Daar word baie gepraat oor “menseregte” maar hoe kan ons bewys dat dit werklik bestaan? Wie bepaal wat is die waarde van menseregte?

Dit is nie die tipe vraag waaroor ’n mens elke dag dink nie. Die moderne samelewing se onvermoë om dit te beantwoord, saai verwoesting en chaos vir die mensdom en sy instellings.

Wat is ’n menslike lewe werd?

Die skynbare onvermoë om hierdie vraag te beantwoord is een van die hoof-oorsake van sommige van die grootste morele, kulturele en politieke gebreke wat ons in die strate van ons stede, die klaskamers van ons skole en die raadsale van ons regerings sien. Dié vernietigende chaos wat deur ons gemeenskaplike verwarring hieroor veroorsaak word, word moontlik die beste geïllustreer deur die twee kwessies van menslike lewe – bevrugting en dood. Elkeen van hierdie kwessies van die algemene lewensreis van die mens verteenwoordig ’n slagveld van intense kulturele konflik. Elke kwessie verteenwoordig ook die stadiums wanneer mense se lewens op hulle kwesbaarste is vir die veranderende giere en grille van die samelewing.

Baie mense verafsku die minagting van mense se lewens en bekommer hulle oor ’n toenemende kultuur van dood in die Westerse beskawing. Ander mense besing wat hulle sien as ’n toenemende bereidwilligheid om “dood met waardigheid” te verseker en om selfdood te aanvaar as die uiteindelike openbaring van menslike selfbeskikking en vrye wil. Wie kan sê wie is reg? Is ons op pad na ’n nuwe, verligte era of is ons op ’n afdraende pad na duister plekke met afgryslike en onvermydelike gevolge?


’n “Reg” om te sterf?

Die keuse om self die besluit te neem om te sterf, blyk ’n toenemend gewilde manier van lewe in Kanada te wees. Dit selfs nadat Kanadese wetgewers in 2016 beperkte toepassing van geassisteerde selfdood goedgekeur het – wat die jaar tevore deur Kanada se Hooggeregshof gewettig is – alleenlik in gevalle van terminale siekes waar natuurlike dood “redelik voorsienbaar” is.

In slegs ses jaar – van 2016 tot 2021 – het die aantal Kanadese wat geassisteerde dood gekies het, tienvoudig vermeerder van 1,018 tot 10,064 – wat beteken dat individue in Kanada in 2021 bystand gevra het om hulleself dood te maak teen ’n koers van meer as 27 mense per dag. Die neiging self was sekerlik voorsienbaar. Kyk byvoorbeeld net na België wat genadedood in 2002 gewettig het – méér as ’n dekade voor Kanada. In 2003 was die koers van diegene wat deur genadedood in België gesterf het, 235 per jaar. Dié getal het in minder as 20 jaar, meer as tien keer vermeerder: In 2021 het België 2,699 gevalle van genadedood aangemeld – meer as sewe mense elke dag – dít uit ’n bevolking van ongeveer ’n derde so groot soos Kanada.

Belgiese wetgewing het bepaal dat diegene wat die dood verkies, regsbevoegde volwassenes moes wees – ten volle bewus van wat hulle doen en in staat wees om hulle eie besluite te neem. Die vereiste was ook dat hulle aan ’n “hopelose mediese toestand” ly wat “konstante en ondraaglike fisiese of geestelik lyding” behels wat nie genees kan word nie. Mettertyd het die Belgiese owerhede se siening van wat kwalifiseer as “ondraaglike fisiese of geestelike lyding” egter op kommerwekkende maniere uitgebrei. In 2012 is genadedood toegepas op twee dowe, 45-jarige tweelingbroers, wat met gloukoom gediagnoseer is, omdat persone in beheer besluit het dat hulle vrees om blind te word “ondraaglike geestelike lyding” veroorsaak het. In 2014 is die regulasie uitgebrei om minderjariges in te sluit wat met hulle ouers se toestemming wil sterf. Sedertdien is daar op kinders so jonk as nege jaar oud genadedood toegepas.

Kanada het die neiging van België gevolg. In 2021 is die 2016-standaard vervang met ’n toegeefliker standaard dat die individu “ondraaglike fisiese of geestelike lyding” ervaar wat “nie verlig kan word onder toestande wat as aanvaarbaar beskou word nie”.

Bekommerde waarnemers het reeds ’n toename in gevalle van selfdood opgemerk onder Kanada se armes of gestremdes vir wie die lewenskoste te hoog geraak het. ’n Bekende geval van ’n 51-jarige vrou wat aan allergieë in die omgewing gely het, het selfdood verkies omdat sy nie bystand kon kry om haar in ’n ander omgewing te vestig nie.

