Hierdie antieke nasie by die kruising van Europa en Asië voel die teenstrydige aantrekkingskragte van Islamisme en Verwestering. Wat lê voor?

Die verlede is altyd deel van die hede en dit is baie duidelik waar te neem in die moderne nasie van Turkye (gespel “Türkiye” in Turks). In die vorige eeu was Turkye ’n belangrike, maar nie ’n dominante rolspeler op die wêreldverhoog nie maar hy ontluik tans as ’n vername rolspeler in die sake van Europa, die VS en die Midde-Ooste. Ek het onlangs deur Turkye gereis en het ’n moderne wêreldstaat met ’n kulturele Moslem-bevolking gesien. Die nasie is besig om te moderniseer en ekonomies te groei, maar bly steeds bewus van sy baie antieke geskiedenis.

Turkye mag deur ’n geskiedkundige sosiale en politieke aanpassing gaan en om sy toekoms in oënskou te neem, behoort ’n mens iets van sy verlede te verstaan. Vir die afgelope halwe eeu, was Turkye meer Westers as Midde-Oosters gesind, maar dit mag besig wees om te verander.

Geografie maak saak!

Geskiedkundig was Turkye op die kruispad tussen Europa en Asië. Die Turkse Seestrate (wat uit die Bosporus, Dardanelles en See van Marmara bestaan) skei Klein-Asië van Europa en Turkye het werklikwaar ook ’n klein grondgebied aan die Europese kant. Op die smalste punt is die Turkse Straat slegs 1,200 meter breed. Die pragtige en invloedryke stad Istanbul (voorheen Konstantinopel), kyk uit oor hierdie smal en baie belangrike seeweg. Indien ’n mens die Midde-Ooste uit Europa aanval, soos die Grieke gedoen het, of as ’n mens Europa uit die Midde-Ooste binneval, soos die Perse en Turke gedoen het, moet ’n mens hierdie kritieke punt kruis.

Antieke geskiedenis

Die streek van Moderne Turkye (in antieke tye bekend as Anatolië) het duisende jare se geskiedenis, met koninkryke wat gekom en gegaan het. Baie mense is vandag vertroud met die groot legendes wat verband hou met die ou stad van Troje, wat strategies aan die Turkse Seestrate geleë was. Daardie legendes sluit die Trojaanse Perd en groot krygers soos Achilles, Hektor en Odysseus in. Die ruïnes van Troje wat uitgegrawe is, kan vandag besigtig word.

Die Perse het hierdie gebied in die 5de en 6de eeue v.C. verower. In 334 v.C. het Alexander die Grote en sy Griekse leër die gebied suksesvol van die Europese kant af binnegeval en blywende invloed van die Griekse kultuur na die streek gebring. Later, tydens Romeinse heerskappy, word verskeie stede in die gebied pertinent in Paulus se briewe in die Bybel genoem, aangesien Christengemeentes daar gestig is.

Bybelse tye

Gedurende Bybelse tye was Galásië ’n streek in sentraal Turkye en die apostel Paulus het ’n brief wat ons in die Bybel die boek van Galasiërs noem, aan hulle geskryf. Die boek van Handelinge maak melding van die Galilése stede van Listre, Ikónium, Derbe en ander. Sommige ander Anatotiese stede wat in Handelinge vermeld word, is Pisídië, Pamfílië, Perge, Attálië en Troas. Ons lees in Openbaring van Éfese, Smirna, Pérgamus, Thiatíre, Sardis, Filadelfia en Laodicéa, waarvan die argeologiese terreine almal deesdae aan die weste van Turkye besoek kan word.

Die boek Efesiërs is ’n brief wat aan die Kerk van God in die stad Éfese geskryf is en nou ’n deel van moderne Turkye is. Daar het Paulus ’n oproer veroorsaak, deurdat hy verkondig het dat afgode nie ware gode is nie. Die boek Handelinge gee ’n weergawe van die voorval.

