God het ons werklik in baie opsigte in hierdie werk geseën. Ons begin nou om ’n kragtiger impak in baie dele van die wêreld te maak. Dit is baie goed - en iets waarvoor ons baie dankbaar kan wees. Elkeen van ons moet egter werklik besef dat God se Woord vir ons oor en oor sê dat ernstige vervolging gewoonlik saam met kragtige lering van die Waarheid gepaard gegaan het. “Dit” soos hulle sê, “kom met die verpakking”.

Maar is u werklik “gereed”?

Wat is u persoonlike “breekpunt”? Wat sal u reaksie wees teenoor werklike vervolging soos wat ons nog nooit gedurende hierdie era ervaar het nie? Ons moet almal hierdie vraag ontleed en probeer om vooruit te dink oor wat ons moontlik mag doen en wat ons werklik behoort te doen wanneer ernstige vervolging plaasvind.

Ek het onlangs in die hoofartikel van ’n Wall Street Journal ’n baie roerende artikel deur Jere van Dyk gelees wat die vervolgings beskryf van opregte sendelinge in die uithoeke van die aarde. Hy skryf:

“Op 8 Desember 1934 in ’n dorpie naby Nanjing in Oos-China het vêrlangse familie van my, John en Betty Stam, hulle drie-maande oue dogtertjie vir hulle Chinese bediende gegee en haar gevra om die baba te versteek. Daarna het hulle op die grond gekniel in gebed toe kommunistiese soldate by hulle huis ingebars en hulle onthoof het. Hulle was Christensendelinge ... ek het aan hulle gedink toe ek gelees het van die drie sendelinge wat onlangs in Jemen vermoor is. Tragies soos die storie is - hulle is op 30 Desember in Jibla vermoor toe ’n man ’n geweer ingesmokkel het by die sendinghospitaal in Jibla waar hulle gewerk het en hulle geskiet het waar hulle by ’n tafel gesit het - evangelistiese Christene sal nie heeltemal daardeur bedroef wees nie ... Amerikaanse sendelinge, soos hulle broers en susters in Kanada, Europa en elders voel dat God hulle lei. Hulle gaan waar daar ’n behoefte is. Ek is seker dat mense gesange gesing het by gedenkdienste vir die sendelinge wat in Jemen vermoor is terwyl hulle gesigte gestraal het tussen hulle trane deur omdat hulle in hulle harte geweet het dat die sendelinge nie tevergeefs gesterf het nie” (Januarie 11, 2003).

Selfs al was hierdie sendelinge se verstand waarskynlik nie deur God geopen tot die volle waarheid soos Hy aan Sy ware Kerk geopenbaar het nie, is hulle opregte geloof en moed baie voorbeeldig. Sal ons - ons wat God se Heilige Gees het en groter begrip behoort te hê - dieselfde toewyding en geloof openbaar wanneer ons tyd van beproewing aanbreek?

Mag God ons help!

Godsdienstige vervolging woed regoor die wêreld selfs terwyl ek hier skryf. Letterlik tienduisende opregte mense - belydende Christene - word geteister en gemartel in China, Burma, regdeur die Moslemwêreld en op baie ander plekke. U en ek moet verstaan. Soos ons sê: “Die tyd van ‘kerk-kerk speel’, is verby!” God se ware mense moet ’n dieper begrip en geloof ontwikkel. Elkeen van ons moet - deur God se Heilige Gees - ’n dieper verbintenis ontwikkel om ons God ten volle te gehoorsaam, om daagliks en uurliks met Hom te wandel en om ons totale lewens volkome aan Hom oor te gee in Sy getroue sorg. Soos die apostel Paulus dit stel: “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28).

Geagte lesers, ek het baie kere Jesus se woorde in Mattheus 24:9-10 aangehaal. Lees daardie woorde asseblief met begrip - want wat dit beskryf sal binnekort begin plaasvind! “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat”.

Soos wat hierdie Werk van die lewende Christus groei in krag en omvang sal ons deur alle nasies “gehaat” word. Jesus het so gesê! Baie van God se mense sal bonatuurlik van die volle trefkrag van die Groot Verdrukking beskerm word (Op. 12:13-17). Maar sonder twyfel is daar leraars - en sommige ywerige lidmate - wat vervolg en geslaan sal word, in die tronk gegooi sal word en op ander maniere mishandel en moontlik selfs doodgemaak sal word voordat die volskaalse Verdrukking begin!

Ons moet dus almal die “koste bereken”. Soos Jesus vir Sy dissipels gesê het, insluitend ek en u: “En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: As iemand na My toe kom en hy haat [minder liefhê in verhouding] nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?” (Luk. 14:25-28).

