Hoe wil u onthou word? Wat wil u hê moet u reputasie wees? Terwyl hul suigelinge is, dink mense net aan hul eie begeertes en behoeftes. Namate ons aanbeweeg na die tienerjare en daarna, raak ons meer bekommerd oor wat ander mense van ons dink en dit is ook reg. Ons lees: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11).

Reputasie word egter nie deur ’n towerslag gebou nie. Inteendeel, dit word vasgestel deur ons dade en ons woorde. Die besluite wat ons neem – afhangende van wat ons doen en waaroor ons lag, hoe ons ons tyd deurbring en met wie ons dit deurbring – weerspieël alles wie ons is. Wat bepaal daardie besluite? Hoe word hulle gemaak? Het ons enige beheer daaroor?

Hoe neem mens ’n besluit?

U het gehoor mense sê: “Neem ’n besluit”.  U mag selfs soms probeer om “iemand van gedagte te laat verander”. Hoe verander mens dus van gedagte en hoe word dit in die eerste plek “gevorm”? Daar is drie basiese boustene. Die eerste is kennis, die tweede is ervaring en die derde bestaan uit ons emosies of gevoelens.

Namate ons liggame die kinderskoene ontgroei, word ons op meer maniere as net die fisiese verander. Terwyl ons begin om te kruip, te loop en dan te hardloop, is ons gedagtes ook besig om te verander. Ons leer aangaande die wêreld rondom ons, hoe ons daar inpas. Terwyl ons grootword, beïnvloed die mense rondom ons hoe ons gedagtegang “gevorm” word. Ons ouers vertel aan ons die lug is blou en gras is groen. In ons gedagtes word die konsep van kleur gevorm.

Ouers wat hul God-gegewe pligte nakom, neem ’n leidende rol in hierdie groeiproses. God beveel hulle hoe om dit te doen: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Ouers behoort hul kinders te lei hoe om reg te dink, deur aan hulle die beginsels van die lewe te leer. God het ook antieke Israel beveel om Sy weë aan hulle kinders te leer: “... en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:7).

Ouers is egter nie die enigste mense wat ons gedagtegang beïnvloed nie. Van ons vroegste kinderjare af word ons ook geleer deur vriende en speelmaats, onderwysers en die media. Ons stoor die kennis wat ons uit hierdie verskillende bronne versamel en gebruik dit om idees en indrukke te vorm om die wêreld om ons te verstaan. Daarby ervaarons die lewe self. Ons vergelyk wat ons gehoor en gelees het met wat ons eerstehands ontdek het, deur oorsaak en gevolg. Ons eet ’n suurlemoen en leer wat “suur” beteken. Van daardie stadium af, verstaan ons hoe iets wat “suur” is, sal smaak. Miskien sê ’n ouer: “Moenie aan die stoof raak nie, dit is warm”! Ons hoor die woorde, maar as ons verplig voel om in elk geval te eksperimenteer, sal die ervaring om aan ’n warm stoof te raak, van daardie dag af in ons gedagtes ingebrand wees!

Ons gedagtes word ook gevorm deur ons emosies. God het in ons menslike denke die vermoë geplaas om ’n verskeidenheid van emosies te ervaar wat ons denke beinvloed. Ons leer hoe dit voel om opgewonde, gefrustreerd, gelukkig en kwaad te wees. Ons leer om dit te geniet wanneer ons smaakknoppies geprikkel word deur roomys. Ons leer van kwaad wanneer ’n speelmaat ’n speelding van ons af wegneem. Ons leer van hartseer wanneer ons weggaan van ons vriende. Al hierdie emosies – hoe ons dit in die daaglikse lewe beoefen – het ’n geweldige invloed op ons geestelike ontwikkeling.