“En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie. Want iemand met die naam van Demétrius, ’n silwersmid, maker van silwertempeltjies van Diana, het ’n aansienlike verdienste aan die ambagsmanne verskaf. En toe hy hulle en die werkers in daardie soort bedrywe bymekaargeroep het, sê hy: Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie verdienste is, en julle sien en hoor dat nie alleen in Éfese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus ’n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie. Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan. En toe hulle dit hoor, is hulle met woede vervul en het geskreeu en gesê: Groot is die Diana van die Efésiërs! Daarop raak die hele stad heeltemal in verwarring, en hulle storm soos een man na die skouburg en sleep Gajus en Aristárchus saam, Macedóniërs wat reisgenote van Paulus was. En toe Paulus onder die volk wou ingaan, het die dissipels hom dit nie toegelaat nie” (Handelinge 19:23-30).

Die terrein waar hierdie voorval plaasgevind het kan vandag in Turkye besoek word in die opgrawings van die ruïnes van die antieke stad Éfese. Die werklike amfiteater waar dit plaasgevind het is uitgegrawe en gedeeltelik herstel. Daar was net een so ’n amfiteater in die stad. ’n Mens kan in die middel daarvan staan en maklik dink hoe die oproer moes gewees het toe die skare almal saam vir hulle heidense godin, Diana, geskreeu het.

“En sommige van die owerstes van Asië wat sy vriende was, het ook na hom gestuur en hom gesmeek dat hy hom nie in die skouburg moes begeef nie. Hulle het dan aangehou skreeu, sommige dit en ander dat; want die vergadering was in die war, en die meeste het nie geweet waarvoor hulle bymekaargekom het nie. En hulle het Alexander uit die skare vorentoe laat kom, omdat die Jode hom vorentoe gestoot het; en Alexander het met die hand gewink en wou hom by die volk verdedig. Maar toe hulle verstaan dat hy ’n Jood is, gaan daar een geroep van almal op terwyl hulle omtrent tweeuur lank skreeu: Groot is die Diana van die Efésiërs!” (Handelinge 19:31-34).

Die streek waaruit moderne Turkye bestaan is ryk aan Bybelse geskiedenis en baie van die plekke is deur argeoloë opgegrawe en kan vandag besoek word.

Die Moslem Ryk in Europa

Turkye is sedert 1923 amptelik ’n wêreldstaat en terwyl die oorgrote meerderheid van sy burgers Sunni Moslems is, is baie van hulle nie baie aktief in hulle geloof nie. Baie Turkse vroue dra byvoorbeeld nie kopdoeke nie en word nie dikwels met die burka, die swart oorrok, gesien nie.
Onder die wêreld se godsdienste is Islam ’n relatief onlangse aankomeling. Mohammed, wat deur die Moslems as die laaste profeet beskou word, is ongeveer 570 n.C. gebore en het persoonlik die Islamitiese geloof na die Arabiese Skiereiland gebring. Na sy dood in 632 n.C. is Islam hoofsaaklik deur militêre veldtogte in die Midde-Ooste versprei, met inbegrip van vandag se moderne Turkye. Dit het ook vanaf Indië regdeur tot in Noord-Afrika gestrek. Omdat dit deur ’n Kalief regeer is, was dit bekend as die Kalifaat. In 711 n.C. het ’n Moslem-leër die Straat van Gibraltar van Afrika af oorgesteek tot in Spanje en Islam se verowering van Wes-Europa het begin. Dit sluit die verowerings van Sicilië en die suide van Italië in. In 732 n.C., in wat nou die moderne Frankryk is, is die Moslem-leër onder leiding van Abd al-Rahman deur Charles Martel en sy Frankiese (vroeë Franse) weermag tydens die vername Slag van Tours verslaan. Slegs Martel se troepe het tussen al-Rahman en Parys gestaan. Hierdie veldslag was ’n groot keerpunt in die Europese geskiedenis, want daarmee begin die Reconquista, of herowering van Katolieke Europa van die Moslems, ’n lang en moeisame poging, met baie terugslae. In 846 n.C. is ’n deel van Rome deur ’n Moslem-leër verwoes en die skatte van die ou St. Peter Katedraal is geplunder. Die laaste Moslem-vesting in Spanje is verslaan toe Granada in 1492 geval het.

