Die gebeure wat die lot van nasies en kontinente vorm is nie toevallig nie. Dit is ook nie sonder ’n doel nie. God is besig om Sy plan uit te werk.

Heelwat mense neem aan dat die opkoms en ondergang van nasies en belangrike gebeure in die geskiedenis net ’n kwessie van toeval is – om gelukkig te wees – terwyl ander weer sinnelose historiese patrone en tendense aan die werk sien. Tog sien ander mense weer ’n “wonderlike sin van doel ... asof daar ’n plan was” – veral in die verskyning van Europa, die opkoms en wêreldwye verspreiding van die tradisionele Christendom en die impak van die Westerse beskawing op die wêreld (The Miracle of Freedom: Seven Tipping Points That Saved The World, Stewart & Stewart, bl. vi). Min mense verstaan vandag dat God ’n plan het (Psalm 33:10-11) en dat Hy die verloop van geskiedenis lei deur konings uit hulle amp te verwyder en hulle op kritieke tye in die geskiedenis van die menslike beskawing in hulle amp aan te stel (Daniël 2:21). In hierdie artikel sal ons na ’n reeks ingewikkelde en onwaarskynlike gebeure kyk wat die weg vir die opkoms van Europa asook die verspreiding van histories Christelike denke en waardes regoor die wêreld gebaan het.

Voorbereiding van die weg

Die verhaal van God se plan vir Europa en die Weste begin in Génesis 12:1-3 en 13:16 met profetiese beloftes wat God aan Abram (of Abraham) gemaak het. Sy nageslag sou vermeerder en groot word en ’n seën vir die mense van die aarde wees. Hierdie beloftes is na Abraham se kleinseun Jakob uitgebrei en oorgedra, wie se twaalf seuns die stamvaders van die twaalf stamme van Israel geword het (Génesis 35:9-12). God het aan die Israeliete ’n unieke stel Wette gegee sodat hulle ’n lig vir die wêreld kon wees, maar ongelukkig het hulle versuim om volgens daardie Wette te leef en is in ballingskap weggevoer. Die noordelike tien stamme is ongeveer rondom 721 v.C. na Assirië weggevoer en die nasie van Juda rondom 586 v.C. na Babilon. Die merkwaardige bewaring van die Jode onder die Persiese Ryk (sien die boek Ester) en hulle terugkeer na Jerusalem na 70 jaar in ballingskap, het die profetiese geboorte van die Messias, Jesus Christus, moontlik gemaak. Sy leerstellings is die grondslag van ware Christenskap. Ná die val van die Assiriese Ryk het die tien stamme van Israel nooit weer na hulle ou geboorteland teruggekeer nie, maar na noordwes-Europa migreer. Daar sou hulle uitbrei en die seëninge inoes wat aan Abraham beloof was – seëninge wat geprofeteer was om met die mense van die wêreld te deel.

Wanneer ons die geskiedenis in oënskou neem, merk ons hoe God wonderbaarlik by verskeie kritieke keerpunte ingegryp het om Europa voor te berei as ’n plek waar Sy doel vir Israel vervul kon word. In 480 v.C. het Xerxes, die koning van die magtige Persiese Ryk, ’n massiewe inval van stapel gestuur om Griekeland te verower en uiteindelik die hele Europa onder sy beheer te bring. ’n Klein krygsmag dapper Grieke het hom egter by die nou Thermopylae wigpunt vertraag terwyl ’n berekende Griekse vloot die Persiese vloot in die smal kanaal by Salamis vernietig het en só die Weste van Persiese oorheersing gered het. Die onverwagte uitslag van hierdie twee gevegte het die verloop van die geskiedenis verander deur die Griekse kultuur toe te laat om idees van selfregering, vryheid van die individu, onderwys, die logika en bevordering van kuns en wetenskap uit te brei. Dit sou uiteindelik die Westerse beskawing afsonder van die res van die wêreld. Later het die oorwinnings van Alexander die Grote en die verspreiding van die Griekse taal die verspreiding van die Christendom vergemaklik. Indien die Perse hierdie twee belangrike veldslae gewen het, sou die Weste waarskynlik ’n ander taal gepraat het, ’n ander godsdiens gevolg het en heel waarskynlik verskillende waardes gehad het asook nie die vryheid geniet het waaroor dit vandag beskik nie (Stewart & Stewart, hoofstuk 2).

