Vandag is ons wêreld meer materialisties as wat dit vir millennia was, moontlik meer as wat dit ooit was. Vandag se samelewing is behep met gierigheid en besitlikheid. Vandag aanbid die mensdom materiële dinge en plaas die verkryging daarvan as eerste prioriteit in hul lewens.

Van hierdie “kry”-beheptheid smeer selfs aan belydende Christene af. Die apostel Johannes skryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld” (1 Johannes 2:15-16).

Kan ons eerlikwaar sê dat ons die wêreld nie liefhet nie, terwyl ons uur na uur sit en televisie kyk? Baie kerklidmate sien elke week hoe meer moorde gepleeg word as wat die meeste mense ooit in ’n leeftyd in die werklikheid sou sien, al is die werklikheid hoe sleg! Die onophoudelike “kry, kry, kry”-filosofie, wat televisie-advertensies en selfs baie reekse deurdrenk, smeer beslis ook aan ons af. 
Ons is nie immuun teen Satan se uitsendings nie!

Wat dan van die televisie en rockmusiek “ikone”? Hoeveel van ons besef dat die diepe emosie, geskree en gejil waarmee ’n seksueel onwelvoeglike of selfs godslasterlike rockster dikwels verwelkom word, ’n verdraaiing is van die vurige verering en aanbidding wat slegs God toekom?

Ek het vir vier jaar van my volwasse lewe oorsee gewoon, wat my in staat gestel het om eerstehands te sien dat ons mense in Amerika en Kanada, soos ook hier in Suid-Afrika, meer as elders in die wêreld, wel geneig is om materiële dinge te aanbid. Ja, te aanbid. Talle mense in die Verenigde State en Kanada sal byna enigiets doen ten einde ’n huis, ’n motor, ’n rekenaar – of selfs ’n tweede, derde en vierde televisiestel – te besit. ’n Man sal selfs twee werke volhou en sulke lang ure werk dat sy gesondheid daaronder ly. ’n Vrou mag ook dalk verkies, selfs wanneer haar kinders klein is, om lang ure weg van die huis af te werk en sodoende daardie kosbare ure op te offer wat sy saam met haar groeiende kinders kon deurbring, onder die voorwendsel om “vir hulle goed te koop” – pleks daarvan om hulle te onderrig, op te lei en in hulle ’n diepsinnige en blywende gevoel van sekuriteit en selfbeeld te skep.

“Maar ons kan bloot nie oorleef as ons nie albei werk nie” sal die tipiese Suid-Afrikaanse paartjie aanvoer. Oorleef? Hoe oorleef? Sal u gesin van honger omkom? Sal hulle ongeklee of haweloos wees? In bykans elke geval is die eerlike antwoord: Nee! Die gesin sal net na ’n kleiner huis moet trek, of ’n kleiner televisiestel aanhou, of dalk net een voertuig besit, pleks van twee.

Ons uitbuitende samelewing dwing natuurlik wel sommige mense tot ware armoede, in welke geval ’n vrou feitlik elders as tuis moet werk. In meeste sulke gevalle het die man letterlik of figuurlik die gesin verlaat. Daar sou geen kos op die tafel gewees het indien die moeder nie gewerk het nie. Tog, vir elke sodanige geval, is daar talle ander gevalle waarin, as sy eerlik wou wees oor die verskil tussen haar behoeftes en begeertes, ’n moeder en vrou tuis kon bly indien sy en haar man werklik spaarsamig was.

U sien, sommige van ons in Suid-Afrika, Amerika en Kanada is so gewoond aan absolute welgesteldheid dat sommige van ons lesers selfs effens ongemaklik kan voel terwyl hulle hierdie artikel lees. Ek kan u egter verseker dat miljoene mense in Brittanje, Europa, Asië en Afrika dit beide bejammerenswaardig en amusant vind dat ons mense voel dat hulle so baie uitspattige materiële geriewe “nodig het”; geriewe wat ongekend was tot die laaste geslag of twee.

Tog voel miljoene Suid-Afrikaanse en Amerikaanse tieners dat hulle figuurlik sou “sterf” as hulle nie hul eie voertuie, CD-spelers, rekenaars, “playstations”, ontwerpersklere en ander materiële geriefies gehad het nie.

Mense, hetsy jonk of oud, sal hulself tot ’n fanatiese begeerte werk om materiële goed te besit. Dan word hierdie goed, asook hierdie begeerte, ’n soort afgod. Indien ons God se mense wil wees, moet ons materialisme sien vir wat dit is en ons bekeer van sodanige selfsugtige en miserabele lewensbenadering.

