Het u al ooit wakker geskrik as gevolg van ’n onverwagte, dringende geklop aan u deur? U hart klop onmiddellik vinniger en u reageer baie haastig. Indien dit al met u gebeur het, hoop ek dit was ’n onbelangrike gebeurtenis wat u in die verbygaan kon hanteer. In hierdie era van toenemende misdaad, met inbegrip van huisinbrake wat aan die orde van die dag is, floreer die sekuriteitsbedryf met die installasie van alarmstelsels namate mense poog om hulleself en hulle eiendom te beskerm. Gesofistikeerde stelsels is nou beskikbaar om u bewus te maak daarvan dat iemand by u deur is, selfs wanneer u nie tuis is nie.

Selfs die Bybel spreek hierdie onderwerp aan. Jesus het dit byvoorbeeld so gestel: “Wanneer ’n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid” (Lukas 11:21). Salomo het hierdie raad gegee: “As ’n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf” (Spreuke 27:12).

Die meeste mense is bewus daarvan dat hulle blootgestel is aan fisiese verlies en probeer om skade of beserings te voorkom of om daarvoor voorsiening te maak deur versekeringsdekking. ’n Verskeidenheid versekeringspakkette en waarborge is beskikbaar om hierdie doel te bereik.

Geestelike dringendheid

Terwyl ons fisiese veiligheid en finansiële sekuriteit as belangrik ag, wat van geestelike sake soos ons waardes, sedes en verhouding met God? Onder die druk van besige, bedrywige lewens, ignoreer ons hierdie lewensbelangrike dimensie heeltemal of dit is baie laag op ons prioriteitslys. Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie. Jesus vra ons in Matthéüs 16:26: “Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?” Hy het gewaarsku: “... iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15).

In die besigheidswêreld, in die raadsale en ons akademiese instellings, blyk dit dat kennis of die bespreking van die God van die Bybel en Jesus Christus as die Messias, verbode is. Heelwat mense van die nuusmedia, vermaaklikheids- en besigheidswêreld minag enige verwysing na die Skepper.

Uitsonderings bestaan natuurlik, maar hulle is min en onvoldoende. Die hoofstroom Christendom het begin om dieselfde-geslag huwelike, “biseksuele” geslagsidentifikasies en verwante konsepte as moreel aanvaarbaar te beskou. Daardeur word die direkte Bybelse verbod daarvan verwerp. Aanklagte van seksuele mishandeling en die skokkende erkenning van misdrywe teister bekende godsdienstige denominasies.

Daar is ’n toenemende kommer omdat mense raaksien dat hulle lewens en kultuur nadelig deur afwykende en losbandige aktiwiteite rondom hulle geraak word. “Wat staan ons te doen?” Dit is ’n toepaslike vraag op hierdie tydstip in die geskiedenis. Die antwoorde word gevind in ’n boek wat waarskynlik op ’n boekrak in hulle huise is. Die profeet Jesaja het dit baie duidelik gemaak; “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

Jesus het in Sy hantering van die godsdienstige instelling van Sy tyd, sonder huiwering  vir Jesaja aangehaal: “Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie” (Matthéüs 13:14-15).

Die Wêreld van Môre praat van en verduidelik gereeld die Bybel se ewige waarhede op televisie, oor die Internet en in publikasies. Indien u oor hierdie belangrike onderwerpe lees en dit verstaan, is God moontlik besig om u verstand te open – soos net Hy kan. Die lees en begrip van hierdie waarhede gaan gepaard met ’n verantwoordelikheid.

Die boek Openbaring plaas ’n skerp fokus op die woorde van Jesus: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openbaring 3:20-22).

Hoor u die klop?