Met die naderende lentefeeste, is ons gedagtes behoorlik gevestig op die vinnig naderende tyd wat ons noem “die wêreld van môre” – ’n tyd wanneer die nasies nie meer oorlog sal voer of dit onderrig nie en mense vrede en veiligheid regoor die wêreld sal geniet. Gedurende hierdie seisoen van die jaar lees en hoor ons gereeld Skrifture wat die vredevolle en oorvloedige wêreld beskryf waaroor die Koninkryk van God sal heers.

Ons versuim egter dikwels om te stop en na te dink hoe hierdie wonderlike wêreld in werklikheid tot stand gaan kom. Sal die terugkerende Christus bloot Sy vingers klap waarna almal oombliklik sal begin om vreedsame gedagtes te koester, of sal mense regoor die wêreld heropgevoed moet word om te leer om anders met ander mense om te gaan? Sal dit nodig wees om mense noukeurig te leer om die praktiese toepassings te help verstaan ten einde mekaar werklik lief te hê?

Die profeet Jesaja vertel ons dat die wet van God uit Sion sal uitgaan in die toekomstige tyd van die Messias se koninkryk (Jes. 2:3). Die lees en uitleg van die wet was in die ou tyd geassosieer met die Huttefees (Deut. 31:9-11; Neh. 8:18). Terwyl baie beleidende Christene glo dat Christus die wet van die Ou Testament vervang het met Nuwe-Testamentiese genade, het Jesus in werklikheid die wet uitgebrei en dit in sy volle geestelike bedoeling verduidelik. Baie mense sal geredelik erken dat Jesus Sy gehoor geleer het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 19:19), maar sal redelik verbaas wees om te verneem dat Jesus dit gedoen het deur direk uit die Tora aan te haal (Lev. 19:18)!

Jesus se broer, Jakobus, het hierdie beginsel – om jou naaste lief te hê soos jouself – “die koninklike wet” genoem (Jak. 2:8). Hierdie beginsel ondersteun die weg na vrede wat in die wêreld van môre toegepas gaan word. Dit is baie meer as net ’n uitdrukking wat sag op die oor val. Dit het baie praktiese toepassings in ’n wye verskeidenheid van menseverhoudings en probleme. Spesifieke toepassings oor hoe om hierdie beginsel aan te wend word in Levitikus 19 uitgelig, waar ons direk beveel word om ons naaste lief te hê soos onsself. Jesus het op hierdie Skrifture uitgebrei namate Hy vir ons die goeie nuus van God se komende Koninkryk gebring het. Hy het die belangrikheid beklemtoon dat Sy dissipels hierdie beginsels in al hul aktiwiteite moet toepas. Dit maak beslis sin, want hoe kan ons die weg van vrede vir ander in die wêreld van môre leer as ons dit nie eers self leer nie?

Ons moet die weg van vrede in ons hedendaagse lewens toepas en uitsien daarna om dit aan ander te leer in die wêreld van môre. Laat ons meer noukeurig ondersoek wat die Bybel beskryf as die “weg van vrede”.

Die Oorsake van Oorlog

’n Vroeë leier in die Jerusalem Kerk, die apostel Jakobus, het een van die hoofoorsake van oorlog verduidelik. Oorlog kom van wellus en naywer, het hy gesê (Jak. 4:1-4). Die mensdom het ’n selfgesentreerde begeerte om te bekom en te besit. Mense kom agter dat iemand anders iets het wat hulle wil hê en begin planne beraam om dit self ook te bekom. Ons lees in Genesis 14 van ’n verbond van konings wat die antieke land Kanaän binnegeval en rykdom en gevangenes (insluitende Lot en sy familie) weggevoer het van die stede van die vlaktes. Begeerte na rykdom het regdeur die geskiedenis tot baie oorloë en konflikte gelei.

