Geprofeteerde eindtydse gebeure is besig om teen ’n toenemende tempo plaas te vind! Die wêreld wat u rondom u sien is besig om vinniger te verander as wat dit nog ooit voorheen in die menslike geskiedenis gebeur het. U persoonlike “wêreld” – u werk, u familie en vriende, en die gemeenskap rondom u – sal baie anders wees binne die volgende 10 tot 15 jaar of minder.

Waarom?
Omrede die Skepper, wie aan ons lewe en asem gee, spesifiek voorspel het dat hierdie “tydperk” – hierdie menslike samelewing soos ons dit ken – tot ’n einde sal kom met die wederkoms van Jesus Christus as Koning van konings. U Bybel beskryf ’n reeks “basuin-plae” wat sal plaasvind voordat hierdie huidige tydvak sal eindig met die beroemde klank van die “laaste basuin”. Ons lees: EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Jesus Christus beskryf die tyd van Sy wederkoms as ’n tyd van sonde en opstand teen God – “soos die dae van Noag was” (Mattheüs 24:37). Die Bybel beskryf duidelik daardie “dae van Noag” as ’n tyd wanneer die hebsugtige begeerlikhede van God-verwerpende mense sal veroorsaak dat hulle die huweliksverbond sal verdraai, dat hulle betrokke sal raak in voortdurende geweld en bloedvergieting en dat hulle hul hele “lewenswandel” op die aarde sal verontreinig (Genesis 6:5-13).

Steeds meer miljoene Amerikaanse, Britse, Kanadese en Australiese burgers is besig om hul heeltemal te distansieer van God, namate hulle hulself verontreinig deur grootskaalse hoerery – “saamwoon” sonder enige huweliksverbintenis. Talle politieke en selfs godsdienstige leiers keur “huwelike” tussen lede van dieselfde geslag goed en namate geweld toeneem oor die hele aarde met steeds meer etniese oorloë, godsdienstige oorloë en die groeiende bedreiging van menslike uitwissing omdat selfs “buite-die-wet” nasies toenemend besit verkry van kernwapens, kan ons waarlik sê dat die “skrif aan die muur is”. Soos Jesus sê: “So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Mattheüs 24:33).

’n “Dag van afrekening”

’n Onlangse segment van die “60 Minutes”-program, met die titel “Dag van Afrekening”, beskryf hoe die Verenigde State in finansiële nood verkeer – hoe baie van sy state en stede op die randjie van bankrotskap verkeer. Die onderhoudvoerder het eers met Kalifornië se toenmalige goewerneur, Arnold Schwarzenegger, gepraat, wat erken het dat sy staat se finansiële posisie uiters benard is en feitlik nie meer opgelos kan word nie. Kalifornië staar ’n begrotingstekort van $19 miljard in die gesig, en het ’n kredietgradering nader aan “rommel”-status. Die staat spandeer meer geld aan openbare werknemerspensioene as aan die hele universiteitstelsel. Duisende Kaliforniërs in diens van die staat en sy stede sal ongetwyfeld hul werk verloor binne die volgende paar jaar!

Die staat van Arizona is in net so ’n benarde posisie dat dit sy staatsgebou, sy Hooggeregshofgebou en sy wetgewende kantore aan ’n groep beleggers verkoop het. Die staathuur nou daardie geboue van die nuwe eienaars!

Gedurende die segment van die “60 Minutes”-program het Goewerneur Chris Christie van New Jersey sy staat se uiters wanhopige finansiële toestand erken. Hy het dit betreur dat hy noodgedwonge die konstruksie van ’n lank-beplande tonnel na Manhattan, wat omtrent 6,000 werkgeleenthede sou verskaf, moes stop. Die goewerneur het gesê: “Die reine waarheid is dat ek nie die geld het nie. En weet julle wat? Ek kan nie die mense betaal vir daardie werk as ek nie die geld het om hulle te betaal nie. Waar kry ek die geld? Ek het dit nie. Ek het dit letterlik net nie ... Die dag van afrekening het aangebreek. Dit is dit. Dit sal ook oral aanbreek. Die tyd sal ’n bietjie verskil, afhangende van in watter staat u is, maar dit gaan kom”.

Ja, soos Goewerneur Christie dit gestel het: “Die dag van afrekening het aangebreek!