Die Ottomaanse Turke

Gedurende die laat 1200’s n.C. het die Turke een van die wêreld se groot imperiale ryke gestig. Eerstens het agtereenvolgende dinastieë Anatolië (die gebied van moderne Turkye) verenig en daarna die ryk deur militêre verowering uitgebrei om groot dele van Wes-Asië, Suidoos-Europa en Noord-Afrika in te sluit. Die regering van Suleiman die Manjifieke (1520-1566) het die Ottomaanse Turkse Ryk na sy hoogtepunt gevoer. Dit was geskiedkundig een van die wêreld se blywendste ryke wat meer as ses eeue lank, tot met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, bestaan het.

Die oorspronklike woning van die sultans was vir ongeveer 400 jaar lank die Topkapi Paleis (“Kanonhek Paleis”). Die groot, luukse kompleks is aan die Europese kant van die Bosporus geleë en huisves nou ’n museum wat baie waardevolle juweliersware wat eens aan die sultans behoort het bevat. Ek het tydens ’n onlangse reis aan Istanbul die paleis besoek. Ons Turkse gids het verduidelik dat terwyl ’n sultan dalk baie vroue en byvroue gehad het wat in aansienlike luuksheid gewoon het, daar heftige wedywering tussen hulle was. Die sultan het sy opvolger uit sy seuns gekies en hewige intriges tussen sy vroue, selfs moord, was algemeen in die paleis.

Die Turkse Kalifaat

Die Ottomaanse Turkse sultans het Islam vir eeue lank oorheers en aanspraak gemaak op die titel van Kalief met Mehmed II as sy eerste sultan ná sy verowering van Konstantinopel in 1453. Mehmed II was die sultan wat met die konstruksie van die Topkapi Paleis begin het. Islam is deur die Reconquista uit Wes-Europa gedwing, maar die Ottomaanse Turke het met behulp van hulle militêre mag na Oos-Europa begin uitbrei.

In die 1500’s het die Turkse magte alle weerstand in Oos-Europa uitgewis en dit in die naam van Islam gedoen. Daar was soms terugslae, maar die sultans het ’n heiligeoorlog teen die Heilige Romeinse Ryk, met sy hoofkwartier in Wenen, Oostenryk gevoer. In 1521 het Suleiman die Manjifieke, Belgrado verower en Koning Louis II van Hongarye om die lewe gebring. Daarna het hy Wene aangeval, maar is gedwing om tydelik te onttrek. Tydens sy hoogtepunt het die Turkse Ryk groot dele van Oos-Europa besit, met inbegrip van die hedendaagse moderne Roemenië, Bulgarye, die voormalige Yugoslavia, Albanië, Griekeland, dele van Rusland en groot dele van Oostenryk-Hongarye. Diepe wrewel teenoor daardie langdurige Moslem verowering is steeds aanwesig in dele van Oos-Europa. Nadat die Turke in 1663 die Derde Slag van Wene verloor het, het hulle langsame agteruitgang van mag en die einde van byna ’n duisend jaar se “heilige oorloë” teen Wes- en Oos-Europa begin. Die gevaar van hierdie oorloë is diep afgeëts in die geskiedkundige geheue van Katolieke Europa.

