Hoe sterk is u werklik geestelik? Met die toenemende haat en geweld teen Amerika en sy bondgenote regoor die wêreld, moet ons onsself versterk vir die moeilike tye wat voorlê. Namate God se Werk groei en ons impak op hierdie Godverwerpende wêreld toeneem, sal godsdiensvervolging ’n toenemend beduidende rol in ons lewens speel. Nadat Hy die eindtyd oorloë, aardbewings, hongersnood en siekte-epidemies beskryf het, sê Jesus: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheus 24:7-11).

Sal u, wanneer dinge moeiliker raak, een van daardie mense wees wat wegdraai na ’n skynbaar makliker weg – moontlik beïnvloed deur die een of ander vals prediker? As ons wat God se ware diensknegte is, “deur al die nasies gehaat” gaan word, sal dit maklik wees om ontmoedig te word. Dit sal net natuurlik wees om ’n maklike uitweg te soek!

Die ware Filadelfiërs sal egter êrens op hierdie aarde wees (sien Openbaring 3:7-13) wat sal vashou aan wat hulle geleer het (vers 11) en ywerig deur die “geopende deur” sal gaan om die evangelie aan die wêreld te verkondig. Om deel van hierdie “klein kuddetjie” te wees, mag vir baie mense na die onwaarskynlikste plek lyk om te wees, aangesien die lede van daardie klein kuddetjie tot ’n groot mate teenstand en vervolging van hierdie wêreld en sy godsdiensleiers sal ondervind – net soos Jesus, Petrus en Paulus ondervind het.

Jesus Self waarsku: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Johannes 3:19-20).

Ons in die Kerk van God het die geleentheid en verantwoordelikheid om die Waarheid met krag te verkondig. Daardie Waarheid – die “lig” – sal groot gedeeltes van hierdie huidige samelewing vertoorn! Ons sal hartstogtelik preek oor die dringendheid om die God van die Bybel te gehoorsaam en om al tien van die Tien Gebooie te onderhou – insluitend God se heilige Sabbat. Af en toe sal ons besonder afskuwelike sondes van die wêreld moet uitwys – soos die beoefening van seksuele verdorwenheid (Romeine 1:24-27). Ons sal ook voortdurend ons stemme verhef soos God beveel het: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1).

Dus sal ons ’n “sekte” genoem word. Ons sal gesamentlik en individueel uitgesonder word vir smaad en vervolging.

Daarom, geagte lesers, sal ons waarlik moet “leef van die Bybel” en opreg na aan God wees in aktiewe gehoorsaamheid en lewende geloof. Ons moet altyd Jesus se eie woorde onthou: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen” (Lukas 6:22-23).

Buiten hierdie godsdiensvervolging, sal ons – soos ook ons landgenote – geraak word deur die toenemende boosheid, afguns en selfs haat wat miljoene meer mense teenoor die Verenigde State, Brittanje en hul bondgenote voel. Soos die meeste van u weet, maak die radikale Moslems van die hele Midde-Oosterse konflik ’n oorlog tussen die ganse Arabiese wêreld en Amerika met sy bondgenote. Die Charlotte Observer (21 Augustus 2003) beskryf die reaksie op die vragmotorbom wat die Verenigde Nasies se hoofkantoor in Bagdad vernietig het soos volg: “‘Die VERENIGDE NASIES is slegs ’n marionet van die VSA en enigeen wat vir die VSA kwaad is, is geneig om die VERENIGDE NASIES as ’n teiken te oorweeg’. Die feitelike Iranse koerant Kayhan was selfs meer op die man af met dié voorbladopskrif: ‘Vernietiging en slagting die gevolg van Bush se beleid in Irak’. Regdeur die Arabiese wêreld, sowel as Iran, was die bombardering toegeskryf – stilswyend of uitdruklik, afhangend van wie gepraat het – aan die gevolg van ’n foutiewe Amerikaanse besetting, ’n inherente uitgroeisel van die onverdedigbare onbestendigheid in Irak. Verder voer baie Arabiere aan dat die Amerikaanse inval die Verenigde Nasies in gevaar gestel het deur hulle as irrelevant af te maak”.

