Daar is twee van ons hulpbronne wat u waarskynlik nog nie teëgekom het nie. Om eerlik te wees, ek dink nie ons het dit in jare aan die publiek geadverteer of in die tydskrif vermeld nie. Weet u wat dit is?

Daar is ’n rede waarom hierdie rubriek “Persoonlik” genoem word. As hoofredakteur gee dit my die geleentheid om met u te kommunikeer oor die dinge wat ek op die hart het en in hierdie uitgawe wil ek drie vrae beantwoord wat aan ons gevra word: “Wie is in beheer van die Wêreld van Môre  en Tomorrow’s World tydskrifte?” “Is dit regtig gratis?” en “Hoe kan u vir soveel televisie-uitsendings betaal en al u materiaal weggee sonder om geld te vra?”

Laat ek die tweede vraag eerste beantwoord. Ja, alles wat ons adverteer is regtig gratis – daar is geen voorwaardes aan verbonde nie en geen emosionele versoeke word gerig nie. Ons verkóóp nie tydskrifte, boekies, DVD’s of CD’s nie en ons sal dit nooit doen nie. Ons Bybelstudiekursus van 24 lesse word gratis uitgestuur. Soos u waarskynlik al ander bedienings gesien doen het, smous ons nie met hemde, bekers, gebedslappies of enige ander artikels nie.

Die antwoord op die eerste vraag: “Wie is in beheer van die Wêreld van Môre en Tomorrow’s World tydskrifte?”, gee ook die antwoord op die derde vraag. Die Wêreld van Môre en Tomorrow’s World tydskrifte en die Tomorrow’s World televisie-uitsendings word deur Die Lewende Kerk van God geborg, wat bestaan uit toegewyde lede wat daarna streef om “die hele raad van God” te beoefen, soos die apostel Paulus in Handelinge 20:27 daarna verwys. Hierdie raad behels die Bybelse Wet aangaande tiendes (of “’n tiende deel”). Die meeste van ons lede stuur getrou en vrywillig hulle tiendes en offergawes gedurende die jaar in. Ons neem nie eers kollekte op tydens ons weeklikse Sabbatsdienste nie!

Jesus het in Matthéüs 28:19-20 aan ons die opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen”. In Markus 16:15 beveel Hy duidelik: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” Verder het Hy gesê ons sal suksesvol wees om hierdie opdrag voor Sy Wederkoms uit te voer: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14).

Soos u goed weet, vra ons nooit donasies op die Tomorrow's World televisie-uitsendings nie, ook nie in ons tydskrif of in enige van ons leesstof nie. Medewerkers en lidmate van Die Lewende Kerk van God neem hierdie vermaning van Jesus ernstig op: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Matthéüs 10:8) of soos Spreuke 23 vir ons sê: “Koop die waarheid en verkoop dit nie” (vers 23).


’n Ander benadering

Van die meer as 290,000 huidige intekenaars op Tomorrow’s World en Die Wêreld van Môre-tydskrifte gee slegs ongeveer 15 uit elke 100 mense ooit ’n bydrae tot hierdie werk. Baie van hulle doen dit slegs een of twee keer oor ’n aantal jare. Ons is dankbaar vir almal wat  bydra. Dit maak nie saak hoe gereeld nie en dit maak nie saak hoé baie of hoé min nie. Ons waardeer ook ons intekenaars wat om watter rede ookal nooit bydra nie. Ons adverteer dat ons literatuur gratis is en dit is werklik so. Dit mag u verbaas maar ons is só ernstig daaroor dat wanneer ons literatuur kosteloos gestuur word, ons die geld teruggee wanneer die gewer uitdruklik sê dat hy of sy dit as “betaling” vir ons materiaal stuur. Dit geld vir al ons kantore regoor die wêreld. Ek kan dit persoonlik bevestig, aangesien ek langer as 13 jaar die direkteur van die Living Church of God asook die Tomorrow’s World in Kanada was. So ook ’n paar jaar in die Verenigde Koninkryk, voordat ek oorgeplaas is na ons hoofkantoor hier in Charlotte, Noord-Carolina.

Een van ons – gewoonlik ek – skryf elke maand ’n brief aan al ons lidmate en medewerkers om ons waardering vir hulle ondersteuning uit te spreek en hulle op hoogte te hou rakende Bybelse profesieë en tendense wat in hierdie wêreld plaasvind. Ons gee ook “agter die skerms-inligting” oor nuwe verwikkelings in hierdie werk waartoe hulle bydra.

