Die meeste beleidende Christelike kerke glo vandag dat hulle Christus se opdrag uitvoer wat lui: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15). Baie opregte pogings is aangewend om ’n evangelie van genade te verkondig - God is lief vir elkeen, Christus het gesterf om sondaars te red en deur Jesus as u verlosser te aanvaar gaan u hemel toe. Wat die meeste beleidende Christene egter nie besef nie is dat hulle ’n ander evangelie aanvaar het en propageer as wat Jesus en die Apostels verkondig het! Bybelprofesie openbaar dat die evangelie van Christus verdraai sal word, dat die wêreld mislei sal word om ’n vals evangelie te glo, maar dat die ware evangelie herstel en verkondig sal word net voor die terugkeer van Jesus Christus. Daardie profesieë word vandag bewaarheid!

Die Ware Evangelie

Dit is insiggewend om die evangelie wat Jesus Christus verkondig het te vergelyk met die evangelie wat nou in die kerke gepreek word. Jesus het nie rond gegaan en mense gevra om hulle harte aan die Here te gee, en dan ’n kort gebed gedoen sodat hulle gered kan word nie. Menigte Skrifte gee duidelik dieselfde boodskap - dat “Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê [het]: ... die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:14-15; Matt. 4:17, 23). In die boek van Mattheus verwys Jesus slegs drie keer na sy komende dood en opwekking, Hy verwys egter meer as 30 keer na die komende koninkryk van God! Markus en Lukas doen dieselfde beklemtoning. Jesus het dit aan Sy dissipels opgedra, “En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig (Luk. 9:2). Jesus het geleer dat, diegene wat tot bekering gekom en nederig en leerbaar geword het, “is die grootste in die koninkryk van die hemele” (Matt. 1:1-5). Jesus het Sy apostels belowe dat “julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” in die komende koninkryk (Matt. 19:23-30). Gedurende Christus se verskyning aan Sy dissipels na Sy opstanding, was die koninkryk van God die hoof onderwerp van bespreking (Hand. 1:1-7).

Die Apostels het dieselfde boodskap verkondig. Toe Filippus na Samaria gegaan het, het hy “die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig” (Hand. 8:12). Aan die einde van sy bediening het Paulus steeds “die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee … aangaande die Here Jesus Christus” (Hand. 28:23, 31). Die apostel Johannes verduidelik dat die gelowiges “konings en priesters vir onse God gemaak [word], en ons sal as konings op die aarde heers” saam met Christus gedurende die millenium (Op. 1:4-8; 5:10; 20:4-6). Die Bybel sê dat, buiten Jesus, “niemand … opgevaar [het] in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Joh. 3:13), nie eers Koning Dawid nie (Hand. 2:29-34; 13:36). Ons behoort te vra hoekom hierdie evangelie nie vandag gepreek word nie? Wat het van die boodskap geword wat Jesus en Sy Apostels verkondig het?

'n Ander Evangelie

Jesus waarsku, “pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom” - wat as Christelike onderwysers voorkom maar verkeerde idees versprei (Matt. 7:15-19). Hy het ook voorspel dat daar aan die einde van hierdie tydperk baie sal kom “onder my Naam ... en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:3-5, 11). Die apostel Paulus het die ouderlinge in Efese vermaan dat “na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde [misleidende] dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:28-31). Paulus het die Korinthiërs gewaarsku om nie mislei te word deur mense wat “’n ander Jesus verkondig ... ’n ander gees ontvang ... of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het” nie (2 Kor. 11:1-4). Die verdraaiing van die ware evangelie het egter reeds in die dae van die Apostels begin!

