Wanneer ’n moeder haar hande liggies op haar groeiende maag plaas, terwyl sy dink oor die nuwe kindjie wat binne in haar besig is om te ontwikkel, raak sy werklik aan een van die grootste wonders van die lewe. Die skepping van ’n nuwe menslike lewe is inderdaad ’n wonderwerk. Dit is meer as ’n wonderwerk, dit is ’n wonderwerk wat bedoel is om ons aandag te vestig op die doel van die menslike lewe self!

Dink vir ’n oomblik na oor hoe baie dinge gebeur gedurende die eerste nege maande van ons lewe.

’n Menslike begin

Alle menslike lewe begin by bevrugting, verwekking, wanneer ’n vrou se eiersel met ’n man se spermsel verenig. Elke minuskule komponent – ’n eiersel is ongeveer die deursnee van ’n menslike haar en die mikroskopiese spermsel is, per volume, die kleinste sel in die menslike liggaam – dra slegs die helfte van elke ouer se genetiese materiaal, of DNA. Hierdie twee selle verenig en word een enkele sel; die twee genetiese helftes kom bymekaar om ’n volledige DNA-stel te vorm en skep so ’n splinternuwe menslike wese! Omdat dit ’n mengsel van die genetiese programmering van ’n moeder en ’n vader dra, sal die kindjie wat nou verwek is, groei om na hulle albei te lyk – alles wat nodig is om te verseker dat hy in die jare wat kom sal hoor: “Jy het jou pa se oë”! Of, “Jy het jou ma se neus”! Alles is reeds heel van die begin van ’n mens se heel eerste sel af vasgestel en in plek!

Op daardie oomblik het ’n nuwe lewe tot stand gekom: ’n Nuwe menslike lewe. Elke menslike wese wat nog ooit geleef het, van die beroemdste tot die berugste – Leonardo da Vinci, Mohandas Gandhi, Joan van Arc, William Shakespeare, Eleanor Roosevelt, Napoleon Bonaparte – het die lewe in hierdie nederigste van omstandighede as een eensame, byna mikroskopiese selletjie wat in sy of haar moeder se liggaam gegroei het, begin.

Terwyl dit ’n nederige begin is, is lewe as ’n enkele selletjie net die begin, aangesien hierdie splinternuwe menslike lewe bestem is om oor die volgende kort nege maande ’n ongelooflike verandering te ondergaan!

Selfs voordat die bevrugte menslike eiersel in die moeder se baarmoeder gevestig is, het die selletjie verwoed begin verdeel, homself aanhoudend vermenigvuldig en so die masjinerie vervaardig wat sy volledige menslike liggaam sal word. Die ontwikkeling van daardie liggaampie gaan teen ’n asemrowende tempo voort.

Ongeveer drie weke na bevrugting is die kindjie omtrent net so groot soos ’n penpunt, tog het so baie alreeds gebeur! Die baba se organe en senuweestelsel, brein en rugmurg, is besig om te ontwikkel. Voordat die maand verby is, sal die kindjie se hartjie begin klop en bloed binne ’n geslote bloedsomloopstelsel regdeur ’n vinnig groeiende liggaam vervoer.

Na vier tot vyf weke begin gelaatstrekke ontwikkel, met inbegrip van oë en kake. Toekomstige arms en bene begin knoppe maak aan die hoof liggaamsontwerp.
Teen slegs vyf weke, wanneer die kindjie net maar die grootte van ’n hempsknopie is, begin die baba se brein die kreukels, plooie en voue vorm wat kenmerkend van die menslike serebrale korteks is, en wat so noodsaaklik vir die gevorderde denke van menslike lewens is. Breingolwe is ná nog net een verdere week van hierdie ontwikkeling reeds in embrios opgemerk!

Oor die volgende paar maande, terwyl dit nog maar net steeds so drie of vier duim [7.5 tot 10 cm] lank is, ontwikkel daar in die gesig van die kindjie oë – beskerm deur geslote ooglede – lippe en ore. Smaakknoppies vorm, wat die kindjie toelaat om die omgewing om hom, wat die moeder se dieet weerspieël, te proe. Die ongebore babatjie begin gaap, voel, selfs ook ruik en neem al hoe meer inligting van ’n vinnig groeiende “wêreld” in.

