God se Woord verskaf baie belangrike instruksies met betrekking tot die opbou en instandhouding van ons fisiese gesondheid.

Die Bybel is nie ’n handboek oor voeding of fisiese gesondheid nie. Wanneer ons egter sien hoe waardevol die Bybel se instruksies op soveel ander terreine van die menslike lewe is, behoort dit ons nie te verbaas dat die Bybel ook belangrike leiding gee oor hoe ons die beste fisiese gesondheid kan verkry en dit behou nie.

Trouens, u Bybel bevat ’n verskeidenheid belangrike instruksies oor die opbou en instandhouding van ons gesondheid. Is fisiese gesondheid egter ’n doel op sigself of is dit hoofsaaklik ’n middel tot ’n groter doel?

Die Huidige Diagnose

Vir eeue lank het die Westerse beskawing baie waarde geheg aan goeie gesondheid as ’n middel tot ’n doel naamlik om te oorleef, ’n bestaan te maak, ’n gesin te versorg of ’n edele doel te bereik. In meer onlangse jare het die soeke na gesondheid egter ’n doel op sigself geword – ’n soeke met die doel om die ideale dieet of die beste oefening te vind en die “perfekte” liggaam te skep. Vandag het gesondheid en liggaam vir baie mense, moderne gode geword.

In die strewe na liggaamlike perfeksie soek miljoene mense eindeloos na die nuutste gesondheidsgeheime. Mense bestee enorme bedrae geld aan inspuitings, voorskrifte en prosedures – tog neem die groeikoers van vetsug in die Verenigde State jaar na jaar toe, waar meer as 70 persent van volwassenes as oorgewig, vetsugtig of ernstig vetsugtig geklassifiseer word. Dit is ’n skokkende toename, selfs meer as ’n dekade gelede, toe “slegs” 60 persent van individue in daardie kategorieë geval het. Gewig is nie net ’n probleem op sigself nie; dit dra by tot die lyding van miljoene mense wat hartsiektes, kanker, beroerte, diabetes en ander kwale in die gesig staar. Die storie is soortgelyk in ander ontwikkelde nasies.

Vir baie mense is die moderne, alles-oorheersende soeke na gesondheid ’n duur en nimmereindigende soektog na ’n “heilige graal/beker” wat dikwels in gebreke bly om die gesondheid en gemoedsrus te weeg te bring wat die meeste mense begeer. Waarom?

Ontbreek daar ’n dimensie in ons lewens vandag met betrekking tot ons soeke na gesondheid? Die meeste mense in die moderne Westerse nasies, het ’n verwronge beeld van gesondheid omdat hulle die anker, die kompas, verloor het wat bedoel is om aan ons balans te gee in ons benadering tot gesondheid. Ons bevind onsself, meegesleur van een uiterste na ’n ander – van medikasie tot kruie, van chirurgie tot “massering om die vloei van energie te herstel”. Ons kyk selde na die mees betroubaarste bron van waarheid in ons lewens: Die Bybel.

In die Skrif voorsien God fundamentele beginsels om ons persoonlike keuses te lei op maniere wat gesondheid bevorder en siektes voorkom. Die Bybel is meer as ’n lys van “moets en moenies” wat betref gesondheid. Uit die Skrif leer ons dat ons na die beeld van God geskape is (Génesis 1:26). Ons liggame is egter nie geskape om vir ewig te hou nie (Psalm 39:5; Jakobus 4:14; Hebreërs 9:27). Ons uiteindelike uitdaging is om te leer hoe om soos God te dink, om ’n karakter soos Syne te ontwikkel (Filippense 2:5) en liefde vir ander te betoon (Johannes 15:17). Hierdie lewe is bedoel om ’n oefenlopie vir ’n wonderlike toekoms te wees (1 Korinthiërs 9:24-27). Wanneer ons leer om God se instruksies te volg, sal ons ’n beloning ontvang wat insluit om sáám met Jesus Christus te regeer, wanneer Hy terugkeer om die Koninkryk van God op hierdie aarde te vestig (Openbaring 5:10). Dit is die Evangelie wat Christus gebring het – die goeie nuus van die Koninkryk van God (Markus 1:14-15).

Leiding wat betref vleis

Die bekendste en die onverstaanbaarste Bybelse gesondheidsinstruksies is waarskynlik dié wat handel oor rein en onrein vleis (Levítikus 11; Deuteronómium 14). Mense noem dit dikwels die “Joodse” voedselwette omdat baie mense wat Judaïsme beoefen dit steeds nakom – tog volg Moslems en ander groepe ook soortgelyke voedselbeperkings. Selfs vir diegene wat die verkeerde idee het dat Jesus “weggedoen” het met die dieetwette, kan die waarde van daardie wette vir gesondheid maklik raakgesien word. Baie van die diere wat deur die Skrif “onrein” genoem word, is aasdiere (byvoorbeeld slakke, krappe, krewe en meeue). Hulle ekologiese rol is om dooie plante of diere te vreet. Ander onrein diere sluit organismes in wat hulle voedsel filter (byvoorbeeld mossels en oesters). Hulle ekologiese rol is om water in mere, strome en riviermondings te suiwer. Ander onrein diere is roofdiere (byvoorbeeld leeus, slange en krokodille). Hulle rol is om die getalle en gesondheid van ander diere-bevolkings te beheer.

