V: Baie belydende Christene maak daarop aanspraak dat hulle “wedergebore” is. Wat presies is hierdie geboorte en hoe kan ons weet of ons alreeds weer gebore is?

A: Jesus Christus het verduidelik wat dit beteken om “weer gebore” te word. Hy het vir Nikodémus gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3).

Nikodémus het verward vir Jesus gevra: “Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie” (vers 4).

Jesus het gesê dat Hy van heeltemal ’n ander soort geboorte gepraat het (verse 5-6). Hy het gewys dat daar twee soorte geboortes is - een fisies, die ander geestelik - met die fisiese as ’n toonbeeld van die geestelike. Toe u uit u moeder gebore is, was u vlees. Maar “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees” - nie langer van vlees nie, maar van gees! (vers 6).

Daar sal geen bloed wees in enigeen wat “uit die gees gebore” is nie. Iemand wat uit gees bestaan, sal nie asem hoef te haal om te kan bestaan nie. Wanneer ons “weer gebore” is - gebore uit die Gees van God - sal ons onsigbaar wees vir menslike oë, soos die wind (vers 8). Die effek van die wind is maklik waarneembaar alhoewel dit self onsigbaar is. Dit is duidelik dat die tweede geboorte nie net sommer ’n emosionele belewenis is soos wat so baie mense verkeerdelik aanvaar het nie.

Die mens is na God se “beeld” geskape - met dieselfde vorm en gestalte (Gen. 1:26-27; 2:7; 3:19) en het die potensiaal om gees te word net soos wat God gees is. Die Bybel onthul dat God deur middel van Sy Heilige Gees Sy volmaakte geestelike karakter skep in diegene wat Hy geroep het (sien Jes. 64:8; Job 14:14-15; Jes. 43:7; Ef. 2:10).

Jesus het die Evangelie van die komende Koninkryk van God verkondig. Christus se goeie nuus het ook onthul dat God Homself reproduseer! Die Bybel toon dat die Koninkryk van God nie slegs die regerende koninkryk is wat Christus op hierdie aarde sal vestig by Sy terugkeer nie; dit is ook die Familie van God (Ef. 3:14-15). Jesus het geleer dat mense “gebore” kan word in die Familie of Koninkryk van God!

Tans is daar slegs twee lede in die Familie van God - God die Vader en Jesus Christus die Seun. God toon egter duidelik dat dit Sy doel is om Sy goddelike familie te vermeerder deur baie kinders daar in te bring (Heb. 2:10, Op. 21:7). Jesus Christus is eintlik die “eersgeborene” van baie kinders van God wat nog gebore moet word (Rom. 8:29; Kol. 1:18).

Indien ons ware Christene in God se oë is, dan is ons alreeds - tydens hierdie sterflike lewe - “kinders van God” (1 Joh. 3:1-2). Maar, ons is nog nie beërwers van die Koninkryk van God nie. Ons is slegs erfgename daarvan (Rom. 8:14-17) omdat ons nou slegs die geestelike verwekte kinders van God die Vader is. Dit is wanneer ons uit God gebore word dat ons die beërwers van God se Koninkryk sal word - geestelike gebore lede van die familie van God.

Jesus Christus - “die eersgeborene van baie familielede” (Rom. 8:29) - is die enigste Een wat reeds “wedergebore” is. Hy het gesê dat ons “uit die gees gebore” moet word - bestaande uit “gees” - ten einde die Koninkryk van God te “sien” of “binne te gaan” (Joh. 3:3,5). Ons geestelike “geboorte” as geestelike verwekte kinders moet nog plaasvind by die opstanding (1 Kor. 15:50-53).

Wanneer die verheerlikte Christus na die aarde terugkeer sal God se geestelike verwekte kinders soos Hy wees (1 Thess. 4:16-17; 1 Joh. 3:1-2). By die opstanding sal ons huidige fisiese liggame verander word - soos Sy verheerlikte liggaam gemaak word (Fil. 3:21). Ons sal dan “wedergebore” lede van God se eie familie wees - Sy eie verheerlikte nasate met die ewige lewe ingebore in onsself, wat die wêreld saam met Christus regeer (Op. 3:21)!