Vraag: Ek het gelees dat God nie sondaars se gebede sal aanhoor nie. Aangesien almal gesondig het en dit hulle ontbreek aan die heerlikheid van God, hoe is dit moontlik dat God enigiemand se gebede kan hoor?

Antwoord: Die sobere waarheid is dat sonde – die verbreking van God se Wet – ons wel van God afsny. Sedert Adam en Eva, het almal inderdaad gesondig en ontbreek dit hulle aan die heerlikheid van God (Romeine 3:23). Die profeet Jesaja het aan die Israeliete gesê “julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:2; Johannes 9:31; Spreuke 28:9). Hoe kan God ons dan hoor? Let op Jesaja se antwoord:

“Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

Vir gebede om aangehoor te word, moet ’n mens God soek deur weg te draai van sonde. Sonde is die verbreking van God se geestelike Wet – die Tien Gebooie (1 Johannes 3:4). Aangesien die vleeslike denke in opstand is teen God se heilige, regverdige wette, ervaar Christene dikwels ’n innerlike stryd (Romeine 8:6). Die apostel Paulus beskryf hierdie stryd deur uit te roep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Romeine 7:24). Sy antwoord? “Jesus Christus onse Here!” (vers 25).

Wanneer ons ons bekeer, draai ons 180º en kyk na God. Met bekering kom ’n weersin teen sonde en ’n hartroerende verandering van denke. Deur God se genade sien bekeerde mense hul eie hulpeloosheid en hul onontkombare behoefte aan geloof in Jesus Christus. Daardie geloof in Christus en Sy gestorte bloed reinig die gewete van dooie werke (Hebreërs 9:11-14) en open vir ons direkte toegang tot die Vader.

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Hebreërs 10:19-22).

Opregte bekering beteken algehele onderwerping aan Jesus Christus – bekering van gedagtes sowel as van dade! Mens moet Jesus Christus werklik aanneem – nie slegs oppervlakkig nie, maar innig as Here, Meester en binnekort, Koning. Ware bekering beteken dat ons Sy wil, nie ons eie nie, ons lewensprioriteit maak.

 God verhoor wel die gebede van diegene wat Hom werklik soek, hul van hul sondes bekeer en na Hom wend. Kyk na die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Lukas 18:9-14). Diegene wat in opstand kom, God ignoreer en nooit verander nie, sal eenvoudig nie gehoor word nie! Hul sondes is ’n skeidsmuur wat hulle van God afsny. ’n Ware boetvaardige gesindheid maak dat God hoor (Psalm 34:16). God belowe: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Sondig Christene nog – selfs nadat hulle gedoop is? Ja! “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Johannes 1:8). God kyk egter na die hart om te sien wat die bedoeling is. Voor bekering is die menslike hart verhard in misleiding en opstand teen God. Na bekering sondig die meeste Christene uit swakheid of agtelosigheid, maar berou inspireer die groeiende Christen daartoe om tot God uit te roep vir vergifnis en krag om te oorwin. Baie Skrifgedeeltes verduidelik dat bekering ’n groeiproses is – dat ons moet “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18).

Sny sonde,  bekering, ons ook nog soos voorheen van God af? Alle sondes waaroor ons nie berou het nie, verhinder wel dat ons gebede verhoor word (1 Petrus 3:7). Nogtans: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). As ons berou het oor ons sondes en ons aan God onderwerp, kan en sal ons gebede verhoor word!