In die tweede gedeelte van ons reeks oor Marihuana ondersoek ons die argumente wat sommige mense het om pot te wettig tot voordeel van individue en die gemeenskap.

Die Westerse samelewing het feitlik onherkenbaar geword vir enigiemand wat so kort as 50 jaar gelede gebore is. Die waardes, handelswyses en vermaak het grotendeels die teenoorgestelde geword van dit wat in die middel van die 20ste eeu aanvaarbaar was. Vandag lei die toename in jurisdiksies wat dagga vir ontspanningsgebruik gewettig het, tot ’n groter verwerping van lankgekoesterde standaarde.

In die vorige uitgawe van die Wêreld van Môre het die eerste artikel van hierdie reeks twee van die belangrikste redes vir die wettiging van “pot” genoem. Die eerste is dat daar ’n toenemende aanvaarding in die samelewing is dat dagga (cannabis of marihuana) ’n skadelose dwelm is en dus sal wettiging nie skadelik vir die samelewing wees nie. Die tweede is die feit dat verskeie pogings en hulpbronne aangewend word deur wetstoepassingsagentskappe om dwelmmisbruik te bestry, blykbaar met min sukses en dagga se onwettige status gee georganiseerde misdaad die geleentheid om voordeel te trek uit die verskaffing van die dwelm. Baie mense redeneer dat indien marihuana (dagga) wettig was, hierdie hulpbronne elders aangewend sou kon word en die winste uit dwelmverkope sou nie meer die kriminele element bevoordeel nie, maar eerder die staat.

Ons het ook in die vorige uitgawe ’n deel van die oorweldigende aantal mediese navorsing gesien wat aantoon dat dagga (cannabis of marihuana) alles behalwe onskadelik is. Ons het navorsing aangehaal wat toon dat dagga bydra tot die verlies aan motivering, veral by die jeug as gevolg van dalende dopamienvlakke in die brein. Daar is ook getoon dat dit direk bydra tot beide hoër verslawingsvlakke en gevalle van breinskade (verminderde geheue en aandagspan, verminderde redeneringskapasiteit en gevolglike afname in akademiese prestasie). Selfs die regering se gesondheidswebtuistes bevat baie waarskuwings teen die gebruik van dagga. Health Canada verwys byvoorbeeld na navorsing wat ’n verhoogde risiko van psigose en skisofrenie aantoon, asook die ernstige gevare wat dit vir ongebore kinders inhou wie se moeders gebruikers is.

Dagga is alles behalwe veilig. Wat van die tweede argument wat deur die voorstanders geopper is?

Sal wettiging van dagga die misdaad en algemene dwelmgebruik verminder?

’n Belangrike argument wat deur voorstanders van die wettiging van dagga se wettiging gebruik word is gebaseer op die veronderstelling dat die wettiging van die dwelm ’n belangrike bron van inkomste vir georganiseerde misdaad sal ondermyn. Die standpunt word geopper dat die wettiging van dagga die kontak tussen gebruikers en kriminele elemente sal verminder en sodoende die waarskynlikheid van kontak met meer ernstige dwelms sal verminder.

Hoewel dit duidelik is dat die verwydering van dagga se onwettige status ’n daling in die misdaadsyfer teweeg sal bring (die gedrag hou nie op nie, dit word net “hergedefinieer” as wettig), beteken dit nie dat die onwettige dwelmhandel beduidend benadeel sal word nie.

Selfs toe die toepassing van dagga-wette verslap het en die dwelm in kettingwinkels verkrygbaar was, het die gebruik van ander onwettige dwelms nie gedaal nie. Ten spyte van die makliker beskikbaarheid en die verminderde risiko van vervolging, het die verbruik van selfs meer skadelike dwelms toegeneem. Die meeste navorsing wat op ervaring gegrond is toon dat dagga ’n wegspringplek vir gevaarliker dwelms is. Of dagga gewettig word of nie, georganiseerde misdaad sal voordeel trek uit die verhoogde gebruik.

Dr. Robert Dupont, die eerste direkteur van die Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik, maak die volgende opmerking in die New York Times: “.. mense wat dagga gebruik, gebruik ook meer, nie minder nie, wettige en onwettige dwelms as mense wat nie dagga gebruik nie”.

