Die Volksmoord-regime van Nazi-Duitsland is nou verby, maar die volksmoord mentaliteit bly voortbestaan. Sal ons ooit ’n einde daaraan kan maak?

Elke jaar op 27 Januarie onthou mense die bevryding van die Auschwitz-doodskamp in 1945, gedurende die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog. Die Auschwitz-kamp was die grootste van ses moordkampe, wat saam ’n grusame beleid uitgevoer het wat Duitsland se Nasionaal-Sosialistiese (“Nazi”) leiers “Die Finale Oplossing” genoem het – ’n poging om Europa se Joodse bevolking uit te roei. Die beleid wat die kern van Adolf Hitler se toekomsblik vir Duitsland was, is drie jaar tevore, op 20 Januarie 1942, by die bekende Wannsee-konferensie geïmplementeer (dit is vernoem na die Berlynse voorstad waar dit gehou is). In 2022 was dit 80 jaar gelede.

Die toepassing van die Wannsee-konferensie se beleid was die drie jaar lange hoogtepunt van die volksmoord van Adolf Hitler se twaalf-jarige bewind van terreur (1933-1945), waar die doelbewuste moord van meer as tien miljoen onskuldige burgerlikes in Duits-beheerde gebiede plaasgevind het, met ’n geraamde ses miljoen Jode onder die sterfgevalle. Hierdie massamoord op Europese Jode het bekend geword as die “Holocaust” – ’n woord wat afgelei is van die vertaling van die Hebreeuse woord olah (“brandoffer”) in Grieks vertaal as holokauston – of in Hebreeus die Shoah wat “katastrofe” beteken. Wanneer die wêreld in retrospek na die Tweede Wêreldoorlog kyk, dink ons nie noodwendig aan geopolitiek nie, maar ons dink meer daaraan hoe om die wêreld te bevry van die euwel van Nazisme en die moorddadige ideologie van rasse-meerderwaardigheid.

Industrialisering van dood

Die Nazi’s het Auschwitz aangewys as die eindbestemming vir die meerderheid Jode wat van regoor Europa daarheen gebring is. By Auschwitz het gemoderniseerde en vergrote gaskamers die gevangenes op ’n werklik industriële skaal doodgemaak, wat elke dag die piek moordkapasiteit van 6,000 gevangenes bereik het. Die wreedste ironie is dat Auschwitz homself as ’n “arbeidskamp” geadverteer het met die ikoniese teken by die toegangshek: Arbeit Macht Frei (“Werk maak vry”). Om deur daardie hek te gaan, het egter slawerny en dood vir die meeste van die gevangenes beteken.

Teen die tyd dat die oorlog verby was, kon ’n verbysterde wêreld skaars glo wat in die Duitse gebiede regoor Europa plaasgevind het. Winston Churchill het die omvang daarvan gesien en besef dat daar geen woord in ons woordeskat is om dit te beskryf nie. Daarom het hy daarna verwys as “’n naamlose misdaad”. Dit het ’n Pools-gebore prokureur wat die Holocaust vrygespring het, geneem om ’n woord te skep om dit te beskryf – genocide – [volksmoord], van die Griekse geno (“stam”) en die Latynse cide (“moord”). Dit was ’n industrialisering van dood – ’n geburokratiseerde georganiseerde, brutale uitwissing van mense bloot weens hulle Joodse identiteit, Jehovasgetuies of enige van die ander minderheidsgroepe wat vir uitwissing geteiken is.

Holocaust-mentaliteit

Die frase “Nooit weer nie!” spoor ons aan om die mensdom nooit weer toe te laat om tot so ’n laagtepunt van gewelddadige onmenslikheid te daal nie. Ons moet die magte waardeer wat – met God se ingryping – Europa uit die dieptes van wanhoop uitgeruk het en voorkom het dat nog meer miljoene mense grusaam gesterf en dus gered is. Dit lyk ondenkbaar dat ons wêreld ooit weer ’n Holocaust kan beleef. Ons behoort egter nie so seker te wees nie! Die Holocaust is verby, maar die “Holocaust-mentaliteit” is nie uitgewis nie. Dit is ’n feit wat die gruwelike geweld in plekke soos Kambodja en Rwanda duidelik maak. Deur daardie mentaliteit van die verlede te verstaan, mag ons dit dalk in ons toekoms beter raaksien – of selfs in voorafgaande tekens wat selfs in die huidige tye sigbaar is.

Waarom het Adolf Hitler en diegene wat hom ondersteun het dan so begin dink soos hulle gedink het? Watter faktore het bygedra tot die ontwikkeling van hulle mentaliteit en “sukses”? Is ons vandag bewus van enige bewyse van sodanige denke? Die belangrikste is om te vra wat sê God hieroor in die bladsye van die Bybel?