Wraak was ook ’n kragtige motief vir oorlog. Ou griewe word van geslag tot geslag vertroetel en aan toegegee wanneer die geleentheid hom voordoen. Die Skrif bestraf die nageslag van Edom omdat hulle ’n ewige wrok teenoor die kinders van Israel koester. Hulle is geken aan hul begeerte vir wraak en hul onwilligheid om ou haatgedagtes te laat vaar (Eseg. 35:5).

Misverstande wat nie behoorlik opgelos is nie, was nog ’n ander oorsaak van oorlogvoering en konflik. Josua 22 gee ’n voorbeeld van ’n misverstand wat amper tot oorlog gelei het. Ses jaar nadat die Israeliete die land binnegekom en die verowering van Kanaän voltooi was, is die stamme van Reuben, Gad en die halfstam van Manasse toegelaat om na hul plase en families terug te keer aan die Oostekant van die Jordaanrivier. Die nuus dat hulle ’n altaar gebou het net soos die een by die tabernakel te Shiloh het spoedig die res van die Israeliete bereik! Onder die indruk dat hul broers ’n mededingende plek van aanbidding opgerig het, het die res van die Israelitiese stamme gereed gemaak vir oorlog om hulle te straf vir hierdie duidelike verbreking van die Verbond. Toe die Israeliete Oos van die Jordaan egter vir ’n verduideliking gevra is, blyk dit glad nie hul motivering te gewees het nie. Hulle het nie ’n mededingende plek van aanbidding gebou nie, maar eerder ’n gedenkteken om hulle te verbind met hul broers Wes van die Jordaan en die tabernakel te Shiloh. Valse aannames rakende ander mense se bedoelings het deur die eeue tot baie konflik gelei.

Een spesifieke gesindheid is agter baie konflikte, wat veroorsaak dat dit vererger en verhoed dat dit opgelos word. Daardie gesindheid wat noodsaaklik is vir konflik en oorlog, is trots! Spreuke 13:10 herinner ons daaraan: “Vermetelheid gee net getwis af”. Jakobus herinner ons daaraan dat God die hoogmoediges weerstaan maar genade – Sy vrywillige verlening van voordele – gee aan die nederiges (Jak. 4:6).

Of ons nou praat van algehele oorlogvoering tussen nasies of eenvoudig van konflik tussen familielede en bure, is die grondliggende oorsake dieselfde – hebsug, misverstande en ’n begeerte om wraak te neem. Net soos die weg van vrede, is dit ook op beide nasies en individue van toepassing.

Die Wet dui Die Weg aan

God het Moses geïnspireer om die mense te vermaan dat hulle heilig moes wees, omdat God heilig is (vgl. Lev. 19:2). Die Skepper wil hê dat ons Sy sienswyse moet deel en Sy karakter moet besit. Verse 9-18 bevat ’n reeks gebooie wat opgesom word deur die stelling: “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”. Hoe pas ons dit egter prakties toe en hoe ly dit tot vrede?

Die eerste punt wat genoem word is vrygewigheid aan die behoeftiges (verse 9-10). Wanneer boere hul gesaaides oes, is hulle aangesê om nie die kante van die land heeltemal af te oes of op te tel wat geval het nie. Hulle moes ook nie later teruggaan om die laaste vrugte te oes nie. Hulle moes dit vir die armes en die vreemdelinge laat oorbly. God se mense is dus uit die staanspoor presies die teenoorgestelde van ’n selfgesentreerde benadering wat op die persoon self ingestel is, geleer.

Die volgende punt wat beklemtoon word, is die belangrikheid van eerlikheid in al ons handelinge (verse 11-13). Ooreenkomste moet nagekom word en ons woord moet ons eer wees. Dit word uitgestip dat die sterkere nie misbruik moet maak van die swakkere nie. Lone moet ten volle en betyds betaal word. Om anders te doen is om ons naaste te bedrieg en veroorsaak net griewe.

