Is tradisionele Christelikheid dieselfde as Bybelse Christenskap? Indien dit nie was nie, hoe sou u dit weet? Dit is nodig dat u dit self insien!

Baie van die idees en leerstellings van die tradisionele Christelikheid is nie wat u Bybel leer nie! U behoort te weet wat God se Woord werklik oor die Christenskap van Jesus Christus sê – ware, Bybelse Christenskap. Om deur die lens van Johannes 3:16 te kyk, help om die waarhede te openbaar wat u behoort te ken.

’n Pew Research Forum-verslag van April 2017 het bevind dat daar sowat 2,3 miljard belydende Christene regoor die wêreld is. Dit is 30% van planeet Aarde se 7,6 miljard mense! Die World Christian Encyclopedia identifiseer ten minste 33,000 Christelike denominasies, met 9,000 van hulle wat as “Protestant” geklassifiseer word en 22,000 as “Onafhanklikes”.

Hierdie duisende denominasies verskil onder mekaar in baie van hulle leerstellings, onderwysings en oortuigings. Hulle kan nie almal reg wees nie! Kan dit selfs wees dat baie mense in ’n vals “Jesus” glo wat nie die Jesus Christus van die Bybel is nie? Jesus sélf het ons gewaarsku: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matthéüs 24:24). Aangesien hierdie duisende denominasies verskillende leerstellings verkondig, kan dit wees dat baie van hulle in ’n valse Christelikheid glo?

Miljoene belydende Christene aanvaar die tradisies, leerstellings en begrippe wat hulle deur hulle denominasie geleer word as vanselfsprekend, sonder om dit ooit aan hulleself te bewys. Daarom daag ons u in die Wêreld van Môre-tydskrif uit om wat ons sê, in u eie Bybel na te gaan! Dit is die enigste manier waarvolgens u die waarheid kan leer ken! Onthou wat ons in Johannes 8:31 lees: “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Het u al gewonder waarom daar soveel oënskynlike teenstrydighede in die gebruike van tradisionele Christelikheid is? Stem tradisionele Christelikheid met Bybelse Christenskap ooreen? Indien nie, watter een behoort u te kies? Tradisionele Christelikheid of Bybelse Christenskap?

Hierdie vrae is belangrik! ’n Nuttige sleutel om hulle te beantwoord, kan gevind word in ’n enkele vers in u Bybel. Dit word dikwels die “goue vers van die Bybel” genoem en daarom is Johannes 3:16 ’n gunsteling vers van diegene wat tradisionele Christelikheid onderskryf. Dit kan in handgeskilderde reklame-tekens tydens sportgebeurtenisse en op advertensieborde langs die snelweë gesien word. Dit word deur diegene vertoon wat hoop om met die boodskappe ’n impak op die wêreld te maak.

Tog, wanneer ons die besonderhede van wat dit sê noukeurig bedink, openbaar hierdie vers ongelooflike waarhede wat vir baie belydende Christene verborge is. In hierdie artikel sal ons net drie van daardie verborge waarhede ondersoek en wat hulle openbaar oor die verskille tussen tradisionele Christelikheid en Bybelse Christenskap. U behoort te weet wat die waarheid is aan die hand van u eie Bybel!

Is God regverdig?

Baie van ons lesers het dalk selfs Johannes 3:16 gememoriseer. Dit sê: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Daardie woorde is kragtig en dit is waar! Wanneer u die geweldige onvoorwaardelike ewige liefde wat die Skepper God vir die mensdom het regtig verstaan, sal u ook verstaan dat elke mens ’n ware geleentheid het om gered te word.

Dit stel die eerste verborge waarheid van hierdie vers voor. Baie belydende Christene glo dat hierdie die enigste tydperk vir redding is en as miljoene mense nooit die Evangelie of die naam van Jesus Christus gehoor het nie, dan is dit tot daarnatoe. Hulle glo verkeerdelik dat miljoene mense wat nie die geleentheid gehad het om die naam van Christus te bely nie, vir ewig in die helse gevuur gemartel sal word wanneer hulle sterf. Dit is heeltemal onregverdig.