Ons gedagtegang en ons keuses

Namate ons ontwikkel van kinderjare na volwassenheid, begin ons om meer onafhanklik te word. Ons begin om vir onsself te dink en om self besluite te neem. Ons besluit wat om in die oggend te dra, hoe ons ons vrye tyd gaan bestee en met watter vriende ons tyd gaan spandeer. Daardie besluite weerspieël ons vermoë om feite, ervaring en selfs emosies uit die verlede in huidige situasies toe te pas. Dit is wat “om vir onsself te dink” eintlik beteken. Namate ons goeie oordeel uitoefen, kry ons ouers meer vertroue in ons, hulle voel in staat om aan ons meer onafhanklikheid en verantwoordelikheid te gee. Uiteindelik is die rol van ouers nie slegs om gehoorsaamheid aan hulle reëls af te dwing nie, maar om in hulle kinders die denke en karakter te ontwikkel om die gees van daardie reëls toe te pas op nuwe en in verskillende situasies. Wanneer jong mense hul groeiende vermoë om besluitneming beoefen, word die dinge wat hulle doen, die woorde wat hulle spreek en die vriende wat hulle maak, weliswaar in die patroon van hul groeiende denke weerspieël. Namate ons grootword, sal ons natuurlik verkies om in eensgesindheid te leef met ander mense wat soos ons dink. Soos die profeet Amos skryf: “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (Amos 3:3).

Uiteindelik, wanneer ons die volwasse lewe betree, begin ons om uitdagings in die gesig te staar wat groter is as die besluit oor watter klere om te dra, of wat om te doen met ons vrye tyd. Ons moet besluite neem soos wat om te doen aangaande verdere opleiding, ’n loopbaan en huwelik. Ons moet besluit aangaande ons fundamentele geloof in God, ons worsteling met vrae oor ons Skepper en ons uiteindelike lotsbestemming trotseer. Ons moet besluit aangaande hoe ons God se wet gaan gehoorsaam en hoe om dit in ons daaglikse lewe toe te pas. Ons kom te staan voor die vraag of ons ’n permanente verbintenis met God moet maak deur gedoop te word. Dit lyk of ons eendag opkyk van ons daaglikse bedrywighede en te staan kom voor ’n oorweldigende verskeidenheid uitdagings en keuses. Hoe ons hierdie keuses gaan hanteer weerspieël uiteindelik die stand van ons gedagtes.

Die gedagtegang van God

Indien u worstel met hierdie besluite, maar tog begeer om God te dien met begrip, dan mag God u moontlik roep. Diegene wat deur God geroep word, kom tot die besef dat hul denke, op hul eie, nie heeltemal opgewasse is om die uitdagings van die lewe te hanteer nie. Vanaf die verhaal van Adam en Eva en wat daarop volg, het die mensdom se geskiedenis getoon dat die menslike verstand nie opgewasse is vir die uitdaging om vrede en voorspoed op aarde te vestig nie. Dit is eintlik in stryd met God. Ons kan as mense baie van die eenvoudige fisiese beslissings wat nodig is om te maak hanteer maar vir die grootste uitdagings het ons sonder twyfel die denke van God nodig. Die denke van God bring liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Dit is al die eienskappe wat ware geluk en tevredenheid in die lewe bring. Dit is egter die eienskappe van gedagtes wat in harmonie is met die denke van God. Indien ons as ’n jong persoon ons denke in harmonie met God kan ontwikkel, sal ons ’n manier van dink ingeprent hê wat sal lei tot goeie besluite en ’n goeie lewe.

Wie u is en wat u doen, is ’n direkte gevolg van wat u in u gedagtes toelaat. Watter kennis, ervarings en emosies vul u gedagtes? Lees u en dink u na oor God se woord en God se weë? Neem u besluite wat u toelaat om die vrugte te pluk van ’n lewe volgens God se manier? Vra u God om u te lei deur Sy Gees wat by u is en om emosies te hê wat deur God gelei word, of is u soos ’n marionet aan ’n toutjie van die natuurlike menslike emosies wat deur u denke vloei?

Maak ’n keuse. Aanvaar die denke van God om u te help om ’n wyse en vrugbare manier van dink en voel in u te vestig. Let op u gedagtes.