Die Lewende Kerk van God het meer as 390 gemeentes wat verspreid is oor Noord-, Sentraal- en Suid-Amerika, Australasië, die V.K. en Europa asook Afrika. Ons, saam met medewerkers wat vrywillig gekies het om deel van hierdie Werk te wees, is ’n klein maar toegewyde groep mense wat bereid is om teen die stroom van hierdie wêreld te gaan (Efésiërs 2:1-2) en die Weg van Jesus Christus en eerste-eeuse Christendom te volg. Ons lidmate verwerp tradisies van afgodedienaars en die heidendom wat die moderne Christendom binnegesypel het. Ons onderhou die dae wat God ons beveel om te onderhou en ons volg die ware leerstellings wat in die Bybel voorkom.

Aan die begin van hierdie persoonlike brief het ek na die twee leesstukke verwys wat ons die minste adverteer en wat die minste aangevra word. Weet u wat dit  is? Die eerste een is ons boekie God se mense betaal tiendes! Ons adverteer dit nie gereeld nie, aangesien ons nie wil hê dat enigiemand moet dink daar skuil iets agter al hierdie gratis materiaal nie. Om enige van ons hulpmiddels te ontvang, is op geen manier afhanklik van skenkings vir hierdie werk nie. Alhoewel hierdie boekie onder ons bronne op die Internet en in Les 16 van ons Bybelstudiekursus voorkom, is dit die boekie wat die tweede minste geadverteer en aangevra word. Terwyl ek hier skryf, weet baie min van ons intekenaars selfs daarvan. Sover ek kan onthou, is dit nog nooit op ons Tomorrow’s World televisie-uitsendings genoem nie.

Terwyl ons van die Internet praat, ons het ’n skakel op ons webtuiste vir almal wat ‘n skenking wil maak. Hierdie is slegs omdat sommige mense dit wil doen en wil weet hoe om dit te doen. Ons moedig dit nie spesifiek aan of plaas dit prominent, soos soveel webtuistes met hulle s’n doen nie. Dit is slegs ’n diens aan diegene wat uit hulle eie wil skenk en daar word geen emosionele versoek aan hulle gerig om dit te doen nie.

Watter hulpmiddel kan dus minder geadverteer word as ons boekie oor die betaling van tiendes? Die een waarvan bykans niemand van ons intekenaars (waarskynlik ook nie al ons lede) weet nie, is ons “Planned Giving”-brosjure. Sommige van ons lede, medewerkers en intekenaars wil ons in hulle testamente insluit of hulle wil ander soorte beplande skenkings maak. Ons stel hierdie inligtingsbron oor boedelbeplanning op versoek beskikbaar om diegene te help wat dit wél wil doen.

Ek verstaan dat ek hier nou die risiko loop om die siniese aard by sommige mense na vore te bring. Hulle sal ongetwyfeld dink dat hierdie ’n oproep vir geld is – en indien hulle dit wel doen, verstaan ek. Ons het egter niks om weg te steek nie en ons kry hierdie drie vrae gereeld. Ek glo dat dit die beste is om openhartig met mense te wees en eenvoudig “te vertel soos dit is.” Die Wêreld van Môre en Tomorrow’s World tydskrifte word gerugsteun deur Die Lewende Kerk van God en ander mense wat tot hierdie Werk wil bydra en ja, al ons materiaal is regtig en waarlik gratis.

 

Vertrou op God om te voorsien

Nog belangriker, al ons hulpmiddels sal steeds gratis gestuur word. Niemand sal u skakel om te vra om geld te stuur of iets te koop nie. Dit is nooit nodig om verplig te voel om tot hierdie werk by te dra nie. Ons is dankbaar vir diegene wat dit wel doen, maar dit is ’n besluit tussen u en u Skepper. Ons sal doen soos ons nog altyd gedoen het – vertrou dat God sal voorsien. Vir ons is die geloof werklik dat God sal voorsien. Hy sorg vir ons en elke uitgawe wat u van die Wêreld van Môre en Tomorrow’s World tydskrifte ontvang, is tasbare bewys daarvan.

Soms vra ons vir ons intekenaars om hulle gratis intekening te hernu en nié om hulle sover te kry om geld te stuur nie, maar om ons te laat weet of hulle regtig belangstel om verdere uitgawes van die Wêreld van Môre en Tomorrow’s World tydskrifte te ontvang. Ons glo dat dit ’n manier is om goeie rentmeesters te wees en nie tydskrifte aan individue te stuur wat dit nie meer wil hê nie.

Terwyl ander TV-evangeliste dus hulle ware verkoop met sentimentele musiek, foto’s van weeskinders en ’n tranerige beroep vir geld, sal ons dit nooit doen nie. Hierdie tydskrif en al ons hulpmiddels is werklik gratis op aanvraag beskikbaar.