Hierdie geheimsinnige dag van die Here sal almal op aarde raak. Wat presies is dit? Hoe sal dit u en u geliefdes raak?

Daar is in meer as 30 profesieë in die Ou en Nuwe Testamente van u Bybel, ’n belangrike profetiese gebeurtenis opgeteken. Dit is die kerngedagte van ons begrip van die moeilike tye direk voor Jesus Christus se Wederkoms – en tóg verstaan die meerderheid van belydende Christene dit heeltemal verkeerd.

Hierdie geheimsinnige gebeurtenis word die dag van die Here genoem en dit sal almal op planeet Aarde raak. Dit sal ’n tyd van oorlog, siekte, hongersnood en wydverspreide dood wees – op ’n baie groter skaal – anders as enigiets wat ons wêreld nog ooit beleef het. So verwoestend soos wat die dag van die Here tog sal wees, sal dit ’n teken wees dat die grootste gebeurtenis in wêreldgeskiedenis, die Wederkoms van Jesus Christus, naby is.

Wat presiés is die dag van die Here? Waarom word dit so algemeen verkeerd verstaan? Hoe sal dit u en u geliefdes raak? ’n Noukeurige studie van u Bybel en die profesieë daarin, openbaar die verstommende waarheid.

Watter dag is dit?

Teen die einde van die eerste eeu n.C. het die apostel Johannes ’n gedetailleerde en gekompliseerde profetiese boek geskryf. Sommige Bybels noem dit “Die Openbaring van Johannes die heilige”, maar in werklikheid is dit nie Johannes se openbaring nie – dit is “Die openbaring van Jesus Christus” (Openbaring 1:1).

In die eerste hoofstuk van sy boek skryf Johannes: “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin” (Openbaring 1:10). Hierdie eenvoudige stelling is lank reeds die bron van groot verwarring. Die deursnee leser – belydende Christene wat hulle eredienste op Sondae bywoon – mag dalk aanneem dat Johannes van Sondag as daardie dag van die week gepraat het.

Dit is egter ’n groot misverstand. Ons weet uit Johannes se eie geskrifte dat wanneer hy gepraat het van Sondag, hy dit die “eerste dag van die week” genoem het, soos hy dit in sy eie Evangelie genoem het (Johannes 20:1, 19). Johannes het geweet dat Jesus Homself “Here ook van die sabbat” genoem het (Markus 2:28). Die Sabbat is natuurlik die séwende dag van die week. In plaas daarvan om te verwys na ’n dag van die week, verwys hy na “die dag van die Here”. Dit beskryf die tema van sy hele boek Openbaring – ’n tyd, bekend as die profetiese dag van die Here, wat sy hoogtepunt sal bereik met Jesus Christus se Wederkoms as Koning van die konings en Here van die here!

Wanneer ons deur die spanningsvolle en skrikwekkende gebeure van Openbaring lees, kan ons dalk wonder: Hoe kan dit alles in een dag gebeur? Inderdaad, die woord “dag” hier beteken nie ’n tydperk van 24 uur – een omwenteling van ons planeet op sy as – nie. Dit word gebruik in die sin van ’n langer tydperk, soos jare of ’n era.

Hoe lank sal hierdie geprofeteerde “dag” van die Here dus duur? Baie Bybelgeleerdes is bekend met die profetiese beginsel dat een dag een jaar voorstel. Nadat Josua se twaalf spioene die beloofde land verken het en tien van hulle teruggekeer het met vals verslae, het God vir die Israeliete gesê: “Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word” (Númeri 14:34).

Nog ’n voorbeeld van hierdie een dag vir ’n jaar-beginsel word in die boek Jesaja gevind. Ons lees: “Want die Here hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8). Ja, die boek van Openbaring het as tema die dag van die Here – ’n gebeurtenisvolle jaar waartydens God Sy oordeel oor die opstandige mense van planeet Aarde sal uitstort!

Sewe seëls openbaar eindtyd gebeure

Met die begin van die Groot Verdrukking, sal dramatiese gebeure op die aarde plaasvind. Die apostel Johannes beeld dit uit in Openbaring as die onthulling van sewe geheimsinnige seëls. In sy visioen sien Johannes “En ek het ’n sterk engel gesien wat met ’n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie” (Openbaring 5:2-3).

