Die waarheid is werklik meer merkwaardig dan fiksie - veral die kragtige waarheid van Bybelvoorspellings! Skokkende gebeure is die afgelope dekades in die nuus gepubliseer wat bewys dat die Skrif nie sprokies is wat deur die mens saamgestel is nie, maar die geïnspireerde openbarings van ‘n Almagtige God. Menslike voorspellers ken die dwaasheid daarvan om die toekoms te probeer voorspel, maar God sê aan die profeet Jesaja: “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie ... Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom" (Jes. 46:9-11). Bybelvoorspelling is geskiedenis wat vooraf neergeskryf is - deur 'n God wat magtig genoeg is om dit te laat gebeur! Antieke voorspellings ontvou vandag - reg voor ons oë! Die toekoms is ontnugterend; dit is geen feë-verhaal nie!

Bedrieglike Skoonheid

In die boek van Openbaring word ons voorgestel aan 'n "vrou" met verblindende skoonheid, gekleed in purper en skarlaken en versier met goud en juwele (Op. 17:4). Die vrou is 'n groot "hoer" wat die nasies dronk gemaak het met haar vals leerstellings (Op. 17:1, 2, 15). Sy het ontug gepleeg (met intieme politieke verhoudings) met die konings van die aarde. Sy ry 'n skarlaken dier en is 'n naam gegee: "Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde" (Op. 17:3, 5).

Die identiteit van hierdie geheimsinnige vrou het vir lank bybellesers gefassineer en verwar. Menige teoloë het vir eeue hierdie vrou verbind met die Kerk van Rome - ons politiek korrekte tydvak beskou dit egter as onvanpas en beskuldigend. Om egter hierdie verband te verwerp is om dit wat voor die hand liggend is te ignoreer. Die Bybel gebruik dikwels die term vrou om na 'n kerk te verwys (sien Op. 12:6, 13-17). Die vrou van Openbaring 17 is 'n kerk van groot prag en praal wat leerstellings versprei wat teenstrydig is met die Skrif en gemoeid is met die politiek van hierdie wêreld. Hierdie kenmerke was van die begin, deel van die Romeinse Kerk. Die skarlaken kleur van die vrou en die dier is ook die kleur van die Pousdom: "The Papal Throne is Scarlet. It is borne by twelve men in Scarlet. The Cardinal's hats and robes are Scarlet" (Halley's Bible Handbook, bl. 732). Skarlaken is ook die oorheersende kleur van die Vatikaan se Switserse Wag. Die amps-gewaad wat deur priesters en pouse gedra word is versier met goud en juwele.

Hierdie stralende vrou word ook beskryf as die "moeder van die hoere" (Op. 17:5). Persvrystellings deur die Vatikaan benadruk dit dat die Katolieke Kerk die "moeder" van alle kerke is en dat die ander Christelike kerke nie "susters" is nie maar "dogters" wat uit die Katolieke Kerk voortgekom het gedurende die Hervorming. Die ware bron van baie Protestante en Katolieke leerstellings [nl., Kersfees, Paasfees (Engels "Easter")] is nie in die Bybel nie; hulle bron is die heidendom. Rome, die setel van die Vatikaan, word "die Ewige Stad" genoem. Die Bybel verwys na die tuiste van die vrou as "die groot stad" en as 'n hedendaagse "Babilon" (Op. 17:18; 18:1-2). Die sewe koppe van die dier wat deur die vrou gery word is sewe berge (Open 17:9) - Rome is gebou op sewe koppies. Die verband tussen die vrou van Openbaring 17 en die Romeinse Kerk is beswaarlik fiksie.

Geheimsinnige Diere

Die boek van Openbaring maak ook melding van 'n aggressiewe oorlogmakende "dier" - wat herlewe nadat dit dodelik gewond was - wat oorlog maak met die heiliges (Op. 13:1-10). Hierdie herrese dier sal uiteindelik tien konings insluit wat hulle oppergesag aan die dier afstaan net voor die wederkoms van Christus (Op. 17:11-14). Hierdie eindtydse unie of bondstaat sal swak en van korte duur wees, en sal tot niet gaan met die Wederkoms van Christus (Dan. 2:41-45). Huidige pogings om 'n Europese Unie tot stand te bring volg die patroon van hierdie profesië - net soos die probleme wat die Europese moondhede ondervind om saam te werk.