Vanuit daardie perspektief, wat lê vir ons voor? Sal ons nog ’n Holocaust beleef in die jare wat voorlê? Is ons besig om selfs nou al die saad te saai? Sommige dinge wat nou gaan volg kan u dalk tot in u diepste wese skok.

Hier is ’n idee van ’n Holocaust-oorlewende. Primo Levi, ’n Italiaanse apteker en skrywer wat ’n jaar lank in Auschwitz deurgebring het, het gesê: “Dit het gebeur, daarom kan dit weer gebeur: Dit is die kern van wat ons te sê het. Dit kan gebeur en dit kan op enige plek gebeur”. Hy het ook gesê: “Auschwitz is buite ons, maar dit is oral in die lug om ons. Die plaag het weggesterf, maar die infeksie duur steeds voort en dit sal dwaas wees om dit te ontken”.

Anatomie van genocide

Hitler se volksmoordbeleid behoort niemand te verras nie. In sy boek Mein Kampf (“My Stryd”) het hy anti-Semitisme sy bepalende politieke ideologie gemaak, wat heftig teen Jode as die vyande van Duitsland losgebars het. Hy het homself voorgedoen as ’n messías-agtige figuur wat al persoon was wat die leierskap kon verskaf om die Duitse nasie te kon “red”.

Nazi anti-Semitisme het probeer om ’n moderne beeld op antieke anti-Semitisme te plaas terwyl dit na laer dieptes geneem is. Nazi-ideologie was van opinie dat Jode nie blote vyande was nie; hulle was nie mense nie, dikwels gekenmerk as “ongediertes” wat Duitsland sou verhoed om op te staan tensy hulle vernietig word. Min mense besef egter vandag dat die rassehaat in die kern van Nazi-ideologie op evolusionêre teorie gebaseer was. Hulle het immers geredeneer dat as lewe ontwikkel het deur die oorlewing van die sterkstes, soos Charles Darwin se On the Origin of Species in 1859 verkondig het, dan was die sterkste mense die natuurlike leiers van die samelewing, wat geen behoefte aan ’n God het wat afwesig was in die evolusionêre proses nie. Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche het inderdaad aan die einde van daardie eeu sy beroemde aankondiging gemaak: “God is dood”.

Sonder God is die mensdom nie verantwoordelik vir sy sondes nie – daar is dus geen sondes nie! Die geskiedskrywer Martin Gilbert, vertolk hierdie kragtige woorde van Auschwitz-oorlewende Hugo Gryn só:

Indien ’n mens die heel eerste sin van die Tien Gebooie neem, wat begin met: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, ... uitgelei het”; het ons hier mense gehad [Nazi-Duitsland] wat hulleself aangestel het om gode te wees, om meesters van lewe en dood te wees en wat ’n mens van jou vryheid beroof het ... Met ander woorde hier het mens ’n uitbraak van die totale teenoorgestelde van alles wat die beskawing op pad was om op te bou. Dit was ’n ontkenning van God. Dit was ’n ontkenning van die mens. Dit was die verwoesting van die wêreld in miniatuur vorm. (The Holocaust: The Human Tragedy, bl. 826).

Nie net het Nazisme ’n bose omwenteling van die Tien Gebooie aangebied nie; dit het sy eie duisendjarige toekomsblik voorsien. In sy soeke na wat hy lebensraum (“lewensruimte”) vir Duitsland genoem het, het Hitler beoog dat Nazi-heerskappy oor Europa en uiteindelik oor die hele wêreld sou uitbrei, met nasies wat onderworpe is aan Duitsland se beheer. Min mense onthou vandag dat Heinrich Himmler, die argitek van “The Final Solution”, se bedoeling was dat Auschwitz ’n “modelstad” vir Duitsers sou word wat na die oorlog ooswaarts sou migreer. Duisende Duitsers sou daar woon in ’n noukeurig beplande utopiese omgewing. Daar sou pragtige geboue, paaie, parke en fabrieke wees.

Die arbeid om dit alles te bou en te onderhou, sou egter slawe-arbeid wees wat gedoen sou word deur onderworpe volke wat in arbeiderskampe daar naby gehou sou word. Die Nazi-droom van ’n “duisendjarige Ryk” sou gebou word deur ’n proses om die Duitse volk te verenig in die nastrewing van hulle doel, terwyl hulle terselfdertyd afgestomp gemaak sou word vir die boosheid wat nodig was om daardie doel te bereik. Die geskiedskrywer Gilbert, beskryf hoe dit bereik sou word:

Dit was ’n proses wat staatgemaak het op die opwekking van geskiedkundige haat en antieke vooroordeel, sowel as van die samewerking of instemming van baie verskillende magte: van nywerheid, wetenskap en medisyne, van die staatsdiens en burokrasie en van die mees moderne meganismes en kanale van kommunikasie. Dit was ook afhanklik van medewerkers van lande ver buite die Duitse grens en een oorlewende het opgemerk “dat dit die meeste van alles afgehang het van die onverskilligheid van omstanders in elke land” (Gilbert, bl. 18).