In sy boek wat oor hierdie onderwerp handel, Johannes 3:16 – Verborge waarhede van die goue vers, spreek evangelis, Gerald Weston hierdie kwessie in die derde hoofstuk aan, met die titel “Is God regverdig?” Hy skryf:

Die apostel Johannes het dit duidelik gemaak: “... so lief het God die wêreld gehad ...” (Johannes 3:16). Hier verwys “die wêreld” nie na die planeet Aarde nie, maar eerder na die mense wat hier woon. Dit maak nie saak hoe mens dit uitwerk volgens enige berekening nie, daar was nog altyd baie minder mense wat “gered” was as wat “nie gered” was nie. Indien God dan die wêreld so liefgehad het, hoe kan dit wees? Is Hy so swak dat Hy nie die meerderheid van Sy skepping kan red nie? Dit lei tot die vraag: “Is God regverdig? Is Hy ’n aannemer van die persoon? Het almal – of sal almal – ’n werklike en regverdige geleentheid hê om gered te word” (bll. 17-18).

Bybelgeleerdes weet dat verlossing slegs deur die Naam van die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus, kan kom. Soos dit in Handelinge 4:12 vertel word, “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”

God het ’n plan vir diegene wat nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie en Bybelse Christenskap leer ons dat God regverdig is! Hy sal nie dat hulle wat nog nooit die naam van Christus gehoor het veroordeel word, soos wat baie mense van tradisionele Christelikheid glo nie. Vra vir u predikant of priester die vraag: Indien ’n groep mense in ’n afgeleë oerwoud nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie, sal hulle tot die hel veroordeel word wanneer hulle sterf? U mag dalk geskok word deur hulle antwoord.

U Bybel openbaar dat God sulke mense ’n geleentheid sal gee om gered te word in die Tweede Opstanding wanneer hulle geoordeel word, soos dit in Openbaring 20:11-13 beskryf word. In hierdie gedeelte openbaar God vir ons die Groot Wit Troon Oordeel, wat plaasvind ná die duisendjarige heerskappy van Christus saam met die wedergebore heiliges op die aarde. Hierdie is die “ander dode” wat in vers 5 van die hoofstuk genoem word, wat in die tweede groot algemene opstanding uit die dood opgewek sal word: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan” (Openbaring 20:11-12).

Wanneer die dooies dan voor God staan, het hulle opgestaan! U vind ’n beskrywing van hierdie toekomstige opstanding tot fisiese lewe in Eségiël 37, waar die bekende vallei van dor bene tot lewe kom.

In Openbaring 20:12, sien ons “die boeke is geopen”. Die oorspronklike Griekse woord vir “boeke” is biblia, waaruit ons die woord Bybel afgelei het. Miljarde mense sal geoordeel word op grond van die Woord van God, die Bybel. Hulle verstand sal vir die waarheid van God geopen word.

Die gedeelte gaan voort: “... en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke” (verse 12-13). In die Groot Wit Troon Oordeel sal miljarde mense, met inbegrip van die miljarde mense wat nooit die naam van Christus gehoor het nie, hulle eerste ware geleentheid tot redding hê. Die opstanding tot oordeel mag vriende en familielede insluit wat u dalk gedink het vir ewig verlore is!

Ja, Johannes 3:16 openbaar dat God regverdig is. Dit is ’n belangrike waarheid wat deur Bybelse Christene verkondig en verstaan word. Baie mense wat ’n vorm van Christelikheid bely wat berus op menslike tradisie glo verkeerdelik dat God miljarde mense wat nog nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie, in ’n hel van vuur sal straf. Daardie onregverdige, valse “god” is nie die God van die Bybel nie! Die goeie nuus is dat selfs die mense van die goddelose stede, Sodom en Gomorra ’n geleentheid sal hê om hulle in die Wit Troon Oordeel te bekeer. Jesus het gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad” (Matthéüs 10:15).

Soos Johannes 3:16 verklaar, God het waarlik die wêreld lief! Hy sal die mense van die wêreld regverdig behandel.

Wat beteken dit om “verlore te gaan”?

Weer sê Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Wat beteken dit om “verlore te gaan”? Baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Christelik is, ontken in werklikheid die waarheid van Johannes 3:16 deur in tradisies te glo wat nie in die Bybel te vinde is nie. Hulle glo verkeerdelik dat hulle nooit verlore sal gaan nie, punt! Hulle glo verkeerdelik die heidense leerstelling van die onsterflike siel. Hulle glo dat hulle sogenaamde onsterflike siel nie verlore sal gaan nie en dat dit óf na die hemel óf na die hel gaan wanneer hulle sterf. Hulle glo dat hulle ’n onsterflike siel het en sal nooit omkom om vir ewig te sterf nie.

