Wie was Jesus van Nasaret? Was Hy net ’n rondreisende prediker of was Hy die Verlosser van die wêreld? Kan u dit werklik te wete kom?


Leef Jesus tans? Indien wel, waar is Hy? Wat doen Hy? Wat beplan Hy vir die toekoms?

’n Volle derde van die Aarde se inwoners noem hulself Christene, maar selfs onder hulle weet relatief min wat Jesus onderrig het en wat die Bybel onthul oor die ware Jesus Christus. Hy het Self gesê dat daar baie nabootsers sou wees - Hy noem hulle “valse christusse” (Mattheus 24:24). Die apostel Paulus waarsku teen: “iemand [wat] kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het ... ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie” (2 Kor. 11:4). Ken u die ware Messias - die ware Jesus Christus?

Wat openbaar die Bybel? Was Jesus net ’n onderriggewer en bewerker van wonderwerke? Of was Hy dit en nog meer? In Johannes 4 praat Jesus met ’n vrou by Jakob se put naby die stad Sigar in Samaria. Hierdie vrou was oortuig dat Hy die beloofde Messias - die Christus - was. Sy het die hele gemeenskap vertel van hierdie man wat, soos sy gesê het “my alles vertel wat ek gedoen het” (vers 39). Gevolglik het baie ander Samaritane gekom om Jesus te hoor praat en Hom oortuig om vir twee dae by hulle te bly. Wat was hulle indruk van Jesus? “En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is” (Johannes 4:41-42).

Was Jesus die Verlosser van die wêreld? ’n Mens moet eerder vra: “Is Hy die Verlosser van die wêreld?” Die bewyse van vervulde profesie, geskiedkundige akkuraatheid, die bewaring van die teks en die openbaring van die lewe se geheimenisse en betekenis, ondersteun alles die waarheid dat Hy ís. U moet dit egter vir uself bewys. Waar soek ons vir bewyse? Indien u nie baie met die Bybel bekend is nie, begin net die Nuwe Testamentiese evangelies lees by die boek Mattheus. Indien u objektief en onbevooroordeeld is, sal u verstom wees oor die leringe van Jesus en die getuienis van Sy dissipels wat gewillig was om vir Hom en Sy lewenswyse te sterf.

Daar is meer as 100 profesieë in die Ou Testament wat die koms van die Messias voorspel. Onder hulle is Jesaja se profesie dat die Messias ’n afstammeling van koning Dawid, die seun van Isai, sou wees (Jes. 11:1), dat die Messias uit ’n maagd gebore sou word (7:14), dat Hy in Galilea sou woon (9:1-2), dat Sy sending die Heidene sou insluit (42:1-4) en dat Hy saam met goddeloses sou sterf (53:9). Ander profesieë voorspel dat Hy in Bethlehem gebore sou word (Miga 5:2), dat hy vir 30 sikkels silwer verraai sou word (Sagaria 11:12 -13), dat Hy Jerusalem op ’n donkie sou ingaan (9:9) en dat Hy ’n gekastyde herder sou word (13:7). Hierdie is net ’n voorsmakie van die vele profesieë oor die geboorte, lewe en dood van Jesus Christus.

Soos deur die profesie voorspel, is Jesus in die dorp Bethlehem uit ’n maagd gebore (Mattheus 1:23; 2:1). “Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees” (1:18). ’n Engel van God verskyn in ’n droom aan Josef en vertel hom: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees” (vers 20). God, die Vader, het Jesus - Sy Seun - deur die krag van die Heilige Gees verwek. “En sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons” (verse 21-23).

Die naam Jesus beteken “Verlosser”. Jesus het die Verlosser van die wêreld geword. Hoe het dit gebeur? Onthou, Hy was Emmanuel; “God met ons” - God in die vlees! Waar het Hy vandaan gekom? “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3).

Hierdie Woord waarvan die apostel Johannes praat, is die Een wat later Jesus Christus in die vlees geword het. Neem kennis: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid” (Johannes 1:14).

Hierdie Woord is die Een waardeur God alle dinge geskep het. Die apostel Paulus stel dit duidelik dat God “alles geskape het deur Jesus Christus” (Efesiërs 3:9). Ook: “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte - alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (Kolossense 1:16).

