Die apostel Paulus maak ’n baie interessante opmerking in Kolossense 1:24: “Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is”. Is daar inderdaad ’n sekere hoeveelheid van die “verdrukkinge van Christus” wat elke ware Christen in die gesig moet staar voordat hy die ewige lewe kan ingaan? Is ’n sekere hoeveelheid versoeking, toetsing en selfs lyding gewoonlik nodig om ons die diepe nederigheid, standvastigheid en die algehele oorgawe te leer wat nodig is voordat ons ’n verheerlikte geestelike wese in die familie van God kan word?

Paulus beantwoord nie hierdie vraag direk nie.

Van die begin tot aan die einde van die Bybel is God se Woord egter vol van voorbeelde van Sy dienaars wat deur diepe beproewings gaan. Vind ons ’n wonderlike doel vir al hierdie beproewings? In 1 Pet. 1:4 word ons vertel van “’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis”. Dan sê Petrus: “ Daarin verheug julle jul, al word julle nou - as dit nodig is - ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewings, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (verse 6-7). Hierdie smartlike beproewings dwing ons om deeglik te deurdink wat werklik belangrik is. Dit dwing ons om ernstig tot God te roep vir hulp en om Hom te dien bo alles met meer volledige oorgawe. Dit is die smeltkroes wat God gebruik om ons te vorm om Sy volle Seuns te word!

Die besef van die diepgaande rede vir hierdie beproewings, kan help om ons groter gemoedsrus en groter geloof te gee. Dit help ons ook om te besef, soos die apostel Paulus geskryf het, “ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Rom. 8:28). Deur die eeue heen moes Godvresende manne en vroue verder as die onmiddellike omstandighede kyk en “weet” dat God daar is en dat Hy lewendig en in beheer is en dat Hy definitief hulle spesifieke beproewing ten goede sal laat werk selfs al moet hulle hulle fisiese lewens prysgee! Dit is die grondslag van Sadrag, Mesag en Abednégo se stralende geloof. Koning Nebukadnésar was vreeslik kwaad oor hulle weiering om die goue beeld wat hy opgerig het te aanbid. Hier word die grootste vors op aarde verneder deur drie jong Jode. Hy sou dit nie duld nie! Nebukadnésar het hierdie jong manne minagtend uitgedaag: “en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” (Dan 3:15). Hulle het die koning geantwoord: “ Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie (verse 16-18).

Ja, selfs indien God sou verkies om hulle nie te red nie, was die God van Israel “werklik” genoeg vir hierdie dapper jong manne om hulle lewens nieteenstaande aan Hom toe te vertrou!

Wat van u en ek?

Is ons bereid om ons lewens te gee vir Jesus Christus - kom wat wil? Is God so volkome “werklik” vir ons dat ons deur die verskriklike skok van aanranding, opsluiting of dood kan gaan? Kan ons deur ’n lang uitgerekte beproewing gaan soos wat Josef het? Onthou, Josef se broers het hom as slaaf verkoop. Vir 13 lang jare moes hy deur beproewing na beproewing gaan - as slaaf verkoop, met die dood gedreig, in die tronk gegooi, saam met nog baie ander beproewings - totdat hy uiteindelik verhef is tot die tweede persoon in beheer van die hele Egiptiese ryk! Dertien jaar is ’n lang tyd.

Ons verstaan dat koning Dawid vir ongeveer tien jaar moes vlug vir koning Saul - in grotte moes skuil, in die wildernis en in allerhande gevaarlike en ongemaklike omstandighede moes leef. Dawid het egter sy onwrikbare geloof in die Almagtige God behou, en sy diep liefde en agting vir Saul se amp en vir Saul self behou. Selfs toe Dawid die geleentheid gehad het om Saul te vernietig en hy so naby aan hom was dat hy ’n stuk van sy kleed afgesny het. Let op die diepe nederigheid en agting in Dawid se hart: “Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy die slip van Saul afgesny het, en hy het aan sy manne gesê: Mag die HERE my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die HERE, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die HERE” (1 Sam. 24:5-6).

Later, toe Dawid en Abísai Saul aan die slaap vind met sy spies by sy kop in die grond gesteek, let op wat het gebeur: “En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit ’n tweede keer te doen. Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom!”

“Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan” (1 Sam. 26:8-11).

