Is die bestaan van God twyfelagtig of selfs relevant in ’n toenemend sekulêre wêreld? Kan u met sekerheid weet dat God bestaan? U kan!

’n Bekende tydskrif van April 1966 het op die voorblad gevra: “Is God dood?” Wat is die antwoord? Kan u God se bestaan aan uself bewys?


Die tydskrif Time was nie die eerste een om die stelling te bevraagteken – of selfs om luidkeels aan te kondig – dat God dood is of nie bestaan nie. Die Duitse filosoof, Friedrich Nietzsche, wie se filosofie nie slegs ateïsties was nie, maar ook sterk anti-God, het meer as 80 jaar gelede onbeskaamd beweer: “God is dood, maar gegewe die aard van mense, mag daar nog grotte wees waarin sy skaduwee nog vir duisende jare bespeur kan word. Ons sal ook nog sy skaduwee moet oorwin” (The Gay Science, Nietzsche, 1882, seksie 108).

Nietzsche is nou dood, maar sy filosofie bly tot vandag voortleef in die gedagtes van miljoene mense wat nie net ongelowig is nie, maar wat die blote idee dat God bestaan, haat!

Sommige ateïste sal ons uitdaag: “As u sê dat God al vir ewig bestaan, waarom kan ons nie net sê dat die heelal ook al vir ewig bestaan en so die noodsaaklikheid van God uitskakel nie?” Volgens die nuutste wetenskaplike teorieë, het die heelal nie van altyd af bestaan nie! Die bekende astrofisikus Stephen Hawking sê: “Die heelal het nievan altyd af bestaan nie. Inteendeel, die heelal en so ook tyd self, het begin met die Oerknal, sowat 15 biljoen jaar gelede”. Ja, die moderne astrofisika onthul dat daar ’n tyd was toe die heelal nie bestaan het nie – daar was ook ’n stadium toe selfs tyd nie bestaan het nie!

Nog ’n navorser stel dit so: “Al die groot kosmologiese ontdekkings van die twintigste eeu trotseer die materialistiese idees oor die oneindige heelal wat toevallig ontstaan het. Inteendeel, hulle ondersteun die feit dat daar ’n bepaalde begin was, wat bewerkstellig en gelei is deur ’n goddelike, persoonlike, besorgde ontwerper, wat reeds lank voor en ook buite die heelal bestaan het” (The Creation Date Controversy, Hugh Ross).

Is daar dus ’n lewende, liefdevolle God wat betrokke was in die skepping van die heelal en alle lewe wat daarin is – wat vandag ingryp in menslike lewens en die gebeure in die wêreld? Kan u die kritici se stelling wat sê: “God is dood”, weerlê? Kan u bewys dat God lewe? Ja, u kan!

Die Skepping vereis ’n Skepper!

Wetenskaplikes het al probeer om lewe uit nie-lewe te skep, maar hulle het hopeloos gefaal! Die wet van biogenese bepaal dat lewe slegs uit lewe kan kom. Is dit redelik om te glo dat lewe uit nie-lewe kan ontstaan en dat wette uit wetteloosheid en sommer toevallig kan ontstaan?

Wetenskaplikes weet dat daar ingewikkelde wiskundige wette is wat die werking en die uitstrekking van die heelal bepaal. Wie of wat is verantwoordelik vir daardie wette en hoe hulle in ons heelal tot uiting kom? Die wetenskaplike Patrick Glynn, skryf dat alles heel van die begin af “’presies reg’ moes wees – van die waardes van fundamentele kragte, soos elektromagnetisme en swaartekrag, tot die relatiewe massas van die verskillende sub-atomiese deeltjies, tot kwessies soos die getal van neutrino-tipes, is alles dinge wat die heelal binne die eerste sekonde, reeds teen 10-43 sekonde moes ‘geweet’ het. Die geringste gekonkel met ’n enkele een van die talle basiese waardes en verhoudings in die natuur, sou gelei het tot ’n heelal wat baie anders sou wees as die een wat ons bewoon – sê maar een met geen sterre soos ons son nie, of hoegenaamd geen sterre nie” (God: The Evidence, bl. 7).

Ja, die wette van fisika het wel sedert die begin van die heelal reeds bestaan. Wetenskaplikes erken dat dit so moes wees, ook dat daardie wette fyn ingestel is om ons heelal te laat bestaan soos dit vandag is – met ons daarin! Wiskundig is dit heeltemal onwaarskynlik dat so ’n heelal toevallig kon ontstaan met net die regte eienskappe om menslike bestaan moontlik te maak.

Let op hierdie fundamentele bewys van God: Die bestaan van natuurwette in die heelal vereis ’n wetgewer! Die wetenskaplikes maak staat op die voorspelbaarheid en betroubaarheid van die natuurwette vir hulle berekenings en soeke na die waarheid. Wanneer die wetenskap vanaf die kleinste deeltjie tot die uitdyende heelal navors, wat vind hulle? Hulle vind voorspelbare natuurwette in aksie, maar hulle vind ook ’n intelligente ontwerp. Dink aan die menslike oog. Kan so ’n ingewikkelde liggaamsdeel vanself ontwikkel? Wetenskaplikes kan nou wel strukture navors, klein en groot, naby en ver, van quarks en DNS [DNA] tot kwasars en sterrestelsels in hulle geheel. Wat sien ons? Ons sien ’n toonbeeld van volmaaktheid en noukeurige ontwerp.

