’n Ongewone verhouding tussen ’n sonderlinge orgidee en sy handlangerbytjie kan vir ons baie leer daaroor of die wêreld ’n toevalligheid is of die werk van ’n Skepper.

In die wonderlike katalogus van lewende dinge wat die aarde vul, ontdek ’n mens ’n magdom voorbeelde van ongelooflike ingewikkeldheid wat aantoon hoe kompleks lewensvorme en hulle siklusse kan wees.

Blomme, die voortplantingsorgane van blomplante (angiosperme), is ’n goeie voorbeeld daarvan. Ons kan ons maklik verwonder oor die broosheid van ’n kersieblom, ’n roos of ’n lelie. Een soort blom is egter besonder betowerend in sy ontwerp asook in die wyse waarop dit ’n niksvermoedende assistent opkommandeer om die oorlewing van sy spesie te verseker.

In sake emmertjies en bytjies

Coryanthes speciosa en Stanhopea grandiflora, die twee spesies “bucket orchids”, is inheems aan die tropiese gebiede van Mexiko, Sentraal- en Suid-Amerika en Trinidad. Hierdie spesie van die orgidee-familie bring ’n blom voort wat enig in sy soort en pragtig is in die planteryk. Hulle het ook ’n baie gesofistikeerde manier van voortplanting wat die dienste van spesifieke spesies “orgidee-bye” vereis. Daar is sowat 250 spesies orgidee-bye, wat die mees opvallende van alle soorte bye is, as gevolg van hulle juweelagtige voorkoms (Stephen Buchmann, “Orchid Bees”, Amerikaanse Departement van Landbou). Twee sub-spesies orgidee-bye, Euglossa meriana en Euglossa cordata, is net die regte grootte, gewig en vorm om vir die bucket orchids van hulp te wees (Geoff Chapman, “Orchids ... a witness to the Creator”, Creation tydskrif, September 1996).

Die mannetjies van ’n spesifieke sub-spesie van hierdie bye sal slegs een sub-spesie bucket orchids besoek, sodat daar geen kruisbestuiwing van hierdie delikate blom sal plaasvind nie. Elke sub-spesie van die emmer-orgidee skei ’n geurige, olierige parfuum af, wat in die boonste kap van die blom geproduseer word. Omdat elke spesie van die bucket orchids ’n unieke geur produseer wat sy eie spesie orgidee-by lok en as gevolg van die hoogs gespesialiseerde proses wat betrokke is, word kruisbestuiwing deur ontwerp verhoed. Die mannetjie bytjies soek spesifiek na die orgideegeur wat slegs die wyfie van sy eie spesie lok en behou so die suiwerheid van die stelsel vir die plant asook die bestuiwer. Die manlike bye vul spesiale sakkies aan hulle agterpootjies met die parfuum en gebruik dit om vriendinne te lok. Hulle sal enige ontberings verduur om so goed as moontlik te ruik.

Die wip is gestel!

Die boonste gedeelte van die blom, waar die plant sy olierige parfuum produseer, het ’n wasagtige oppervlak wat meer glibberig gemaak word deur die parfuum self. Wanneer die bye besig is om hulle skat in te samel, gly hulle gewoonlik en val in die onderste deel van die blom – die “emmer” wat die blom sy naam gee. Bokant die emmer is ’n kliertjie wat ’n wateragtige vloeistof deur ’n kleppie drup en dit hou die emmertjie gedeeltelik vol. Hierdie spesie orgidee-by is net die regte grootte en gewig vir die merkwaardige proses wat plaasvind tydens sy besoek aan hierdie fassinerende blom. Die bytjie, wat tot heel onder in die emmertjie ingeval het, sou in die vloeistof doodgegaan het en sou nie kon ontsnap nie as dit nie was vir ’n klein “trappie” op die rand van die emmertjie nie. Hierdie trappie is net die regte grootte en vorm sodat die bytjie homself uit die dammetjie kan trek.