Natuurlik was slegs Jesus Christus waardig om die boekrol oop te maak en die sewe seëls daarvan te openbaar. Die eerste vier van daardie seëls word dikwels beskryf as die vier ruiters van die Apokalips waarvan ons lees in Matthéüs 24. Ons vind daar dieselfde chronologiese volgorde van gebeure in die eindtyd wat deur Jesus se profetiese woorde beskryf en gespreek was op die Olyfberg.

Die eerste seël verteenwoordig vals christusse en vals godsdienste wat beweer dat hulle Christus verteenwoordig (Openbaring 6:2). Die tweede seël openbaar ’n ruiter op ’n rooi perd, met die mag “om die vrede van die aarde af weg te neem” (vers 4). Die derde seël openbaar ’n ruiter op ’n swart perd, wat wêreldwye hongersnood voorstel (vers 5-6). Die vierde seël openbaar ’n ruiter op ’n vaal perd, met die name “dood en die doderyk”. Terwyl die vier perderuiters ry, is hulle in staat om ’n vierde van die wêreld se bevolking te dood te maak (vers 8).

Martelaarskap en tekens

Dan maak Christus die vyfde seël oop. “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9). Hier word die martelaarskap van die heiliges – die ware Christene – beskryf. In die eerste eeu het die keiser Nero, Christene vervolg en gewelddadig doodgemaak. Hierdie vyfde seël voorspel dat selfs ’n gróter vervolging van heiliges in die eindtyd sal plaasvind.

Wanneer Jesus die sesde seël oopmaak, openbaar Hy die hemelse tekens wat mense oral rondom die aarde: “Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopmaak, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos hare, en die maan het soos bloed geword. En die sterre van die hemel het op die aarde, soos 'n vyeboom sy laatvye laat val as dit deur 'n geweldige wind geskud word. Toe het die lug teruggetrek soos 'n boekrol wanneer dit opgerol is, en elke berg en eiland uit sy plek verskuif is” (Openbaring 6:12–14).

Die Almagtige God sal die aandag van die opstandige mensdom kry deur hewige aardbewings en skokkende hemelse tekens. Die Skepper-God sê vir ons: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26).

Hierdie kosmiese versteurings en aardbewings lui die dag van oordeel oor alle nasies in. Jesus Christus sal die nasies oordeel tydens die dag van die Here, die tyd wanneer die Almagtige God, kragtig in wêreldsake sal ingryp soos nog nooit tevore nie. Hy sal oordeel uitspreek oor opstandige nasies en Hy sal selfs daardie nasies toelaat om aktief te probeer om mekaar in wêreldkonflik te vernietig voordat hulle bymekaarkom om die terugkerende Jesus Christus teë te staan. Die sewende seël van Openbaring, openbaar die jaarlange dag van die Here – die sewe basuinplae en die toorn van die Lam (Openbaring 6:16-17).

’n Profesie vir ons geslag

Die Ou Testamentiese profeet Joël het ’n waarskuwing vir ons generasie:

“BLAAS die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want hy is naby — ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ’n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie” (Joël 2:1-2).

Johannes se visioen is met ’n trompet aangekondig en Joël beskryf hiér die geluid van ’n basuin wat die dag van die Here aankondig. Hy waarsku ons in verband met ’n tyd van verskriklike vernietiging – uniek in die hele geskiedenis. In moderne terme sou ons dit ’n “verskroeide aarde-beleid” kan noem, aangesien alles vervalle gelaat sal word. “Voor hom uit verteer ’n vuur, en agter hom brand ’n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ’n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie” (Joël 2:3).

Joël gee ook vir ons sý beskrywing wat dieselfde hemelse tekens openbaar wat Johannes in die boek Openbaring gesien het. “En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:30-31). In die naderende dag van die Here sal ons wêreld ongelooflike ontwrigtings in die hemele, sowel as verwoesting van die aarde se oppervlak sien. “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in. En die Here verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” (Joël 2:10-11).