Amerikaners behoort nie te dink dat dit nie in die Verenigde State kan gebeur nie. Baie mense onthou die woede oor dr. Jack Kevorkian, ’n dokter van Michigan, wat in die 1990’s begin het om ’n paar dosyn mense by te staan om selfdood te pleeg. Hy het genoeg aanmoediging gekry om ’n pasiënt werklik dood te maak, waarvoor hy agt jaar tronkstraf uitgedien het. Vandag is bystand-dood onwettig in Michigan, maar verskeie state – met inbegrip van verskeie ander state wat ook uitgebreide regte met betrekking tot aborsie wettig, soos Kalifornië, Oregon en Washington tesame met Maine, New Jersey en Vermont aan die ooskus – het hierdie praktyk gewettig, wat baie mense kort tevore nog barbaars sou vind.

 

Die “reg” om te aborteer vs. “reg” op lewe

In Februarie 2012 het etici Alberto Giubilini en Francesca Minerva ’n artikel in die Journal of Medical Ethics gepubliseer, wat daarop wys dat die etiese redenasie wat die moord op ’n kind in die baarmoeder sou toelaat, noodwendig ook die reg sal gee om daardie kind te vermoor nadat hy/sy gebore is en reeds ’n groeiende baba geword het. Die idee om aborsie aan kindermoord gelyk te stel, het baie mense woedend gemaak, tog het Minerva en Giubilini nie enige beleid of standpunt bepleit nie; hulle het slegs beweer dat die moraliteit van die twee handelings op dieselfde neerkom – of die dade reg of verkeerd is kon hulle nie sê nie.

Hoe kan ons dus bepaal wat reg is? Nadat die 1973 Roe vs. Wade-besluit vroeër in 2022 teruggetrek is, het baie mense steeds aanspraak gemaak op die “reg” op selektiewe aborsie. Baie mense vergeet inderdaad dat die Dobbs-besluit in Junie 2022 nie aborsie verbied het nie; dit het bloot die meeste aborsie-verwante besluite weer in die hande van individuele state gelaat. Die stryd word nou op plaaslike vlak gevoer en “stryd” is nie net blote beeldspraak nie. Sedert die besluit het militante pro-aborsie aktiviste, kerke en swangerskapsentrums gevandaliseer en met vuurbomme gebombardeer. Hulle het boodskappe soos, “Indien aborsies nie veilig is nie, is u ook nie” met gebruik van spuitverf agtergelaat.

Die chaos in ons samelewing is die bewys wat ons nodig behoort te hê dat “regte” verander van een politieke siklus na die volgende politieke siklus, afhangende van die fantasieë en ideologieë van wie ook al op daardie tydstip aan bewind is. Géén volk se grondwet hou vir ewig nie.

Waar bestaan ons “regte” dan? Baie mense in die politieke sfeer praat graag van “menseregte” en “vroueregte” en die “reg op lewe” en die “liggaamlike eie reg”. Hulle verdedig wette wat daardie “regte” beskerm en argumenteer teen wette wat dit ontken. Wat is egter die Bron van hierdie “regte”? Waar kan ’n mens die bewyse vind dat dit werklik bestaan? Wetenskap kan verduidelik hoe skaars menslike lewe in die heelal mag wees, soos astrobioloë in hulle klassieke boek Rare Earth, gedoen het, maar dit kan nie sê waarom mense se lewens werklik meer waardevol sou wees as byvoorbeeld die lewe van ’n seekat of ’n Afrika-olifant nie.

Sommige vername bioloë het trouens verklaar dat mense se lewens nie méér waardevol is nie en verklaar dat om anders te beweer is “om een spesie belangriker te ag as ’n ander”. In Paola Cavalieri en Peter Singer se versameling The Great Ape Project: Equality Beyond Humanity, beskryf niemand anders nie as die evolusionêre uitblinker Richard Dawkins, sy oortuiging dat om te beweer dat mense ’n meer spesiale posisie as dié van diere beklee, ’n morele boosheid gelykstaande aan apartheid is. Hy bespiegel verder daaroor of genetiese manipulasie – die kruising van mens en sjimpansee –kan help om die mensdom se misbruik van die idee dat ons nié meer waarde as diere het nie. Op X (Twitter) het hy selfs bespiegel oor die voordeel daarvan om “vlees” uit menslike selle te kweek om mense te help om hulle morele weersin teen kannibalisme te oorkom.

 

Die enigste ware Bron waar die antwoord gevind kan word

Die Een wat menslike lewe geskep het – die Bonatuurlike en Almagtige Skepper – openbaar wat spotters weier om raak te sien en Hy openbaar wysheid en waarheid terwyl filosowe slegs vermoedens en moontlikhede aanbied. Wat die waarde van mense se lewens betref, maak God Sy standpunt uitdruklik en onbetwisbaar duidelik in die bladsye van Sy geopenbaarde Woord. Vanaf die skepping van die mensdom verklaar die Skrif duidelik:

God het in Génesis 1:26-27 gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”

Hierdie feit – dat elke mens op unieke wyse die beeld van sy of haar Skepper openbaar – is die ware basis wat God gee van waarom moord sonde is (Génesis 9:6).

