Swaarkry is per definisie ’n pynlike ervaring. Waarom sal God dit dus in die lewe van ’n Christen toelaat en dan selfs die voordele daarvan besing? Die onderwerp van lyding of swaarkry is baie ernstig en word dikwels misverstaan. Genadiglik gee God aan ons inligting wat noodsaaklik is om die onderwerp van swaarkry en hoe dit verband hou met wat Hy hier op Aarde doen, te verstaan. Wanneer ons na hierdie inligting kyk, moet ons kan erken dat ons gewillig is - dat ons ’n behoefte daaraan het - om swaar te kry. Swaarkry kan ’n seën wees en is ’n noodsaaklike deel van ons Christelike groei.

Geroepe tot swaarkry

Diegene van ons wat in God se Kerk is, moet verstaan dat ons deur God geroep is (2 Petrus 1:10). Ons het onsself nie sommer net “gewillig” verklaar om swaar te kry toe God ons geroep het nie, daarom moet ons verstaan wat die rol is wat swaarkry moet speel in die lewens van diegene wat geroep is. “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly - dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele” (1 Petrus 2:19-25).

Die gedagte dat ons tot swaarkry geroep is, is vir baie mense nie aangenaam nie. Dit ontstel ons dat ons soms selfs vir die goeie wat ons doen, moet swaarkry, omdat daar sommiges is wat teen ons sondig! Christus het gely en die Bybel sê dat ons Sy voorbeeld moet volg: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs - Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword” (Hebreërs 5:7-9).

Onthou dat Jesus geen sondes van Sy eie gehad het waarvoor Hy moes ly nie. Hy het slegs vir ander se sondes gely, maar Hy het eerstehands geleer hoe erg sonde ons beïnvloed en Hy het weens die sondes van ander gely, net soos ons vandag doen. Baie mense mag aanneem dat ’n alwetende God nie nodig sou hê om in die vlees te lewe, om persoonlik die gevolge van sonde te ervaar nie, maar die Bybel sê dat Jesus geleer het. Dwarsdeur Sy lewe het Christus eerstehands en persoonlik die gevolge van ander se sondes ervaar - en aan die einde van Sy lewe het Hy die mensdom se sondes op Homself geneem. Hoewel Hy geen sonde gepleeg het nie, het Hy vir alle sonde gely. Anders as Christus het ons wel gesondig. Soos Christus moet ons eerstehands ervaar dat sonde vreeslik is en die behoefte vir gehoorsaamheid aan God, alles is. Ons moet die punt bereik waar ons sonde so baie haat dat ons nooit ooit weer sal sondig nie - vir altyd!

Beproewing en versoeking

“Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. Moenie dwaal nie, my geliefde broeders” (Jakobus 1:13-16). Ons is “ingestel” om versoek te word, maar Christus het dieselfde probleme met versoeking gehad as wat ons het. “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:17-18). Christus het ook gelei as gevolg van dieselfde trekke van die menslike natuur wat ons het: “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15).

Christus moes sonde oorwin op presies dieselfde wyse waarop ons moet! Omdat Hy dit suksesvol kon doen, kan Hy nou ’n getroue Hoëpriester wees - ’n Bemiddelaar by God die Vader. Hy weet nie net hoe sleg sonde is nie, maar ook hoe moeilik dit is om in hierdie vlees nie te sondig nie! Hy kan Hom tot God die Vader wend en vir Hom verduidelik hoe desperaat ons pleidooie om hulp is, omdat Hy weet, soos die gesegde lui, “ervaring is die beste leermeester”. Hy kan ons bystaan op grond van Sy baie intense en persoonlike ervaring! Daarom moet ons Jesus Christus se ondervinding onthou wanneer ons bid. Ons kan Hom, as ons Hoëpriester, herinner hoe moeilik dit is om te oorwin. Ons kan Sy krag gebruik en op Sy bemiddeling staatmaak, sodat ons kan oorwin soos Hy oorwin het. Hy het oorwin en ons kan ook (Openbaring 3:21).