Die wetenskaplikes wat anti-God is, is vasbeslote om na vore te kom met verduidelikings wat ’n goddelike skepping uitsluit. Hulle het denkbeeldige teorieë uitgedink om die kompleksiteit van alles rondom ons te verduidelik. Nogtans het baie van die teorieë reuse spronge van logika nodig of aannames dat ’n wiskundige onwaarskynlike gebeurtenis “sommer net plaasgevind het”.

Selfs Charles Darwin, die vader van die moderne evolusie-teorie, het erken dat komplekse organe soos die oog moeilik sou wees om te verduidelik in terme van sy teorie.Newsweek se skrywer Jerry Adler, beskryf evolusioniste se pogings om te “wys hoe ’n reeks klein verbeterings uiteindelik dié volledige orgaan sou kon bou. Met die publikasie van Darwin’s Black Box in 1996, het die biochemikus Michael Behe, die argument na ’n sellulêre vlak verskuif en het hy voorbeelde soos die reaksie van die immuunstelsel gebruik. Hulle vertoon wat hy ‘onverminderbare kompleksiteit’ noem en wat beteken dat al hulle onderdeeltjies noodsaaklik is om enigsins te kan funksioneer. Hy sê dit is die waarmerk vir intelligente ontwerp” (“Doubting Darwin”, 7 Februarie 2005, bl. 48).

U het moontlik jare gelede biologie op hoërskool geneem, waarin u geleer het dat die sel ’n baie eenvoudige organisme is. In werklikheid, soos Discovery Institute se senior lid, George Gilder, tydens ’n onderhoud met Wired-tydskrif aangedui het, is dit uiteindelik glad nie so eenvoudig nie: “Dit is ’n ingewikkelde masjien wat inligting verwerk en wat uit tien-duisende proteïene bestaan, wat in ongelooflike ingewikkelde algoritmes van kommunikasie en sintese gerangskik is. Die menslike liggaam bevat ongeveer 60 biljoen selle. Elkeen berg inligting in DNS- [DNA]-kodes, prosesseer en herhaal dit in drie vorms van RNS [RNA] en in duisende ondersteunende ensieme. Dit voorsien die stelsel op ’n besondere manier van energie en verseël dit in semi-deurlaatbare fosfolipiede membrane. Dit is ’n proses wat afhanklik is van die wiskundige teorie van inligting. Dit toon aan dat selfs mutasies wat in selle plaasvind teen die gigahertz tempo van ’n Pentium 4 en gekies is teen die spoed van ’n Google-soektog, nie die ineengevlegte struktuur en funksie van ’n menslike wese in so ’n kort tydjie sou kon voortbring nie. Natuurlike seleksie behoort as vak aangebied te word vir die belangrike rol wat dit in die aanpassing van spesies speel, maar Darwin se materialisme is ’n spotprent, wat ’n verleentheid vir die moderne wetenskap is” (“Biocosm”, Oktober 2004).

Kritici noem dit soms ’n “God van die leemtes”-verduideliking – hulle kritiek is dat wanneer ons iets kompleks nie verstaan nie, ons dit aan God toeskryf. Nogtans ignoreer hierdie kritici die feit dat selfs wanneer wetenskaplikes ’n “verduideliking” bied vir iets wat so ingewikkeld is soos die menslike oog, hulle verduideliking mag staatmaak op veronderstelde toevallige mutasies of aanpassings, wat volgens die waarskynlikheidsteorie nie in biljoene der biljoene jare sou gebeur ... of plaasvind nie – in ons heelal wat maar slegs 14-miljard jaar oud is!

Die geheimenis van bewustheid

Materialistiese evolusioniste, wat gekonfronteer word met die verskynsel van die menslike bewussyn, vind dat baie van hulle aannames bevraagteken word. Dr. John Searle, skrywer van die boek The Mystery of Consciousness, het die volgende gesê oor die menslike bewussyn: “Ons weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Wanneer ons die bewussyn vergelyk met fisika, sien ons dat ons redelik goed doen in fisika, alhoewel ons ’n paar onverklaarbare areas het, soos kwantum meganika. Ons het nie ’n afdoende teorie oor hoe die brein bewuste toestande bewerkstellig nie en ons het nie ’n afdoende teorie oor hoe die bewussyn in die heelal inpas nie” (“What Is Consciousness?”, Closer to Truth, bl. 6).

Dr. Searle wys daarop dat die tradisionele verduidelikings vir die bewussyn dualisme en materialisme is. Hy sê: “Die groot keuse vandag is dus tussen die dualisme, wat sê dat ons in twee afsonderlike wêrelde leef, naamlik, ’n geestelike wêreld en ’n fisiese wêreld, asook materialisme, wat sê nee, alles is net fisies” (ibid.).