Hy sê verder: “Die wettiging van dagga sal blywende negatiewe gevolge hê vir toekomstige geslagte. Die huidige wettige dwelms, alkohol en tabak is twee van die voorste oorsake van voorkombare siektes en sterftes in die land. Om dagga te vestig as ’n derde wettige dwelm, sal die nasionale dwelmmisbruik probleem verhoog, met inbegrip van die uitbreiding van die opioïed-epidemie” (“Marijuana Has Proven to Be a Gateway Drug”, New York Times, 26 April 2016).

Navorsing en gesonde verstand dui daarop dat die wettiging van marihuana, dwelmmisbruik en misdaad sal laat vermeerder – nie verminder nie. Diegene wat ’n bedwelming van dagga soek, sal baie meer geneig wees om ’n meer intense bedwelming van ander dwelms te soek.

Vroeër in my loopbaan was ek ’n administrateur in ’n groot skoolstelsel van meer as 80,000 studente. Een van my minder gunsteling pligte was om as voorsitter op te tree by die studente-uitsettingsverhore. Volgens my ervaring het die oorgrote meerderheid van sulke gevalle dwelms van een of ander soort behels, dikwels “crystal meth”, “ecstacy” of “crack”. In byna elke geval het die jongmens met dagga begin. Ongeag of dit nou wettig is of nie, is dit ’n “wegspringplek” (gateway drug) vir erger dwelms en die onvermydelike verdriet en die verlies aan potensiaal wat daarop volg. Die wettiging van ontspanningsdwelms lei slegs tot ’n swakker en gewelddadiger samelewing, waarin die enigste “hoop” beskikbaar lyk of dit is om bedwelmd te wees.

Trouens, in sommige state van Amerika het wettiging uitgeloop op ’n 400% toename van dagga-verwante besoeke aan noodkamers, soos dit gerapporteer is deur dr. G. S. Wang van die departement kindergeneeskunde aan die Universiteit van Colorado (“Marijuana-related ER visits among kids quadruples at Colorado-hospital: Study”, TorontoSun.com, 8 Mei 2017).

Verskeie studies wat in die VSA en Kanada uitgevoer is, het getoon dat wanneer dagga gewettig is of selfs nog hangende is, glo mense dat die regering dagga as ’n veilige en skadelose middel aanwys. Gebruikers is egter dikwels nie bewus daarvan dat die sterkte-vlak van dagga vandag – die konsentrasie van die hallucinogene bestanddeel THC (tetrahydrocannabinol) – tot vyf keer hoër is as in die 1960’s nie.

Medisinale dagga (Marihuana)

Vir die grootste deel van die vorige eeu was dagga ’n onwettige of ingeperkte dwelm. Dit het dit moeilik gemaak om navorsing te doen oor enige moontlike medisinale eienskappe. Onder druk van die “pro-marijuana-lobby” het ’n aantal Amerikaanse state en die regering van Kanada dagga gedekriminaliseer vir “medisinale” doeleindes en begin om groeiende bedrywighede vir medisinale verspreiding te wettig. In sommige jurisdiksies kan ’n individu ’n permit bekom om ’n beperkte hoeveelheid dagga te verbou indien daardie persoon gelisensieer is om dit vir ’n mediese rede te gebruik.

Die mediese beroep het ’n waarskuwiong gerig om versigtigheid aan die dag te lê oor wat hulle as ’n voortydige aanwending van medisinale dagga beskou. Geneeshere opper ’n aantal belangrike besorgdhede rakende die voorskryf van dagga vir ’n gegewe klagte.

1. Die gebrek aan navorsing wat enige toestand identifiseer wat positief op ’n bestanddeel in dagga sal reageer. Daar is baie min reproduseerbare navorsing van die teenstanders wat spesifiek ’n mediese toestand identifiseer wat voordelig met dagga behandel kan word. Hoorsê, stories en persoonlike menings is moeilik om in ’n mediese voorskrif te vertaal.

2. Die gebrek aan navorsing en kliniese toetse om dosisse te bepaal: Daar moet nog baie navorsing gedoen word om te identifiseer watter bestanddele van dagga voorgeskryf moet word en die korrekte dosis van daardie bestanddeel, gebaseer op die pasiënt se gewig, ouderdom, geslag en erns van die toestand.

3. Die gebrek aan navorsing oor dagga se interaksie met ander medikasie: Voordat medisyne veilig voorgeskryf kan word, benodig dokters toegang tot inligting oor moontlike verdowingsmiddel interaksies. Om nie kennis hiervan te dra nie kan ernstige, selfs noodlottige, gevolge hê.