Baie onrein diere is ook draers van parasiete wat ernstige siektes by mense veroorsaak. Varke, bere, eekhorings en wasbere veroorsaak triginose en ander siektes. Aasdiere soos krappe en krewe kan long- en lewerslakke oordra. Menslike bevolkings wat gereeld hierdie wesens eet, het dikwels hoë vlakke van parasitiese infeksies. Organismes wat hulle voedsel filter, soos mossels en oesters, kan hoë konsentrasies giftige swaar metale, patogeniese bakterieë en virusse bevat, wat hulle gevaarlik maak vir menslike gebruik.

Wanneer ’n mens hierdie diertjies eet, eet mens eintlik organismes wat God geskep het om die natuur se “skoonmaakspan” te wees. Sal u die inhoud van u stofsuiersak of vullissak eet? Beswaarlik! Hierdie diertjies word tog in baie “gourmet”-geregte gebruik, omdat mense gevaarlik onkundig is oor die risiko’s daaraan verbonde. Vir ’n gelowige in God is dit duidelik dat Hy daardie onrein diere geskep het vir ander doeleindes as om voedsel vir mense te wees. Wanneer ons eet wat God vir ons gesê het om nie te eet nie, doen ons dit tot ons eie nadeel. Ongelukkig verstaan moderne teoloë nie die waarde van hierdie kragtige openbare beginsels van gesondheid nie – ook nie baie mense wat hulleself “Christene” noem nie. Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, kan u ons gratis boekie, Bybelse beginsels van gesondheid, aanvra of dit aanlyn lees by www.wvm.co.za.

God is egter nie teen die eet van vleis nie – Hy openbaar dat daar baie “rein” vleis is wat geskik is vir menslike gebruik, soos gedefinieer in Deuteronómium 14:3-20 naamlik beeste, osse, skape, bokke, takbokke, wildsbokke – enige dier wat herkou en gesplete hoewe het, is “rein” vir menslike gebruik. Daar is ook talle voëls en verskillende variëteite van visse wat geskik is vir die menslike spysverteringstelsel.

Ons behoort egter nie die waarde van groente saam met vleis te vergeet nie. In Génesis lees ons dat God, benewens rein vleis, vir die mensdom vrugte, groente en graan vir voedsel gegee het (Génesis 1:29; 2:16; 9:3). Vrugte, groente en volgraan bevat vesel en ander komplekse koolhidrate. Voedingkundiges het gedurende die afgelope dekades die waarde van hierdie voedingstowwe toenemend begin erken. Vesel, wat voorheen beskou was as nutteloos. ’n Groot hoeveelheid vesel by die derminhoud speel ’n belangrike rol in die beskerming van die liggaam teen kolonkanker en ander chroniese siektes. Komplekse koolhidrate is ook ’n belangrike deel van ’n gesonde dieet omdat dit help om hartsiektes en beroertes te voorkom deur cholesterolvlakke te verlaag.

Wat van bloed en vet?

God het Moses geïnspireer om aan te teken dat bloed en sekere vette – selfs van rein diere – nie as voedsel vir mense gebruik mag word nie (Génesis 9:4; Levítikus 3:17; 7:23-26), maar tog is die eet van bloedwors, die eet van “fatback” [varkvet] en die vermenging van bloed en melk in sommige kulture, algemene praktyke. Moderne wetenskap verstaan dat die bloed van diere, met bakterieë en virusse besmet kan wees wat siektes kan oordra. Die Bybelse verbod op die inname van bloed help om die verspreiding van siektes te voorkom.

Die verbod op die inname van sekere soorte sigbare vet is ewe belangrik – veral omdat dit deel vorm van ons moderne dieet. Natuurlik verbied die Bybel nie neute, sade, vrugte, groente en (rein) vis nie, wat alles bronne van gesonde vette kan wees. Dit is sekerlik nie toevallig dat die meeste moderne mediese studies aandui dat diëte wat groot hoeveelhede van sekere soorte vet bevat, soos sommige wat met die lys in Levítikus ooreenstem, ook geassosieer word met gewigstoename, vetsug, hartsiektes, verskeie soorte kanker en ander probleme nie. Hoewel daar ’n mate van verskillende opinies is rakende die gekompliseerde besonderhede oor watter vette goed en watter sleg is, is die Bybel se raad duidelik, maklik om te volg en dit is al meer as 3,000 jaar lank onveranderd. Die antieke verbod wat Moses opgeteken het, is vandag rotsvaste advies vir gesondheid.