My vriende, namate meer miljoene mans en vroue in ons Westerse, belydende “Christelike” nasies hul distansieer van God en Sy naam in woord of in daad laster, sal die Almagtige God daarop reageer. Hy sal die Amerikaners en Britse afstammelinge toenemend kasty as gevolg van hulle skokkende sondes. Soos u Bybel sê, God tugtig en kasty elke seun wat Hy liefhet (Hebreërs 12:6). Die Bybel toon duidelik dat wanneer Hy die moderne afstammelinge van antieke Israel verootmoedig, “[sal] die vreemdeling wat by jou is, ... hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:43-44).

Die vroeë stadium van Sy tugtiging is alreeds aan die gang! Baie van u wat hierdie tydskrif lees, besef dit. God het reeds begin om die “trotse mag” van die Amerikaners en nasies van Britse afkoms (Levitikus 26:19) te verbreek. Dit is alles ter voorbereiding van die wederkoms van Jesus Christus, om uiteindelik ware vrede te bring deur die regte soort regering, want die Ewige God van die Bybel is werklik. Hy sal Sy Seun, Jesus Christus, na hierdie aarde terugstuur as Koning van die konings (Openbaring 11:15) binnehierdie huidige geslag. Ons “dag van afrekening” is baie naby!

Nadat Hy ’n uitvoerige beskrywing gegee het van ’n reeks gebeure wat sal plaasvind net voor Sy wederkoms, sê Jesus: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is ... So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Lukas 21:28, 31-33).

Indien u werklik glo wat Christus sê, sal u weet wat sal plaasvind net voor Sy wederkoms. U sal ook weet en glo dat wanneer hierdie dinge aan die gang is, die mensdom inderdaad in die “laaste geslag” van die menslike beskawing is, soos ons dit geken het. U sal ook weet dat daar geen moontlikheid is dat Christus se wederkoms so ver kan wees as ’n duisend jaar van nou af nie!

Alhoewel dit ook sommige van u kan skok, behoort u nogtans te verstaan dat daar geen moontlikheid is dat Christus se wederkoms vannag of môrenag of selfs volgende jaar kan wees nie! Hoe durf ek dit sê? Omdat God se geïnspireerde Woord aan ons sê dat “die hemel en die aarde sal verbygaan”, maar dat Jesus se beskrywing van hierdiehele reeks gebeure nooit sal verbygaan nie! Sekere geprofeteerde gebeure moet plaasvind, in die volgorde wat Jesus beskryf het, voordat Hy sal terugkeer. Alhoewel ons weet dat Hy nie in 2011 of 2012 sal terugkeer nie, weet ons dat Sy wederkoms binnekort sal wees – en dat ons werklik in die “laaste dae” is.

Is ons in die “Laaste Dae”?

Ja, daar is letterlik dosyne aanduidings dat ons in die geprofeteerde “laaste dae” is. Laat my net ’n paar aan u opnoem.

Een duidelike aanduiding dat ons in die “eindtyd” is, word gevind in Mattheüs 24:21-22. Jesus is gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (vers 3). Nadat Hy ’n hele reeks dinge beskryf het, sê Jesus: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (verse 21-22). Hier voorspel Jesus die mees geweldige en grootste nasionale straf in die geskiedenis en die moontlikheid van totalemenslike uitwissing – indien God nie bonatuurlik sou ingryp nie.

Totale uitwissing – die uitwissing van alle vlees – was nie moontlik selfs tydens die Tweede Wêreldoorlog nie. Alhoewel twee atoombomme losgelaat was om die oorlog met Japan te beëindig, was daar vir maande of jare daarna geen verdere bomme beskikbaar nie. Volgens talle owerhede, was dit nie tot ongeveer 1957 dat daar – tussen Amerika en die Sowjet-Unie – genoeg kernwapens bestaan het om die hele mensdom te kon vernietig nie.

Dus, met die terugkeer van baie van die Jode na Israel in 1948, en die mate van kernwapen vermenigvuldiging in 1957, het ons beslis toe al die “tyd van die einde” betree – indien nie selfs voor daardie tyd nie.

In Daniël 12:4 het God aan Daniël gesê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder”. Let daarop dat die ontsaglike gebruik van vervoer-fasiliteite die eindtyd sou kenmerk, en dat ’n groot toename in die mens se kennis sou plaasvind – inderdaad, sedert die Tweede Wêreldoorlog, aanvaar ons dit as vanselfsprekend dat miljoene mense deur die lug voortspoed in ons moderne vliegtuie en groot stralers. In byna elke uithoek van die aarde ry mense nou heen en weer met voertuie en reis rond op ’n wyse wat ondenkbaar sou wees voor die aanbreek van die 20ste eeu. Daarbenewens het die koms van die radio, televisie en veral nou, die wydverspreide gebruik van rekenaars, bygedra tot ’n feitelike ontploffing van die mens se kennis, vergeleke met vorige eeue.