Ons moet ophou om kru materialisme toe te laat om die kwaliteit van ons geestelike lewens, ons gesinne en ons kinders te raak. Ons moet God en Sy leefwyse eerste plaas, bo enige materiële dinge. Ons moet leer om God en Sy weë op te soek bo alle dinge. Nadat Jesus Christus beskryf hoe God sal voorsien in al ons materiële behoeftes, sê Hy: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33).

Ten einde ware Christene te wees, moet ons dit werklik doen. Die personeel van die Wêreld van Môre-tydskrif streef daarna om dit in elke opsig te doen en om die egte waardes van die Christenskap van die Apostels te hervestig. Ons strewe daarna om, hoe onvolmaak ook al, God eerste te plaas. Dit is waarom ons miljoene tydskrifte en boekies uitgee en jaarliks honderde televisie- en radio-ure koop, sonder om u as leser ooit selfs ’n sent te vra om die eenvoudige en kosbare waarhede wat reg in u Bybel is, te ontvang!

Dit alles kos natuurlik geld en dit word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van ’n paar duisend ondersteuners en medewerkers wat, uit hul eie, besluit het dat hulle daarin wil deel om te help om God se waarskuwingsboodskap as getuienis vir alle nasies te preek en te verkondig.

Let op hierdie teksvers: “En as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie” (2 Korintiërs 6:1). In samehang toon hierdie vers duidelik dat alle ware Christene saam met Christus moet werk om die onbekeerde wêreld met Sy boodskap te bereik. Daar is beslis baie werk om te doen! Jesus sê: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheus 10:8). Ons kan dus nie ’n prys plaas op die kosbare waarheid van God en die waarskuwingsboodskap in die bladsye van hierdie tydskrif nie, wat aan die hele wêreld verkondig moet word, ongeag hoe hulle daarop reageer. Vandag, soos in die dae van die Apostels, is God besig om ’n groeiende gesin van medewerkers op te bou – arbeiders saam met Christus – wat hierdie Werk van God finansieel, moreel en deur gebede ondersteun!

Aan daardie lesers wat vrywillig, uit hul eie, die begeerte uitgespreek het om ons te help, stuur ek maandeliks ’n brief wat die “interne” nuus en soms die finansiële posisie van hierdie Werk verduidelik. Sommige mense sê nooit openlik “Ek wil ’n medewerker wees” nie, hulle voeg hulself bloot by ons lys van medewerkers deur hul tiendes en sodanige offerandes wat hulle wil in te stuur. Hierdie tydskrif word aan almal gestuur wat dit versoek, sonder om ooit enige geld daarvoor te vra. Ons televisie- of radioprogram bedel, smeek of pleit ook nooit vir geld nie en ons hou ons ook nie op met die gewone praktyk om “goed” aan ons kykers/luisteraars te verkoop nie. Indien ons dit sou doen, sou ons ook slagoffers word van dieselfde materialisme wat ons samelewing so uitmekaarskeur en die fokus van die ware God aflei!

In ons samelewing bely baie mense Christenskap, maar beoefen Mammon-aanbidding. Die meeste belydende Christene het Jesus se ware leringe tot so ’n mate “verwater” dat dit skaars ooreenstem met wat Hy en Sy oorspronklike volgelinge gepreek het. Hulle wil ’n “kafeteria-Christenskap” beoefen, deur dit wat hulle pas uit Christus se boodskap te neem, maar steeds hul eie lewens te leef soos dit hulle geval. Soms plaas hulle God eerste, maar ander kere plaas hulle hul begeerte vir meer en beter materialistiese goed eerste.

In hierdie Werk van God streef ons om anders te wees! Ons verstaan dat God se Werk aan die wêreld verkondig moet word as ’n getuienis, net voor die einde van hierdie huidige tyd (Mattheus 24:14). Die wêreld moet die geleentheid gebied word om te hoor dat hulle God se Weg verwerp het; die Weg wat ware vrede, harmonie, voorspoed en ongekende seëninge van die Skepper van hemel en aarde meebring.

Ons is hier om al ons lesers van diens te wees en alles in ons vermoë, soos God dit toelaat, te doen ten einde die wêreld met Sy lewensbelangrike eindtydboodskap te bereik. Ons streef daarna om die gety van materialisme te stuit en deur ons voorbeeld en woorde die “gee-leefwyse” te toon wat Jesus Self onderrig het. Mag u ook Christus se boodskap ter harte neem en Hom eerste plaas in u lewens, in elke opsig, pleks daarvan om ’n afgod te maak van materiële dinge. As Christene moet ons, soos die apostel Paulus, kan sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Mag dit ons doelwit wees!