Bybelprofesieë onthul dat God binnekort vrede na die aarde gaan bring vir ’n duisend jaar. Sal u gereed wees?


Nie lank gelede nie was baie mense bekommerd dat die jaar 2000 die einde-van-die-wêreld rampe gaan inlui. Van die “Y2K probleem” tot scenarios van kern verwoesting, sterrereën en self Christus se Wederkoms na die aarde het party mense verwag dat die wêreld dramaties gaan verander met die begin van die “Nuwe Millennium”.

Niks het gebeur nie. Die wêreld het inteendeel voortgegaan met sy eertydse siklus van oorlog, haat en geweld. Christene sien egter uit na die koms van die “werklike” Millennium: die tyd wanneer Jesus Christus gaan terugkeer om die Koninkryk van God en vrede op aarde gaan vestig vir ’n duisend jaar voor Sy oordeel oor die hele mensdom. Bid u dat die Koninkryk van God moet kom? (Mattheus 6:10).

Deesdae word dosyne oorloë gevoer tussen en binne nasies se eie geledere. Die tragedie van 11 September 2001 was ’n oproep tot bewuswording aan ons dat die Westerse wêreld baie kwesbaar is, maar daar is hoop vir ons planeet! Daardie hoop is in die werklike Millennium wat u Bybel belowe. Wanneer sal daardie Millennium begin?

In Openbaring onthul Jesus Christus die volgorde van eindtyd gebeure wat sal lei tot Sy Wederkoms en Sy Duisendjarige Ryk op aarde. God beloof ’n wonderlike toekoms aan ware Christene wat hulle tot Hom wend voor Sy Wederkoms. Hulle sal saam met Christus op aarde regeer vir ’n duisend jaar! Die Koninkryk van God gaan alle menslike koninkryke vervang. Die heiliges – ware Christene – sal as konings en priesters die nasies hier op hierdie aarde regeer, dien en leer. Openbaring beskryf hoe Christus Sy volgelinge vrygekoop en voorberei het vir hul toekomstige rol: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Pre- Post- of Amillennialisme?

Party mense onderrig verkeerdelik dat daar geen letterlike duisendjarige heerskappy van Christus op aarde sal wees nie. Hierdie lering staan bekend as amillennialisme. Ander leer weer verkeerdelik dat die Kerk sal groei in gesag en invloed, moontlik oor duisende of tienduisende jare, biljoene mense tot bekering sal bring en sedelikheid en vrede na ons planeet sal bring voor Christus se Wederkoms om Sy laaste oordeel te voltrek. Hierdie valse lering word postmillennialisme genoem.

Die Bybel leer egter premillennialisme – dat Jesus Christus sal terugkeer ná die Groot Verdrukking en voor die Duisendjarige Ryk, om vir ’n duisend jaar saam met die heiliges op die aarde te regeer. Volgens die boek Openbaring sal die Duisendjarige Ryk aangekondig word deur die “sewende basuin” – “EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Met die sewende basuin sal Jesus Christus terugkeer en die gelowige Christene wat in die graf is sal opgewek word tot onsterflikheid en heerlikheid. Let op hierdie bemoedigende stelling: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thessalonicense 4:16). Ware Christene wat steeds leef met die Wederkoms sal van sterflik tot onsterflikheid verander word. “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korintiërs 15:51-53). Herrese Christene sal dan hul heerskappy saam met Christus begin vir ’n duisend jaar. Onthou: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Die Bybel wys duidelik wanneer die Duisendjarige Ryk sal begin – met die Wederkoms van Jesus Christus! Vir watter ander tekens moet ons egter op die uitkyk wees? Is ons reeds al in die eindtyd? Al wat u moet doen om hierdie vraag te beantwoord is om na die wêreld se sedelike toestand te kyk. Bereik alle nasies ware blywende vrede? Het ons totaal ontslae geraak van wapens van massa-vernietiging?

Die grootste oorlog moet nog plaasvind, die Derde Wêreldoorlog en “Armageddon” (vgl. Openbaring 16). Jesus van Nasaret het gewaarsku aangaande die gebeure wat Sy Wederkoms sal voorafgaan. Hy sê: “Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Markus 13:7-8).

Hierdie algemene neigings sal toeneem in felheid. U kan ook Jesus se ooreenstemmende boodskap in Openbaring 6 lees wat die vier beroemde perderuiters van die Apokalips beskryf. Daar word ook na hulle verwys as die vier seëls wat die boekrol bedek het. Hulle verteenwoordig vals godsdiens, groot oorloë en toenemende ongevalle, hongersnood, peste, siektes en dood.

Die vyfde seël wat in Openbaring 6:9-11 beskryf word, verteenwoordig ’n toekomstige marteling van Christene. Jesus waarsku Sy dissipels: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (Mattheus 24:9).

Daarna kom die sesde seël waarna verwys word as die “hemelse tekens”. Johannes skryf: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval” (Openbaring 6:12-13). Die hemelse tekens stel die Dag van die Here bekend en word verteenwoordig deur die sewende seël – ’n tyd van God se oordeel oor die wêreld. Die Dag van die Here waarna in meer as 30 profesieë in u Bybel verwys word, is die jaar-lange tydperk wat Christus se Wederkoms voorafgaan! “Want die HERE hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8). Dit bestaan uit sewe “basuin plae” wat in Openbaring 8-11 beskryf word en sluit af met die sewende basuin wat die koms van die Koninkryk van God en die einde van die mensdom se heerskappy oor die aarde aankondig – die begin van die werklike Duisendjarige Ryk!