Hier is ’n ontsagwekkende waarheid van die Bybel: die Woord - wat saam met God en as God bestaan het - het in die vlees as die verwekte Seun van God gekom om die Verlosser van die Wêreld te word! Sy lewe was meer werd as al die mense wat ooit geleef het of ooit sal leef. Hy het Sy lewe opgeoffer om vir die sondes van die wêreld te betaal, soos net Hy kon doen. Hy is uitgebeeld as die Offerlam. Let op hoe Johannes die doper van Hom getuig: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29).

Moontlik voel u die pyn van skuld en sonde. Daar is ’n manier om u lewe om te keer. Jesus, die Lam van God, het u sondes op Homself geneem maar, ten einde met God versoen te raak, moet u die ware Evangelie glo - en daarop reageer. Soos Jesus verklaar: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).

Dit is verbasend hoeveel predikante u sal vertel om te glo, maar hulle sal u nie vertel om u van u sondes te bekeer nie! Jesus Self vertel ons almal om ons te bekeer! Ons Verlosser beveel elke mensewese op aarde om hulle te bekeer en te glo. Vereis God werklik iets meer as geloof? Die apostel Petrus sê Hy doen wél. Wat sê Petrus op Pinksterdag toe hy duisende mense toespreek in sy geïnspireerde preek op die dag waarop die Nuwe Testamentiese Kerk begin is? Hy sê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Duisende wat hom gehoor het, is van hul sondes oortuig en op daardie dag gedoop, waarna hulle die beloofde gawe van die Heilige Gees ontvang het.

Jesus, revolusionêr?

Toe ek so twaalf jaar oud was, het ek die leringe wat ek in die kerk gehoor het in twyfel begin trek. Ek het by myself gewonder: “Bestaan Jesus enigsins?” Toe dink ek: “Wel, ek sal lees wat die biografieskrywers Mattheus, Markus, Lukas en Johannes oor Hom sê”. Selfs as twaalfjarige was ek verbaas deur wat ek gevind het, veral toe ek die “Bergpredikasie” begin lees het. Jesus sê byvoorbeeld: “Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Mattheus 5:39). Ek het gedink: “Sy leringe is revolusionêr!” Op my eie beperkte manier het ek my lewensbenadering verander, hoewel ek eers jare later tot werklike bekering geroep is.

Baie mense het ondervindings soos myne wanneer hulle uiteindelik die Bybel self begin lees. Skrywer Bruce Barton is “van stryk gebring” deur die vals Jesus wat in die Sondagskoolklas voorgehou is. Hy skryf: “Die klein seuntjie [Barton wat oor homself skryf] kyk op na die prent wat teen die muur in die Sondagskoolklas hang. Dit wys ’n bleek jong man met pap voorarms en ’n hartseer uitdrukking op sy gesig. Die jong man het ’n rooi bakkebaard. Toe kyk die seuntjie na die ander muur. Daar was Daniël, goeie ou Daniël, wat die leeus afweer. Die seuntjie hou van Daniël. Hy hou van Dawid ook, met die getroue slingervel wat ’n klip in die middel van Goliat se voorkop laat wegsink het, en Moses met sy staf en sy groot koperslang. Hulle was wenners - daardie drie …. maar Jesus! Jesus was die “Lam van God”. Die seuntjie het nie geweet wat dit beteken nie, maar dit het geklink soos ‘Mary had a little lamb’ se lammetjie. Iets vir meisies; iets vir sissies. Jesus was ook ‘sagmoedig en nederig’, ’n ‘man van hartseer bekend met droefheid’. Hy het vir drie jaar lank rondgegaan en mense verbied om dinge te doen” (The Man Nobody Knows, bl. i-ii).

Soos Barton het ek ook eens ’n vals konsep van die ware Jesus gehad, moontlik u ook. Indien u die Bybel sélf lees, sal u verbaas wees om te ontdek dat baie van die gewilde beelde, konsepte en leringe wat as “Christenskap” voorgehou word, baie anders is as die waarheid wat in die Bybel gevind word.