Die agteruitgang en val van die Turkse Ryk

Gedurende die vroeë 1900’s was Imperiale Turkye egter op pad na ondergang. Vanaf 1913 tot 1918 het ’n hervormingsgroep, genaamd die Jong Turke, absolute beheer oor die Ottomaanse Ryk uitgeoefen. Hulle het die Ottomaans-Duitse Alliansie onderteken, met die gevolg dat die Ottomaanse Ryk die Eerste Wêreldoorlog aan die kant van die Duitse- en Sentrale magte betree het. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hierdie leierskap vir die Armeense volksmoord wat tot die dood van meer as ’n miljoen etniese Armeniërs gelei het, verantwoordelik.

Nadat die Sentrale Magte in die Eerste Wêreldoorlog verslaan is, het die Ottomaanse Ryk ineengestort en die Geallieerdes wat Brittanje, Frankryk en die VS insluit, het so meer as 600 jaar van die imperiale Turkse Ryk beëindig. In 1916, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, het die Sykes-Picot Ooreenkoms die Ottomaanse Ryk so opgedeel met die verwagting dat dit ’n geallieerde oorwinning en Brits/Franse administrasie van die gebiede tot gevolg sal hê. As ’n gevolg van die Paryse Vredeskonferensie in 1919 het groot dele van die Ottomaanse Ryk in Sentraal-Asië en die Midde-Ooste verbrokkel en is dit onder Britse en Franse beheer geplaas. Die nasionale gedeeltes van die Sykes-Picot Ooreenkoms wat nog oorgebly het, is deesdae in die nuus aangesien ’n herleefde kalifaat genaamd die Islamitiese Staat dit as ongeldig veroordeel.

Die era van Ataturk

Die grootste en mees gerespekteerde figuur in die moderne Turkse geskiedenis is Mustafa Kemal Ataturk. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy ’n suksesvolle offisier in die Turkse weermag en het in die 1920’s ’n prominente figuur in die Turkse politiek geword. In 1923 was hy verantwoordelik vir die totstandkoming van die Republiek van Turkye en word as die vader van sy land beskou. Ataturk het gedurende sy vyftienjaar-lange ampstermyn as president, verskeie maatskaplike, politieke en kulturele hervormings ingestel en het Turkye in ’n moderne wêreldstaat omskep. Sedert Islam se vroeë jare was Islam Turkye (Anatolië) se amptelike godsdiens. Sedert Ataturk was Turkye egter nie meer amptelik ’n Moslem-staat nie, dit was eerder amptelik wêrelds. Dit mag moontlik verander.

Die era van Erdoğan en ’n bus genaamd Demokrasie

Turkye staan wydsbeen oor Asië en Europa en vir byna ’n halfeeu het dit na die Weste gekyk. Turkye is ’n lid van NAVO, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, wat as ’n skans teen die leierskap van die Sowjet Unie tydens die Koue Oorlog gestaan het. Turkye probeer sedert 1987 om by die Europese Unie aan te sluit, maar uitgebreide EU-voorwaardes en skynbaar eindelose onderhandelings het volle lidmaatskap tot dusver verhinder. Baie ontleders dink dat Turkye se leierskap moontlik na die Ooste kan begin kyk.

Hoewel Turkye amptelik ’n wêreldstaat is, mag die huidige President, Recep Erdoğan moontlik nie dink dat dit so behoort voort te gaan nie. Hy was in sy vroeë politieke loopbaan ’n Islamiet, toe hy ewe belangrik gesê het: “Demokrasie is soos ’n bus. Jy ry daarop totdat jy by jou bestemming kom en dan klim jy af” (“Moment of Truth for the EU and Turkey”, Turkish Daily News, 10 November 2006).

Droom President Erdoğan daarvan om van die glorie van die Ottomaanse Turkse Ryk te herstel? Moontlik selfs die Ottomaanse Kalifaat? Sommige kritici dink so en merk dat hy toenemend outokraties raak.