Soos Gerald Weston skryf in Johannes 3:16 – Verborge waarhede van die goue vers,

Die Encarta Online Dictionary definiëer vergaan of verlore gaan só: “... om te sterf ... om tot ’n einde te kom of om op te hou bestaan”. Ons weet wat dit beteken wanneer kos bederf. Ons praat van mense wat in ’n vliegtuigongeluk omgekom het. Dus, wanneer dit by die Bybelse aangeleenthede kom, waarom heg mense ander, verkeerde betekenisse aan verlore gaan?

Die Bybel stem konsekwent en ondubbelsinnig saam met die standaard woordeboek se definisie van “verlore gaan”! Dit leer ons duidelik dat lewe en dood teenoorgesteldes is! Nêrens beskryf die Skrif ooit die menslike lewe as inherent onsterflik nie. Soos ons alreeds gesien het, kan selfs die siel of wat mens ook al mag dink dit is, sterf (Eségiël 18:4, 20). God se Woord openbaar dat onsterflikheid nie iets is wat ons reeds het nie, maar eerder dat dit iets is wat ons moet soek (Romeine 2:6-7) en waarmee ons ons moet “beklee” (1 Korinthiërs 15:53-54).

God se doel is om ons van die ewige dood te verlos, om ons te red daarvan om verlore te gaan. Let op wat Paulus sê: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timótheüs 2:3-4). God verkies dat mense nie vir ewig verlore gaan nie. Een van die omskrywings van die woord “vergaan” is “om op te hou om te bestaan”. Tog glo baie mense in die tradisionele Christendom dat niemand regtig vergaan nie omdat ons veronderstel is om ’n onsterflike siel te hê wat nooit sal vergaan nie.

Die Skrif leer ons anders. Dié wat hulle karakter met boosheid verseël het, sal in die poel van vuur vergaan: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars—hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7-8).

Die geharde goddeloses sal in die poel van vuur vergaan. Hulle sal met die tweede dood gestraf word waaruit daar geen opstanding is nie. Dit is die straf van die ewige dood. Soos dit in Romeine 6:23 sê: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Ons is nog nie onsterflik nie. Die ewige lewe is ’n gawe van God.

In hierdie waarheid sien ons ’n skerp kontras tussen tradisionele Christelikheid en Bybelse Christenskap. Tradisionele Christelikheid leer ons dat ’n mens altyd sal leef en nooit sal omkom of nooit sal ophou om te bestaan nie. Bybelse Christenskap leer ons dat geharde sondaars in ’n poel van vuur sal vergaan en die tweede dood – die ewige dood – sal ervaar en sal ophou om te bestaan.

Die goeie nuus is egter dat diegene wat werklik in die Christus van die Bybel glo, hulle van hulle sondes bekeer en gedoop word – soos dit in Handelinge 2:38 staan en getrou bly, nie vir ewig sal vergaan nie. Inteendeel, hulle sal die gawe van die ewige lewe ontvang.

Diegene wat werklik volgens Johannes 3:16 leef, sal “nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” soos wat Jesus gesê het.

Wie is “God”?

Deur oor die “goue vers” te mediteer, het dit ons by die Bybelse waarhede gebring dat God regverdig is en dat die geharde goddeloses werklik verlore sal gaan – twee waarhede wat teenstrydig met tradisionele Christelikheid is. ’n Derde merkwaardige waarheid van Johannes 3:16 word eintlik in die begin van die vers saamgevat: “Want so lief het God die wêreld gehad ...”

Presies wie en wat is hierdie God nou eintlik? Wat leer Bybelse Christenskap ons oor Hom?

Daar is ontelbare begrippe oor God. Die apostel Paulus het die Grieke wat ’n monument aan “Die Onbekende God” gewy het, toegespreek. Hy het sy gehoor in die Areopagus toegespreek: “Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee” (Handelinge 17:23-25). God is die Skepper van alle dinge en Hy is die Lewegewer.

Die apostel Paulus gaan voort om die verhouding wat God met ons almal wil hê te beklemtoon: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag” (verse 26-28).

Let op hierdie waarheid wat selde in tradisionele Christelikheid beklemtoon word. Paulus beklemtoon ons verhouding met God deur een van die Grieke se eie digters aan te haal: “Want ons is ook sy nageslag”. Paulus gaan voort in Handelinge 17:29, “As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.”