Uiteindelik blyk dit dat God die onlangse oorlog in Irak – en die nadraai daarvan – gebruik om die proses te begin om Amerika se krag en aansien waarlik te “breek” (Levitikus 26:19). Hierdie proses kan nog etlike jare duur. Hierdie profesie in Levitikus dui voorts aan dat ons deur droogte en hongersnood getref gaan word. Voedselvoorrade gaan skaars word en wanneer hulle besef dat algehele verhongering selfs in die Verenigde State, Brittanje, Kanada, Australië en Suid-Afrika dreig, sal paniek by die algemene publiek ontstaan wat vantevore as ’n nasie ongewoond was aan ontberings! Daarna sal die afskuwelike siekte-epidemies volg wat ons samelewing tot in sy fondamente sal ruk (vers 20, vergelyk Mattheus 24:7).

Namate tallose miljoene mense in ons voorheen gegoede samelewing gaan skarrel om genoeg te ete te kry en dan na desperaatheid gedryf word deur die “ongeneeslike” siekte-epidemies en plae wat begin toeslaan, hoe “gewild” dink u gaan ons waarskuwings wees? Mense gaan ons voorspelling van God se komende toorn – ongeag hoe akkuraat – sien as ’n “aanval” op hulle en hul beskermende leefwyse. Hoewel ons eie bedoeling sal wees om hulle, in liefde, ’n opregte waarskuwing te gee om hulle te beskerm teen toekomstige rampspoed, sal die oorgrote meerderheid van mense nie hul sondes wil erken nie en hulle sal die waarskuwing woedend verwerp. In plaas daarvan sal hulle, soos mense byna altyd doen wanneer hulle met slegte nuus gekonfronteer word, “die boodskapper aanval”.

Jesus waarsku die godsdiensleiers van Sy tyd kragtig: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg” (Mattheus 23:33-34). Jesus sê ook: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Mattheus 10:34).

Hoe moet ons as ware Christene onsself dan voorberei op hierdie komende vervolgings en moeilike tye?

Eerstens moet ons die gedagtegang bou wat Jesus in Mattheus 10 verduidelik. Let veral op verse 38-39: “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind”. Deur Christus in ons, moet ons onsself verstandelik en geestelik voorberei om deur beproewings, toetse en vervolgings te gaan wat die Nuwe Testament duidelik aandui op gelowige volgelinge van Jesus Christus gaan kom. Ons moet mediteer en bid daaroor of ons probeer om ons lewens – ons uiteindelike vervulling – in hierdie huidige wêreld te “vind” en of ons waarlik gewillig is om ons lewens te “verloor” vir die Christus wat vir ons gesterf het. Intussen moet ons onsself afvra of ons die verbintenis tot God demonstreer deur werklik die apostel Paulus se geïnspireerde opdrag aan alle Christene te volg: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:1-2).

Laat ons onsself afvra: “Hoe gee ek waarlik my lewe vir God? Probeer ek alles uithaal deur my tyd, talente, krag en hulpbronne tot diens van God en Sy mense te gee deur Sy Werk te help en te dien? Ons het almal verskillende maniere waarop ons tot diens kan wees. God weet dit en Hy sal elkeen van ons seën – vir alle ewigheid – tot die mate waartoe ons ons lewens aktief aan Hom oorgee om te dien en op te offer volgens ons vermoëns. Soos Jesus sê: “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis” (Lukas 12:48).

Elkeen van ons moet – deur “met God te wandel” in gereelde Bybelstudie, vurige gebed, meditasie, opregte diens en opoffering – ook toeneem in die lewende geloof wat ons sal benodig gedurende die beproewings wat voorlê. God verklaar: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). God se Woord sê ook vir ons: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:31-32).

Daar is dus geen goeie rede vir enigeen van ons om moedeloos te word of om “afvallig” te raak nie. Almal van ons behoort egter noukeurig – voortydig – na te dink oor die beproewings, toetse en versoekings wat ons beslis gaan tref en wat ons reaksie daarop sal wees. Dan behoort ons God dadelik te smeek vir meer van Sy Gees en leiding ten einde ons deel te doen om die geloof en moed te bou wat ons beslis sal benodig in die gevaarlike jare net om die draai.