Waarom dink en glo ons op die manier waarop ons dit doen? Wat het ons vooruitsigte oor die eeue heen gevorm en gegiet? Wat het die wêreld gemaak soos dit is? In hierdie reeks gaan ons op individue, idees en gebeure fokus wat ’n groot impak op die wêreld gehad het en die verloop van die geskiedenis verander het. Terwyl baie mense vandag aanvaar dat die vloei van die geskiedenis toevallig is – dat dinge sommer net gebeur – vermoed andere dat daar bewyse van doel en rigting is en dat ’n mag van buite die geskiedenis lei. Ten spyte van wat die kritici glo, maak die Bybel talle aansprake daarop dat God die opkoms en val van nasies bepaal en die verloop van die geskiedenis lei (Job 12:23; Daniël 2:21; 4:17).

In hierdie Keerpunte artikels, sal ons na bewyse kyk wat daarop dui dat daar ’n God is wat besig is om ’n plan op hierdie aarde uit te werk en dat Hy individue en nasies gebruik het om Sy doelwitte te bereik. Dit is nogal ’n merkwaardige verhaal – veral wanneer ons bereid is om die Bybel as geskiedenis te sien en nie net as ’n boek van fabels nie.

Een van die heel merkwaardigste manne wat ons in die Bybel se geskiedenis teëkom is Abram, wie God as Abraham herdoop het (Génesis 17:5). Hy het ongeveer 2000 v.C. in die stad Ur in die suide van Mesopotamië gewoon, min of meer 350 jaar na die Bybel se sondvloed en meer as ’n eeu voor die beroemde Babiloniese koning Hammurabi. Abraham se lewe en invloed, wanneer dit uit ’n historiese perspektief gesien word, is ’n bewys van ’n belangrike keerpunt in die beskawing se geskiedenis. “Hy is in ’n wêreld gebore waar afgodery en die aanbidding van verskeie gode algemeen was. Hy het gesterf met die praktyk van monoteïsme [die aanbidding van een Almagtige God] stewig ingeplant, om nooit weer geblus te word nie” (The Mark of a Gaint, Ted Stuart, bl. 3). Drie groot monoteïstiese gelowe van ons moderne wêreld word nagespoor tot by Abraham.

Abraham se God voor Abraham

Abraham het nogtans nie monoteïsme “uitgedink” nie. Volgens die Bybel was God aan Noag bekend (’n voorsaat van Abraham wat eeue vroeër geleef het) en aan vorige geslagte terug tot by Adam. Met verloop van tyd is kennis van die ware God en Sy lewenswyse tog verwerp en het dit verlore geraak. Die Bybel sê dat God met Abraham gepraat het toe hy ongeveer 75 jaar oud was en vir ’n honderd jaar lank met hom gewerk het (Génesis 12:4; 25:7). Gedurende daardie eeu van persoonlike onderrig, het God Abraham se geloof en gehoorsaamheid opgemerk (Génesis 12:1-4) asook sy onselfsugtigheid en grootheid van gees (Génesis 13:7-12). God het ook aan Abraham morele onderrig verskaf (Génesis 12:10-20; 20:1-18) en Abraham het die verskriklike gevolge van morele verdorwenheid gesien toe God die stede van Sodom en Gomorra vir hulle sondige dade vernietig het. As gevolg van Abraham se geloof en gehoorsaamheid aan God se gebooie en insettinge (Génesis 26:5), het God beloftes aan Abraham en sy nageslag gemaak, wat baie later in die toekoms ’n groot impak op die geskiedenis van die wêreld sou hê.

Die Skrif openbaar dat God ’n spesiale belangstelling in Abraham getoon het om hom op te lei om die individu te wees wat sy nageslag van sy ondervinding met die een ware God sou leer (Génesis 18:19) en om uiteindelik die “vader van die gelowiges” te word – toekomstige geslagte van gelowiges (Romeine 4:11-16). God het Abraham voorberei om die verloop van die geskiedenis te verander – om die kennis van die een ware God te hervestig – in ’n wêreld wat deur afgodery en politeïsme (die aanbidding van baie gode) oorheers was.