Weereens sê Jesus vir ons: “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie” (Matt. 10:22-23). En later “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (verse 28-31).

Lesers, ons moet laat hierdie woorde “in ons ore weerklink” sodat wanneer die realiteit van Jesus se waarskuwing begin plaasvind, ons nie verward, verbaas of bang sal wees nie. As die diensknegte van die lewende God moet ons oor hierdie dinge mediteer en die voorbeelde van vervolging en geloof in God se Woord bestudeer, en by voorbaat deurdink wat ons reaksie moet wees. Dan het ons nodig om dag en nag tot God te roep om ons nader aan Hom en tot volle oorgawe aan Hom te bring namate die einde van die tyd nader.

Hoe sou u daarvan hou om gevange in ’n kerker te wees en dan in ’n tenk vol modder neergelaat te word? Dit is presies wat met Jeremia - een van God se grootste profete - gebeur het! ’n Swak en besluitelose koning Sedekía van Juda het Jeremia oorhandig aan van die prinse wat sy waarskuwings gehaat het en hom wou vernietig. “En koning Sedekía het gesê: Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie. Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak” (Jer. 38:5-6).

’n Godvresende swartman het te hore gekom van Jeremia se benarde situasie en hom gered (verwys verse 7-13). Jeremia het egter nog in die tronk gebly vir maande totdat koning Nebukadnésar van Babilon Jerusalem verower het en hom vrygelaat het. Dit moes ’n lang en pynlike ervaring gewees het.

Die apostel Paulus was ook een van die mees toegewyde knegte van God in die mens se geskiedenis. Tog het God toegelaat dat Paulus deur verskeie beproewings gaan. Deurdat hy hom geroepe gevoel het om sy toegewydheid te bewys as gevolg van die beskuldigings van vals leraars, het die apostel Paulus geskryf: “Is hulle dienaars van Christus? - ek praat in uitsinnigheid - ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring - dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor. 11:23-28).

Wat ’n voorbeeld vir ons!

Indien nodig moet ons bereid wees om die voorbeeld te volg van Paulus, Jeremia en Jesus Christus self - asook baie getroue Christene oor die eeue heen - deur beproewings, toetse en ernstige vervolging deur te maak. Ons redder Jesus Christus gee pertinent opdrag vir almal van ons: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade” (Mat. 16:24-27).

Ons word “gered” of geregverdig van ons vorige sondige lewens deur Jesus se gestorte bloed. Soos vers 27 uitwys, word ons egter volgens ons werke beloon - volgens die graad van ons gehoorsaamheid aan God en ons diens aan God en ons medemens. God eis dat ons optree volgens ons geloof in Hom! “Geloof sonder die werke [is] dood” (Jak. 2:20). Dit beteken dat ons steeds getrou en gehoorsaam aan Hom moet bly, selfs gedurende tye van beproewing en vervolging. Al God se dienaars oor die eeue heen moes aan dieselfde vereiste voldoen. Waarom moet ons anders wees?

Gedurende ’n tyd van ernstige vervolging het Paulus aan die Thessaloniese Christene geskryf: “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur - ’n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly” (2 Thess. 1:3-5). Ons gewilligheid om te ly vir die naam van Jesus Christus is “bewys” vir God dat ons die koninkryk van God “waardig” is - soos Paulus skryf. Baie van God se mense is vandag fisies oud en sekerlik swak in baie opsigte. God weet dit. Hy is ’n liefdevolle Vader. Hy sal ons nie versoek of beproef bó wat ons kan verdra nie, maar sal “saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor. 10:13).

Geagte lesers, ons moet mekaar help, aanmoedig en vuriglik vir mekaar bid sodat elkeen van ons “ons kruis sal kan dra” soos Jesus gedoen het. Ons moet Jesus Christus werklik in ons laat leef ten einde God werklik te behaag - en ten einde die geloof en moed te hê om die komende beproewings en verdrukking te deurstaan wat geprofeteer is om in die eindtyd oor God se mense te kom.

Geloof kom deur die aanhoor (of bestudering) van God se Woord (Rom. 10:17). Elkeen van ons moet ernstig en nadenkend die voorbeelde van geloof tydens swaarkry bestudeer wat orals in die Bybel voorkom. Ons moet bid met ons hele wese dat God vir ons en ons broeders die geloof en die moed sal gee wat ons ongetwyfeld in die jare vorentoe nodig sal hê.

Almal van ons moet die voorbeeld onthou van stralende geloof wat deur Paulus gestel is kort voordat hy gemartel is. “Want ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:6-8).