4. Die gebrek aan konsekwentheid in konsentrasie van die medisinale bestanddeel: Tans is dagga-produsente nie onderworpe aan regulasies met betrekking tot standaarde van suiwerheid of konsekwentheid van konsentrasie van die “medisinale” bestanddele nie. Monsters kan aansienlik wissel in terme van aktiewe bestanddele.

Dit is duidelik dat die huidige oorhaastigheid om “medisinale dagga” op die mark en in die hande van verbruikers te kry, voortydig en selfs potensieel onverantwoordelik aan die kant van die wetgewers is. Die Amerikaanse Mediese Vereniging – wat op mediese gronde die wettiging van dagga teengestaan het – beklemtoon die noodsaaklikheid om deeglike navorsing oor die farmakologie van dagga te doen, voordat die staat kan begin om dit as ’n farmaseutiese produk te ondersteun. Ander geneesmiddels word onderwerp aan streng toetse en om dagga deur hierdie proses te haas, word deur wetenskaplikes as onverantwoordelik beskou. Let op die volgende klousule van die Amerikaanse Mediese Vereniging se beleid:

Ons AMA [American Medical Association] dring daarop aan dat dagga (marihuana) se status as ’n federale Skedule 1-beheerde stof hersien moet word met die doel om die bestuur van kliniese navorsing en ontwikkeling van kannabinoïed-gebaseerde medisyne te fasiliteer, asook aanwendingsmetodes af te wissel. Dit moet nie beskou word as ’n goedkeuring van staatsgebaseerde mediese kannabisprogramme, die wettiging van dagga of dat wetenskaplike bewyse oor die terapeutiese gebruik van kannabis voldoen aan die huidige standaarde vir ’n voorskrifmedisyneproduk nie (American Medical Association-CSA Rep. 6, A-01).

In ’n brief aan Kanada se destydse Minister van Gesondheid het die Kanadese Mediese Vereniging eweneens gesê dat daar “weinig bewyse bestaan oor die doeltreffendheid van die kruievorm van dagga”. (Brief aan minister Aglukkaq, 28 Februarie 2013). Dit is ’n paar maande later opgevolg deur die volgende verklaring van die Kanadese Mediese Vereniging:

Die CMA glo steeds dat daar onvoldoende wetenskaplike bewyse beskikbaar is om die gebruik van dagga vir kliniese doeleindes te ondersteun. Dit is ook van mening dat daar onvoldoende bewyse is van kliniese risiko’s en voordele, met inbegrip van die korrekte dosis dagga wat gebruik moet word en die moontlike interaksies tussen hierdie geneesmiddel en ander medikasie (“New ‘Marihuana [sic] for Medical Purposes Regulations’: What Do Doctors need to Know?” Canadian Medical Association, 2014).

Verenigings van dokters bied weerstand teen die gebruik van sogenaamde “medisinale dagga”, aangesien daar tans min vaste kliniese bewyse is dat die dwelmmiddel effektief is. Daar was ’n paar aanduidings dat kannabinol, ’n bestanddeel in dagga, dalk potensiaal het vir die behandeling van spesifieke kwale, soos ’n aanval van stuipe. Daar is egter nog baie navorsing nodig om gepaste dosisse, newe-effekte en ander inligting te bepaal voordat dokters dit eties kan voorskryf. Vir diegene wat daarop aandring dat dagga medisinale voordeel het wys dokters daarop dat daar reeds dosisbeheerde, noukeurig gemete medikasie bestaan: Dronabinol (Marinol®) en nabilone (Cesamet®). Dokters kan reeds enigeen van hierdie medisyne voorskryf, alhoewel elkeen nog toepaslike navorsing kortkom. So waarom is daar nog so ’n gesanik vir medisinale dagga? Kan dit dalk wees dat hierdie goedgekeurde klinies-gekontroleerde medisynes die THC toelaat om ’n uitwerking te hê op die liggaam, maar die gebruiker nie die gewenste “dwelmingsgevoel” gee nie? Mens wonder ook, dat wanneer dagga gewettig word, hoe lank die vraag na “medisinale” dagga sal voortduur? Miskien is die “medisinale” aspek meer ’n verskoning as ’n werklikheid.

’n Onderliggende rede agter alles – met inbegrip van lewe!

