenheid wat ons vandag sien en wat algemeen bevorder word nie. Hy het ’n wêreld van kleur en vorm tot voordeel van die mensdom geskep. Kyk rondom u en geniet dit – neem die tyd om te leer oor God se plan vir alle mense oor die wêreld heen. Daardie plan is groter as wat u dalk mag dink!