Barton het ’n teenstelling gesien tussen Jesus se prediking en die wêreld se vals beeld van Hom. Barton skryf oor sy herontdekking van die Bybelse Jesus Christus: “Hoe meer preke hy [Barton] gehoor het en hoe meer boeke hy gelees het, hoe meer verward het hy geraak. Op ’n dag het hy besluit om sy gedagtes te reinig van die boeke en preke. Hy het gesê: ‘Ek sal lees wat die manne wat Jesus persoonlik geken het, van hom sê. Ek sal van hom lees asof hy ’n nuwe geskiedkundige figuur is waarvan ek nog nooit iets gehoor het nie.’ Die man was verstom. ’n Fisiese swakkeling! Waar kry hulle daardie idee? Jesus het met ’n skaaf en dissel gewerk; hy was ’n suksesvolle skrynwerker. Hy het in die buitelug geslaap en sy dae deurgebring deur langs sy gunsteling meer te stap. Sy spiere was so sterk dat toe hy die geldwisselaars uit die tempel gejaag het, niemand hom durf teëgaan het nie! ’n Pretbederwer? Nee, hy was die gewildste gas in Jerusalem! Die kritiek wat die betaamlike mense gehad het, was dat hy te veel tyd met tollenaars en sondaars deurgebring het ... en die samelewing te veel geniet het. Hulle noem hom “’n vraat en ’n wynsuiper” ... Toe die man klaar gelees het, roep hy uit: ‘Hierdie is ’n man wat niemand ken nie!’ (ibid, bl. iii-iv).

Ken u die ware Jesus van die Bybel? Is u seker? Ek daag u uit om deur die Nuwe Testament te begin lees met ’n vars objektiewe siening, soos Bruce Barton gedoen het. Soos baie van ons gevind het, is die beeld van Jesus wat baie predikante aan die wêreld voorhou, nie die Jesus wat in u Bybel onthul word nie!

Wanneer, waar en hoe?

Die poging om Jesus se verjaardag te vier, verdoesel dikwels die ware doel van Sy geboorte. Weet u waarom Hy gebore is? Weet u selfs wanneer Hy gebore is? Weet u wat Hy onderrig het aangaande die onderhouding van die gebooie? Weet u watter Bybelse feeste Jesus onderhou het en van Sy dissipels verwag het om te onderhou?

Waarom is Jesus gebore? Let op wat die engel Maria voor Sy geboorte vertel het: “En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:31-33).

Jesus se boodskap was oor die Koninkryk van God op aarde! Hy sal terugkeer as Koning van konings en Here van here (Openbaring 17:14; 19:16). Hy sal op die troon van Dawid sit en oor al die nasies regeer. Jesaja skryf: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:6). Dit is groot nuus en ons moet bid, soos Jesus ons geleer het: “Laat u koninkryk kom”.

Wanneer is Jesus gebore? Is Jesus in Desember op Kersdag gebore? Dit mag sommige mense verbaas, maar ons kan verseker weet Hy is nie. Lukas vertel dat Josef en Maria teruggereis het na Bethlehem vir die sensus wat in opdrag van keiser Augustus uitgevoer is. Die stad was stampvol en daarom moes Josef en Maria ander blyplek soek. Jesus is in Bethlehem gebore en in ’n krip neergelê (Lukas 2:7). Let op die tyd van die jaar “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (vers 8).

Die meeste Bybelkenners erken prontuit dat skaapwagters nie in Desember in die veld is nie. Die koue reënseisoen begin lank voor 25 Desember. Jesus is moontlik in laat September of vroeg Oktober gebore, soos die meeste welbekende Bybelkommentare erken. Waarom aanvaar ons dikwels tradisies en leringe sonder om dit na te gaan? Sommige van daardie konsepte en idees verskil van die Bybel! Jesus het nooit Sy verjaardag gevier nie en die apostels ook nie! Soos die Encyclopedia Britannica dit stel: “Volgens ’n Romeinse almanak is die Christen Kersfees in Rome teen 336 n.C. gevier” (“Christmas”, bl. 903). Let ook op die volgende: “Die [kerk]vaders van die 2de en 3de eeu, soos Klemens van Alexandrië, Origen en Epifanes het volgehou dat Kersfees ’n weergawe van ’n heidenfees is” (“Christianity”, bl. 499).

