Tagtigjarige Rupert Murdoch se verval in ongenade was net so vinnig as wat dit verootmoedigend was. Verlede Junie was die media-magnaat van News International televisie- en koerantbedryf nog op die kruin. Sy Sun en News of the World-koerante en Sky Television het fantastiese winste gegenereer, en minder winsgewende koerante soos The Times en Sunday Times aan die lewe gehou. Murdoch se ondernemings het ’n beherende posisie beklee in die Verenigde Koninkryk se media-mark – wat op sy beurt weer aan Murdoch ongekende mag en toegang tot leiers op alle vlakke van die samelewing, gewaarborg het.

Aan die begin van Julie het Murdoch se Britse organisasie egter teen ’n verstommende tempo begin uitrafel toe ontdek is dat die onwettige gebruik van “foon-meeluistering” endemies was by die News of the World. Die foongesprekke van media persoonlikhede, openbare figure en beroemde persoonlikhede is nie die enigste wat afgeluister is om “inkriminerende” getuie te verkry om hul stories toe te lig nie, maar ook so dié van vermoorde skoolmeisies en families van dienspligtiges wat vermoor is in Irak en Afganistan.

Eenvoudig ondenkbare gebeure het teen ’n vinnige tempo begin om die Murdoch konglomeraat te verswelg. Adverteerders het die News of the World in die steek gelaat, aandeelpryse van verskillende afdelings van die wêreldwye ryk het begin om skerp te daal. Toe kom die ondenkbare: Ná ’n bestaan van 168 jaar, het Murdoch dit gerade geag om die eens magtige, trotse en hoogs winsgewende News of the World, te sluit, omdat dit nie meer “geskik was vir die doel” nie.

Murdoch se hoof-uitvoerende beamptes was gedwing om te bedank. Brittanje se voorste polisieman en ’n senior assistent het bedank te midde van bewerings dat die polisie gefaal het in hul plig om waaksaam te wees en dat sommige polisiemanne onwettige betalings van die News of the World ontvang het. Selfs die Eerste Minister, David Cameron, was gestrand gelaat as gevolg van sy noue kontak met die Murdoch bedrywighede. Dit het gou duidelik geword dat letterlik duisende mense se private inligting moontlik onwettig nagegaan was, en die grootste deel van die nasie is ontsteld en teensinnig gelaat deur die blote omvang van die onwettige bedrywighede.

Wat moet ons verstaan van sodanige kolossale skendings van vertroue in ons samelewing? Die pers word dikwels beskryf as die bewaker van die samelewing – wat noodsaaklike kontrole uitoefen oor alle aspekte van openbare lewe. Joernaliste kan in die openbare belang geheime openbaar maak en ontmasker wat andersins verborge sou bly. Politici, openbare figure en beroemde persoonlikhede het geleer om navrae deur die joernaliste en enige gevolglike beriggewing, te vrees. Geen wonder dat, toe hy die ineenstorting van die Murdoch Ryk gade slaan, Engeland se Adjunk Eerste Minister, Nick Clegg, opgemerk het dat dit lyk asof die ware pilare van die Britse instelling – politici, polisie en die gedrukte media – voor sy eie oë verkrummel.

Waar is die skeidslyn dus tussen daardie sake wat openbaar gemaak behoort te word en dié wat privaat moet bly? Watter perke moet daar wees op die metodes wat gebruik mag word om verborge inligting te bekom? Sommige lede van die media tree op asof enige en alle inligting openbaar gemaak moet word, dat bykans enige metode wat gebruik kan word om dit te bekom, as wettig beskou word. Wat moet verander sodat die pilare van die samelewing in die algemeen, die gedrukte media in die besonder, die publiek se vertroue weer terug kan wen? Wie sal die bewakers bewaak teen mislukking en buitensporigheid? Terwyl Engeland worstel met hierdie kwessies, sal ’n geregtelike ondersoek ’n stel antwoorde saamstel gedurende die komende maande.