Dit is 80 jaar oue geskiedenis, maar kan ons waarneem hoe hierdie denkwyse nooit werklik verdwyn het ná die Tweede Wêreldoorlog nie? Baie daarvan is eie aan die menslike natuur en inderdaad was dit in die eerste plek van buite Duitsland ingevoer. Kan ons vandag in die wêreld rondkyk en ontken dat ons individue sien wat bereid is om medewerkers met die bose te word wanneer hulle glo dat hulle persoonlik daarby kan baat, maar tog afsydig bly van die gevolge daarvan? Kan ons self ontken hoe maklik dit is om aan die bose toe te gee of om bloot weg te kyk?

Die Bybel en die uiteindelike oplossing

Ons het gesien dat Nazisme – die ideologie wat die Holocaust teweeggebring het en Auschwitz gebou het om te help om sy bose “Finale Oplossing” uit te voer – in baie opsigte ’n Sataniese vervalsing was. Terwyl die God van die Bybel die Jode afgesonder het om die seëninge van Sy Wette en Sy weë te demonstreer, het Nazisme die Jode uitgesonder as spesiale teikens vir vervolging en dood. Waar God idealistiese vrede beloof vir diegene wat Hom gehoorsaam, het Nazisme wrede doodskampe geskep wat ongekende geweld en lyding veroorsaak het aan diegene wat onder hulle gesag gekom het.

Sal ons wêreld ooit weer sulke boosheid sien en sal ons ooit ’n tyd van ware vrede beleef? In u Bybel is opgeteken dat daar ’n tyd aan die einde van hierdie huidige tydperk kom, wanneer ongekende teëspoed of “verdrukking” ons moderne wêreld sal verswelg en dit tot op die rand van die afgrond sal bring. Die Holocaust het ’n skrikbewind na Europa gebring; die komende verdrukking sal neerkom op ’n slagting wat die hele planeet sal tref. Letterlik miljarde mense sal sterf terwyl oorlog, siektes en hongersnood die aarde verwoes onder die heerskappy van ’n komende goddelose regering wat God se mense sal vervolg en boosheid goed sal noem. Dit is die tyd wat in u Bybel uitgebeeld word deur die ritte van die bekende vier ruiters van die apokalips (Openbaring 6:1-8).

Wanneer hierdie perderuiters ry, sal ons wêreld die opkoms van nog ’n wrede staatsgesag sien, wat in Europa sal begin – die laaste van die geprofeteerde herlewings van die Romeinse Ryk. Waar Hitler egter nie sy heerskappy tot buite Europa kon uitbrei nie, sal die komende diktator egter die hele wêreld tot afhanklikheid bring (Openbaring 17:8). Sy dierlike stelsel sal deur Satan, die god van hierdie tydperk geïnspireer word (2 Korinthiërs 4:4). Dit sal die karakter van die oortreder weerspieël: Leuens (Johannes 8:44), misleiding (Openbaring 12:9), propaganda, slawerny en geweld (Jesaja 14:12-15; Eségiël 28:14-16) sal die middele van voorkeur wees. Die situasie sal so erg wees dat slegs die Wederkoms van Jesus Christus die mag sal hê om te verhoed dat die mensdom homself heeltemal vernietig (Matthéüs 24:21-22). Genadiglik sal Christus terugkeer om hierdie rebellie teen God te oorwin en dit te vernietig (Openbaring 17:14).

Voordat Christus terugkeer, sal Satan sy uiterste bes doen om God se wil in die wiele te ry en God se mense te vernietig (Openbaring 12:12). God het egter Sy eie oplossing beplan vir hierdie bose geestelike wese wat duisende jare spandeer om die mensdom tot boosheid aan te hits. Satan en sy demone sal gebind en weggesluit word om alle moontlikheid van inmenging te voorkom wanneer God se Regering oor hierdie aarde regeer (Openbaring 20:1-3).

Tagtig jaar nadat Satan-geïnspireerde anti-Semiete hulle plan tot uitvoer gebring het om die wêreld van die Joodse volk te bevry, beleef ons dat die magte van die bose steeds nog in verskeie kringe aan die werk is en probeer om die menslike samelewing te verwar, verlei en te beheer. In ’n wêreld van misleiding en wanbestuur sien ons uit na die dag wanneer God weer Sy teenwoordigheid aan die wêreld sal aankondig soos Hy aan Moses gedoen het: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Exodus 34:6).