Ons kan afsluit met ’n paar stellings van ’n onlangse redaksionele verslag van dr. Diane Kelsall in die Canadian Medical Association Journal. In reaksie op Wet C-45, wat ontwerp is om op 1 Julie 2018 dagga in Kanada te wettig, skryf dr. Kelsall:

Eenvoudig gestel, dagga behoort nie deur jongmense gebruik te word nie. Dit is giftig vir hulle kortikale neuronale netwerke, met beide funksionele en strukturele veranderings wat in die brein van die jeug gesien word wat gereeld dagga gebruik. Die Sentrum vir Verslawing en Geestesgesondheid het ondubbelsinnig verklaar dat “dagga nie ’n onskadelike middel is nie en die nadelige gevolge aan gesondheid daarvan neem toe met intensiteit van gebruik” (“Cannabis legislation fails to protect Canada’s youth”, Canadian Medical Association Journal, 29 Mei 2017).

Politieke leiers behoort gedryf te word deur ’n gevoel van wat goed is vir hulle burgers, maar diegene wat toegee aan groepe wat op soek is na genotsugtige plesier – of vir diegene wat moontlik ondernemingsbelange het, wat uiteindelik om kettingwinkels se rakke en glansryke verpakkings draai – mag dalk meer belangstel in hulle eie voorspoed as dié van die nasie.

Daggagebruik was onwettig in Noord-Amerika en vir ’n goeie rede in baie lande regoor die wêreld: Dit is, soos die wetenskap duidelik uitwys, skadelik vir sy gebruikers en vir die nasie. Dagga en soortgelyke dwelms, sommige selfs meer dodelik, beroof gebruikers van potensiaal en laat gebroke drome en stukkende lewens agterbly. Die verlies aan menslike potensiaal deur dagga en ander verstand-veranderende stowwe is enorm.

Lank gelede, in ’n brief aan ’n jong prediker, het ’n nou beroemde Romeinse burger en ’n man van groot geleerdheid – wat ’n hoë posisie beklee het en gesog was onder die leiers van sy dag – die volgende raad gegee oor hoe ’n persoon, jonk of oud, ’n produktiewe en bevredigende lewe kan hê. Die man, die apostel Paulus, het aan ’n jong Griekse kollega genaamd Titus, geskryf:

“Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees. Betoon jou in alles ’n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie” (Titus 2: 6-8).

In werklikheid is dit die teenoorgestelde van om bedwelmd, beskonke, dronk of enige ander term te wees wat dui op ’n gebrek aan beheer oor u gemoed. Een van die eienskappe wat krities vir geluk en sukses is, is selfbeheersing en die geïnspireerde wysheid van die Bybel beklemtoon die seëninge daarvan om gedurig in beheer van ons verstand te wees: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Galasiërs 5:22-23).

Selfbeheersing kan nie uitgeoefen word as mens dronk of bedwelmd is as gevolg van ’n verstand-veranderende stof nie. In so ’n staat is daar ’n risiko om dinge te doen en te sê waaroor mens vir ’n leeftyd lank spyt kan wees. Moontlike verslawings wat dit tot gevolg kan hê, kan gesinne, loopbane, reputasie en potensiaal vernietig. ’n Nugter verstand is ’n waardevolle verdediging.

Aangesien ons ’n moeilike en gevaarlike tydperk in die geskiedenis van ons nasies betree – nasies wat God en Sy Woord verwerp – moet ons waaksaam en nugter wees om in uitdagende tye met wysheid op te tree. Dit sal ons in staat stel om die onheil te hanteer wat maatskaplike verandering binnekort oor ons nasies sal bring. Om die werklikheid en lewe nugter in ooreenstemming met God se leiding te verstaan, sal in die dae wat kom ’n bron van beskerming wees. Jesus Christus het Self gewaarsku dat swelgery, dronkenskap en die sorge van hierdie lewe ’n afleiding sal wees wanneer die einde van hierdie tydperk nader kom (Lukas 21:34-36).

Dit is ’n tragedie wanneer mense, jonk of oud, die genot van “bedwelmdheid” soek. Ons menslike verstand is ’n kleinood, skitterend ontwerp deur ’n grote Skepper, wat beplan om die mensdom ’n wonderlike toekoms te bied, met die potensiaal waaroor nie eens gedroom kan word in die menslike sfeer nie. Om meer te leer, vra gerus ons gratis boekie aan: Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees? Geen chemikalieë in die heelal kan begin om die wonderlike gevoel van vervulling te verskaf wat God aan diegene gun vir wie dit vreugde verskaf om volgens Sy weë te leef nie.