Moontlik kan een van die belangrike leidrade tot die onderliggende antwoord gevind word in die laaste uitgawe van die News of the World, gepubliseer op 9 Julie 2011. Daardie laaste uitgawe was omhul in die voorblad van die heel eerste uitgawe van die koerant, gepubliseer op 1 Oktober 1843. ’n Hoofartikel in daardie eerste uitgawe verduidelik hoekom Brittanje ’n nuwe koerant nodig gehad het en wat sy “invloedryke motiewe” sou wees. Die hoofartikel het afgesluit met hierdie woorde: “Ons leuse is die waarheid. Ons metode is die vreeslose verkondiging van die waarheid”.

In die uitgawe van 9 Julie spreek ’n kolomskrywer die mening uit dat “die belangrikste taak van hierdie koerant nog altyd was om diegene te vervolg wat dom genoeg is om te dink dat hulle verhewe is bo die wet, bo geregtigheid en vrygestel is van die morele kode waarvolgens die res van ons lewe”. Hoe ironies dat die News of the World nie daar sal wees om moontlik die heel toepaslikste storie in sy geskiedenis te dek nie – die onthulling van daardie mense op sy eie personeel wat so ’n minagting getoon het vir “die morele kode waarvolgens die res van ons lewe”.

Bron en gids van die waarheid

Wat nodig is om die publiek se vertroue weer terug te wen en terug te keer na ordentlike standaarde, is inderdaad die waarheid – ’n ware begrip van die morele kode waarvolgens ons moet leef. Ons vind hierdie kode in die Bybel, God se woord van Waarheid. Dit word die Tien Gebooie genoem. ’n Groot deel van die Bybel dien om hierdie morele kode uit te brei en gee voorbeelde van hierdie morele kode in aksie en die gevolge wat plaasvind wanneer dit geïgnoreer word.

Ons hoor dikwels mense wat sê dat dit “reg” is om dit te doen, of dat dit “verkeerd” is om dat te doen. Tog is sulke morele voorkeure dikwels hoogs persoonlik en verontagsaam gerieflikheidshalwe die duidelike riglyne van die Skrif. Wat sal dan ’n paar eienskappe wees van ’n koerant wat gelei word deur ware Bybelse moraliteit en waardes?

Heel eerste, sal dit daarna streef om verantwoordelik en positief te wees in sy dekking. Die onvermydelike slegte nuus sal gebalanseer word deur die goeie. Word die samelewing werklik geestelik opgebou deur die negatiewe, slegte en sensasie-soekende dekking wat so eie is aan die poniekoerante? “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8).

So ’n koerant sou te alle tye onderworpe wees aan die wet van die land. Dit mag ’n veldtog voer om die wet te verander, maar daar sou nooit ’n mandaat wees om die wet te verbreek nie. “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang” (Romeine 13:1-2).

Dit sal altyd daarna streef om die feite te bekom en die waarheid te vertel. Wil ons werklik graag soos die losbandige samelewing word wat in die Bybel beskryf word? “Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ’n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil” (Jesaja 59:4).

Dit sal nie gevestig wees op wellustige, walglike verslaggewing van seksuele misdrywe nie, soos so dikwels die geval is in die poniekoerante. Daar is verskillende en meer verantwoordelike maniere om sodanige stories te rapporteer, “... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem” (Efesiërs 5:11-12).

Dit sal beskeidenheid uitstraal in foto’s en grafika. Daar sal geen plek wees vir foto’s van naakte meisies nie, selfs al sou sodanige foto’s verkope opstoot. Dink aan Paulus se vermaning: “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie” (1 Timoteus 2:9).

’n Geskokte Engeland bly vasgevang in ’n vinnig-ontwikkelende skandaal wat moontlik nog vir baie maande sal voortduur, met gevolge wat mens nou net maar oor kan gis. Dit was egter nie nodig dat dit so moes uitdraai nie. Die Bybel bied aan ons ’n duidelike uiterlike geskrewe kode wat die blywende stel morele waardes bepaal wat God wil hê almal moet hul eie maak en handhaaf tot die beswil van almal. Indien die News of the World – in sy soeke na die waarheid – sedert sy ontstaan in 1843, konsekwent gelei is deur hierdie kode, sou dit dalk vandag nog steeds “geskik gewees het vir die doel”.