Nog ’n ernstige probleem met Westerse diëte is die hoë inname van verfynde koolhidrate. Lewensbelangrike voedingstowwe word in die verfyningsproses van byvoorbeeld meel en suiker vernietig. Bevolkings wat groot hoeveelhede verfynde koolhidrate verbruik, ervaar hoër koerse van diabetes en ander verwante probleme. Baie van hierdie siektes en chroniese toestande kan vermy word deur bloot Bybelse riglyne te volg. In die boek Spreuke vind ons die beginsel van matigheid: “Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie” (Spreuke 25:16) en, “Om baie heuning te eet, is nie goed nie” (Spreuke 25:27). Lank voordat die samelewing besef het dat die oormatige gebruik van lekkergoed skadelik is vir ons gesondheid, het die Bybel ons al aangeraai om matigheid en selfbeheersing te beoefen – twee lewensbelangrike eienskappe wat ook in ander geskrifte aanbeveel word (vergelyk 1 Korinthiërs 9:25; Galásiërs 5:23).

Ander middels?

Terwyl die Bybel dronkenskap en die misbruik van alkohol duidelik veroordeel (Spreuke 20:1; 1 Korinthiërs 5:11), veroordeel dit nié die matige gebruik van alkohol nie (Deuteronómium 14:26). Jesus het by ’n bruilof, water in wyn verander (Johannes 2:1-11). Die apostel Paulus het vir sy beskermling Timótheüs gesê om “’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede” te gebruik (1 Timótheüs 5:23). Weereens is die sleutel matigheid. Matige hoeveelhede alkohol laat ’n mens bietjie ontspan, verhoog HDL-vlakke (“goeie” cholesterol) verminder die risiko van kardiovaskulêre siekte en verhoog die afskeiding van maagsure, wat vertering by bejaardes aanhelp.

Alhoewel tabak en dwelms vir ontspanning nie uitdruklik in die Skrif genoem word nie, word beginsels wat die gebruik van sulke verslawende middels duidelik gestel. Paulus skryf dat ons nie deur ons fisiese impulse beheer behoort te word nie (1 Korinthiërs 6:12) en dwelmmisbruik lei daartoe dat die slagoffers daarvan in die mag van uiters skadelike verslawing kom. Die Bybel se beginsels ten opsigte van gesondheid is nie bedoel om mense van hulle genot te ontneem nie, maar die “genot” van aftakelende dwelms is van korte duur en veroorsaak uiteindelik baie groot skade. Vir meer oor hierdie onderwerp, kan u ’n gratis eksemplaar van Marijuana: What They Aren’t Telling You aanvra of u kan dit aanlyn lees by.Tomorrowsworld.org. U kan ook hier mnr. Wallace Smith se artikel in die TomorrowsWorld se uitgawe van Augustus 2022, “Dying to Get High” lees.

Fiksheid, nie giere nie

Met dit alles in gedagte, behoort ons nie die positiewe ervaring van oefening na te laat nie. Deur die eeue heen het baie mense ’n stereotipe idee ontwikkel dat ’n ideale Christelike lewe stil en onaktief is – gewy aan gebed, studie, meditasie en nie veel ander dinge nie. Hierdie dinge vorm wel deel van ons Christelike lewe, maar ons kan nie anders as om op te let dat Jesus Christus as ’n skrynwerker na hierdie aarde gekom het in ’n tyd toe daar nie kraggereedskap was nie. Petrus, Andréas, Jakobus en Johannes, wat gekies was om van Christus se Apostels te wees, was vissermanne wat nie diesel-aangedrewe hysteostelle gehad het om hulle nette in te trek nie. Gedurende die tyd wat Jesus Sy eerste dissipels geroep het om Hom te volg (Matthéüs 4:19; Johannes 11:54), was hulle genoodsaak om honderde kilometers in ’n jaar te stap. Hulle fisies aktiewe leefstyl het hulle gesond gehou en stamina verskaf om hulle roeping te na te kom.

Omdat baie mense vandag beroepe beoefen wat vereis dat hulle byna elke werksdag vir baie ure voor ’n rekenaar sit bereik ons heel waarskynlik nie die Apostels se graad van fiksheid nie. Die apostel Paulus raai ons nietemin aan dat, alhoewel ons primêre fokus op geestelike sake behoort te wees, “die liggaamlike oefening ... tot weinig nut [is], maar die godsaligheid is nuttig vir alles” (1 Timòtheüs 4:8). Dit is presies wat moderne navorsing toon. Alhoewel hierdie voordele net tydelik is, is die uitwerking daarvan langdurig – dit sluit verlaagde cholesterolvlakke, bloeddruk en spanning in. Om aktief te wees kan ook diabetes, hartsiektes en ’n magdom ander probleme voorkom.

Gesonde gevolgtrekkings

Wanneer ons die Bybel se riglyne ten opsigte van dieet volg en dit met oefening kombineer, wat volgens die Skrif voordelig is, kan ons ’n vlak van fisiese gesondheid in ons lewens bereik wat tot ons voordeel sal wees, ongeag voor watter ander uitdagings ons te staan kom – of dit nou uitdagings van fisiese, emosionele of selfs geestelike gesondheid is. God openbaar in Sy Woord ’n lewenswyse wat al talle ander mense gehelp het en dit kan u ook help.

Wanneer ons daardie leefstyl verstaan en daarvolgens leef, kan ons verbeterde fisiese gesondheid ervaar, wat lei tot wonderlike seëninge vir ons as individue en ook as ’n samelewing. “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes 2).