Vers 14 wys dat ons aan almal respek moet betoon, of hulle daarvan bewus is al dan nie. ’n Dowe persoon mag dalk nie daarvan bewus wees dat iemand hom of haar vloek nie, maar so ’n daad van minagting toon veragting vir ’n ander mens. Om ’n struikelblok voor ’n blinde te sit is om skade te doen met die gedagte dat jy nie uitgevang sal word nie. Die einde van die vers gee ons egter die antwoord. Ons moet ons lewens in diepe bewustheid van God se teenwoordigheid leef. Dit gaan nie daaroor of mense weet hoe ons ander mense behandel al dan nie. Dit is selfs nie eens ’n geval of diegene wat ons met minagting behandel het, daarvan bewus is of nie. Die lewe moet voor God en nie net voor mense geleef word nie.

Die volgende vers leer ons om regverdig te wees teenoor almal. Ons moet nie dubbele standaarde van geregtigheid hê en nóg die rykes nóg die armes bevoordeel. Ongeag maatskaplike stand of welstand, is die persoon met wie ons te doen het ons naaste en moet op ’n gelyke vlak behandel word. Om partydig te wees – hetsy omdat ons óf jammer voel vir iemand se lae stand óf beïndruk is deur iemand se hoë stand – gee aanleiding tot ’n samelewing wat onregverdig en onbillik is. Hoewel dit dikwels in die hedendaagse samelewing plaasvind, sal dit nie toegelaat word in ’n samelewing wat volgens God se wet regeer word nie.

Verse 16-18 wys hoe diegene wat werklik hul naaste liefhet soos hulself, sal reageer op die sonde van ander. Ons sien ook dat God se wet die mees algemene benaderings verbied wat mense vandag teenoor konflik en onenigheid het.

Die wet herinner ons om nie nuusdraers te wees nie. Ons moet nie rondgaan en skandes oorvertel of met enigeen wat gewillig is om te luister praat om hulle te oortuig om saam met ons te stem in gevalle van konflik nie. Om bondgenote te probeer maak of bloot iemand te verkleineer, is nie die weg na vrede nie. Nuusdraers verseker dat ou sondes nie vergeet word nie en dat ou konflikte nie werklik opgelos word nie. Dit word dikwels gemotiveer deur ’n begeerte om guns te wen ten koste van iemand anders.

Hierbenewens moet ons nie griewe koester of wraak najaag nie. Om griewe te vertroetel sorg daarvoor dat niks van die verlede ooit tot rus kom nie. Sommige mense vertoon openlik hul griewe en vyandskap teenoor ander mense terwyl ander eenvoudig haat in hul harte koester. Hetsy dit nou is dat ons “ons kant” van die storie vertel sodat iemand met ons sal saamstem, om te probeer om iemand terug te kry of om in die geheim ’n grief teen iemand te hou wat ons in die verlede te nagekom het, verbied God se wet hierdie drie benaderings ewe sterk.

Wat staan ons dan te doen? Ons word gesê om na iemand wat gefouteer het te gaan en dit op so ’n manier aan hom uit te wys wat hom dalk van sy sonde sal kan oortuig. Ons moenie skinder, ander mense probeer straf of stilweg ’n grief vertroetel nie. Ons moet eerder die skuldige party daadwerklik konfronteer en probeer help. Dit is natuurlik dikwels makliker gesê as gedaan – trouens, die meeste mense is bang vir konfrontasie en probeer om dit te vermy. Tog is dit een van die doelgerigte opdragte wat in die “koninklike wet” van jou naaste liefhê soos jouself opgesom word. Hoe gaan ons te werk om hierdie aspek van die weg na vrede, behoorlik toe te pas?

Vreedsame Oplossing van Onenighede

In Mattheus 18 bespreek Christus hierdie selfde onderwerp met Sy dissipels. Hoe moet foute hanteer word om vrede eerder as konflik tot gevolg te hê? Dit is belangrik om te verstaan aangesien dit nie slegs die dinge wat ons tans in die Kerk van God moet leer en toepas behels nie, maar ook die dinge waarop ons onsself moet op voorberei om aan die hele mensdom te leer in die wêreld van môre.