Let op dat God dit Sy leër noem! Die Almagtige God sal op dramatiese wyse in menslike sake ingryp. Groot oorloë – in werklikheid ’n wêreldoorlog – sal ongelooflike lyding vir die mensdom meebring terwyl God die nasies oordeel.

Daar sal nie slegs ’n vernietiging van militêre wapens wees nie; daar sal ook onbeskryflike ekologiese verwoesting wees! Wanneer God die opstandige nasies straf tydens die komende dag van die Here, sal Hy daardie nasies oproep om hulleself te verootmoedig en te bekeer! ’n Paar individue sal gehoor gee, maar baie van hulle sal voortgaan in hulle verharde rebellie teen God en Sy Woord.

Geagte leser, u hoef nie tot dan te wag om u te bekeer nie. Namate toestande op die wêreldtoneel vererger, wat lei tot die intense jaarlange lyding van die Dag van die Here, is dit nodig dat elkeen van ons vurig bid en roep tot God. Ons behoort seker te wees dat ons aan God se kant is! God se mees getroue mense wat leef wanneer dit gebeur, sal beskerm en veilig bewaar word (Openbaring 12:14-17). Dit sal die mense wees wat “die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Gaan u een van daardie mense wees?

Drie groot profetiese tydperke in twee-en-veertig maande

Ons het gesien dat die dag van die Here ’n intense jaar van die eindtyd se profesieë is wat vervul word. Waar pas dit egter in die algehele tydraamwerk van eindtyd profesieë in? Dit is nodig dat ons erken dat daar drie groot tydperke beskryf is aan die einde van hierdie huidige tyd. Hulle is, in volgorde, die Groot Verdrukking, die hemelse tekens en die dag van die Here.

Wat sê die Skrif vir ons oor hierdie tye? Jesus het gepraat van die naderende hoogtepunt van hierdie eeu: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).

Hierdie unieke tyd in die ganse geskiedenis – die groot verdrukking – word ook die tyd van Jakob se benoudheid genoem: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Soos gereelde lesers van Die Wêreld van Môre weet, het Jacob – wie se naam later verander is na Israel – die patriarg van die twaalf stamme van Israel geword. Dit sluit nie net die stam in van Juda, wat vandag se Joodse volk is nie, maar ook die stamme wat bekend geraak het as die tien “verlore” stamme, wat vandag hoofsaaklik in Noordwes-Europa en onder die Engelssprekende volke van die Verenigde State aangetref word asook die nasies van Britse afkoms. Joël se profesie is ’n profesie vir die hele hedendaagse Israel!

Na die groot verdrukking sal die wêreld die “hemelse tekens” sien wat ons voorheen beskryf het. Let op hoe Jesus hierdie tyd beskryf het: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Matthéüs 24:29).

Na aanleiding van die hemelse tekens, is die dag van die Here die derde tydperk in hierdie volgorde, die jaar onmiddellik voor Jesus se terugkeer na planeet Aarde. Joël beskryf die volgorde soos volg: “En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:30-31).

Sewe basuinplae

Openbaring beskryf sewe “basuinplae” wat los uitgestort word gedurende die dag van die Here – die jaarlange tydperk uitgebeeld deur die sewende seël. Johannes beskryf die begin daarvan: “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2).

Elkeen van hierdie basuine sal ’n plaag of oordeel aankondig wat op die opstandige volke van die aarde uitgestort sal word! Wanneer ons deur Openbaring 8 lees, sien ons dat wanneer die eerste vier engele hulle trompette blaas, daar groot ekologiese verwoesting oor die hele aarde sal wees. Daar sal aardbewings wees; groot plantbegroeide gebiede sal verbrand, ’n derde van alle seelewe sal vrek; waterbronne sal vergiftig word; en die hemele sal verduister.

Die laaste drie basuinplae word ellende genoem. Die woord “wee” is 'n uitroep van smart. “En ek het gesien en gehoor ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ’n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!” (Openbaring 8:13).