Die apostel Johannes, skrywer van die boek Openbaring, beskryf 'n tweede dier wat lyk soos 'n lam maar soos 'n draak praat (Op. 13:11-18). Hierdie dier wat lyk soos 'n lam bedrieg baie mense deur groot tekens te verrig, bevorder toewyding aan die eerste dier en veroorsaak dat baie mense die merk van die dier ontvang. Die dier wat soos 'n lam lyk het 'n nommer - 666. Halley skryf: "Irenaeus, 'n student van Polycarp, 'n student van Johannes, het verstaan dat die 666 die Griekse woord Lateinos is ... Wat Latynse Koninkryk beteken. Pouslike Rome het Latyn sy amptelike taal gemaak" (Halley's Bible Handbook, bl. 726). Pouslike verordeninge en amptelike Vatikaan dokumente word steeds in Latyns uitgereik. Dit is nie toevallig dat die simboliek van die dier wat soos 'n lam lyk in Openbaring 13 die stralende vrou van Openbaring 17 insluit nie.

Skoonheid en die Ondier

Die sentrale rol wat Rome en die Katolieke Kerk speel in die poging om Europa te verenig pas merkwaardig in by profesië oor die opkoms van 'n eindtyd dierkrag vanuit die as van die ou Romeinse Ryk. Die verdrag wat die Europese Ekonomiese Gemeenskap gestig het is onderteken in 1957 - in Rome - deur oorwegend Katolieke lande. In 1982 het die Romeinse Katolieke hoëpriester 'n versigtig opgestelde verklaring uitgereik om Europese eenheid te bevorder gedurende die hoogtepunt van sy toer in Spanje. In 'n hartstogtelike beroep op alle Europeërs het die Pous gesê: "Ek, Johannes Paulus, biskop van Rome en pastoor van die universiële kerk, lewer vanuit Santiago [de Compostella] aan jou, ou Europa, 'n oproep vol liefde. Vind jouself. Wees jouself. Vind jou oorsprong. Gee lewe aan jou wortels (International Herald Tribune, 10 November, 1982).

Terwyl die Pous se woorde hoofsaaklik 'n oproep tot die Europeërs was om hulle Katoliek-Christelike erfenis te herontdek, is sy stelling met profetiese betekenis gevul. Daniël boekstaaf 'n profesie oor 'n boom (wat die Babiloniese koning Nebukadnésar voorstel) wat afgekap gaan word, maar sy stomp en wortels moet in die grond oorbly - gebind met 'n band van yster en koper totdat sewe tye verby gegaan het (Dan. 4:14-25). Die koning se sewe jaar van kranksinnigheid het hierdie profesie gedeeltelik vervul. Die Bybel openbaar egter dat 'n profetiese jaar van 360 dae die ekwivalent van 360 jaar is (sien Num. 14:34; Eseg. 4:4-6). Sewe profetiese jare (van 360 dae) kom op 2,520 jare te staan. Babilon het tot 'n val gekom in 539 v.C. (sien Eerdman's Handbook to the Bible, bl. 432). Sewe profetiese tye vanaf 539 v.C. bring ons tot 1982 - die datum waarop Johannes Paulus die Europeërs aangespoor het om "lewe aan hulle wortes te gee".

Sedert 1982 het die moderne Babilon wat in Sentraal Europa te voorskyn kom vanuit sy antieke wortels, dramatiese groei getoon. Sewe jaar na die Pous se stelling in Santiago, het die Berlynse muur in een gestort - wat 80 miljoen Duitsers in die hart van Europa verenig het. In 1994 het die Maastricht verdrag die Europese Unie tot stand gebring met 'n sentrale bank en een geldeenheid. In 1996 het die Europese Parlement 'n wet gemaak wat ’n beroep op die lidlande doen om Sondag te respekteer - 'n wet wat nog afgedwing moet word. Pous Johannes Paulus gaan egter voort om die belangrikheid van Sondag-aanbidding te beklemtoon. Die geforseerde onderhouding van Sondag in stede van die Bybelse sewendedag sabbat sal 'n ander profesie vervul - dat 'n eindtydse godsdienstige leier "sal probeer om tye en wet te verander" (Dan. 7:25). Gewettigde Sondag-onderhouding kan die merk van die dier word waarvan Johannes in Openbaring 13:16-18 praat!

Die jare wat nou net voorlê sal 'n al groter wordende intieme verhouding openbaar - al is dit antagonisties - tussen die Europese Unie en die Katolieke - soos die vrou gereed maak om die dier te ry. Anders as in die rolprent sal hierdie bedrieglike skoonheid en die al hoe meer aanmatigende dier nie vir altyd gelukkig saam woon nie! Om meer te wete te kom van hierdie baie belangrike onderwerp, vra ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring, aan. Bybelprofesië is werklik en is vandag besig om vervul te word.