Abraham se God is uniek

Dit was nogtans nie net monoteïsme wat Abraham aan die antieke heidense wêreld bekendgestel het nie. Dit was die aanbidding van ’n God wat uniek in die hele geskiedenis is. Die God van die Bybel en die God van Abraham is nie ’n onpersoonlike krag nie, maar Hy is ’n persoonlike God wat met Abraham gewandel, gepraat, beveel en hom raad gegee het (Sien Genesis 18). Die God van Abraham handel volgens etiese standaarde nie volgens wispelturigheid nie. Die Babiloniese verhaal oor die sondvloed vertel dat die gode ’n vloed gestuur het om die mensdom te vernietig omdat hulle te veel geraas gemaak het, wat dan op een of ander manier die gode sou steur. Die Génesis-verslag teken aan dat God ’n vloed gestuur het om ’n einde aan ’n menslike beskawing te maak wat boos, goddeloos en korrup geword het en met geweld gevul was (sien Génesis 6). Noag en sy gesin is gered omdat Noag regverdig was, nie omdat hy ’n gunsteling van die veronderstelde “gode” was nie. Die Bybelse weergawe is gemoeid met etiek en morele waardes; die Babiloniese weergawe beeld die onstandvastige optrede van wispelturige gode uit. Die etiese God van Bybelse monoteïsme is gemoeid met absolute waardes van reg en verkeerd. Die een ware God het een morele standaard vir die hele mensdom – dit geld vir die bevolking sowel as hulle leiers. ’n Skrywer het opgemerk: “Woorde kan nie die omvang van die verandering weergee wat teweeg gebring is deur die Hebreeuse Bybel se bekendstelling aan die wêreld van ’n God wat die heelal moreel regeer nie” (“Ethical Monotheism”, Prager, JewishVirtualLibrary.org).

Die God van die Bybel wat met Abraham gepraat het, gee om vir Sy skepping en Hy is betrokke in die lewens van diegene met wie Hy werk. God se plan vir die mensdom betrek elke mens. Hierdie besorgde God het mense geskape wat in staat is om vir ander mense om te gee. Die God van die Bybel wat die mens na Sy beeld gemaak het (Génesis 1:26-28), beskou alle menslike lewe as heilig – dit is waarom menslike offers en moord boos en verkeerd is – of dit nou volwassenes, kinders of die ongeborenes is (Génesis 4:8-12; Exodus 20:13). Die God van Abraham vereis ook heiligheid tussen Sy volgelinge (Levitikus 19:2), dit behels om liefde aan u naaste te betoon en om ander mense te behandel soos wat u self behandel wil word (Levitikus  19:18).

Distansieer van heidense gode

Die kennis van ’n persoonlike, almagtige, etiese, besorgde God van die Bybel wat Abraham ervaar en aan sy nageslag oorgedra het, was heeltemal anders as die koue, onsensitiewe, onpersoonlike en magtelose afgode van die politeïstiese nasies van Abraham se tyd. Abraham en sy nageslag het die heidense vrugbaarheidsrites en seksuele perversies verwerp wat deur naburige nasies beoefen is en het dit beklemtoon dat die ware God seksuele moraliteit van Sy volgelinge vereis. Die God van Abraham het eerlikheid, goeie gedrag en respek vir menslike lewe tussen alle mense vereis – met inbegrip van hulle leiers. Soos een skrywer opmerk: “Waar Abraham se invloed die kragtigste ondervind is, was filosofie en godsdiens baie anders as waar daar nie so ’n invloed was nie” (Stewart, bl. 20).

Terwyl moderne kritici en geleerdes verkies om Bybelse weergawes te ignoreer, openbaar die geskiedenis en Bybelse bewyse dat Abraham se lewe en nalatenskap en die God wat hy ontmoet het, ’n merkwaardige en blywende impak op die wêreld gehad het. God het vir Abraham gebruik om die invloed van etiese monoteïsme weer in die wêreld in te stel en dit het die verloop van die geskiedenis verander – daardie invloed is tot vandag teenwoordig in ons wêreld waar die helfte van die mense, volgelinge van ’n monoteïstiese geloof is met sy oorsprong wat teruggaan tot by Abraham. Abraham se lewe en leerstellings van die een ware God, verteenwoordig ’n groot keerpunt in die geskiedenis van die wêreld – een wat nog steeds bepaal hoe ons dink en wat ons vandag glo! Die God van Abraham is lewend. Hy het ’n plan. Hy werk nog steeds in mense se lewens en Hy gaan voort om die verloop van die geskiedenis te lei.