Die eerste wee – die vyfde basuinplaag – word in Openbaring 9 beskryf wanneer die vyfde engel sy trompet blaas. Hierdie trompet kondig ’n vyf-maande-lange militêre veldtog aan. Die tweede wee – die sesde basuinplaag – beeld ’n intense militêre teenaanval uit: “Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (Openbaring 9:12-14). Op hierdie belangrike oomblik van die geskiedenis, sal ’n weermag van 200 miljoen soldate aan die westekant die Eufraatrivier oorsteek en ’n volle derde van die aarde se bevolking sal vernietig word! Gedurende hierdie fase van die eindtydse Wêreldoorlog III, sal letterlik miljarde mense doodgemaak word. Soos Jesus gesê het, tensy daardie dae verkort word, sal geen vlees gered word nie en indien God nie ingryp nie, sal alle lewe op aarde vernietig word.

Goeie nuus word uitbasuin

Ten slotte lees ons van die sewende basuin. Vir Christene is die blaas van die sewende basuin goeie nuus, omdat dit die vestiging van die Koninkryk van God op aarde en die Wederkoms van Jesus Christus aankondig. Dit is nodig dat ons almal voorberei vir daardie tyd! Ons lees: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Dít is die goeie nuus waarna ons almal uitsien – die oomblik wanneer getroue Christene van hierdie huidige eeu uit die dood opgewek en in God se Familie gebore word as Sy letterlike seuns en dogters, wat die teruggekeerde Christus sal bystaan om die planeet Aarde te regeer tydens die geprofeteerde Millennium (1 Thessalonicense 4:16-17).

Dit is egter nie ál nie. Terwyl Christene sal juig oor die terugkeer van hulle Verlosser – die geprofeteerde Koning van die konings – moet ons onthou dat hierdie sewende basuin ook die aankondiging van die derde wee is. Vir diegene wat voortgaan om teen die teruggekeerde Christus te veg, wag daar nog ’n verskriklike oordeel, aangesien die sewende basuin ook die sewe laaste plae aankondig, soos beskryf in Openbaring 16. Dit sluit plae in soos pynlike sere op diegene wat die dier en sy beeld aanbid het. Dit sluit selfs giftige riviere en seë in soos die Skrif aandui: “... al die lewende wesens in die see het gesterwe” (Openbaring 16:3). Die son sal selfs nóg warmer word, wat uitermatige hittegolwe tot gevolg sal hê wat diegene sal pynig wat hulle nie van hulle sondes bekeer nie!

Dan sal ’n finale, kritieke geveg tussen die rebelle-magte en die teruggekeerde Jesus Christus plaasvind. In die noorde van Israel, op die vlakte van Jisreël, sal massiewe militêre magte byeenkom om te veg teen die Bevelvoerder van die Hemel se leërs, Jesus Christus.

“TOE het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16)

Berei nou voor vir daardie dag

Wanneer Christus na hierdie aarde terugkeer, sal Hy al sy vyande oorwin, met inbegrip van die nasies en hulle magtige leërs wat teen Hom sal veg by Sy Wederkoms. Die dag van die Here sal God se oordeel oor die nasies bring en die wêreldtoneel voorberei vir Jesus Christus se Wederkoms. Daarom beveel ons Here Self: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

In ’n sekere sin is die dag van die Here – soos ons gesien het – die jaar wat die Wederkoms van Christus voorafgaan maar in ’n ander sin, duur dit voort deur die Millennium en tot in ewigheid. Dit is ’n tyd van ellende vir God se vyande, maar ’n tyd van vreugde vir Sy volk.

God het in sy groot liefde vir ons, Sy dienaars, die toekoms geopenbaar. Johannes skryf die volgende in die laaste hoofstuk van u Bybel:

“En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (Openbaring 22:6-7).

Ons moet waaksaam wees vir die dag van die Here. Dit sal ’n ontnugterende tyd wees wanneer God sal oordeel oor die nasies en die wêreld sal voorberei vir die Wederkoms van Jesus Christus. Daarná volg die wêreld van môre – ’n wonderlike tyd met skoonheid, voorspoed en herstelling onder die heerskappy van die Koning van die konings. Mag God daardie dag bespoedig!