Koning Dawid, die vegter-digter van antieke Israel, het een aand opgekyk na die naghemel en gevra: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4-5).

Wanneer ons die tyd afstaan om na te dink oor die ontsaglike omvang van die heelal rondom ons, is dit ’n baie natuurlike vraag om te vra: Presies hoe groot is die fisiese skepping rondom ons? Watter lesse kan ons hieruit leer?

Selfs al sou ons slegs dit wat ons bo ons in die naghemel kan sien in ag neem, sal die grootte van die heelal baie indrukwekkend lyk! Op ’n maanlose, wolklose nag, weg van die stad se liggies, skat sterrekundiges dat ’n mens tussen 3,000 tot 5,000 sterre kan sien – glinsterende, skitterende edelgesteentes teen ’n donker fluweel agtergrond! Die meeste sou sterre wees soos ons son, maar wat wissel in grootte, kleur en eienskappe, sommige met planetêre stelsels, wat nie baie verskil van ons eie sonnestelsel nie.

Die heelal is egter nie beperk tot wat ons oë sien nie! ’n Aanduiding van ’n groter kosmos begroet die nagtelike kyker in die vorm van die Melkweg – ’n helder, maar vae newelagtige strook lig wat strek van een horison tot die ander een. Wanneer ons deur die breedte van ons eie sterrestelsel kyk, is daardie sigbare strook ’n ontsaglike groot versameling sterre, gasagtige newels en ander kosmiese voorwerpe wat oor 100,000 ligjare heen strek – dit beteken dat dit ’n straal lig ’n duisend eeue sal neem om van een kant tot die ander kant te trek!

Miljoene der miljoene sterre

Wetenskaplikes beraam dat ons sterrestelsel 100 miljard of meer sterre bevat! Dit beteken dat indien die ganse heelal slegs daaruit sou bestaan, dan sou daar meer as een ster gewees het vir elke mens wat al ooit hierdie aarde bewandel het!

Daar is nogtans soveel meer verbonde aan God se groot skepping! Wanneer sterrekundiges hulle teleskope hemelwaarts in enige rigting sou rig, vind hulle ontelbarebykomende sterrestelsels anderkant ons Melkweg, daar ver in die verafgeleë dele van die intergalaktiese ruimte! Sommige mense meen dat daar 100 miljard sterrestelsels in die heelal is wat altesaam soveel is as 300 sextillion – dit is ’n 3 gevolg deur 23 nulle met ander woorde, 300,000,000,000,000,000,000,000!

So ’n getal oorskry die grense van ons verbeelding en daag ons byna uit oor ons vermoë om te visualiseer! Dit is moeilik genoeg om sommige aardgebonde verskynsels te visualiseer, soos die aantal sandkorrels op die strande van ons planeet – een merkwaardige skatting stel die getal op ongeveer 7,5 quintillion korrels. Volgens daardie skatting sal dit die strande van 40,000 aardes neem om genoeg sand op te lewer om gelykstaande te wees aan die getal sterre in die kosmos! Dit alles is in ’n heelal wat volgens wetenskaplikes na raming 91 miljard ligjare in deursnee is!

Voorwaar, die heelal is ’n groot plek!

’n Groot Skepper

Indien die omvang van die uitgestrekte skepping in ag geneem word, wat sou dit ons van die Skepper vertel? Die apostel Paulus sê met betrekking tot diegene wat Hom ontken “... sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20).

Trouens, wanneer ons dink aan die geweldige grootsheid van die kosmos – die versameling sterre en wêrelde wat ons in die nagtelike hemel met die blote oog kan raaksien en die verbasende groter heelal wat onsigbaar daaragter lê – word ons nederig deur die Skrif wat aan ons sê: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name” (Psalm 147:4). Hy gee hulle almal name! Waarlik, “Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig” (vers 5)!

Indien die skepping dan so groot is, moet sy Skepper onmeetbaar groter wees! Ons moet onthou dat die heerlikheid wat geopenbaar word deur die werke van Sy hande, slegs ’n klein aanduiding is van die ware heerlikheid van die Almagtige God! Die patriarg Job sê aan ons: “Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan?” (Job 26:14 NV).

Net soos die omvang en skaal van ons ongelooflike kosmos ons laat wonder oor God, behoort dit ons ook te laat wonder oor ons eie plek daarin. Soos voorheen aangeteken het koning Dawid op ’n keer gewonder oor God se liefde en besorgdheid vir die mens. “U het hom ... met eer en heerlikheid gekroon” het Dawid aangeteken. “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel” (Psalm 8:6-7).

Onderwerping van alle dinge

Sluit die heerskappy oor die werke van God se hande wat aan die mensdom gegee sal word, die afgeleë en skynbaar eindelose heelal in – ster op ster en wêreld op wêreld – verder as ons planeet? Inderdaad! Die apostel Paulus het hierdie woorde van Dawid aangehaal en daaroor nagedink. Hy het geskryf van die lotsbestemming van die mensdom as volkome kinders van God en gesê: “Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:8).

Albei hierdie wêrelde, binne asook tans buite ons sig wanneer ons na die sterbelaaide naghemel kyk, sal ons eendag erf om te ontwikkel en mooi te maak vir die heerlikheid van God, as kinders binne die ware huisgesin van God! Die grootsheid van die heelal vertel aan ons dat ’n bestemming wat ver bo ons verbeelding is, op die mensdom wag!

Ons bleek blou kolletjie

Terwyl Carl Sagan gepeins het oor ’n foto wat deur die verre ruimtetuig Voyager 1 geneem is en waarop die aarde vertoon word as ’n bleek, blou kolletjie teen die enorme donker leegheid van die ruimte, het hierdie beroemde sterrekundige eenmaal geskryf: “Ons grootheidswaan, ons vermeende eie belangrikheid, die misleiding dat ons ’n sekere bevoorregte posisie in die heelal beklee, word gekonfronteer deur hierdie kolletjie van bleek lig. Ons planeet is ’n eensame spikkel in die groot omvattende kosmiese donkerheid. In ons onbekendheid – in al hierdie uitgestrektheid – is daar geen aanduiding dat hulp van elders sal kom om ons van onsself te red nie” (Pale Blue Dot, bl. 7).

Terwyl ons die grootsheid van ons heelal oordink, behoort ons nogtans te onthou hoe nederig en hoe klein ons werklik is, kon Sagan nie verder van die waarheid af gewees het nie. Wanneer ’n mens nadink oor die onpeilbare omvang van die kosmos, behoort dit ons ook te verplig om die onbegryplike mag van die skepping se Skepper te besef en dat dit Hy is wat “alle dinge [die algehele kosmos!] dra deur die woord van Sy krag” (Hebreërs 1:3)! Sulke beskouings behoort ons ook daaraan te herinner dat die skepping die God-geordende erfenis is vir diegene wat in hierdie tyd toelaat dat God hulle vorm en hulle karakter beitel na Sy eie gelykenis – om hulle Sy eie kosbare kinders te maak.

Diegene wat geroep is om kinders van God te wees, sal elke keer wanneer hulle na die nagtelike hemel opkyk, die kleinste en dofste van aanduidings van hulle glorieryke toekoms in die gesin van God sien!