Die apostel Paulus bevestig daardie gesinsverhouding – dat ons die nageslag van God is. ’n Belangrike verborge waarheid van Johannes 3:16 is die openbaring dat God besig is om ’n goddelike gesin te skep! Wanneer diegene wat hulle werklik bekeer het, die opoffering van Christus vir hulle sondes aanvaar en gedoop word, ontvang hulle God se Heilige Gees soos dit aan ons in Handelinge 2:38 vertel word. Hulle word ook verwekte kinders van God, soos Jakobus 1:18 aan ons sê: “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.”

Let op, tot wie behoort ons te bid? Tot ons Vader in die hemel, soos Jesus ons in Matthéüs 6:9 leer! God is besig om ’n goddelike gesin te skep en Hy wil u as Sy seun of dogter hê. Kyk na die woorde van 2 Korinthiërs 6:18: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” Let ook daarop dat God se liefde vir ons in 1 Johannes 3:1 beskryf word: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!”

Hierdie is nie net ’n versinnebeelding of simboliek nie. Met die opstanding, wanneer Christus weer kom, sal getroue Christene in die Koninkryk van God gebore word. Soos dit in 1 Korinthiërs 15:53 vir ons gesê word, “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” Dit is wanneer ons God se Koninkryk, Sy gesin, sal binnegaan as Sy wedergebore goddelike kinders. In Romeine 8:29 word Christus die eersgeborene van baie broers genoem. Hy is ons Ouer Broer wat ons met God die Vader versoen het.

Tradisionele Christelikheid verkondig nie die waarheid van God se plan om Sy glorieryke huisgesin uit te brei nie! Indien ons die Bybel toelaat om ons te leer van hierdie Een wat God genoem word in Johannes 3:16, word Sy plan duidelik gemaak en sal dit deur die Bybelse Christenskap verkondig word!

U het ’n wonderlike geleentheid om deel van God se goddelike gesin te wees. U behoort egter die proses te begin. U behoort te bekeer, gedoop te word en die Heilige Gees te ontvang, soos wat ons vroeër in Handelinge 2:38 gelees het. Dan kan u in die kosbare geestelike natuur groei wat God begeer dat u sal hê. Hy noem dit Sy “goddelike natuur” in 2 Petrus 1:4, waar God se Woord ons vertel dat, deur God se kosbare beloftes, ons “daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”

So baie meer!

’n Meditasie oor die “goue vers” van Johannes 3:16 openbaar eerlikwaar baie kragtiger waarhede as hierdie. Indien u dit nog nie gedoen het nie, moedig ek u aan om ons gratis boekie Johannes 3:16 – Verborge waarhede van die goue vers deur evangelis Gerald Weston aan te vra. Die Engelse weergawe is tans beskikbaar by enige van die plaaslike adresse wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys word en kan ook in sy geheel afgelaai word vanaf ons webwerf by TomorrowsWorld.org. Die Afrikaanse weergawe sal binnekort beskikbaar wees by wvm.co.za. Die agt hoofstukke bespreek in detail, nie net hierdie drie waarhede van Bybelse Christenskap nie, maar nog baie meer.

Daar is egter soveel meer! In hierdie artikel het ons gesien dat daar duisende belydende Christelike denominasies is. Hoeveel van hulle volg wêreldse tradisies wat nie op die Bybel gebaseer is nie? Jesus het die godsdienstige leiers van Sy dag veroordeel vir die navolging van tradisies wat strydig was met die Tien Gebooie. Hy het hulle in Matthéüs 15:3 uitgedaag, “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?”

Watter een sal u kies? Bybelse Christenskap of ’n nabootsing van Christelikheid wat gebaseer is op menslike tradisies en nie op die Bybel nie? Wat het Jesus onderrig oor die grondslag van ons oortuigings en ons lewenswyse? In die boek Mattheüs het Jesus die Ou Testament aangehaal (Deuteronómium 8:3) en gesê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). Lukas het ook hierdie fundamentele Christelike beginsel in sy eie vertelling beklemtoon: “Daar is geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God’” (Lukas 4:4).

U sal wil aansluit by die goddelike, koninklike gesin wat God besig is om te bou! Dit sal egter nodig wees om hierdie dinge self te bestudeer en probeer leef en handel volgens “elke woord van God.” Die toekoms is glorieryk vir diegene wat die Bybelse Christenskap waarlik sal volg.