Die res van die tyd word in nimmereindigende, volgehoue ontwikkeling deurgebring, van die een mylpaal na die ander: Organe ontwikkel, spiere word sterker en die babatjie begin beweeg en strek en die longe “asem” voortdurend vloeistof in, in afwagting op hulle eerste asemteug van lug.

Teen die tyd dat die kindjie uiteindelik in ons wêreld gebore word, het hy of sy alreeds ’n bietjie meer as nege dramatiese maande van lewe in die “wêreld” van die baarmoeder ervaar! Die kindjie wat sy lewe as ’n eenvoudige, enkele selletjie begin het, het binne ’n wonderbaarlike “lewensonderhoudende stelsel” gegroei, wat spesifiek ontwerp is om vinnige ontwikkeling en voeding moontlik te maak, totdat – bloot 40 weke later – ’n pragtige babatjie gebore word en gereed is om vertroetel te word deur liefdevolle ouers na wie se gedempte stemme die pasgebore baba vir maande lank geluister en ’n band met hulle gesmee het.

Dit is ’n pragtige proses om oor na te dink, een wat feitlik elke getroude paartjie bepeins gedurende die dae van swangerskap. God se wonders word werklik in sulke dinge gedemonstreer.

God maak nogtans gebruik van fisiese dinge wat Hy ontwerp het, om geestelike werklikhede te illustreer. Die beeld van menslike voortplanting skets een van die grootste geestelike realiteite van alles: God se voortplanting van Homself en Sy ware doel vir die mensdom!

’n Verstommende analogie van die Goddelike

Die prentjie in die Skrif is kristalhelder. Net soos ’n menslike vader deur sy sperm tydens bevrugting ’n deel van sy natuur aan sy nageslag gee, net so gee God aan ons Syeie aard wanneer ons ons bekeer en gedoop word, deur by die doop aan ons Sy eie Gees te gee (Handelinge 2:38)! Die apostel Petrus stel dit eenvoudig, deur te verduidelik dat ons “deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Petrus 1:4).

Dit is nogtans net die begin. Christene word eers deur God se Gees by die doop verwek – hulle werklike geboorte in die volheid van die Gesin van God vind nie plaas tot en met die Wederkoms van Jesus Christus en die opstanding, wanneer hulle “kinders van die opstanding” word nie (Lukas 20:36). Net soos ’n menslike kindjie baie ontwikkel en groei tussen bevrugting en geboorte, net so is dit ook met ’n kind van God!

’n Menslike kindjie in die baarmoeder lyk aan die begin nie regtig soos die ouers nie en groei daagliks in die baarmoeder om soos hulle te lyk. Net so groei en ontwikkel ’n kind van God ook in die moederskoot van God se Kerk, neem toe in die genade en kennis (2 Petrus 3:18) en ontwikkel deur die Gees van God die gesindheid van Christus (Filippense 2:5). Christene leer om te groei na volmaaktheid, net soos hulle Vader in die hemele volmaak is (Mattheüs 5:48).

Net soos wat babas in die baarmoeder nie die ouers kan sien nie, nie hulle gesigte of vorm kan waarneem nie, of die lewe wat vir hulle bestem is kan indink tot na hulle geboorte in die wêreld nie, net so kan die Geesverwekte Christene ook nie die volheid van hulle bestemming waarneem tot na hulle geboorte nie! Soos die apostel Johannes skryf: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2).

By die openbaring van Jesus Christus sal die kinders van God in die volheid van hulle bestemming ingaan, verander na die volle beeld van God, met Geestelike liggame van mag en heerlikheid, tot in ewigheid (1 Korinthiërs 15:42-45) – ’n gebeurtenis so wonderlik en glorieryk dat die hele skepping daarna uitroep soos ’n vrou in kraam uitroep na haar kind (Romeine 8:19-23)!

God se skepping is nie net wonderbaarlik as gevolg van sy wonderlike eienskappe van ontwerp en ingenieursvernuf nie, maar ook vir die wyse waarop Hy dit gebruik om sulke pragtige tonele van Sy wonderlike plan te skilder. Ons Almagtige Ontwerper is ook die Almagtige Kunstenaar! Deur gebruik te maak van die proses van menslike voortplanting, skilder Hy inderdaad ’n pragtige toneel. In daardie proses beeld Hy die ware doel van die mensdom uit en laat ons toe om in die oë van elke pasgebore kindjie ’n weerspieëling te sien van ons ewige bestemming in die ware Gesin van God.