Dus, Christus se wederkoms sal ongetwyfeld binne die leeftyd wees van die jong mense wat vandag grootword – baie van ons ouer mense mag ook nog leef om hierdie ontsagwekkende gebeurtenis te beleef.

Laat die Bybel die Bybel verklaar!

Dit is jammer om te sê, baie voorspellers en vertolkers van Bybelprofesieë, sal ’n gedeelte uit die Skrif lees en dan ’n denkbeeld vorm waaroor dit alles gaan! Die regte manierom die Bybel te verstaan is natuurlik om eerlik en deeglik alle Skrifgedeeltes wat oor dieselfde onderwerp handel saam te voeg – insluitende profesie – om dan deur deeglike studie en opregte gebed, tot volle begrip van die onderwerp te kom.

Byvoorbeeld, wanneer u noukeurig die profesieë van Daniël, Openbaring en Jesus se Olyfbergprofesie soos opgeteken in Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21, met mekaar vergelyk, tree ’n mooi duidelike prentjie na vore van wanneer en hoe Christus sal terugkeer.

Let op Openbaring 1:1: “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het”. Hier vind ons dat dit Christus se openbaring is – nie dié van die apostel Johannes nie! Ons lees ook dat die verklaardedoel is om dinge of gebeure wat binnekort “gaan plaasvind” te openbaar.

In Openbaring 2 en 3, vind ons ’n geïnspireerde beskrywing van die eras of tydperke van God se ware Kerk. Die finale kerk-era, Laodicéa, word gekenmerk as “louwarm”. Dus is selfs die meerderheid van die ware volk van God in die eindtyd blykbaar oorwin deur ’n mate van wêreldgesindheid en beïnvloed deur ons pretsoekende “eie ek” geslag. Openbaring 4 en 5 beskryf die bonatuurlike heerlikheid van God. Dan beskryf hoofstuk 5 hoe Christus die enigste een is wat waardig bevind is om die seëls van Openbaring te open en om met die onthulling van eindtydse gebeure te begin.

Openbaring 6 beskryf dan die volgorde van die gebeure van die eerste ses seëls. Bestudeer dit aandagtig, en vergelyk veral met Mattheüs 24:3-9. Eerstens vind ons die beskrywing van die “wit perd”. Dit word duidelik geïdentifiseer in Mattheüs 24:5 as ’n vloedgolf van valse profete wat uitgestuur word om Christus se naam te gebruik en nogtans die massas te mislei! (Sien ook Openbaring 12:9). Vervolgens lees ons in Openbaring 6 van die “rooi perd” wat uitgestuur word om “die vrede van die aarde af weg te neem”. Mattheüs 24:6-7 bou hierop voort en toon dat dit nie net oorloë insluit nie, maar ook wêreldoorlog. Die derde seël, die “swart perd” van Openbaring 6, beskryf klein hoeveelhede kos wat deeglik geweeg word – duidelik ’n tyd van hongersnood. Mattheüs 24:7 beskryf hierdie volgende gebeurlikheid as “hongersnood”.

Dan is die vierde seël ’n “vaal perd” – ’n perd wat sieklik lyk – wat die dood en die graf meebring. Jesus stem saam in Mattheüs 24:7 dat die volgende geprofeteerde gebeurlikheid in hierdie reeks van gebeure wat sal lei tot Sy wederkoms, inderdaad pessiektes is – ’n groot siekte-epidemie van ongekende afmetings. Ná die beskrywing van hierdie vier groot aangeleenthede, sê die geïnspireerde Johannes aan ons: “En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8). Mattheüs 24:7 voeg ook by dat aardbewings ook ’n beduidende faktor gedurende hierdie tyd sal wees.

’n “Vierde deel” van die aarde sal vergaan? Die meeste geleerdes erken dat dit nie praat van ’n kwart van die aarde se oppervlakte – wat in elk geval grootliks see, berge en woestyn is nie. Dit praat van ’n kwart van die totale bevolking van hierdie aarde! Sonder enige toename in die aarde se huidige bevolking (tans sowat 6.8 miljard), verteenwoordig ’n kwart sowat 1,7 miljard mense wat vernietig sal word deur hierdie eerste vier “perderuiters”.

Nogtans is die geïnspireerde beskrywing van groot lyding beswaarlik ’n voorsmaak van die groot gebeurtenisse wat kort daarna volg! 