Die dualisme is stewig gebou op die aanvaarding van die idee van ’n onsterflike siel. Nogtans, soos gereelde lesers van hierdie tydskrif weet, leer die Bybel ons dat mense lewende siele is en dat siele kan sterf, aangesien hulle nie inherent onsterflik is nie (Esegiël 18:20). Is dit moontlik dat die Bybel die vrae kan verduidelik wat probleme skep vir wetenskaplikes soos Searle? Die antwoord is: Ja!

Nie net is die dualis verkeerd in sy oortuiging nie, maar die materialis is ook verkeerd want hy ontken die bestaan van die nie-fisiese dimensie, die bestaan van gees. Wat openbaar die Bybel hieromtrent? Die apostel Paulus beskryf die verhouding tussen gees en mens wanneer hy vra: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Korinthiërs 2:11). Paulus praat nie van ’n onsterflike siel nie, maar van die menslike gees. Die menslike gees stel mense in staat om te weet “wat die dinge van ’n mens is”. Diere weet nie “wat die dinge van ’n mens is” nie. Diere kan nie op die menslike vlak dink nie. Die kwalitatiewe verskil tussen die menslike verstand en die dierlike brein is geweldig groot. Instink by diere is dikwels merkwaardig, maar net die mens is ontvanklik vir baie fisiese dimensies, wat buite die sigbare lê. Indien wetenskaplikes kan teoretiseer oor 10 of 11 onsigbare fisiese dimensies, dink net hoe moeilik dit dan vir ’n objektiewe waarnemer moet wees om oor die geestelike dimensie te dink?

Fisici gebruik massiewe instrumente soos die Groot Hadron Superkollideerder om fisiese dimensies wat nie vir ons sigbaar is nie te kan verstaan. Wat het ons nodig om die geestelike dimensie te verstaan? Ons het die Gees van God nodig! Slegs dan kan ons waarlik en behoorlik “die dinge van God” verstaan (1 Korinthiërs 2:11). Hoe ontvang ons egter die Gees van God? Op Pinksterdag, toe die Nuwe-Testamentiese Kerk begin het, het die apostel Petrus vir duisende mense gepreek. Hy het gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Ja, God  se bestaan is werklik en Hy het aan ons die wyse geopenbaar hoedanig ons dit kan weet en verstaan. Ons kan weet dat God leef! Die apostel Paulus skryf dat diegene wat die getuienis ontken “... geen verontskuldiging” het nie (Romeine 1:20). Tog het evolusie geen verklaring vir die bestaan van die gees nie – selfs al ontken hulle dit dikwels, is die werklikheid in ’n groot mate nie die stoflike bestaan nie, maar die bestaan van die gees. Ons lees: “... want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:18). Die apostel Johannes verkondig ook hierdie waarheid: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24).

God se geestelike skepping

Baie mense wat verward is oor die fisiese skepping van die heelal, begryp nie die mees verstommende aspek van God se skepping nie. God het nie net die fisiese heelal geskep nie; Hy skep in die mens die geestelike meesterstuk van Sy skepping – Sy eie heilige en regverdige karakter, wat dan die karakter word van die nederige, opregte Christene, wat hulle totaal aan God oorgee. God het nie net fyn ingestelde fisiese wette geskep om die heelal te vorm nie; Hy het geestelike wette gegee om die karakter van Christene te vorm. Jesus het die twee “groot gebooie” in Mattheüs 22:37-39 gegee; hulle verheerlik die Tien Gebooie wat in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 gegee is. Hierdie geestelike wette is net so werklik as wat die fisiese wette is wat die heelal beheer.

Ons is na God se beeld geskape vir ’n groot en ontsagwekkende doel. God wil hê dat ons sal dink soos Hy dink. Hy wil hê dat ons in wese en karakter soos Hy sal word. So het Hy Sy Seun, Jesus Christus gestuur om aan ons die voorbeeld te stel van ’n goddelike lewe en karakter en om ons van ons sondige aard te red. God wil hê dat ons gelykvormig sal word aan die baie liefdevolle beeld en aard van Christus (Romeine 8:29).

Filosowe beweer dat God dood is. Baie van die filosowe is egter reeds dood en God lewe. Psalm 14:1 gee aan ons ’n duidelike perspektief op daardie werklikheid: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie”.

Kan u bewys dat God bestaan? Ja, u kan! Nie slegs kan u weet dat God bestaan nie, maar u kan “weet dat u weet” dat Hy lewe! Hoe kan u hierdie sekerheid hê? “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 2:3). U kan God se bestaan bewys deur die lewe te leef wat Hy deur die Bybel en die Seun van God, Jesus Christus, aan ons bekend maak. U kan self weet dat God lewe en dat Hy die opperste heerser is – nie net oor die uitgestrektheid van die heelal nie, maar ook oor die kleinste detail van ons lewens (Mattheüs 10:29-31).

Ten slotte is daar nog ’n baie belangrike aspek waardeur u aan uself kan bewys dat God bestaan. “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronomium 4:29). Soek die lewende God met u hele hart en met u hele siel. U sal Hom vind!