Jesus Christus het die weg van vrede verduidelik deur te begin om die belangrikheid van ’n nederige, kinderlike gees te beklemtoon. Aangesien twis en onenigheid voortvloei uit hoogmoed, is dit belangrik dat Christus se dissipels deur nederigheid gekenmerk sal word. Hierdie gedagtegang moet verstaan word om ’n voorvereiste te wees vir al Christus se leringe wat volg.

Die volgende aangeleentheid wat lewensbelangrik is om te verstaan, is dié van aanstoot gee en neem. Wat beteken dit in hierdie verband om aanstoot te neem of te gee? Die Griekse woord skandalon is die oorsprong van die terme wat in Afrikaans as “aanstoot gee” of “te na kom” vertaal word. In die oorspronklike betekenis verwys dit na iets wat ’n val veroorsaak – m.a.w. ’n struikelblok of lokval. Lank voor Nuwe-Testamentiese tye het die woord hoofsaaklik verwys na iets wat veroorsaak dat iemand val of struikel in die lewe – iets wat inmeng met ’n egalige verloop van die lewe.

Jesus Christus Self was as ’n skandalon beskou deur dié wat ongehoorsaam was aan die evangelie (vgl. 1 Pet. 2:8). Die ongehoorsame het figuurlik oor God se Woord gestruikel, omdat Jesus en Sy boodskap inbreek gemaak het op hul lewensreis en dit vir hulle ongemaklik gemaak het. Skandalon word egter meer algemeen in ’n negatiewe konteks gebruik om gedrag te beskryf wat ander mense op ’n morele of geestelike wyse seermaak en veroorsaak dat hulle van “die reguit en smal” weg afval of struikel. Hoewel die wêreld sal sorg daarvoor dat daar geen tekort aan struikelblokke is om ons Christelike reis te bemoeilik nie, moet ons groot sorg dra dat ons eie gedrag nie ander mense in versoeking bring om te sondig of veroorsaak dat hulle struikel in hul pogings om saam met Christus te wandel nie. Ons moet ook bereid wees om alles te doen ten einde gesindhede in ons eie lewe wat kan veroorsaak dat ons sondig, uit te roei.

Christus, ons Goeie Herder, beklemtoon dan die belangrikheid wat Hy plaas daarop om enige van Sy skape te gaan soek wat gestruikel of verlore geraak het (verse 11-14). Dit demonstreer die hoë waarde wat God aan elkeen van Sy skape heg en moet die gesindheid wees waarmee ons ander wat teen ons gesondig het benader. Ons gaan nie na hulle toe om ons self te regverdig of om hulle te dwing om verskoning te vra omdat hulle ons gevoelens seergemaak het nie, hoewel hierdie spontane motiewe vir ons as mense is. Ons gaan na ons broer wat sondig met ’n begeerte om een wat afgedwaal het, te help terugbring!

Hierdie begeerte om ons broer te red is waarom Christus ons leer om nie eenvoudig “die saak te laat vaar nie”. Indien ’n persoonlike ontmoeting van aangesig tot aangesig nie daarin slaag om die nodige hulp te verleen wat nodig is om iemand weer op die regte pad te bring nie, moet ons teruggaan na hom toe met getuies om sy gedrag en die feite onbetwisbaar te bepaal. As hierdie tweede poging misluk, moet die saak onder die Kerk se aandag gebring word.