Die GROOT VERDRUKKING

Die vyfde seël van Openbaring beskryf in werklikheid die Groot Verdrukking. Die klem val hier op die Kerk-aspek – op die feit dat baie van die mense in God se ware Kerkvervolg en doodgemartel sal word, soos in vorige eeue (Openbaring 6:9-11). Ander Skriftgedeeltes – waaronder Mattheüs 24:21-22; Lukas 21:22-24 en Jeremia 30:4-7 – sê egter aan ons dat hierdie gruwelike Verdrukking nie net die ware Kerk sal raak nie, maar ook die fisiese nasies van Israel en Juda – insluitend die Amerikaners en die nasies van Britse afkoms van die wêreld. Vir die Bybelse en historiese bewys hiervan, skryf of skakel ons vandag nog en vra ons vir ’n eksemplaar van ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Dit sal absoluut gratis op u versoek aan u gestuur word.

Die Groot Verdrukking behels ’n massiewe nasionale straf oor die fisiese nasies van Israel wat versuim het om hulle verbond met God te eer en wat hulself gedistansieer het en hul gewend het na grootskaalse onsedelikheid en genotsugtigheid. Hulle het ’n “vorm” van godsdiens – selfs van Christelikheid – maar misken die mag en gesag van die Skepper God! (2 Timotheüs 3:5). Hedendaagse belydende Christene sal ongetwyfeld God se reg om Sy volk te straf, uitdaag. God antwoord: “Wat skreeu jy vanweë jou verbreking, jou smart wat ongeneeslik is? Omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes, het Ek jou hierdie dinge aangedoen” (Jeremia 30:15).

Onmiddellik  die Groot Verdrukking volg die sesde seël, die “hemelse tekens” (Openbaring 6:12-16). Mattheüs 24 bevestig dit weer volmaak: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (vers 29).

Dan kom die “Dag van die Here” – die tyd van God se volle toorn oor al die rebelse nasies van die aarde (Openbaring 6:17). Nadat ’n groot aantal van beide die Israelitiese en heidense volke “verseël” is en beskerm word teen God se finale gramskap (Openbaring 7), dan sal die “basuin-plae” begin.

Die eerste plaag verbrand ’n derde van die bome en al die groen gras van die aarde (Openbaring 8:7). Met vinnige opvolging sal die volgende plae om die beurt ’n derde van die see in bloed verander, een-derde van die visse en ’n derde van alle skepe vernietig, die water van een-derde van die fonteine en riviere vergiftig en ’n groot deel van die lig van die son, maan en sterre verduister (verse 7-12).

Die vyfde en sesde plae beskryf wat beskou kan word as ’n absoluut gesofistikeerde, kolossale “Star Wars”-tipe aanval deur die Europese Diermoondheid op sy vyande. Dan volg ’n kragtige teenaanval deur ’n massiewe weermag van 200 miljoen soldate – wat waarskynlik sal bestaan uit miljoene Russiese, Mongoolse en Chinese troepe – wat nieaan die verwaande Europese diktator genaamd die “Dier” onderhorig is nie.

Ten slotte, na ’n uiters belangrike drie-en-een-half-jaarlange tydperk – wat verdrukking en ballingskap vir die volke van Israel sal meebring, asook kragtige profetering en “waarskuwing” aan die Diermoondheid deur die “twee getuies” en beskerming vir die ware gelowige mense van God se Kerk (sien Openbaring 11:03, 12:14) sal Christus terugkeer in luisterryke heerlikheid wanneer die sewende basuin geblaas word! (Openbaring 11:15).

Ander weergawes van die storie

Intussen, net voor die Groot Verdrukking, sal ’n magtige Arabiese sindikaat bymekaarkom en die komende Europese Diermoondheid bedreig en uitlok (Daniël 11:40-45). Let daarop dat dit tydens die “tyd van die einde” sal wees. Die swaarder gewapende en gesofistikeerder Diermoondheid sal soos ’n “stormwind” op hierdie “koning van die Suide” neerswiep.

Die magte van die Diermoondheid sal ook die Joodse staat van Israel oorrompel en groot dele van die Midde-Ooste oorneem – ongetwyfeld om beheer te verkry oor die Arabiese olie-reserwes, om hul oorlogsmasjien van brandstof te voorsien! Nog ’n “eindtydse” gebeurtenis is die aanval op die “huis van Israel” (Jeremia 30) – die Groot Verdrukking. Dit sal ongetwyfeld ’n “tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (Daniël 12:1). Kort na hierdie massiewe Verdrukking en die Dag van die Here, sal Christus terugkeer: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak” (vers 2) in die opstanding uit die dood met Christus se wederkoms!

