Vraag: Wat is die betekenis van Jesus se doop? In Mattheüs 3:16 lees ons dat toe Johannes Jesus gedoop het, die Heilige Gees “soos ’n duif” neergedaal en op Hom gerus het. Is dit toe die menslike Jesus Christus die eerste keer die inwoning van die Heilige Gees ontvang het?

Antwoord: Hierdie wanbegrip aangaande Jesus se doop is baie algemeen, en word algemeen uitgespreek deur diegene wat glo in die valse leerstelling van “aanneming” en hulle aanvaar dat Jesus nie die Seun van God was voor Sy doop nie. Hulle wil ook Jesus Christus se voorafbestaande ewige teenwoordigheid in die Godheid ontken of verkleineer.

Jesus Christus het bestaan as die Logos – die “Woord” – vanaf die heel begin (Johannes 1:1). Nogtans het hierdie selfde goddelike wese “in die vlees” na die aarde gekom – die Skrif beskou die idee dat Jesus nie ten volle mens was nie, as “Antichristelik” (1 Johannes 4:3; 1 Timotheüs 3:16). Die Skrif het dit ook baie duidelik gemaak dat Jesus Christus na die aarde sou kom as Emmánuel “God met ons” (Jesaja 7:14; Mattheüs 1:23).

Hoe kon Jesus ’n menslike wese gewees het wat gekom het om gedoop te word, maar nogtans ook “God met ons” gewees het? As ons hierdie twee feite met mekaar kan versoen sal dit ons nie slegs help om te verstaan hoe en wanneer en waarom Jesus Christus die Heilige Gees ontvang het nie; dit sal ons selfs help om iets van Sy aard te verstaan – ’n onderwerp wat dikwels verkeerd verstaan word deur “hoofstroom Christelikheid”.

Uit die Skrif weet ons dat Jesus uit ’n maagd gebore is en dat Hy verwek was deur die Heilige Gees (Jesaja 7:14; Mattheüs 1:20). Nogtans – alhoewel die Logos God was – in wat bekend staan as Sy kenosis (Grieks vir “ontlediging”) het Hy vrywillig Sy Godheid prysgegee, Homself ontledig van Goddelikheid om ’n mens te word (Filippense 2:5-7). Ja, toe Jesus Christus ’n mens was, was Hy werklik ’n mens en toe Hy gesterf het, het Hy drie dae en drie nagte in die graf deurgebring voordat Sy Vader Hom uit die dood opgewek het tot die ewige lewe.

Onthou dat Jesus, regdeur Sy bediening, dit herhaaldelik duidelik gemaak het dat Sy Vader groter was as Hy (Johannes 14:28). Christus het nie daarop aanspraak gemaak dat Hy wonderwerke verrig, of dat Hy Sy leerstellings, op Sy eie gesag, aanbied nie; Hy het eerder duidelik verwys na Sy Vader as die bron: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke” (Johannes 14:10). Die Skrif toon dat daar soms beperkings was op wat die menslike Jesus Christus kon vermag wanneer Hy te staan gekom het voor ongelowiges wat Hom slegs geken het as die timmerman, Maria se seun. Let op hierdie weergawe van Sy besoek aan Nasaret: “En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ’n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het” (Markus 6:5).

Vir ’n tyd lank voordat Jesus se bediening begin het, was daar ’n ander kragtige bediening in swang in Judea, gelei deur Johannes “die Doper”. Die Skrif openbaar aan ons dat ses maande voordat Maria geweet het dat sy swanger was met Jesus, die engel Gabriël aan Johannes se vader, Sagaria, verskyn het en aangaande Johannes – Jesus se neef – profeteer het: “Hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af” (Lukas 1:15). Johannes se roeping sou wees om die weg vir Jesus se bediening voor te berei.

Net so terloops, ons sien hieruit dat God, selfs nog voor Jesus se geboorte, die Heilige Gees gegee het aan ’n baie beperkte getal individue met wie Hy op ’n spesiale manier gewerk het om Sy plan op aarde ten uitvoer te bring. Antieke Koning Dawid is nog so ’n voorbeeld; hy het tot sy Here gebid: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:13).

Anders as vandag se Christene wat verwek word deur die Heilige Gees ná berou tot bekering en waterdoop, het Jesus Christus – wie geen sonde gehad het waarvan Hy Hom moes bekeer nie – die inwonende Heilige Gees ontvang op die oomblik van verwekking. Hy was Emmánuel – God met ons, God in die vlees. In oormaat gevul deur die Heilige Gees (Johannes 3:34), het Hy selfs van voor die begin van Sy bediening af, ’n volmaakte, heilige en regverdige lewe gelei. Johannes het slegs met water gedoop, maar tydens Jesus se doop, wat die voorbeeld gestel het vir almal wat gevolg het, het God ’n teken gegee – die Gees wat “soos ’n duif” neergedaal het – wat aandui dat Jesus se volgelinge nie net met water gedoop sou word nie, maar met die Heilige Gees. Dít is die betekenis van Jesus se doop deur Johannes.