Sommige mense het verkeerdelik gedink dat om ’n saak “na die kerk” te neem beteken om dit voor die hele gemeente uit te lap. Dit is egter nie wat die Bybel beskryf nie. Om die saak “na die kerk” te neem beteken om na gesaghebbendes in die Kerk te gaan. Ons sien ’n uitbeelding daarvan in Handelinge 11:29-30, waar ’n kollekte in Antiochië vir die broeders in Judea opgeneem is. Vers 29 verduidelik dat die kollekte vir die broeders was, maar vers 30 verduidelik dat dit eintlik in die hande van die ouderlinge gegee is, wat weer op hulle beurt verantwoordelik is vir die verspreiding daarvan onder die broeders. Die ouderlinge is verantwoordelik daarvoor om na die gemeente om te sien (vgl. 1 Tim. 3:4-5), en tree namens die Kerk op. Die konteks van Mattheus 18 wys ook dat Christus met die Twaalf gepraat en hulle die gesag gegee het om bindende beslissings te maak. Dit moet duidelik in Christus se naam gedoen word; dit is, op Sy gesag gebaseer – nie op die idees en grille van mense nie.

Mattheus 18 sluit af deur die belangrikheid te beklemtoon om gewillig te wees om vergewensgesind te wees. Petrus het uit die aard van die saak gedink dat hy werklik Christus se punt verstaan het en grootmoedig aangebied om iemand sewe keer te vergewe wat teen hom gesondig het, maar Christus het aan hom verduidelik dat dit nie naastenby genoeg is nie. Christus het afgesluit met ’n gelykenis om te verduidelik hoe ons gewillig moet wees om iemand wat teen ons gesondig het te vergewe indien ons van God verwag om ons te vergewe. Die Griekse woord vir vergewe is aphiemi, wat letterlik beteken “om te los” of “om agter te laat”. Dit moet ons gesindheid wees.

Een ander belangrike aspek van die weg na vrede is die wyse waarop ons na ’n broeder gaan. Galasiërs 6:1 beklemtoon dat wanneer ons na ons broer gaan, ons motief herstelling moet wees en dat ons hom met ’n gesindheid van diepe nederigheid benader. Dit pas natuurlik presies in by die konteks van Mattheus 18, waar die klem dieselfde is: die belangrikheid van ’n kinderlike nederigheid en die belangrikheid wat God daarop plaas om die een wat afgedwaal het, te herstel.

Neem nou kennis van iets met ’n ander inslag wat Christus uitbring in die Bergpredikasie. In Mattheus 5:23-24 lê Hy klem daarop dat sodra ons agterkom dat iemand iets teen ons het, ons die inisiatief moet neem om versoening na te streef deur reguit na hom te gaan.

Waarom gaan ons na ons broer? Omdat ons besorg is oor hom! Ons word nooit aangesê om onsself te regverdig of om ’n argument of dispuut te wen nie. Wanneer ons agterkom dat vervreemding plaasgevind het, gaan ons om versoening te kry. Wanneer iemand ’n sonde teenoor ons gepleeg het, probeer ons nie om hom terug te kry of om hom in die moeilikheid te bring nie, maar eerder om ons fouterende broer terug te wen op die pad van geregtigheid.

In die hedendaagse samelewing probeer mense om hul eie belange te bevorder. Hulle ken eenvoudig nie, of het nie ’n diep waardering vir die weg na vrede nie. Wanneer mense slegs hul eie belange nastreef, veroorsaak dit selfsugtigheid in die wyse waarop hulle met ander omgaan, onenigheid op ’n persoonlike vlak en lei tot oorlog op nasionale vlak. Die weg na vrede begin met ons as individue, maar brei uit tot die hele gemeenskap en oor die hele wêreld.

Die wêreld van môre sal baie verskil van die hedendaagse. ’n Hele gemeenskap sal die weg na vrede leer, wat daarop gebaseer is om te leer hoe om ons naaste lief te hê en te waardeer. Christus het Sy dissipels ’n boodskap geleer wat gebaseer is op die regte toepassings van die regverdige wet wat Hy baie eeue tevore deur Moses geopenbaar het. God se weg was nog altyd die weg van liefde en Sy Woord vertel ons hoe om daardie beginsel op ’n praktiese wyse toe te pas in al ons doen en late met andere.