Net ook voor die Verdrukking, sal die sewende “herlewing” van die Heilige Romeinse Ryk plaasvind, en ’n finale groot diktator sal die ondersteuning verwerf van tien nasionale of plaaslike leiers in Europa, wie se tien landstreke saam die finale geprofeteerde Diermoondheid sal uitmaak (Openbaring 17:8-12). Die leiers van hierdie ontsagwekkende, militêre mag sal baie dwaaslik dink dat hulle gesofistikeerde wapentuig op een of ander manier selfs oor Christus kan seëvier! Hulle probeer teen Hom veg selfs wanneer die terugkerende Christus en die hemelse leër met mag uit die hemel neerdaal: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (vers 14). Al hierdie dinge toon duidelik die mate van misleiding en geestelikeblindheid, wat daardie tyd oor die leiers van die aarde gekom het. Trouens, die “god van hierdie wêreld” het absoluut “die sinne verblind” van diegene wat nie glo nie (2 Korinthiërs 4:4). Onthou asseblief, totdat Jesus Christus terugkeer na hierdie aarde, is dit Satan se wêreld!

Onthou ook dat hierdie toekomstige Diermoondheid nie net ’n militêre en politieke mag is nie. Dit is ’n “werktuig” wat deur die groot hoer, beskryf in Openbaring 17, gebruik sal word. Soos hierdie Skrifgedeeltes duidelik aan ons sê, die vrou ry die Dier! (Verse 3, 7, 9).

Die term “vrou” word gebruik in ’n aantal skrifgedeeltes in God se Woord om ’n kerk te simboliseer. In 2 Korinthiërs 11:02, is die apostel Paulus geïnspireer om die ware Kerk te beskryf as ’n “reine maagd” vir Christus. In Efesiërs 5 beskryf Paulus die kerk in die rol van ’n vrou met Christus as man (verse 23-25). In Openbaring 12:6 en 12:14, word die Kerk uitgebeeld as ’n vrou op vlug na ’n plek van veiligheid in die “woestyn”.

In Openbaring 17 beskryf God egter ’n groot gevalle kerk as “die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (vers 5). Johannes was geïnspireer om aan ons te sê: “Ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra” (verse 6-7). Hierdie geestelike dronk kerk is dus ook ’n groot vervolgsugtige kerk. Dit sal ook op die Dier, die finale herlewing van die Heilige Romeinse Ryk, ry en dit lei.

Namate hierdie vieslike godsdienstig-politieke stelsel in Europa saamkom, en as ’n groot Valse Profeet verrys “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thessalonicense 2:9), sal ontelbare miljoene Amerikaners, Kanadese, Britte en Europeërs verlei word en selfs onder druk geplaas word om deel te word van hierdie verrotte stelsel. Baie van u wat nou hier lees mag in die versoeking kom om “aan te sluit”, steun te verleen of ten minste “mee te doen”!

Moet nie mislei word deur hierdie stelsel nie! 
God self waarsku tog uitdruklik daarteen dat Christene deelneem aan hierdie bose stelsel: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:4-5). Inderdaad, God se direkte plae gaan oor hierdie stelsel kom en oor almal wat deel is daarvan! (sien Openbaring 16).

Dus, WANNEER sal Christus terugkeer?

Ek sê vir julle in alle erns dat Jesus Christus nie sal terugkeer na hierdie aarde voordat ons die mees angswekkende, aardskuddende, ontsettende en kolossale dinge beleef het sedert mense hierdie planeet begin bewoon het nie. Belydende Christelike predikante wat sê: “Christus kan vannag kom”, is so uit voeling met die waarhede van die Bybel dat dit byna ongelooflik is! Aan die ander kant, vir daardie ware Christene wat sterf voor Christus se wederkoms, kan Hy werklik “vannag kom”. Niemand van ons weet presies hoeveel dae of jare elkeen van ons oor het in ons huidige lewe nie.

In elk geval, onthou God Self openbaar duidelik in Sy geïnspireerde Woord ’n hele reeks van gebeurlikhede wat moet plaasvind voor Christus se wederkoms. Indien u bereid is om werklik u lewe aan God te onderwerp en die lewende Christus toe te laat om u lewe te beheer, mag u inderdaad deel word van daardie “klein kuddetjie” van God, deel word van die ware Kerk wat na ’n plek van veiligheid op hierdie aarde geneem sal word tydens die komende Groot Verdrukking (Openbaring 12:14).

Jesus Christus beveel ons almal toe Hy van hierdie gebeure praat: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:31-36).