Wanneer u die boek Handelinge lees, sien u dat die Kerk van die Apostels van die eerste eeu - die Nuwe Testamentiese Kerk - nooit Kersfees of die geboorte van Christus gevier het nie. Die ware Kerk van die Apostels van die eerste eeu het die Bybelse feeste gevier: die Nuwe Testament Pasga, Pinkster, Fees van Trompetgeskal, Versoendag, Loofhuttefees en die Laaste Groot Dag. Die Bybel toon duidelik dat Jesus Christus die Laaste Groot Dag onderhou het. Die apostel Johannes verwys na hierdie feesdag as hy skryf: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:37-38).

Jesus het die Bybelfeeste onderhou en ware Christene streef daarna om Sy voorbeeld te volg. Die apostel Petrus sê: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).

Volg tradisionele Christendom in Jesus se voetspore? Onderhou hulle die weeklikse Sabbat - die sewende dag van die week - soos Jesus gedoen het? Christus sê dat Hy: “die Seun van die mens Here ook van die sabbat” is (Markus 2:28). Soos ons van Genesis 2:3 weet, het God die sewende dag met die Skepping geheilig. Vir wie is die Sabbat geskape? Jesus sê: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie” (Markus 2:27). Die Sabbat is vir die ganse mensdom tot rusdag en as herdenking van God se groot skepping gemaak. Onthou, God het alle dinge geskep, insluitend die Sabbat, deur Jesus Christus (Efesiërs 3:9).

Die geskiedkundige Jesus

Die Joodse geskiedkundige Josephus verwys na Jesus se broer, die apostel Jakobus, wat die Nuwe Testament boek Jakobus geskryf het. In die eerste eeu n.C. skryf Josephus die volgende: “Festus is nou dood en Albinus was maar pas in die stoel; toe roep hy die Sanhedrin van regters bymekaar en bring voor hulle die broer van Jesus, wat Christus genoem is, genaamd Jakobus en ’n paar ander [of sommige van sy reisgenote] en toe hy ’n beskuldiging teen hulle gevorm het as wetsoortreders, het hy hulle oorgegee om gestenig te word” (Antiquities of the Jews, Boek 20, Hfst. 9, afd. 1).

Ja, daar is geskiedkundige bewyse vir die bestaan van Jesus Christus. Verbasend genoeg sal sommige mense die getuienis van ’n geskiedkundige soos Josephus aanvaar en tog die ooggetuie verklarings van Jesus se tydgenote ignoreer. Mattheus, Markus, Lukas en Johannes het almal oor die lewe, wonderwerke en leringe van ons Verlosser geskryf en daarvan getuig. Die apostel Johannes skryf selfs: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe - en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is” (1 Johannes 1:1-2).

Die apostel Johannes getuig in hierdie skrifdeel dat nie net het hy en die ander apostels die Woord van die Lewe - Jesus Christus - gehoor en gesien nie, maar hulle het Hom ook aangeraak. Na Sy opstanding vertel Jesus aan ongelowige Thomas om sy vinger in die spieswond te druk wat Hom gedood het. Hy beveel: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (Johannes 2:27). Wat was Thomas se reaksie? “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” (vers 28).

Jesus Christus het gesterf en opgestaan. Hy leef vandag. So nie sou ons nog steeds in ons sondes gewees het. Soos Paulus skryf: “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (1 Korintiërs 15:16-17). Maar die goeie nuus word volgende geskryf: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens” (verse 20-21).

So, wie is Jesus? Hy is ons lewende Verlosser! Hy is ons groot Hoëpriester, soos die apostel Paulus verduidelik (Hebreërs 3:1; 4:14). Hy sit aan die regterhand van God in die hemel waar Hy “ook vir ons intree” (Romeine 8:34). Hy sal binnekort terugkeer Aarde toe as Koning van konings en Heer van here om die Koninkryk van God op Aarde te vestig en vir ons wêreldvrede te bring! Sal u gereed wees vir Sy wederkoms? Sal u Sy offer en gestorte bloed as betaling vir u sondes aanvaar? Dank God dat die Bybel die Verlosser van hierdie wêreld onthul - ons lewende Verlosser!