Elke mens besit ’n waarde wat dié van enige dier oortref. Die doodmaak van diere is geen sonde nie, maar om ’n ander mens dood te maak, gaan gepaard met ’n diepgaande morele las op die moordenaar. Moord is só teenstrydig met die karakter en aard van God dat Hy die verbod in die sesde Gebod van Sy Tien Gebooie verewig het. Terwyl filosowe en regsgeleerdes die kwessie van menslike waarde beredeneer, verklaar die Skepper en Ontwerper van alle lewe die aard van menslike waarde onomwonde.

Die waarde wat Hy in die menslike lewe sien, word ook weerspieël in die ewige en Goddelike doel waarvoor Hy die mensdom geskep het. Elke mens sal die geleentheid kry om eendag ’n verheerlikte lid van God se eie Gesin te word, die ewige lewe saam met Hom in heerlikheid en vreugde te geniet en alle dinge te beërwe saam met ons ouer Broer en Verlosser, Jesus Christus (1 Johannes 3:1-3; Openbaring 21:7; Hebreërs 2:10-11).

Menslike lewe het waarde omdat die voortreflike en ewige God dit waarde gee. Geen filosoof, hof of sosiale aktivis kan Sy Goddelike besluit, ontwerp en doel tot niet verklaar nie.

 

Waarde in élke lewe

God heg van die begin af, waarde aan elke menslike lewe – vanaf sy vroegste dae in die moederskoot. Regdeur die Skrif sien ons dat kinders in die baarmoeder as mense beskryf word (byvoorbeeld Jeremia 1:5 en Lukas 1:41). God neem persoonlik krediet vir die sprekers se woorde wat Hy self geïnspireer het, vir die vorming en ontwikkeling van lewe in die moederskoot (Job 31:15; Psalm 139:13-14). God het dit aan antieke Israel duidelik gemaak dat om die dood van ’n kind in die baarmoeder te veroorsaak, ’n hoë prys sou vereis onder die Ou Verbond: “lewe vir lewe” (Exodus 21:22-23). Sommige mense het al probeer om die duidelike betekenis van hierdie gedeelte te verdraai, maar selfs daardie verdraaiing kan nie die waarheid verberg nie. Ja, kinders in die baarmoeder is nog nie wat hulle by geboorte sal wees nie – hulle groei en ontwikkel nog steeds in die baarmoeder, net soos hulle vir jare na geboorte sal ontwikkel. In die baarmoeder asook na geboorte is hulle groeiende en ontwikkelende mense.

Gestremdheid, beproewing en armoede verminder nie die waarde van menslike lewe nie. God verklaar Homself as die Skepper van die siekes en die gestremdes (Exodus 4:11) en openbaar Homself as die verdediger van die behoeftiges (Jesaja 25:4). Dit beteken dat die waarde van ons lewens ook tot en met ons laaste dae strek. ’n Herhalende tema van die Skrif is dat God wil hê dat ons die bejaardes in ons midde sal eer – ’n waarde wat weerspieël word in Sy opdrag aan antieke Israel: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die Here” (Levítikus 19:32).

Hierdie duidelike verklarings van God se eie begeertes, prioriteite en waardes kan ons help om die vrae op te klaar wat in die haatdraende debatte en protes-aksies van ons tyd rond geslinger word. Dit is ’n kortpad van etiese dubbelsinnigheid van geleerdes en filosowe in ons universiteite om nonsens en ontelbare tekens en geskree van soveel onsinnige betogers in ons strate te openbaar en hulle veroordeel die wette en wetgewing van politici wat probeer om ’n samelewing sonder God se soewereiniteit te bou.

 

Deernis, oortuiging en moed

Dit is nie te sê dat ons swaarkry slegs denkbeeldig is of dat ons lyding ’n illusie is nie. Vandag se wêreld is nie wat God in gedagte gehad het van hoe dit moes wees nie. Ons leef in ’n tydperk wat talle beproewings en angs kan meebring. God se Koninkryk het nog nie aangebreek nie en dit kan vir sommige mense al te aanloklik lyk om te reageer deur die dood bo lewe te kies – om die heilige waarde wat God op elke menslike lewe plaas,  opsy te skuif.

