Ons Westerse samelewing is gewoonlik bereid om die feit te erken dat daar baie “probleme” is: Stedelike geweld, opstandige jong mense, gebroke huisgesinne en verbouereerde kinders. Ons slaag gewoonlik nie daarin om die werklike oorsaak van die probleem te identifiseer sodat ons ’n realistiese oplossing kan vind nie. Inteendeel, ons moderne benadering tot probleme is om die “simptome” te behandel – sonder om ooit na die ware oorsaak te soek. Baie navorsers het byvoorbeeld bevind dat miljoene mense wat in sogenaamde benadeelde gebiede van die wêreld woon, skynbaar dikwels immuun is teen moderne siektes soos kanker, hoë bloeddruk en diabetes. Sommige gemeenskappe van die Stille Oseaan-eilande, waar volke wat in die Hunza Vallei in Asië en elders woon, ondervind selde probleme met kanker, diabetes, ensovoorts. Wanneer “moderne” handelaars en voedselverskaffers egter met roomys, koeldrank en ander “lekkernye” begin opdaag, begin die tempo van hierdie siektes skielik ontplof! Dink!

Selfs nog meer algemeen as wat nou in die Verenigde State gebeur, is die toename in die aantal moorde in sy vername stede. Weereens, waarom? Waarom hou ons aan om net die “simptome” te behandel, in plaas daarvan om in die eerste plek, die werklike oorsaak van hierdie probleme te identifiseer?

Om werklik die probleem van die groeiende vlaag misdaad in baie van die groot stede van ons nasies op te los, is dit nodig om meer noukeurig en met “’n oop gemoed” te kyk na wat ons Skepper in Sy geïnspireerde Woord aan ons sê!

Wat ons Skepper beveel

Indien u nie bereid is om te luister na wat die Almagtige God aan u sê nie, dan kan u net sowel hier ophou lees, aangesien daar andersins geen oplossing vir enige van die mens se probleme sal wees nie – noem maar op: Misdaad, gebroke huise, oorloë asook onwettige dwelms.

In Sy geïnspireerde openbaring aan die mensdom, sê ons Skepper: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Weereens sê God se Woord: “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf” (Spreuke 29:17).

Die meeste van u sal onmiddellik begryp dat ten einde u kind te kan “oplei”, u moet leer om sterk huisgesinne in u gemeenskap te bou – gesinne wat ’n doelwit in die lewe het en gewillig is om te luister na dit wat God sê! Andersins is alle pogings vrugteloos!

My vriende, om eerlik te wees, indien die belydende “Christelike” kerke van die Verenigde State [en Suid-Afrika] kragtig en konsekwent die Wette van God onderrig het oor hoe lewensbelangrik dit vir ’n man en sy vrou is om ’n sterk gesinsverhouding te bou, om bymekaar te bly en om hulle kinders op te voed – sou ons in die eerste plek nie die soort probleme gesien het wat hierbo beskryf is nie! As ’n samelewing het ons misluk om God se Woord ernstig op te neem. Ons het ons kinders gefaal, ons het onsself gefaal en ons het ons Skepper gefaal.

Let op wat God aan antieke Israel gesê het. Ons behoort onsself dikwels te herinner aan wat die Almagtige God in die Tien Gebooie aan ons openbaar het: “Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee. Jy mag nie doodslaan nie. En jy mag nie egbreek nie. En jy mag nie steel nie. En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. En jy mag nie ... begeer nie” (Deuteronómium 5:16-21). Hy het ook beveel dat hierdie Wette en waardes aan ons kinders oorgedra behoort te word, van geslag tot geslag, vir ewig (Deuteronómium 6:7).

Indien hierdie kragtige leerstellings uit God se Woord werklik in ons samelewing toegepas was, sou daar feitlik geen misdaad of geweld of gebroke gesinne of enige van die ander verskriklike “maatskaplike probleme” wees wat ons ervaar nie. Die meeste van u besef dit. Vir die meeste mense lyk dit of die ware God van die Bybel “ver weg” is. Daar is “geen vrees vir God” nie. Die belydende Christelike leraars het hopeloos gefaal om God ’n “werklikheid” vir mense te maak. Hulle het nagelaat om Sy Wette en Sy lewenswyse te onderrig, selfs terwyl daardie leraars nog kragtige instrumente was om die opvoedkundige en maatskaplike norm van al ons nasies te wees.

Ons het dus nou ’n verwarde, misleide liberale media wat feitlik die “standaarde” stel van hoe ons behoort op te tree. Hierdie Hollywood-tipe mense is eenvoudig net daarmee gemoeid om te vermaak en geld te maak. Die meeste van hulle stel hoegenaamd nie daarin belang of die gemeenskap werklik baat sal vind by hulle “liberale” idees of nie. Dit is tyd vir Amerika, Brittanje en Kanada [asook Suid-Afrika] om wakker te word. Dit is tyd dat ons die werklike oorsaak van byna al ons maatskaplike probleme te wete kom: Die konstante geringskatting en verbreking van die Wette van God. Die Wette van God is soos die wet van swaartekrag. U hoef nie in te gryp om dit te “laat werk” nie. Die wet van swaartekrag werk outomaties of mens daarin glo of nie. Almal van ons behoort te besef dat God se geestelike Wet, die Tien Gebooie, op dieselfde manier werk. God se Wette is werklik en hulle sal die uiteindelike oplossing op die mensdom se probleme wees, indien hulle waarlik aangeleer en gehoorsaam word.

Amerika by ’n keerpunt

Ek hoop dat almal in die Verenigde State – sowel as in Kanada, Brittanje, Australië [asook Suid-Afrika] en die ander Engelssprekende nasies – bereid sal wees om met ’n oop gemoed na te dink oor wat die Skepper aan ons voorvaders gesê het. Trouens, alle nasies behoort op Sy woorde ag te slaan. God het dit profeties en kragtig gestel: “As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld” (Deuteronómium 28:1-3). Later het God gewaarsku: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld ... Die Here sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het” (verse 15-20).

Eerlikwaar, ons voorheen belydende “Christelike” nasies is by die belangrikste keerpunt in hulle hele geskiedenis! Ons wend ons óf na die weë van God en wees gewillig om die geïnspireerde Wette en insettinge van God te gehoorsaam – óf hierdie verskriklike vloeke sal oor ons kom en ons sal vervloek wees en u sal vervloek wees “in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen, totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan” (vers 20).

Die nasionale verwarring, chaos en algehele verwoesting wat in hierdie verse geprofeteer is, is reeds besig om stuk vir stuk, teen ’n stadige maar steeds toenemende tempo plaas te vind. My vriende, mag God u help om te verstaan en op te tree voordat dit te laat is! Indien u werklik God se beskerming en seën wil ondervind in die maande en jare wat voorlê asook God se seën en leiding verlang, skakel of skryf onmiddellik aan ons en bestel u gratis eksemplaar van die boekie met die titel, Die Tien Gebooie. Maak ook seker dat u die insiggewende boekie Hervestig die oorspronklike Christenskap, aanvra. Dit sal u help om die agtergrond van die probleem te verstaan.

U het hierdie boekies nodig. Dit is nodig dat u verstaan. Dit is nodig – ter wille van u eie veiligheid en die veiligheid en vir seëninge vir u hele gesin – om God te begin “soek” soos nog nooit tevore nie! Mag God u help om nou die daad by die woord te voeg, voordat dit te laat is.