Vraag: Leer die Bybel dat Christene nie alkoholiese drank mag drink nie?

Antwoord: 
Het Jesus, met Sy heel eerste openbare wonderwerk in Kana toe “Sy heerlikheid geopenbaar” is, bloot druiwesap gemaak (Johannes 2:11)? Indien die  bruilof in Kana volgens Joodse tradisie gehou is, sou die gaste beslis by die bruilofsfees wyn gedrink het wat gegis het. Toe die gaste se wyn tydens hul feestelikheid gedaan raak, help Jesus hulle deur water te verander in “wyn,” volgens die Bybel.  Indien Jesus vir die gaste druiwesap gemaak het, sou hulle nooit vir die bruidegom sê daar staan in die Skrif: “Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar” (Johannes 2:10).

In die vers hierbo gebruik Johannes die Griekse woord oinos vir “wyn.”  Dit is belangrik om te onthou dat oinos altyd verwys na drank wat gegis of gefermenteer is.  Die Bybel gebruik 13 Hebreeuse en Griekse woorde vir “wyn” en ons kan hul betekenis bepaal deur te let op die konteks waarin die woorde gebruik word.  Die woord “wyn” word die eerste keer in die Ou Testament aangetref waar Noag “van die wyn gedrink ... [en] dronk geword [het]” (Genesis 9:21). Die Hebreeuse woord hier is yayin. Daardie wyn het Noag dronk gemaak. Yayin beteken altyd “gefermenteerde wyn”. God het Self vir Abraham “wyn” gegee – en Abraham is die vader van die getroues.  “En Melgisédek, die koning van Salem, wat ’n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn [yayin] gebring” (Genesis 14:18).  Melgisédek, die God van die Ou Testament, is die Een wat Jesus Christus geword het.  Indien u nie vertroud is met Melgisédek se identiteit nie, skryf gerus aan ons streekkantoor vir die gratis artikel Wie was die God van die Ou Testament?

Die uitdrukking “vrug van die wynstok” word slegs drie keer in die Bybel gebruik, naamlik in Mattheus 26:29, Markus 14:25 en in Lukas 22:18.  Dit verwys in elke geval na die Pasgadiens wat Jesus ingestel het op die vooraand van Sy dood.  In die noordelike half-rond is Pasga gedurende die lente gevier, lank voor die jaarlikse druiwe-oes.  Enige “vrug van die wynstok” wat daardie aand genuttig is, moes dus gegis of gefermenteer wees, aangesien druiwesap lankal reeds sou bederf het in die houers wat in Jesus se tyd vir berging gebruik is. Party mense het die verkeerde idee dat hulle “melasse” genuttig het – dit was ’n ander manier om druiwe te preserveer sonder om wyn te maak.  As ons in ag neem dat Jesus en Sy dissipels hier ’n maaltyd nuttig, maak dit geen sin dat hulle melasse daarmee saam sou drink nie.

Dieselfde Griekse woord oinos in Johannes 2:3-10 word ook in Efesiërs 5:18 gebruik: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid”.  Druiwesap veroorsaak nie “losbandigheid” nie. Let ook op hoe die Apostels beskryf word op Pinksterdag: “Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn [oinos]” (Handelinge 2:13). Voorts, “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie” (Romeine 14:21).  Paulus skryf vir Timotheus: “’n Opsiener dan moet ... geen drinker [van oinos], geen vegter, geen vuilgewinsoeker [wees] nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige [wees] nie” (1 Timotheus 3:2-3).  As ons “wyn” in hierdie konteks deur die woord “druiwesap” vervang, sou die verse nie sin maak nie. Toe Paulus aan Timotheus die genesende waarde van wyn verduidelik, skryf Paulus: “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede” (1 Timotheus 5:23).  Weereens word die Griekse woord oinos gebruik – gegiste of gefermenteerde wyn, nie druiwesap nie.  U sien dus dat die Bybel dronkenskap verdoem, maar onderrig dat dit aanvaarbaar is om alkohol matig te gebruik.