Erdoğan se onbeskofte en outokratiese buurman in die suide, President Bashir Assad van Sirië, is baie reguit oor die redes vir die Turkse President se onlangse optrede teen Sirië. “Een van die redes is dat Erdoğan dink dat as die Moslem Broederskap [’n radikale Islamitiese groep] in die streek oorneem en veral in Sirië, kan hy sy politieke toekoms waarborg. Die ander rede is dat hy persoonlik dink dat hy die nuwe sultan van die Ottomane is en dat hy die streek kan beheer soos dit tydens die Ottomaanse Ryk was, onder ’n nuwe sambreel. In sy hart dink hy hy is ’n kalief. Hierdie is die belangrikste twee redes vir hom om sy beleid op te skuif van zero probleme na zero vriende” (“Assad: Erdoğan thinks he’s Caliph, new sultan of the Ottoman”. Interview with Sophie Shevardnadze, RT.com, 9 November 2012). Ander mense in die streek het soortgelyke menings uitgespreek.

President Erdoğan het onlangs ’n nuwe paleis, wat meer as 1,000 kamers bevat, teen ’n koste van meer as $600 miljoen, op ’n heuwel naby die Turkse hoofstad, Ankara voltooi. Dit word Ak Saray (Wit Paleis) genoem en ding mee met die luukse en prag van die Topkapi Paleis op sy hoogtepunt, onder Suleiman die Manjifieke.

In ’n onlangse toespraak wat deur die London Daily Telegraph aangehaal is, het Erdoğan homself werklik met Brittanje se Koningin Elizabeth vergelyk: “Recep Tayyip Erdoğan dring daarop aan dat hy nie ’n sultan wil wees nie, maar meer soos die Britse Koningin ... Erdoğan se opmerkings, soos berig in Hurriyet Daily News, sluit ’n aanval op diegene in wat sê Turkye is besig om soos ’n monargie te word en dat hy daarna streef om soos ’n Ottomaanse sultan te wees, ten spyte daarvan dat ander lande ook presidente het” (“Turkish president Recep Tayyip Erdoğan: I want to be like Queen of UK”, 30 Januarie 2015).

Baie ontleders dink dat Turkye besig is om ’n geskiedkundige skuif te maak terug na die Midde-Ooste en sy Islamitiese herkoms. Of die Turkse President tog ’n herleefde kalifaat sal of wil lei, is baie onseker.

Koning van die Suide

Wat werklik in die nabye toekoms in Turkye en die Midde-Ooste sal gebeur, is nie net spekulasie nie. Ons lees in die Bybel van die streek se toekomstige geskiedenis en beskou die toekomstige gebeure vanuit Jerusalem se perspektief. Teen die einde van hierdie era sal ’n kragtige alliansie van die Midde-Oosterse nasies, suid van Jerusalem gevorm word en sal hulle teen ’n magtige tien-nasie Europese alliansie na die noorde van Jerusalem “opruk” of dit “aanval”. “In die eindtyd [van hierdie tydperk] sal die koning van die suide hom aanval, maar hy sal teen die koning van die suide opruk met strydwaens, ruitery en baie skepe en sal die een land na die ander oorval soos ’n oorstroming. Hy sal selfs die beloofde land inval. Baie lande sal voor hom val” (Daniël 11:40-41 NV). Hierdie gebeure is geprofeteer om kort voor die Wederkoms van Jesus Christus plaas te vind.

Die radikale Islamitiese groep wat bekend staan as die Islamitiese Staat, maak daarop aanspraak dat hulle die herleefde kalifaat is en sien hulleself as die herstel van die Moslem-verowering van die Midde-Ooste en Europa. Dit mag vir die Europeërs en veral vir die Vatikaan na déjà vu lyk. Die ISIS-leier, Abu Bakr al-Bagdadi, eien hom die titel van Kalief toe, maar of hy wel die finale “Koning van die Suide” sal wees, is nie op hierdie tydstip duidelik nie. In elk geval het ’n aantal van die Islamitiese groepe in die Midde-Ooste en Asië trou aan hom beloof.

Hou die Midde-Ooste dop!

Jesus het ’n belangrike opdrag vir Sy volgelinge gehad: “Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ’n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Markus 13:33-37).