Op soortgelyke wyse is dit nodig vir almal van ons om verder as die mens te kyk om sodoende God se doel te sien in die situasies wat mag ontwikkel in die jare wat voorlê. God sal met ons werk, ons vorm en fatsoeneer en lesse leer vir alle ewigheid. Ons moet ’n diep en vaste geloof hê dat dit so is - en ons geloof en vertroue in God stel!

Elkeen van ons moet besef dat die lang periodes van beproewings en toetse regdeur ons Christelike lewens gedoen word vir die uitsluitlike doel om ons te verfyn, te poleer en elkeen van ons ’n perfekte “juweel” in God se oë te maak. Daarom moet ons hierdie beginsel verstaan wanneer ons lees van Jesus se opdragte aan Sy dissipels en aan ons: “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade” (Matt. 16:24-27).

Dit is so maklik vir elkeen van ons om ons eie lewe te wil probeer “red”. Ons mag hoog wil lewe en fokus te veel, met tye, op fisiese dinge vir onsself en ons families - te veel tyd en energie word bestee om materiële dinge na te jaag, sodat ons nie ’n lewe lei van opofferende diens tot God en mens soos wat Jesus Christus van ons verwag nie. Wie van ons kom nie te kort aan hierdie standaard nie? Ons moet fokus op Jesus se belofte dat wanneer Hy met die Vader se heerlikheid terugkeer, Hy verseker elkeen van ons op ’n manjifieke manier gaan beloon. Die apostel Paulus was geïnspireer om verder hierop uit te brei: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom. 8:16-18).

Die verheerlikte liggaam wat God vir ons in gedagte het, en die ontsagwekkende geleentheid om met Hom en Jesus deur alle ewigheid in wisselwerking te kan wees, kan ons swak mense nie ten volle begryp nie maar ons verstaan dat ons geroep is, letterlik, om gemeenskap te hê met God en met Christus - asook met mekaar (1 Joh. 1:3).

Daarom, deur te “eet” van God se Woord (Joh. 6:57) - deur aanhoudend te lees en ons daaraan te herinner aan die werklikheid van God en hoe Hy altyd Sy dienaars bevry het - kan ons, deur Sy Gees in ons, ’n diep geloof in God bou wat uiters noodsaaklik gaan wees in die jare wat nou voorlê!

Baie van ons mag die roerende en mooi voorbeeld onthou van “Ebed-Meleg” die Kusiet, soos uiteengesit in Jeremia 38. Jeremia was in ’n tronk gegooi en in ’n put van modder neergelaat. Toe hy hiervan hoor het Ebed-Meleg, een van die koning se hofdienaars, die koning daarvan vertel en klaarblyklik die geleentheid gevra om Jeremia te help. Die koning het hom toestemming gegee. Vers 11-13 lui:” Daarop het Ebed-Meleg die manne met hom saamgeneem en ingegaan in die paleis van die koning onder die voorraadkamer en daarvandaan verslyte en geskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het. En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen. En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly”.

Ebed-Meleg het duidelik sy eie lewe in sy hande geneem deur prinse teen te gaan wat die koning se guns in die eerste plek gewen het. Maar, “die res van die storie” - soos dit later geopenbaar word - dui daarop dat Ebed-Meleg verder as hierdie prinse gedink het. Alhoewel hy ’n Kusietiese hofdienaar in die koning se huishouding was, het hy sy geloof en vertroue op die Ewige God van Israel gestel. God het hom hiervoor beloon! Baie weke of maande later, nadat die Babiloniërs Juda oorwin het, het God se Woord tot Jeremia gekom en aan hom gesê om Ebed-Meleg te kontak: “ Gaan en spreek met Ebed-Meleg, die Kusiet, en sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag. Maar Ek sal jou in dié dag red, spreek die HERE; en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie. Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ’n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE” (Jer. 39:16-18).

Geliefde broeders, soos ons vervolg en miskien in die tronk gegooi word omdat ons die Waarheid preek en gehoorsaam - beide in ons huidige gemeenskap en, later, soos die moderne Babiloniërs baie van ons lande oorwin - sal ons met geloof kyk na die God van Israel om ons te verlos soos Ebed-Meleg? Mag God gee dat elkeen van ons stadig maar seker die kennis en stralende geloof ontwikkel wat elkeen van God se uitstaande dienaars getoon het. En mag God elkeen van ons verlos en aan ons sê: “Jou siel sal vir jou ’n buit wees omdat jy op My vertrou het”.