Gruwel van die verwoesting

Jesus het ’n baie besondere teken gegee van die naderende Duisendjarige Ryk. “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheus 24:15-16).

In die eerste eeu het Christene uit Jerusalem gevlug na die dorp Pella en die verwoesting vrygespring wat die Romeinse Leër in 70 n.C. oor Jerusalem gebring het. Die verband hier is egter “die voleinding van die wêreld” (vers 3). Jesus beskryf hierdie tydperk as “groot verdrukking” (vers 21) – die tyd van Satan se woede en bose vervolging: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Soos Jesus sê, is hierdie tyd van vervolging die grootste ooit. Ten spyte van al die wreedhede en volksmoord wat ons in die verlede geken het, het die geskiedenis van die wêreld nog nooit hierdie graad van boosheid gesien nie.

Ons lees: “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd” (Openbaring 12:13-14). Die Bybelse simbool vir die Kerk is ’n vrou (vgl. Efesiërs 5). God sal Sy ware heiliges – werklike Christene – beskerm teen die groot verdrukking. Hierdie is nie ’n geheime wegraping nie. Daar is nie so ’n gebeurtenis in die Bybel nie. Let op dat die vrou na “haar plek” in die woestyn geneem word. Die draak vervolg dan daardie louwarm Christene wat nie doelgerig gegroei het in die genade en kennis van Christus nie. “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17). Satan sal dan die oorblyfsel van die Kerk en die nasionale nasate van Jakob vervolg. “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Hierdie unieke tyd in die algehele geskiedenis, die Groot Verdrukking, sal Satan se woede sien op die nasate van Jakob, die mense van Amerikaans- en Britse afkoms. Ons moet beslis hierdie waarskuwing ter harte neem!

Soos die Duisendjarige Ryk nader kom, sal God begin om kragtiger in te gryp in mensesake. Dramatiese astronomiese en aardse aktiwiteite sal almal se aandag trek. Let op: “En die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon Sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:14-17). Wie se woede sal op die nasies uitgestort word? Die Lam van God – Jesus Christus – sal toornig wees! Waarom? Omdat die meeste van die wêreld se mense teen God in opstand gekom het en die weg van boosheid volg. Johannes verduidelik dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19).

Ons het uit die Bybel gesien dat gelowige Christene vir ’n duisend jaar op hierdie aarde sal heers as konings en priesters. Daardie Duisendjarige Ryk van wêreldvrede is waarna ons almal uitsien. God is in beheer! Hy bedoel wat Hy sê. Die tyd kom wanneer alle nasies die ware God sal ken. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).

Die wêreld vandag ken nie die ware God nie, maar die wêreld van môre sal die ware God van die Bybel en Sy Seun Jesus Christus ken! Mense sal gewillig wees om te leer. Na die verdrukking en die Dag van die Here sal die nasies nederig wees. Hulle sal selfs die weg van God en die Bybel wil leer! Let op: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:2). Al die nasies sal na Jerusalem, die nuut gevestigde wêreldhoofstad kom waar Jesus Christus sal heers as die Koning van konings en Here van here. “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (vers 3). Hulle sal kennis van God se weë begeer! Het u tans daardie begeerte? Let op wat die Messias, die Koning, Jesus Christus sal onderrig tydens die Duisendjarige Ryk. “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (vers 3). Daardie woord is nou tot u beskikking, in u Bybel. Die Bybel is God se geskenk aan ons – ons moet dit daagliks lees! Soos Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32).

Die hele wêreld sal die ware weg na vrede leer. Jesus Christus sal alle nasies regeer en as ’t ware meebring dat mense vreedsaam is. “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Dit is die Duisendjarige Ryk wat ons almal begeer. Wêreld toestande toon die gevaarlike tye waarin ons nou lewe. Die geskiedenis bewys ook dat die mensdom nie die pad na vrede ken nie. God het die mense byna 6,000 jaar van gedokumenteerde geskiedenis gegee om te eksperimenteer met hul eie mensgemaakte instellings sonder Hom. Die geskiedenis van menslike pogings het oorlog, lyding en die dood tot gevolg gehad. Ons nader die einde van die mens se heerskappy op aarde. Die tyd word nou kort.

Ware Christelikheid leer die weg van vrede, liefde, geluk en goddelike voorspoed. Apostoliese Christelikheid – die Christelikheid van die eerste eeu – het uitgesien na daardie leefwyse in die uiteindelike Duisendjarige Ryk. Hier is wat die bekende geskiedskrywer, Edward Gibbon, geskryf het omtrent die Christendom van die eerste eeu se geloof in die Duisendjarige Ryk: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Duisendjarige Ryk was in noue verband gesien met die Wederkoms van Christus. Soos die werke van die skepping in ses dae afgehandel is, is die duur daarvan in die huidige staat vasgestel op 6,000 jaar volgens ’n tradisie wat aan die profeet Jesaja toegeskryf word. Deur dieselfde analogie word dit afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en teenstryd, wat nou byna verstryk het, opgevolg sal word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar en dat Christus, saam met die triomfantlike groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het of wat bonatuurlik opgewek is, sal heers op die aarde tot die tyd wat bepaal is vir die laaste en algemene opwekking” (Decline and Fall of the Roman Empire, Vol. 1, bl. 403).

Gelowige Christene, die ware heiliges, sal in die eerste opstanding wees om saam met Christus te regeer en die Duisendjarige Ryk in te lei. Die glorieryke Koninkryk van God op aarde sal ongekende prag en produktiwiteit voortbring. Jesaja gee aan ons hierdie duisendjarige visie: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6-9). Mag God daardie dag bespoedig.