Kan ons empatie hê vir die tienermeisie wat ’n ongewenste swangerskap in die gesig staar, wat besef dat die nuwe lewe binne-in haar haar op ’n onverwagte – selfs angswekkende – lewenspad kan plaas wat beteken dat sy beheer verloor oor omstandighede wat sy geglo het sy seker van was? Wat van die bejaarde man wat sy dokter se diagnose van ’n terminale siekte moes aanhoor, wat noodwendig pyn, swakheid en finansiële ondergang sal meebring? Wat van die weduwee, ver van haar familie, wat bekommerd is dat sy dalk alleen en eensaam sal sterf en of sy haar geliefdes dalk sal moet vra om haar te versorg deur die moeilike jare wat voorlê – dit wil sê indién hulle inderdaad bereid sou wees om so ’n verantwoordelikheid op hulle skouers te neem?

Ons behoort medelye te hê met diegene in sulke situasies wat onvermydelik is in ’n wêreld wat nie deur sy liefdevolle en deernisvolle Skepper beheer word nie. Situasies soos hierdie word inderdaad elke jaar die nuwe werklikheid in die lewe van ontelbare mense. Daar is ’n rede waarom die gevalle van geassisteerde selfdood en genadedood se getalle voortdurend toeneem. Ons behoort nie hierdie wrede en tragiese werklikheid te ontken nie en ons behoort om te probeer help om die laste te verlig van diegene wie se lyding verlig kán word en om diegene te bemoedig wat nie uit hulle lyding kan ontsnap nie.

Alhoewel ons dalk nie presies verstaan waarom elke lydende individu die onsekerheid, verwarring en pyn van sy of haar lewe in die gesig staar nie, moet ons nóóit ons Skepper, wat elke lewe belangrik ag, uit die oog verloor nie. Dit is die Skepper wat lewe gee en dit is nie ons reg om dit te beëindig nie. Dink daaraan dat toe die Bybelse patriarg Job deur die een vloek op die ander geteister is, hy al sy besittings verloor het en moes hoor dat al sy kinders vermoor is en hy sélf deur pynlike en verterende gesondheidsprobleme geteister is, sy ontstelde vrou hom aangeraai het: “Seën God, en sterf” en om ’n einde aan sy lyding te maak (Job 2:9).

Hoe het Job gereageer? Hy het verstaan dat, hoewel die duiwel sulke vloeke mag meebring, dit nie sou gebeur het indien God Sélf dit nie toelaat nie. Daarom het hy geantwoord: “Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” (vers 10). Terwyl Job nie geweet het wat die oorsaak van sy lyding was nie – wat verder tot sy angs bygedra het – het hy besef dat sy lewe nie syne was nie. Selfs in sy verwarring en frustrasie – miskien saam met sy gevoel van eiegeregtigheid – het Job vertrou dat daar ’n antwoord was (Job 13:15) en dat God besig is met ’n groter doel, al sou hy dit eers verstaan na sy dood (Job 14:14-15).

Om die lewe van ’n mens te respekteer soos wat ons liefdevolle Skepper lewe waardig ag, verg oortuiging en hierdie oortuiging vereis moed van elkeen van ons individueel. Anders as die ongegronde “beginsels” en “regte” wat oor en weer na die ander geslinger word in die kultuuroorloë, is sulke waardes en oortuigings gegrond in die énigste ware werklikheid – God s’n. Hy voorsien aan diegene wat Hom gehoorsaam en lief het die moed wat hulle nodig het (Josua 1:9).

 

Ons moet daarna kyk soos God

Jesus het ons gewaarsku: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matthéüs 7:13-14).

Dit word al hoe moeiliker om daardie weg te vind wanneer ons die basiese beginsels uit die oog verloor wat ’n lig op ons pad behoort te wees. Erkenning van die werklike waarde van menslike lewe – ’n waarde wat bepaal word deur die Almagtige God wat ons geskep en liefhet en wie se eienaarskap van en soewereiniteit oor alle lewe absoluut volkome is – is een van daardie fundamentele beginsels.

Ongeag of ons nou as ’n samelewing met hierdie vrae worstel of persoonlik daarmee stoei as individue in desperate wanhoop, die skaduwees van verwarring kan eers opsy gewerp word wanneer ons ons na die lig se ware Bron wend: “Want U laat my lamp skyn; die Here my God laat my duisternis opklaar” (Psalm 18:29).

Alle mense se lewens het waarde – ’n ieder en ’n elk.

Daar kom binnekort ’n wêreld waarin die Skepper van daardie lewens die begrip aan die mensdom sal bevestig. Tot dan behoort ons God te vra om ons te help om elke individu rondom ons raak te sien – die magtiges en die swakkes, die rykes en die armes, die vreugdevolles en die geteisterde mense, die bejaardes en die ongeborenes – op dieselfde manier as wat God ons as individue met Sy eie oë sien, naamlik as ’n waardevolle persoon wat na Sy eie Beeld gemaak en geskape is met ’n doel wat eendag geopenbaar sal word en om al hierdie lewe se lyding die moeite werd te maak (Romeine 8:18). Hoe meer ons na ander mense kyk soos wat Hy hulle sien, hoe meer sal ons die ewige waarde in hulle raaksien.