Die hoogs aangeskrewe moderne filosoof, Søren Kierkegaard, skryf in sy AttackUpon Christendom: “Die Christelikheid van die Nuwe Testament bestaan eenvoudig nie. Miljoene mense het deur die eeue God bietjie vir bietjie uit Christelikheid gekul en het daarin geslaag om Christelikheid presies die teenoorgestelde te maak as wat dit in die Nuwe Testament is”.

Dit is nodig dat elkeen van ons dus dit wat ons glo, bewys deur werklik die Bybel te bestudeer. Dit is nodig dat ons aanvaar wat die Bybel sê, eerder as om ons eie vooropgestelde idees in die Bybel in te lees.

Dink vir ’n oomblik na. Waarom is die belydende Christendom in meer as 400 kompeterende denominasies en sektes verdeel? Waarom het kerke wat hulleself Christelik noem, soveel verskillende oortuigings en praktyke? Kan dit wees dat God die outeur van verwarring is, of is daar dalk ’n ander verduideliking?

Baie mense sal andere mislei

Dink aan die waarskuwing wat Christus Self gegee het: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24:5). Jesus het nie hier gesê dat slegs enkele mense in Sy naam kom nie, maar eerder dat “baie sal kom!” Hulle kom as “Christelike” predikers, verkondig Jesus as die Christus, nogtans bedrieg hulle baie mense! Met ander woorde, daar sal ’n massa-misleiding wees, gebaseer op die valse onderrig van die baie mense wat sal beweer dat hulle “in Jesus se Naam” kom.

Eerlikwaar, dit is maklik vir godsdienstige leermeesters om die Naam van die Seun van God vir hulle self toe te eien as ’n dekmantel vir hulle persoonlike leerstellings; of wat ookal hulle sê enige verband hou met die ware Jesus se lewe of leerstellings! Dit is waarom die apostel Paulus ons vermaan: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Elkeen van ons is verantwoordelik om self “seker te maak” oor die leerstellings wat aan ons geleer word – wat ook al die bron. Moenie onverskillige aannames maak nie! Maak seker dat u weet wat die Bybel werklik sê!

Paulus vermaan ons verder: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4). Met ander woorde, Paulus het gevrees dat sommige lidmate van die Kerk van sy dag die prooi sou word van “valse” predikers en ’n valse evangelie en gevolglik ook ’n valse Christus sou aanvaar!

Wat van u? Is dit moontlik dat u ook met ’n “ander Jesus” tevrede is? Kon u mislei gewees het om in ’n valse voorstelling van Christus te glo, saam met ’n valse boodskap wat bloot voorgee dat dit van die ware Jesus gekom het? Hoe kan ons weet wat waar is en wat nie?

Weereens, dit is nodig dat ons die Bybel werklik bestudeer om ware begrip te verkry. Dit is nodig dat ons gewillig is en met ’n oop gemoed oorweeg of ons dalk die “tradisies van mense” gevolg het eerder as die gebooie van God (Mattheus 15:3).

Hoe om te studeer

Indien ons die Bybel bestudeer, is dit nodig dat ons leer dat die Bybel die Bybel self interpreteer. Met ander woorde, indien iets onduidelik is, dan behoort ons toe te laat dat eenvoudige, duidelike verse ons help om wat nie so duidelik is nie, te verstaan. Dit is nodig dat ons ook leer om die Bybel van die begin tot einde te bestudeer, soos ons met enige ander boek sou doen. Baie mense spring eenvoudig hier en daar rond en lees sentimentele verse van aanmoediging. Terwyl dit dalk met tye mag help, gee ditnie ware begrip van die hele plan en doel van God wat Hy in Sy handleiding, die Bybel, vir die mensdom uiteensit nie.

Begin met bestudering van die Evangelie van Mattheus, die eerste boek van die Nuwe Testament. Lees stadig regdeur Mattheus en merk wat volgens u die belangrike verse is. Die volgende dag, hersien u dan hierdie verse wat u bestudeer het en lees stadig nog ’n paar hoofstukke by, terwyl u nadink en merk. Op hierdie manier sal u vertroud raak met wat die Bybel werklik sê, nie wat misleide mense aan u vertel wat gesê word nie!

Vra God dan in vurige persoonlike gebed om aan u begrip te gee. Wees bereid om die Christenskap van Christus na te volg, ongeag wat ookal gebeur. Onthou altyd die apostel Paulus se belangrike stelling: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Sal Christus, deur die Heilige Gees wat Hy belowe, dieselfde soort lewe in u leef as wat Hy meer as 1,900 jaar gelede in die menslike vlees geleef het? Hebreërs 13:8 sê aan ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”. Het Christus die Tien Gebooie onderhou terwyl Hy in die menslike vlees was? Johannes 15:10 sê aan ons: “... soos Ek die gebooie van my Vader bewaar [het]”.

Waar het u dus u godsdiens vandaan gekry? Hoe het dit gekom dat u die dinge glo wat u glo? Het u u godsdienstige konsepte in die Bybel gekry, of het u u godsdienstige idees van familie en vriende gekry?

Eerlikwaar, die meeste mense kry nie hulle godsdiens uit die Bybel nie. Dit kan seermaak om dit te erken. Dit kan egter maklik in die oorgrote meerderheid gevalle bewys word.

Sal u verander?

Dit is vir die meeste mense baie moeilik om te erken dat hulle verkeerd is. Menslike trots weerhou ’n mens daarvan om dit te doen. Volgens die geïnspireerde Woord van God, is dit tog die beginpunt van ware Christenskap. Nadat Jesus Christus Sy bediening begin het, het Hy gereeld aan Sy luisteraars gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheus 4:17). Ons lees in die Evangelie van Markus: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Jesus het later weer gesê: “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:5).

Die woord “bekeer” beteken om te verander. Weereens, die meeste mense is nie gewillig om te erken dat hulle verkeerd is nie en hulle wil sekerlik nie verander nie! Soos sir Winston Churchill gesê het voordat hy die Laerhuis toegespreek het: “Mense struikel soms oor die waarheid, maar die meeste van hulle staan net op en haas hulle verder asof niks gebeur het nie”.

Indien God dit duidelik gemaak het hoe om Sy ryk finansiële seëninge te verkry, sal u doen wat Hy vereis om dit te verkry? Lees my artikel: “Sal God u en u finansies seën?” elders in hierdie uitgawe. Sal u Christus se opdrag om te “waak” uitvoer indien die eindtydse profetiese gebeure begin om teen ’n steeds vinniger tempo vervul te word, namate ons die tyd van Christus se Wederkoms nader? Lees mnr. Richard Ames se artikel, “Profetiese Ontwikkeling vir 2015”, elders in hierdie uitgawe. Lees elke artikel in hierdie uitgawe en bestudeer die Skrifverwysings waarna elke outeur verwys. Die Skrif is die persoonlike gedagtes van God in gedrukte vorm en namate u meer met die Woord van God vertroud raak en leer hoe om dit in u lewe toe te pas, sal u nader aan u Verlosser groei en Sy seëninge ervaar soos nog nooit tevore nie. Moet dus nie hierdie groot geleentheid verbeur wat God aan u gee om te leer en te verander en te groei nie!

Namate die einde van hierdie tydvak nader kom, mag God u help om Sy geïnspireerde Woord te bestudeer en te bewys dat wat u glo uit die Bybel kom. Dan sal u op ’n stewige fondament staan. U sal leer om God, asook die opgestane Jesus Christus wat aan God se regterhand sit, op ’n manier wat u nog nooit voorheen beleef het nie, werklik te leer ken.