In ’n brief aan die kerk in Galasië, geskryf ongeveer 52 n.C., sê Paulus, “EK verwonder my dat julle so gou afvallig word ... na ’n ander evangelie toe ... daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal. 1:6-7). In hierdie geval het vals leraars daarop aangedring dat ’n man eers besny moes word om ’n Christen te kon word - wat nie waar is nie (Gal. 2:3-5; 5:1-15). In hierdie hoofstukke stel Paulus dit dat niemand geregverdig kan word deur die werke van die wet nie (rituele wassinge, ens., sien Biblical Archeological Review, Nov-Des 1994). Valse leraars het egter later hierdie verse verdraai en geleer dat dit nie nodig is vir Christene om die Tien Gebooie, die Bybelse Sabbat en die Heilige Dae te onderhou nie omdat hierdie wette ’n vloek is! Tog het Christus die gebooie, die Sabbat en die Heilige Dae onderhou en geleer dat ons dit ook moet doen (Matt. 19:16-22; Joh. 14:15; Luk. 2:41-42; 4:16; Joh. 7:8-10). Sy dissipels het gevolg en dieselfde dinge geleer (sien Hand. 13:42-44; 17:2; 18:21; Rom. 2:13; 1 Kor. 5:8).

Teenstrydig met wat baie vandag glo en leer, is die ware evangelie wat Jesus en Sy Apostels verkondig het gedurende die eerste eeue van die kerk verdraai. ’n Vals evangelie oor Jesus word aan die niksvermoedende wêreld afgesmeer. Wat aanvaar word as hoofstroom Christelikheid vandag is ’n verdraaide weergawe van die evangelie wat baie heidense idees geabsorbeer het. Dit is nie ’n ongegronde of onverantwoordelike stelling nie. Die Encyclopedia Britannica maak hierdie onthullende stelling, “oorgeplant op die Griekse wêreldsiening, was die Christelike lering onvermydelik aangepas - in werklikheid omvorm ... Messiaanse hoop was vergete ... die begrip van die koninkryk van Christus op aarde ... het so te sê alles verdwyn, oorblywend alleen as die geloof van onbekende groepe ... die weg van redding was aangepas, so ook die idee van redding ... vernaamlik nadat die Romeinse Ryk saligmakende Christelikheid aangeneem het ... redding was hierna nie die neerdaling van die Nuwe Jerusalem uit die hemel nie, maar die opvaring van die heiliges na die hemel, vir die indiwidu is dit nie die opstanding van die fisiese liggaam nie, maar die onsterflikheid van die siel” (“Christianity” 11th ed.).

Geskiedskrywer, Edward Gibbon, maak ’n soortgelyke waarneming. Hy skryf dat die leerstelling van die millennium - die aardse heerskappy van Christus en die heiliges in die koninkryk van God - versigtig geleer was deur vroeë Kerk teoloë en dat dit wil voorkom dat dit die heersende gevoel was van die ortodokse gelowiges - hierdie fundamentele lering was egter oorboord gegooi (The Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk 15). Hy sê, “Die leerstelling van Christus se heerskappy op aarde was eers beskou as ’n groot sinnebeeld, daarna geleidelik as twyfelagtig en waardeloos, en ten einde verwerp as die onsinnige uitvinding van dwaalleer en dweepsug” (ibid). Dit is wat met die ware evangelie gebeur het! Gibbon boekstaaf ook dat die vroeë Kerk “die wet van Moses verenig het met die leerstelling van Christus ... die onsterflikheid van die siel verwerp het as ’n opinie wat geen steun kry van die goddelike boek nie” en heidense gebruike soos Saturnalia verafsku het - wat nou onderhou word as kersfees (ibid.) - hierdie word egter nou gesien as die grondleerstellings van die hoofstroom Christendom!

Die Bybel openbaar dat verskeie sleutel gebeurtenisse sal plaasvind net voor die einde van hierdie tydperk. Jesus het gesê dat die verkondiging van die ware evangelie die weg sal voorberei vir Sy wederkoms. Hy het geprofeteer dat “hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Die tydskrif wat u in u hande hou is deel van daardie deurlopende getuienis - ’n getuienis wat vir meer as ’n halwe eeu in druk die ware evangelie verkondig aan miljoene rondom die wêreld. Die Tomorrow's World uitsending en die www.tomorrowsworld.org Webwerf is ook sleutel aspekte van daardie voorspelde getuienis. Om meer uit te vind omtrent hierdie uiters belangrike onderwerp, vra ons gratis boekie Do You Believe the True Gospel? aan. Hierdie belangrike profesieë word vandag bewaarheid!