Ongelukkig sou ons bytjie nog steeds vasgekeer gebly het in die blom as dit nie was vir ’n klein tonneltjie wat net bokant die trappie geleë is nie. Die tonneltjie of buisie is net groot genoeg vir hierdie spesie orgidee-by om deur te gaan en so begin hy sy ontsnapping. Net wanneer hy egter op die punt staan om na buite te ontsnap, trek die buisie saam en hou die bytjie styf vas. Die sametrekking van hierdie buisie veroorsaak die afskeiding van ’n klein hoeveelheid gom op die bytjie se rug, maar slegs op ’n klein, geteikende area, om nie die bytjie se vermoë om te vlieg te belemmer nie. Dan word twee oranje-kleurige sakkies wat stuifmeel bevat (wanneer die blom in sy “manlike fase” is) op die gom vasgedruk. Dit neem sowat 45 minute tot ’n uur vir die gom om te stol, waarna die ontsnappingsbuisie ontspan en die bytjie vry kan wegvlieg terwyl dit nou die enigste stuifmeelsakkies dra wat daardie blom sal produseer.

Nog nie gedane sake nie ...

Ten spyte van sy skrikwekkende avontuur, het ons bytjie nog steeds sy vriendinne in gedagte en word op geen manier afgeskrik om ’n ander emmer-orgidee van dieselfde spesie te besoek om sy cologne-voorraad aan te vul nie. Helaas, tydens die versameling van meer reukolie bevind hy homself weer in die emmertjie van ’n ander bucket orchid. Vasberade klim hy uit die poeletjie met behulp van die gerieflike trappie en gaan deur die reeds bekende tonneltjie na vryheid. Hierdie keer as die orgideeblom die “vroulike fase” binnegegaan het, sal daar in plaas van stuifmeelsakkies wat vir hom aan die einde van die tonnel wag, ’n klein haakagtige struktuurtjie wees. Dit verwyder die stuifmeelsakkies van die bytjie se rug en veroorsaak dat dit oopgaan en die blom se stamper of vroulike voortplantingsorgaan bestuif en só begin die proses wat tot die ontwikkeling van orgideesaad lei om sodoende die volgende generasie van hierdie ongelooflike plant te verseker.

Natuurlike seleksie onvoldoende

Interessant genoeg het selfs Charles Darwin erken dat daar nie ’n aanduiding is in die fossielrekord van die “evolusie” van blomme nie, soos hy in ’n brief gedateer 1881 aan botanikus, Sir Joseph Hooker, opgemerk het. Darwin het nooit ’n verduideliking gegee van oor hoe ’n proses soos “natuurlike seleksie” voldoende sou wees om ’n komplekse simbiotiese (’n wedersyds-voordelige) verhouding te skep, soos wat ons in hierdie geval sien nie. Trouens, die bucket orchid se bestuiwingsmeganisme blyk redelik strydig te wees met die reëls van die Darwinistiese teorie. Prosesse wat oorlewing moeiliker maak en meer geneig is tot mislukking is veronderstel om volgens Darwinisme, deur natuurlike seleksie uitgeskakel te word. In die geval van die bucket orchid daarenteen, floreer ’n komplekse meganisme wat ’n vennootskap vereis met ’n enkele sub-spesie by – wat oorlewing selfs nog gevaarliker maak – al vir duisende jare. Voeg hierby die noodsaaklikheid van gelyktydige ontwikkeling van die hoogs-gespesialiseerde eienskappe van die blom en die bestuiwer en ’n ewekansige proses, soos beskryf deur Darwin se evolusie, is wiskundig heeltemal onwaarskynlik sonder intelligente leiding.

Hierdie unieke proses verhoed beduidende kruisbestuiwing met ander orgideespesies, wat help om die genetika van hierdie plante in ’n relatief onveranderde toestand te bewaar van geslag tot geslag. Bucket orchids floreer vandag nog en inspireer verwondering en vreugde in diegene wat hulle bestudeer. Hierdie komplekse simbiotiese verhouding tussen ’n spesifieke by en ’n merkwaardige blom kan alleenlik die produk wees van doelbewuste ontwerp. Enige regdenkende mens het geen ander keuse as om saam te stem nie.

Die geneigdheid van die mens om te ontken dat hierdie wêreld en die lewe daarop, die produkte is van ’n Groot Ontwerper is niks nuut nie. Lank gelede het die groot Joodse geleerde wat ons ken as Paulus, met ’n gefrustreerde gemoed geskryf oor diegene wat allerhande maniere vind om die ooglopende weg te redeneer:

[W]at van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:19-20).

Daar is min voorbeelde wat duideliker dui op die kreatiewe genie van daardie Groot Ontwerper as dié van die klein bucket orchid en die onversetlike orgidee-bytjie.