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ’n ander bemoei nie. Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade” (1 Petrus 4:12-19). Soos Jakobus skryf: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val” (Jakobus 1:2). Die apostels Petrus en Jakobus het nie van swaarkry weggeskram nie. Hulle skryf dat ons in reaksie op swaarkry ons moet “verheug” en “jubel”. Toe dit van hulle verwag was om vir geregtigheids-ontwil te ly (Mattheus 5:10-12; 1 Petrus 3:14), het hulle die geleentheid aangegryp en verstaan dat dit hulle as Christene tot voordeel sou strek (1 Petrus 4:16)!

Ons vind in Paulus se woorde die ewe belangrike, eerste verduideliking van ’n tweede rede waarom ons moet swaarkry. Die Bybel dui duidelik die sinnebeeld van verbranding van die waardelose dele van ons karakter aan: “Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels - elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Korintiërs 3:11-15). Hout, hooi en stoppels sal alles brand. Goud, silwer en kosbare stene sal nie. As ons dan, ten spyte van ons ware Christen verbintenis, in sommige areas die verkeerde karakter bou (die soort wat kan brand), sal ons daardie verlies ly in daardie “Dag” waarvan Paulus skryf. Ons sal steeds gered word, selfs al is dit deur vuur! Dit sal nie “goed voel” nie, maar hierdie soort lyding sal heilige, regverdige karakter voortbring!

Wat doen God?

U mag dalk dink: God kon sekerlik ’n manier vind om heilige en regverdige karakter in ons te bou sonder al hierdie swaarkry, maar mnr. Herbert W Armstrong het altyd gesê dat die een ding wat God nie kon doen nie was om onmiddellike, regverdige en goddelike karakter te skep. God het dit eerstehands gesien toe Lucifer gerebelleer en Satan geword het. Met die skepping van die mensdom het God ’n ander plan gemaak waarin diegene wat Hy geskep het, tussen God en Satan se weg, moes kies. Hy wil natuurlik hê ons moet “lewe kies” - en vertel ons so (Deuteronomium 30:19). Om ons te help om die lesse van sonde teenoor regverdigheid in ons karakter vas te messel, laat Hy toe dat ons al die swaarkry wat sonde skep, ervaar. Ons word deur die gevolge van ons sondes, die gevolge van ander se sondes en ook deur God regstreeks, indien nodig, getug. “Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:9-11). God weet dat al hierdie swaarkry vir ons pynlik is, maar indien ons deur hierdie teregwysing geleer word, sal dit die vreedsame vrug van regverdigheid voortbring. Met hierdie “groter beeld” ingedagte, noem Paulus dit alles “ligte verdrukking” (2 Korintiërs 4:17). Dit is natuurlik moeilik om daardie perspektief te behou wanneer ons te midde van al die swaarkry is!

God verduidelik presies wat dit is wat Hy deur ons swaarkry probeer bereik. Hy gebruik dit om vir ons te leer dat ons Sy plan van saligmaking moet volg en Sy heilige en regverdige karakter moet bou! Hy hoop dat ons swaarkry, as gevolg van sonde, ons sal laat ophou! Ons is Sy kinders “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe - nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het - in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam” (Romeine 8:17-23).

Kan ons dus God se doel met ons swaarkry sien? Deur swaarkry weens ons eie sondes en weens die sondes van andere, moet ons die pynlike gevolge van sonde leer - en onsself motiveer om op te hou sondig (1 Petrus 4:1). Christene is inderdaad geroep tot swaarkry (1 Petrus 2:21), maar ons moet onthou dat God die “Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3) genoem word. Hoe kan ons dit byeen bring dat God genadig is en tog die swaarkry, korreksie en beproewings toelaat, waarvan ons gepraat het? Die Bybel verduidelik: “En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee wat sy gevra het, bo wat hy haar na die vermoë van koning Salomo gegee het. Daarop het sy omgedraai en na haar land getrek, sy en haar dienaars” (1 Korintiërs 10:13). God begeer hartstogtelik om ons te red, nie te vernietig nie! “Want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek” (Lukas 9:56). Hy is pynlik bewus daarvan wanneer ons swaarkry en Hy weet dat swaarkry - eerstens Christus s’n en nou ons s’n - absoluut noodsaaklik vir saligmaking is! Wanneer beproewings kom kan ons vertroos word in die wete dat God daardie beproewings gebruik om ons voor te berei vir ’n ewige plek in Sy Familie. Met dit in gedagte moet ons dit “louter vreugde ag” en God dank vir al Sy seëninge - selfs die seën van swaarkry!