Tydens die slag van die Milviaanse Brug in 312 v.C. sien ons nog ’n deurslaggewende oomblik wat God gebruik het om Europa te vorm. Daar het die Romeinse keiser Konstantyn ’n mededingende keiser verslaan, gedeeltelik as gevolg van ’n rampspoedige militêre fout deur ’n opponerende keiser wat volgens sommige mense deur ’n “visioen” mislei is. Konstantyn se oorwinning het tot sy sogenaamde “bekering” en dekrete gelei wat die vervolging van Christene verbied het (sien Stewart & Stewart hoofstuk 3). Die “Christendom” wat deur Konstantyn bevorder is, het baie heidense gebruike en idees aangeneem, maar die keiser het ook die publikasie van Bybels bevorder – die effek was meer openbare blootstelling aan die leerstellings van Jesus Christus. Gevolglik het Europa al hoe meer ’n algemene “Christelike” perspektief verkry. Selfs voor Konstantyn se tyd was dit moontlik om die ware Evangelie van Jesus Christus oor Romeinse paaie gedurende die Pax Romana te versprei – ’n tydperk van relatiewe vrede oor die hele Ryk van 30 v.C. tot 180 n.C. (sien die boek Handelinge en Lessons of History, Durant, bl. 69).

Verdediging van die land

God se hand was by nog twee geleenthede duidelik sigbaar waartydens die verloop van Europese geskiedenis in ’n heel ander rigting kon draai. Gedurende die herfs van 732 n.C. het “Charles Martel ’n magtige en oënskynlik onstuitbare Islamitiese weermag” tydens die slag van Poitiers in sentraal-Frankryk verslaan (Stewart & Stewart, bl. 18). In die vorige eeu het Moslem leërmagte uit Arabië verskyn en Persië, Egipte en die helfte van die Romeinse Ryk oorrompel. Die volke wat hulle verower het is vermoor, geplunder en tot slawerny gedwing terwyl die mense wat hulle oorwin het, met geweld gedwing is om Allah te aanbid. As gevolg hiervan het die ware Christenskap en die invloed van Roomse verbastering tesame met Judaïsme byna in hierdie verowerde lande verdwyn. Tydens die gevegte by Poitiers is die leier van die invallende leërmag egter doodgemaak en “daardie nag – wat regtig onverklaarbaar is – het die Moslems onverwags hulle kamp verlaat” en na Spanje begin terugval (bll. 170-171). Indien die Moslem leërmagte Europa verower het, sou Allah op die vasteland aanbid word in plek van enigiets wat Christelik of Bybelse godsdiens is. Godsdiensvryheid en menseregte sou feitlik nie bestaan het nie. Europa se siviele wette sou op die Koran gebaseer wees en vroue se status sou waarskynlik dramaties anders gewees het. Die bekende Duitse geskiedkundige, Leopold von Ranke, skryf dat die oorwinning van Charles Martel by Poitiers “die keerpunt van een van die belangrikste tydperke in die geskiedenis van die wêreld was”, omdat dié veldslag Europa as ’n kontinent bewaar het, gewortel in die kultuur en karakter van geskiedkundige Christendom (bl. 141).

Die finale bedreiging vir die verskyning van Europese “Christendom” wat die wêreld sou verander het, was die Mongoolse inval in 1236 n.C. – ’n tyd toe die stede en nasies van Europa uit die Donker Eeue ontwaak het. Handel, nywerheid, bankwese en industrië het gegroei, universiteite is gestig en wetenskap het begin ontwikkel. Nadat China en Indië verower is en ’n spoor van verwoesting oor Sentraal-Asië gelaat is, het die Mongoolse leër weswaarts opgeruk. Daar het hulle ’n magtige Hongaarse weermag verslaan, die land geplunder en duisende mense tot slawerny gedwing – veral vakmanne en professionele persone. Die vernielsugtige invallers het gehoop om Wenen en daarna Rome, Parys en Londen te verower. Nietemin, terwyl die Mongoolse leër die stad van Wenen genader het, het die Groot Khan van Mongolië en sy seun onverwags saam gesterf. Met blykbaar geen erfgenaam nie, het die Mongoolse koninklikes en hulle leërmagte Europa verlaat en huiswaarts gekeer. Die fokus was op die stryd oor wie die volgende Khan sou word en hulle het nooit weer teruggekeer nie (Stewart & Stewart, bl. 203). Sou die Mongoolse inval geslaag het, sou die hele Europa – die land waar die migrerende Israeliete gevestig was – verwoes word en die bydrae aan die wêreld wat uit Europese “Christendom” voortgespruit het, sou nooit plaasgevind het nie. God het ’n plan vir Europa soos wat ons in toekomstige artikels sal sien!